Menigtes word bygevoeg
1 Soos dit in die eerste eeu die geval was, is die toename wat die Christengemeente vandag ondervind merkwaardig (Hand. 2:41; 4:4). Verlede jaar is 366 579 nuwe dissipels gedoop, gemiddeld meer as 1000 elke dag! Meer as eenmiljoen is in die afgelope drie jaar gedoop. Jehovah het inderdaad aangehou om menigtes gelowiges by te voeg.—Hand. 5:14.
2 Die talle nuwes wat min ondervinding in die Christelike lewenswyse het, het bystand en opleiding nodig van diegene wat sterk in die geloof is (Rom. 15:1). Onder die vroeë Christene was daar sommige wat, selfs jare ná hulle doop, nog nie tot ‘volwassenheid voortgebeur het’ nie (Heb. 5:12; 6:1). Dit is waarom Paulus, in sy brief aan die Hebreërs, die aandag gevestig het op gebiede waarin Christene geestelik moet groei. Wat is hierdie gebiede, en hoe kan die nodige hulp aangebied word?
3 Leer goeie studiegewoontes aan: Om ’n goeie student te wees, behels, in ooreenstemming met Paulus se onderrigting, om jou daarop toe te lê om te leer, hersiening te doen en die “vaste voedsel” te gebruik wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. (Heb. 5:13, 14; sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1993, bladsye 12-17.) Jy kan nuwe gelowiges stimuleer om goeie studiegewoontes aan te leer deur oor geestelike dinge met hulle te gesels en hulle van die kosbare waarhede te vertel wat jy deur persoonlike navorsing ontdek het. Jy kan dalk af en toe ’n nuweling nooi om saam met jou persoonlike studie te doen of om julle gesinstudie by te woon.
4 Gereelde vergaderingbywoning: Jou getroue voorbeeld en liefdevolle bemoediging sal nuwe lede van die gemeente help om nog ’n rede tot kommer te vermy wat deur Paulus gemeld is—“die gewoonte” wat party het om van Christelike vergaderinge af weg te bly (Heb. 10:24, 25). Help hulle om te besef dat die vergaderinge die geestelike lewenslyn tussen hulle en die gemeente is. Neem die inisiatief om hulle welkom te laat voel as deel van ons broederskap.
5 Nader Jehovah met vertroue: Om vleeslike swakhede en persoonlikheidsgebreke te oorkom, moet ons na Jehovah toe gaan in gebed en ons diepste gedagtes en intiemste bekommernisse teenoor hom uitspreek. Nuwelinge moet leer dat daar geen rede is om te struikel nie as hulle Jehovah om hulp smeek, soos Paulus ons aangespoor het (Heb. 4:15, 16; 10:22). As jy jou persoonlike ondervindinge in hierdie verband vertel, sal dit ’n nuweling se vertroue daarin versterk dat Jehovah hartgrondige gebede verhoor.
6 Sit tyd opsy vir die bediening: Paulus het ook getoon dat dit geestelik versterkend is wanneer ons “altyd aan God ’n lofofferande bring” (Heb. 13:15). Kan jy ’n nuwe verkondiger nooi om saam met jou te gaan wanneer jy gedurende die week velddiens doen? Julle twee kan dalk julle aanbiedings voorberei of ’n aspek van die bediening bespreek wat die nuweling nog nie probeer het nie.
7 Die menigtes wat bygevoeg word, is ’n rede tot groot vreugde. As ons ons inspan om nuwe lede van die gemeente op te lei en te vermaan, sal dit hulle help om die sterk geloof te ontwikkel wat nodig is ‘om hulle siel te behou’.—Heb. 3:12, 13; 10:39.