Hou aan om geestelik te vorder!
Die Dag Waarop Ons Gedoop Is, Is ’N Dag Wat Altyd Vir Ons Kosbaar Moet Bly En Wat Ons Wil Onthou. Dit Is Per Slot Van Rekening Die Dag Waarop Ons In Die Openbaar Verklaar Het Dat Ons Ons Aan God Toegewy Het Om Hom Te Dien.
VIR baie mense verg dit geweldige inspanning om hierdie punt te bereik—om slegte gewoontes af te lê, ontslae te raak van verkeerde vriende en om diepgewortelde denk- en gedragspatrone te verander.
Maar al is doop ’n gelukkige en belangrike gebeurtenis in ’n Christen se lewe, is dit nog net ’n begin. Die apostel Paulus het vir gedoopte Christene in Judea gesê: “Laat ons . . . , noudat ons die grondleer oor die Christus agter ons gelaat het, tot volwassenheid voortbeur” (Hebreërs 6:1). Ja, alle Christene moet “kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van wasdom wat tot die volheid van die Christus behoort” (Efesiërs 4:13). Slegs deur tot volwassenheid te vorder, kan ons waarlik “standvastig gemaak word in die geloof”.—Kolossense 2:7.
Gedurende die laaste paar jaar het honderdduisende pas toegewyde aanbidders in die Christengemeente ingekom. Miskien is jy een van hulle. Soos jou eerste-eeuse broers wil jy nie geestelik gesproke ’n kindjie bly nie. Jy wil groei, vooruitgang maak! Maar hoe? En wat is sommige maniere waarop jy so kan vorder?
Vorder deur middel van persoonlike studie
Paulus het vir die Christene in Filippi gesê: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” (Filippense 1:9). Dit is noodsaaklik om in “juiste kennis” toe te neem as jy geestelik wil vorder. ‘Om kennis in te neem van Jehovah God en Jesus Christus’ is ’n voortdurende proses, nie iets wat ophou nadat ’n mens gedoop is nie.—Johannes 17:3.
Een Christensuster wat ons Alexandra sal noem, het tot hierdie besef gekom tien jaar nadat sy op 16-jarige ouderdom gedoop is. Sy is in die waarheid grootgemaak en was altyd gereeld in haar bywoning van Christelike vergaderinge en deelname aan die predikingswerk. Sy skryf: “In die laaste paar maande het ek besef dat iets baie verkeerd is. Ek het besluit om ernstige, eerlike selfondersoek te doen en na te dink oor hoe ek oor die waarheid voel en waarom ek nog in die waarheid is.” Wat het sy gevind? Sy sê verder: “Ek het die redes waarom ek in die waarheid is ontstellend gevind. Ek het onthou hoe vergaderinge en velddiens beklemtoon is terwyl ek grootgeword het. Dit was asof die gewoonte om persoonlike studie te doen en te bid op die een of ander manier vanself sou kom. Maar toe ek my situasie ontleed het, het ek besef dat dit nie gebeur het nie.”
Die apostel Paulus vermaan: “In die mate waarin ons vooruitgang gemaak het, [laat ons] voortgaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel” (Filippense 3:16). ’n Roetine kan bepaal in watter rigting jy beweeg. Voor jy gedoop is, het jy ongetwyfeld ’n weeklikse roetine van Bybelstudie saam met ’n bekwame onderrigter gehad. Namate jou waardering toegeneem het, het jy begin om by hierdie roetine voorbereiding vir elke week se les in te sluit, wat onder meer behels het dat jy die teksverwysings nageslaan het. Het jy, noudat jy gedoop is, aangehou om ‘in daardie selfde roetine te wandel’?
Indien nie, het jy dalk nodig om weer jou prioriteite in oënskou te neem deur ‘seker te maak van wat die belangriker dinge is’ (Filippense 1:10). In ons besige lewens verg dit selfbeheersing om tyd opsy te sit vir persoonlike Bybellees en -studie. Maar die voordele maak dit die moeite werd. Kyk weer na die ondervinding van Alexandra. “Ek moet sê dat ek gedurende die laaste 20 jaar of wat in die waarheid gebly het deur net vergaderinge by te woon en aan die veldbediening deel te neem”, erken sy. Maar sy sê voorts: “Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie dinge belangrik is, maar dat dít alleen my nie kan onderskraag wanneer dinge moeilik begin gaan nie. Dit het alles aan die lig gekom omdat ek feitlik geen persoonlike studie doen nie en my gebede ongereeld en oppervlakkig is. Ek besef nou dat ek my denke moet verander en met ’n betekenisvolle studieprogram moet begin sodat ek Jehovah werklik kan leer ken en liefkry en waardeer wat sy Seun vir ons gegee het.”
As jy hulp nodig het om ’n gesonde roetine van persoonlike studie op te bou, sal die ouer manne en ander ervare Christene in jou gemeente jou graag help. Daarbenewens is daar ’n aantal nuttige wenke in artikels wat in Die Wagtoring van 1 Mei 1995; 15 Augustus 1993 en 15 Mei 1986 verskyn het.
Die belangrikheid daarvan om nader aan God te kom
Nog ’n gebied waarop jy moet probeer om vordering te maak, is in jou verhouding met God. In sommige gevalle kan daar selfs ’n ernstige behoefte in hierdie verband wees. Beskou die geval van Anthony, wat toe hy jonk was, gedoop is. “Ek was die eerste kind in ons gesin wat gedoop is”, vertel hy. “Ná my doop het my ma my hartlik omhels. Ek het haar nog nooit so gelukkig gesien nie. Almal was so bly, en ek het so sterk gevoel.” Maar dit was nie al nie. “Ek was die eerste jong persoon in ’n lang tyd wat in ons gemeente gedoop is”, sê Anthony voorts. “Ek het dus baie trots op myself gevoel. Ek was ook trots op my kommentare en toesprake by die vergaderinge. Die lof en goedkeuring van mense het vir my belangriker geword as om lof aan Jehovah te bring. Ek het in werklikheid nie ’n hegte verhouding met Jehovah gehad nie.”
Soos Anthony het party hulle dalk toegewy meer omdat hulle ander wou gelukkig maak as omdat hulle Jehovah wou gelukkig maak. God verwag nietemin nog steeds dat sulke persone hulle belofte om hom te dien nakom. (Vergelyk Prediker 5:3.) Maar sonder ’n persoonlike verhouding met God is dit vir hulle dikwels moeilik om dit te doen. Anthony onthou: “Die groot vreugde wat ek by my doop ervaar het, het nie lank gehou nie. Minder as ’n jaar nadat ek gedoop is, het ek my aan ernstige oortreding skuldig gemaak en moes ek deur die ouer manne in die gemeente tereggewys word. Herhaalde wangedrag het daartoe gelei dat ek uit die gemeente gesit is. Ses jaar nadat ek my aan Jehovah toegewy het, is ek in hegtenis geneem en in die tronk gesit weens moord.”
Bou ’n intieme verhouding met Jehovah op
Wat jou situasie ook al is, alle Christene kan ag slaan op die Bybel se uitnodiging: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Toe jy die Bybel begin bestudeer het, het jy ongetwyfeld in ’n mate nader aan God gekom. Jy het geleer dat God nie die abstrakte godheid is wat die Christendom aanbid nie, maar dat hy ’n persoon is met ’n naam, Jehovah. Jy het ook geleer dat hy aantreklike eienskappe het, dat hy ’n “barmhartige en genadige God [is], lankmoedig en groot van goedertierenheid”.—Exodus 34:6.
Maar om jou toewyding om God te dien na te leef, moet jy selfs nader aan hom kom! Hoe? Die psalmis het gebid: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie” (Psalm 25:4). Persoonlike studie van die Bybel en van die Genootskap se publikasies kan jou help om Jehovah beter te leer ken. Dit is ook belangrik om gereeld hartgrondig te bid. “Stort julle hart uit voor sy aangesig”, het die psalmis aangespoor (Psalm 62:9). Wanneer jy sien hoe jou gebede verhoor word, sal jy bewus word van God se persoonlike belangstelling in jou. Dit sal jou help om nader aan hom te kom.
Beproewinge en probleme bied nog ’n geleentheid om nader aan God te kom. Jy kan voor uitdagings en toetse van geloof te staan kom, soos siekte, druk by die skool en by die werk of ekonomiese probleme. Dit kan selfs wees dat die normale teokratiese roetine van deelname aan die bediening, vergaderingbywoning of Bybelstudie saam met jou kinders vir jou moeilik is. Moenie sulke probleme op jou eie die hoof probeer bied nie! Smeek God om hulp en vra sy leiding (Spreuke 3:5, 6). Smeek hom om sy heilige gees! (Lukas 11:13). Jy sal selfs nader aan God kom wanneer jy sien hoe hy sy liefdevolle hulp gee. Dit is soos die psalmis Dawid dit gestel het: “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!”—Psalm 34:9.
Wat van Anthony? “Ek het begin dink aan die tyd toe ek soveel geestelike doelwitte gehad het wat om die uitvoering van Jehovah se wil gedraai het”, vertel hy. “Dit was vir my pynlik. Maar deur al die pyn en teleurstelling het ek Jehovah se liefde onthou. Dit het ’n ruk geduur voor ek tot Jehovah kon bid, maar ek het dit gedoen, en ek het my hart teenoor hom uitgestort en sy vergifnis gevra. Ek het ook die Bybel begin lees en was verbaas oor hoeveel ek vergeet het en hoe min ek werklik van Jehovah geweet het.” Hoewel Anthony nog die straftyd vir sy misdaad moet voltooi, ontvang hy hulp van die plaaslike Getuies en is hy besig om geestelik te herstel. Anthony sê met dankbaarheid: “Danksy Jehovah en sy organisasie kon ek die ou persoonlikheid aflê, en ek probeer elke dag om my met die nuwe persoonlikheid te beklee. My verhouding met Jehovah is nou vir my van die allergrootste belang.”
Geestelike vordering in jou bediening
Jesus Christus het sy volgelinge beveel om verkondigers van die “goeie nuus van die koninkryk” te wees (Matteus 24:14). As ’n betreklik nuwe verkondiger van die goeie nuus het jy moontlik min ondervinding in die bediening. Hoe kan jy dan vordering maak sodat jy ‘jou bediening ten volle kan uitvoer’?—2 Timoteus 4:5.
Een manier is om ’n positiewe gesindheid aan te kweek. Leer om die predikingswerk as ’n “skat”, ’n voorreg, te beskou (2 Korintiërs 4:7). Dit is ’n geleentheid om ons liefde, lojaliteit en onkreukbaarheid aan Jehovah te bewys. Dit laat ons ook toe om bewys te lewer van ons besorgdheid oor ons naaste. Om in hierdie opsig onselfsugtig van onsself te gee, kan ’n bron van ware geluk wees.—Handelinge 20:35.
Jesus self het ’n positiewe beskouing oor die predikingswerk gehad. Dit was soos “voedsel” vir hom om Bybelwaarhede aan ander mee te deel (Johannes 4:34). Die rede waarom hy ander gehelp het, kan derhalwe die beste opgesom word in sy woorde: “Ek wil” (Matteus 8:3). Jesus het medelye met mense gehad, veral met diegene wat deur Satan se wêreld “gestroop en rondgegooi” is (Matteus 9:35, 36). “Wil” jy ook diegene help wat in geestelike duisternis is en wat die verligting van God se Woord nodig het? Dan sal jy gemotiveer voel om te reageer op Jesus se bevel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:19). Jy sal in werklikheid beweeg word om soveel in hierdie werk te doen as wat jou gesondheid en omstandighede toelaat.
Nog ’n sleutel tot vordering is om gereeld aan die bediening deel te neem—elke week indien moontlik. As ’n mens dit doen, kan dit jou help om die vrese te stil wat iemand kan strem wat net nou en dan aan die bediening deelneem. Gereelde deelname aan die veldbediening sal jou ook op ander maniere tot voordeel strek. Dit sal jou waardering vir die waarheid vergroot, jou liefde vir Jehovah en jou naaste voed en jou help om die Koninkrykshoop duidelik voor oë te hou.
Maar gestel jou huidige situasie beperk in ’n groot mate wat jy in die predikingswerk kan doen; wat dan? As aanpassings eenvoudig nie moontlik is nie, kan jy bemoediging put uit die wete dat God tevrede is met wat jy ook al kan doen, solank jou diens heelhartig is (Matteus 13:23). Miskien kan jy op ander maniere vordering maak, soos deur jou vaardighede in die predikingswerk te verbeter. In die gemeente bied die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering baie goeie opleiding hiervoor. Dit spreek vanself dat hoe meer bedrewe ons in die bediening is, des te meer sal ons dit geniet en resultate sien.
Dit is dus duidelik dat geestelike vordering nie moet ophou die dag wanneer ’n mens gedoop word nie. Die apostel Paulus het aangaande sy hoop om onsterflike lewe in die hemele te verkry, geskryf: “Broers, ek meen nog nie dat ek dit vasgegryp het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus. Laat ons almal wat volwasse is dan hierdie geestesgesindheid hê; en as julle in enige opsig ’n ander geestesneiging het, sal God die bogenoemde gesindheid aan julle openbaar.”—Filippense 3:13-15.
Ja, alle Christene, hetsy hulle hoop onsterflikheid in die hemele of ewige lewe in die Paradys op aarde is, moet hulle ‘uitstrek na dinge wat voor is’—hulle as ’t ware kragtig inspan om die doel van die lewe te behaal! Jou doop was ’n goeie begin, maar dit is net ’n begin. Hou aan om daarna te strewe om geestelik te vorder. Deur vergaderinge en persoonlike studie moet jy ‘volgroeid in begripsvermoëns word’ (1 Korintiërs 14:20). Wees ‘in staat om verstandelik te begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte’ van die waarheid is (Efesiërs 3:18). Die vordering wat jy maak, sal jou help om nie net nou jou vreugde en geluk te behou nie, maar ook om seker te wees van ’n plek in God se nuwe wêreld, waar jy onder die heerskappy van sy hemelse Koninkryk vir ewig sal kan vorder!
[Prent op bladsy 29]
Dit verg dissipline om tyd te vind vir persoonlike studie
[Prent op bladsy 31]
’n Positiewe gesindheid kan ons help om vreugde uit die bediening te put