Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 10/94 bl. 3-10
  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994
  • Ons Koninkryksbediening—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms vir 1996
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms vir 1995
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Reël nou om die “Liefhebbers van Vryheid”- Streekbyeenkoms vir 1991 by te woon
    Ons Koninkryksbediening—1991
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1994
km 10/94 bl. 3-10

Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994

1 Manne van geloof lê al van Abel en Noag se tyd af “godvrugtige vrees” aan die dag, en hulle doen dit vandag nog (Hebr. 11:4,7, NW). Om godvrugtige vrees te beoefen, beteken dat ’n mens ‘ontsag en diepe eerbied vir die Skepper moet hê sowel as ’n heilsame vrees om hom te mishaag’ (it-1 bl. 818). Ons sal gedurende Desember hierdie diepe eerbied toon deur die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms by te woon. Sal jy daar wees om die hele program, van die openingslied tot die laaste gebed, te geniet?

2 Ons sien elke jaar met groot verwagting na die streekbyeenkoms uit. Hoewel dit moontlik heelwat persoonlike inspanning en onkoste verg, verkry ons baie seëninge. Ons gaan verheug huis toe, aangesien ons geestelik bevredig en opgebou is. (Vergelyk 1 Konings 8:66.) Die assosiasie is stimulerend en die byeenkoms voorsien ’n verandering van roetine. Maar ons moet onthou dat ons byeenkom om Jehovah te aanbid. Hy beveel ons om dit te doen. Hy leer ons hoe ons onsself kan bevoordeel.—Deut. 31:12, 13; Ps. 122:1.

3 ’n Driedaagse byeenkoms: Die program sal by 22 byeenkomste in Suid-Afrika en naburige lande aangebied word. Benewens Engels sal die hele program in Afrikaans, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Xhosa en Zulu aangebied word, met party sessies in Grieks en Venda. Daar sal op twee plekke, naamlik Kaapstad en Johannesburg, sessies in gebaretaal aangebied word.

4 Die program sal Vrydag om 10:20 vm. begin en Sondag om ongeveer 4:15 nm. afsluit. Die program sal Saterdag en Sondag om 9:30 vm. begin. Die deure sal om 7:30 vm. oopgemaak word. Net diegene met spesifieke werktoewysings sal toegelaat word om vroeër in te gaan.

5 Diepe eerbied vir Jehovah spoor ons aan om te gaan: Paulus het die Hebreeuse Christene gemaan om “heilige diens aan God [te] verrig met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebr. 12:28, NW). Ons streekbyeenkoms vir hierdie jaar is voorberei om ons juis daarmee te help. Soms kan ons struikelblokke teëkom wat ons vasbeslotenheid om die byeenkoms by te woon, beproef. Hierdie struikelblokke lyk moontlik soos berge, maar met Jehovah se hulp kan dit oorkom word (Matt. 17:20). Sê nou jy kan jou vakansie nie so reël dat dit die hele byeenkoms, van Vrydagoggend tot Sondagmiddag, insluit nie, kan jy jou werkgewer gerus biddend nader om verlof vir daardie tyd te vra.—Jak. 1:6-8.

6 Benut die belegging: Watter belegging? Die tyd en inspanning wat dit verg om die byeenkoms by te woon. Dit sal onverstandig wees om sorgvuldig te beplan sodat jy die streekbyeenkoms kan bywoon en dan Sondagaand huis toe te gaan nadat jy ’n groot deel van die program gemis het. Sal jy tydens ’n feesmaal vra om verskoon te word sodat jy na ander sake kan omsien? Daar is verlede jaar gesien dat sommige ná die oggendsessies gery het. Maar ons geestelike rypheid en godvrugtige vrees moet verhinder dat ons enigiets mis wat Jehovah vir ons voorberei het.—Vergelyk 1 Korinthiërs 2:9,10.

7 Die meeste van ons sal waarskynlik nie daaraan dink om vroeg te ry nie. Maar ons kan nietemin ’n groot deel van die program mis. Hoe kan dit gebeur? As ons nie vooruit beplan om seker te maak dat ons ten volle baat vind by die dele wat aangebied word nie. Ons moet vroeg genoeg opstaan om ’n goeie ontbyt te eet en na ander nodige sake om te sien sodat ons ons sitplekke kan inneem voordat die program begin. Dit is ook belangrik dat ons ’n goeie nagrus kry sodat ons wakker kan wees en die hele dag op die program kan konsentreer.

8 ’n Beproefde metode om ten volle by die program baat te vind, is om kort aantekeninge te maak. Dit is net so belangrik vir kinders om aantekeninge te maak as wat dit vir volwassenes is. ’n Sestienjarige verkondiger sê: “Ek skryf die tekste neer wat tydens ’n toespraak gemeld word. Dan kan ek die toespraak tuis hersien.” Nog ’n 16-jarige sê: “Ek maak aantekeninge van die hoofgedagtes. Dit help my om te konsentreer.” Al wat jy gewoonlik vir die program nodig het, is jou Bybel, ’n liedereboek, ’n mediumgrootte aantekeningboek en ’n pen of ’n potlood. Ouers met klein kindertjies moet natuurlik in hulle behoeftes voorsien, maar dit is beter om nie vir ons en ander ongerief te veroorsaak met groot koelhouers en uitermatig baie persoonlike items nie.

9 Party broers neem die program op met ’n bandopnemer of ’n videokamera sodat hulle dit tuis kan terugspeel. Dit is ’n persoonlike saak, maar sommige sê dat daar min tyd is om hulle opnames terug te speel wanneer hulle eers weer hulle gewone roetine hervat. Daarbenewens kan ons van die hoofgedagtes in ’n toespraak mis terwyl ons met die toerusting werk.

10 Ons moet ’n ernstige poging aanwend om ons sitplekke in te neem voor die program begin. Hoewel ons dalk in die middel van ’n aangename gesprek met ou vriende is wanneer die voorsitter aankondig dat die program gaan begin, toon ons respek vir diegene op die program, en vir ons broers in die algemeen, as ons ons gesprek kortknip en ons sitplekke inneem.

11 Streekbyeenkomste is altyd vreugdevolle geleenthede vanweë Jehovah se mildelike seën. Ons ontvang geestelike sowel as materiële voordele. Ons moet in gedagte hou dat dit baie kos om die byeenkomsfasiliteite te huur. Hoe word hierdie en al die ander onkoste gedek? Deur ons vrywillige bydraes, of dit nou kontant is of ’n tjek uitgemaak aan “Watch Tower Convention”. Dit is in ooreenstemming met die gees van Psalm 96:8, wat ons aanspoor om ‘Jehovah te eer en ’n offer in sy voorhowe te bring’.

12 Sal jou gedrag Jehovah tot eer strek? Ons word elke jaar vriendelik daaraan herinner hoe belangrik goeie gedrag is terwyl ons die streekbyeenkoms bywoon. Ons moet ons natuurlik altyd voorbeeldig gedra, maar wanneer ons in groot getalle byeenkom, word ons noukeuriger dopgehou deur diegene wat nie in die waarheid is nie. Ons gedrag, goed of sleg, het dalk ’n groter impak as ons predikingswerk. Ons wil hê dat dit wat ons sê en doen Jehovah tot eer strek.—Spr. 27:2; 1 Pet. 2:12.

13 Ná verlede jaar se “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms het ’n veiligheidswag opgemerk: “Hierdie is die oulikste klomp kinders wat ek in ’n lang tyd gesien het.” Toe het hy, nadat hy oor die slegte maniere en vernielsug van ander groepe jongmense gepraat het, oor die Getuiekinders bygevoeg: “Hulle gedra hulle goed, en dis ’n plesier om hulle hier te hê. Ek wens die ander byeenkomste wat hier gehou word, is soos hierdie een.”

14 ’n Koerantrubriekskrywer het die volgende oor die byeenkoms gesê: “Die vroue en meisies het mooi rokke gedra, en die mans en seuns het baadjies en dasse gedra. Hulle het ywerig aantekeninge gemaak terwyl hulle vier dae lank na sprekers geluister het. En as reinheid naby goddelikheid kom, dan het Jehovah se Getuies nuwe betekenis aan daardie konsep gegee.” Maar nie al die verslae was so gunstig nie.

15 Volgens berig was daar by sommige byeenkomste te veel wat gedurende die sessies rondgemaal het, en die meeste van hulle was jongmense, wat ’n aanduiding daarvan is dat ouers hulle opleiding en toesig baie sal moet verbeter. ’n Voortdurende rondmalery veroorsaak baie geraas, wat die aandag aflei van diegene wat probeer luister. ’n Paar moet sekere sake gedurende die program afhandel, maar behoort die res van ons nie op ons sitplekke te wees en aandagtig te luister nie?

16 Die meeste ouers vereis dat hulle kinders elke week die gemeentelike vergaderinge bywoon. Behoort hulle dan nie ook te vereis dat hulle kinders naby hulle sit en nie gedurende die program rondloop nie? Die byeenkomsfasiliteite word in ’n groot Koninkryksaal verander, maar ons lewe in Satan se stelsel, en dit sal vir gewetenlose mense maklik wees om die gebou met verkeerde beweegredes binne te kom. JULLE MOET TE ALLE TYE WEET WAAR JULLE KINDERS IS EN WAT HULLE DOEN.

17 Kleredrag en persoonsversorging: Ons lewe in ’n tyd waar die informele, selfs slordige, voorkoms as aanvaarbaar beskou word. In die kerke, by konserte en in restaurante vind ons al hoe meer mense met uiters informele drag. Die opmerking wat in paragraaf14 aangehaal word, toon dat daar nog mense is wat van deftige klere hou, veral wanneer dit by formele aanbidding kom. Slordige, informele klere en ongepaste persoonsversorging sê baie omtrent ons. Moet nooit vergeet dat die byeenkomsterrein nie meer ’n sportstadion is nie. Dit is ’n groot Koninkryksaal. Party se kleredrag is gepas vir die byeenkoms, maar ná die sessies gaan hulle met ongepaste of onbeskeie klere na plaaslike restaurante en na ander plekke toe.

18 Doopkandidate moet daaraan herinner word dat sekere swemklere onvanpas vir die geleentheid is. Swemklere moet beskeie wees en van goeie smaak getuig. Wie moet dit bepaal? Die ouere manne moet sorg dat niemand in hulle gemeente wat gedoop word enige aanleiding tot struikeling gee nie (2 Kor. 6:3,4, vgl. NW). Dit geld vir skrapse swemklere en T-hemde met wêreldse slagspreuke of advertensies daarop. Dit sal gepas wees dat ouere manne hierdie saak met die kandidaat bespreek terwyl die vrae in die Ons bediening-boek hersien word.

19 Hotelle: Ons moet die vrug van die gees te alle tye openbaar, maar veral in ons optrede teenoor werknemers by hotelle en restaurante.

20 Opneemapparate: Soos ons vroeër gesê het, is die gebruik van opneemtoerusting, en veral videokameras, ’n persoonlike besluit. Indien jy wel besluit om opnames te maak, moet jy asseblief die mense om jou in ag neem. Dit kan steurend wees selfs wanneer ’n mens vanuit jou sitplek opneem. Niemand moet medebyeenkomsgangers se uitsig belemmer terwyl hulle opnames maak nie. Daarbenewens mag geen opneemapparate aan die elektriese- of klankstelsel gekoppel word nie, en geen toerusting moet die paadjies of die loopareas versper nie.

21 Sitplekke: Die probleme in verband met die hou van sitplekke verdien steeds aandag. Ons wil almal weer daaraan herinner: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. By sommige byeenkomste het etlike broers en susters wanneer die deure soggens om 7:30 oopgemaak is, ingestorm om groot dele te reserveer, en baie van die sitplekke wat hulle gehou het, is dan nie gevul nie. Hierdie onbedagsame gewoontes duur voort ten spyte van herhaaldelike herinnerings. Behoort ons nie ons hart in hierdie saak te ondersoek en oor die beginsels in Filippense 2:3,4 na te dink nie?

22 Elke byeenkoms maak voorsiening vir diegene met spesiale behoeftes, soos die bejaardes en dié met gebreke. Maak asseblief seker dat jy nie in hierdie dele sit as jy nie in hierdie kategorie val nie. Wees ook wakker om dié met spesiale behoeftes te help om ’n sitplek te vind as daar niemand by hulle is om na hulle om te sien nie.

23 Voedseldiens: ’n Voedseldiens sal weer eens by al die byeenkomste voorsien word. Ons wil al die byeenkomsgangers aanmoedig om hierdie reëling te ondersteun.

24 Die meeste “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkomste sal in Desember gehou word. Is jou voorbereidings afgehandel, en is jy nou gereed om drie vreugdevolle dae van assosiasie en geestelike goeie dinge te geniet? Dit is ons opregte bede dat Jehovah jou pogings sal seën om hierdie somer die “Goddelike Vrees”-Streekbyeenkoms by te woon en voedsel aan Jehovah se tafel van goeie dinge te geniet.

[Venster op bladsy 10]

Herinnerings in verband met die streekbyeenkoms

Doop: Doopkandidate moet hulle sitplekke in die aangewese gedeelte inneem vóór die program Saterdagoggend begin. Daar is opgemerk dat sommige se klere nie smaakvol is nie en aan die geleentheid afbreuk doen. Elkeen wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Ná die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan die doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Ná die laaste vers gesing is, sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek lei. Aangesien doop as ’n simbool van ’n mens se toewyding ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer doopkandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie.

Lapelkaarte: Dra asseblief die lapelkaart vir 1994 by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit bied ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee terwyl ons reis. Dit was veral die geval verlede jaar by die byeenkomste wat in Moskou en Kiëf gehou is. Julle moet die lapelkaarte en -houers by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Onthou om julle nuwe Medical Directive-kaart by julle te hê. Lede van die Bethelgesin en pioniers moet ook hulle identifikasiekaart by hulle hê.

Huisvesting: Ons vra weer eens die samewerking van almal wat die huisvesting gebruik, soos deur die byeenkoms voorsien word. Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke byeenkomsadres, en nie na die Genootskap nie, gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die eienaar of die hotel sowel as die byeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word.

Kinderwaentjies: Die Brandweerafdeling stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en dan in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is egter toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Ons sal julle samewerking in hierdie verband waardeer.

Vrywilligerdiens: Kan jy tyd by die byeenkoms inruim om in een van die afdelings te help? Om ons broers selfs net ’n paar uur te dien, kan baie nuttig wees en ’n mens groot bevrediging verskaf. As jy kan help, moet jy jou asseblief by die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms aanmeld. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene te werk.

Liedere: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere te oefen wat ’n deel van die program sal wees: 53, 175, 85, 79, 187, 155, 19, 13, 47, 180, 177, 113, 143, 191, 33, 114 en 222. (Ons stel voor dat gemeentes begin om ná elke vergadering ten minste een lied te oefen.)

Bethelvergadering: Daar sal op die tweede dag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondigers tussen 19 en 35 wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die tyd en plek vir hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.

’n Woordjie van waarskuwing: Ons kan onnodige probleme vermy as ons op potensiële probleme bedag is. Mense wat weg van hulle tuiste af is, word dikwels die prooi van diewe en ander gewetenlose mense. Maak seker dat jou motor te alle tye gesluit is, en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat sodat iemand in die versoeking kom om in te breek nie. Diewe en sakkerollers word deur groot byeenkomste gelok. Dit sal onverstandig wees om enige waardevolle artikels by jou sitplek te laat. Jy kan nie seker wees dat almal om jou Christene is nie. Waarom iemand in die versoeking lei? Daar was al berigte dat buitestanders kinders probeer weglok het. HOU JULLE KINDERS TE ALLE TYE IN DIE OOG.

Daar is berig dat party hotelle maklike toegang tot onsedelike televisierolprente of selfs pornografiese rolprente verleen. Dit beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om te verhoed dat kinders by hierdie verblyfplekke sonder toesig TV kyk.

Moet asseblief nie die bestuur van die byeenkomsfasiliteite skakel vir inligting oor byeenkomssake nie. As die ouere manne nie die inligting het nie, moet jy aan die Byeenkomskomitee skryf nadat jy die adres by julle gemeentelike sekretaris gekry het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel