Volg met vertroue diegene wat die leiding neem
1 God het die Christengemeente liefdevol van opsieners voorsien wie se leiding verkwikkend is en wat ons vertroue verdien. In teenstelling met die mislukte pogings van wêreldse leiers het die profeet Jesaja voorspel dat opsieners wat deur God aangestel is “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” sou wees (Jes. 32:1, 2). As ons die leiding van sulke manne met vertroue volg, kan dit as ’n ware bron van beskerming en seën dien.
“VOLG HULLE GELOOF NA”
2 Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf: “Hou diegene in gedagte wat onder julle die leiding neem, wat die woord van God aan julle verkondig het en volg hulle geloof na terwyl julle op die uiteinde van hulle lewenswandel let” (Hebr. 13:7, NW). Dit is die geloof van hierdie manne wat nagevolg moet word. As ons op hulle lewenswandel let wat met Jesus se voorbeeld en die beginsels van God se Woord ooreenkom, spoor dit ons aan om standvastig in die geloof te bly (Ps. 119:105). Ons moet met genoeë raad en leiding van sulke getroue opsieners aanvaar wat onder ons die leiding neem en hulle in liefde die hoogste agting bewys ter wille van hulle werk.—1 Thess. 5:12, 13.
3 Ten einde ten volle baat te vind by hierdie “gawes in mense” moet ons egter enige neiging teenstaan om hulle foute of menslike onvolmaakthede te vergroot en as gevolg daarvan hulle raad te veronagsaam of dit lig op te neem. Ons moet eerder hulle Bybelse raad en leiding aanvaar asof dit van Jehovah af kom. Sodoende sal ons met vertroue die leiding volg van die Een wat die hoof van die gemeente is, naamlik Christus.—Ef. 4:8, 11-15, NW.
4 Hoe kan ons toon dat ons onderdanig en gehoorsaam aan die ouere manne se liefdevolle toesig is? Wel, wat doen ons wanneer ons van ’n probleem in die gemeente te wete kom? Rapporteer ons dit aan die ouere manne en wag ons dan geduldig en met vertroue dat die saak teokraties opgelos word? (Lev. 5:1). As ons vertroue in die teokratiese reëling het, moet ons nie onnodig ontstel word as dinge nie op ons manier of volgens ons eie tydrooster hanteer word nie. Ons sal eerder op Jehovah en Christus Jesus wag om manne wat deur die gees aangestel is te gebruik om op die regte tyd en gepaste manier op te tree.—Spr. 14:29, NW.
POSITIEWE RESULTATE
5 As ons met vertroue diegene volg wat die leiding neem, het dit begeerlike resultate soos sterk geloof en godvrugtige gedrag tot gevolg. As ons nie onderdanig is nie, sal dit ’n las op diegene lê wat die leiding neem en sal dit diegene wat onderdanig is, benadeel (Hebr. 13:17). Wanneer ons geestelike aanmoediging en raad van die ouere manne aanvaar, word ons gehelp om swakhede te bowe te kom en die nodige veranderings aan te bring wat geestelike groei verseker. As ons hulle leiding volg, word die eenheid in die gemeente gehandhaaf en word ons beskerm teen skadelike invloede en die boosheid van hierdie stelsel van dinge. As ons hulle voorbeeld en leiding in die bediening volg, word ons ook aangespoor om bedrywig te bly in die verkondiging van die goeie nuus.
6 Wanneer ons die rol van die ouere manne in die hedendaagse Christengemeente hersien, besef ons dat die meeste van hulle selfopofferend is en op voortreflike wyse die leiding neem. Ons betuig ons innige dankbaarheid aan Jehovah omdat hy so ’n liefdevolle reëling ingestel het. Sulke manne is dubbele eer waardig, en ons het alle rede om hulle leiding met vertroue te volg.—1 Tim. 5:17.