Bied die goeie nuus aan—Deur geleenthede te skep om informeel te getuig
1 Jesus het sy dissipels die opdrag gegee om hulle lig te laat skyn (Matt. 5:14-16). Hy wou hê dat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk by elke gepaste geleentheid aan ander moes vertel. Jesus was in hierdie opsig ’n voorbeeld. ’n Voorbeeld hiervan is toe hy die geleentheid aangegryp het om die waarheid aan ’n Samaritaanse vrou by ’n put in Sigar mee te deel (Joh. 4:5-30). Wat van ons? Skep ons sulke geleenthede om te getuig?
2 Ons kan nie almal elke dag aan die velddiens deelneem nie. Maar daar kan amper elke dag geleenthede wees waar ons ’n getuienis kan gee. Hoe? Deur informele getuieniswerk. Derduisende het op hierdie manier die waarheid leer ken. As ons wakker is vir geleenthede en dan die poging aanwend om te getuig, kan baie meer mense bereik word.
VIR WIE KAN ONS PREEK?
3 Benewens formele huis-tot-huisprediking, herbesoeke en Bybelstudies, kan ons informeel getuig vir ons werkmaats, skoolmaats, sakekennisse, familielede en ander kennisse. Wanneer ons per bus, trein of vliegtuig reis, kan ons ’n gesprek met medereisigers aanknoop. Terwyl ons met vakansie is, kan ons die goeie nuus verkondig aan hotel- en motelpersoneel, pompjoggies, restaurantwerkers en taxiryers. Ons kan met ander praat terwyl ons by ’n dokter se spreekkamer of openbare wassery wag. Terwyl ons by die huis is, kan ons moontlik vir bure, verkoopsmanne en afleweraars getuig. Selfs as ons in ’n hospitaal behandel word, kan ons vir dokters, verpleegsters en ander pasiënte getuig.
HOE OM TE BEGIN
4 As ons ’n afspraak het en weet dat ons ’n tydjie sal moet wag, kan ons die jongste tydskrifte saamneem en voorbereid wees om met iemand wat ons teëkom ’n interessante artikel te bespreek. Of ons kan ’n traktaat of brosjure as grondslag gebruik om ’n gesprek te begin. Party het dit doeltreffend gevind om in so ’n situasie die gesprek te begin deur ’n treffende kommentaar te lewer oor ’n hedendaagse gebeurtenis en dan te vra wat die persoon daarvan dink. Ander het gevind dat dit tot ’n puik getuienis kan lei as hulle ’n gedagteprikkelende vraag aangaande ’n hedendaagse gebeurtenis vra. In alle gevalle is inisiatief nodig om die bal aan die rol te sit.
GETUIG BY DIE WERK
5 Diegene wat sekulêre werk het, kan geleenthede skep om vir werkmaats te getuig. Twee susters het ’n lys gemaak van medewerkers wat hulle gedink het dalk in die waarheid sal belangstel. Hulle het meer as 65 Openbaring-boeke versprei en baie belangstelling gewek deur met diegene wat op die lys was en met ’n paar ander te praat.
6 In ’n ander geval het ’n broer hom voorgeneem dat hy vir die eerste persoon wat tydens sy pouse van 15 minute by die werk langs hom kom sit, sou getuig. Die man met wie hy gepraat het, het van die waarheid geweet maar het gesê dat hy nie die saak verder wou bespreek nie. Ons broer het nietemin lektuur gelaat waar die man dit maklik kon kry. Daardie man en sy hele gesin is binne ses maande gedoop.
7 As “die lig van die wêreld” het Jesus geleenthede geskep om informeel te getuig (Joh. 8:12). As ons wakker en gewillig is om ons Bybelse hoop te verkondig, sal ons ook nie geleenthede laat verbygaan om ’n getuienis te gee nie. Sodoende sal ons, soos Jesus se dissipels, “skyn soos ligte in die wêreld”.—Filip. 2:15, 16.