Gryp elke geleentheid aan om te getuig—Deel 2
1 Honderdduisende mense het die waarheid deur informele getuieniswerk leer ken. As hierdie manier van getuig ten volle benut word, sal nog miljoene met die boodskap van die goeie nuus bereik word. As Jehovah se knegte moet ons ons lig voortdurend laat skyn. Hoe kan ons dit persoonlik in groter mate doen?—Matt. 5:15, 16; Filip. 2:15.
2 Daar is verskeie maniere waarop ons geleenthede kan skep om informeel te getuig. Sommige broers maak ’n gewoonte daarvan om gedurende ’n etenspouse, terwyl hulle in ’n kantoor wag of wanneer hulle van openbare vervoer gebruik maak die Bybel of een van die Genootskap se tydskrifte of boeke te lees. Wanneer ons op diegene wat naby sit se reaksie of enige belangstelling wat getoon word, let, kan dit tot ’n gesprek lei as ons eenvoudig ’n gedagte deel oor wat ons lees.
3 Dit is gewoonlik nie moeilik om ’n gesprek met iemand te begin oor ’n algemene onderwerp wat van plaaslike belang is nie. As ons tot Jehovah om hulp bid en dan die poging aanwend, kan ons goeie resultate behaal. ’n Baie eenvoudige manier om ’n kort en informele getuienis te gee, is om een van ons traktate aan te bied. Dit is veral prakties in situasies waar daar nie baie tyd vir ’n gesprek is nie. Traktate is klein en kan maklik aan jou gedra word, maar dit bevat ’n kragtige boodskap. Die meeste van ons kan dit meer gereeld gebruik.
GEBRUIK REDENERING-BOEK
4 ’n Praktiese hulpmiddel vir alle aspekte van Koninkryksprediking is die Redenering-boek. Talle van die inleidings op bladsye 9-15, asook die informasie onder “Gesprekdempers” op bladsye 15-24, kan by informele getuieniswerk aangepas en gebruik word om gesprekke mee te begin. Een inleiding op bladsy 10 sê byvoorbeeld: “Het u vandeesweek hierdie berig in die koerant gelees? (Toon gepaste uitknipsel.) Wat dink u . . . ?” Wat ’n eenvoudige, maar tog doeltreffende manier om ’n gesprek aan te knoop! Of ons kan die persoon vra of hy opgelet het hoe die nuusmedia vooraanstaande mense aangehaal het wat die woord “Armageddon” gebruik het met verwysing na algehele kernoorlog. Ons kan dan vra wat hy meen Armageddon vir die mensdom sal beteken. Die materiaal op bladsy 10 kan by die gesprek aangepas word.
5 Wanneer ons aan informele getuieniswerk deelneem, is dit goed om die ander persoon die geleentheid te bied om homself uit te spreek. Ons moet te alle tye hoflik en eerbiedig wees. As ons sorgvuldig luister na wat die ander persoon sê, kan ons bepaal waarin hy belangstel en dan woorde spreek wat sy geestelike aptyt sal wek (Spr. 25:11). Indien moontlik, moet ons die name en adresse kry van diegene wat belangstelling toon sodat ons kan teruggaan om die belangstelling lewendig te hou. Ons moet eweneens ook ’n verslag hou van die tyd wat ons aan informele getuieniswerk bestee sodat dit akkuraat gerapporteer kan word.
6 As jy meen dat jy nie met informele getuieniswerk welslae behaal het nie, moet jy nie moedeloos word nie. Jou pogings om saadjies van Koninkrykswaarheid deur informele -getuieniswerk te saai, kan later vrug dra. Dit is dikwels die herhaalde saai van waarheidsaadjies deur informele getuieniswerk wat goeie resultate lewer. Selfs as ons geen Bybellektuur het om by mense te laat nie, kan wat ons sê van groot nut wees. Daar is miljoene mense wat ons kan bereik as ons elke geleentheid aangryp om informeel te getuig.