Ondersteun die kringopsiener se besoek
1 Sedert 15 Oktober 1946 is gemeentes in kringe georganiseer wat deur voltydse reisende opsieners bedien word. Individue sowel as gemeentes vind nou al 43 jaar lank baat by hierdie teokratiese voorsiening (Jes. 1:26). As ons aanhou om hierdie reëling te ondersteun, sal dit vir ons talle ryk seëninge meebring.—Ef. 4: 7, 8, 11.
VOORBEREIDSELS VIR DIE BESOEK
2 Sodra die besoek van die kringopsiener aangekondig is, kan ons daarvoor begin voorberei. Ons kan planne maak om ons gewone rooster aan te pas sodat ons die week van spesiale bedrywigheid ten volle kan ondersteun. Sommige verkondigers tref reëlings om meer tyd aan die velddiens te bestee deur hulppionierdiens te doen. Ander neem dalk ’n dag of twee verlof van hulle werk om aan die velddiens deel te neem. Talle verkondigers maak spesiale afsprake om saam met die reisende opsiener in die een of ander aspek van die bediening te werk. Heelhartige ondersteuning van die velddiens tydens die kringbesoek bring talle beloninge mee.
3 Rapporte wat van die reisende opsieners ontvang is, toon dat reëlings vir herbesoeke en Bybelstudies in die middag beter ondersteun kan word. Kan jy reël om gedurende daardie week een middag herbesoeke te doen of ’n Bybelstudie te hou? Die kringopsiener sal graag saam met jou gaan, en as jy wil, sal hy ook graag jou studie hou.
PERSOONLIKE HULP
4 Addisionele opleiding vir enigiemand wat dalk na groter diensvoorregte streef, is hoog op die kringopsiener se prioriteitslys (1 Tim. 3:1). Het jy vrae oor jou spesifieke toewysings of verantwoordelikhede? Wil jy graag jou vermoë en persoonlike organisasie verbeter? Stel jy belang in die pionierdiens, Betheldiens of die Bedieningsopleidingskool? Wil jy graag dien waar daar hulp nodig is, hetsy in jou kring of elders in die land? Wat jou geestelike doelwitte ook al is, die kringopsiener sal dit met graagte met jou bespreek.
5 As julle kringopsiener getroud is, is sy vrou eweneens ’n toegewyde kneg van Jehovah. Sy is heel waarskynlik ’n pionier en sal die velddiensreëlings ten volle kan ondersteun. Weens haar ervaring en gereelde deelname aan die velddiens in uiteenlopende gebiede raak sy bekwaam in die predikingswerk. Sy stel haarself beskikbaar om hoofsaaklik saam met ander susters van huis tot huis te werk en hulle na herbesoeke en tuisbybelstudies te vergesel. Sy verdien om hartlik geprys te word, net soos Febe deur Paulus geprys is.—Rom. 16:1, 2.
6 Die voorreg wat ons het om gasvryheid te betoon aan die kringopsiener en sy vrou, as hy getroud is, moet nie oor die hoof gesien word nie. Die herinneringe asook die bemoediging wat hulle ontvang het omdat hulle hulle huise oopgestel het of ’n maaltyd met hierdie reisende opsieners gedeel en aangename geestelike omgang met hulle geniet het, word deur talle broers kosbaar geag.—3 Joh. 5-8.
7 Gereelde besoeke deur geestelik ryp reisende opsieners help Jehovah se volk steeds. Die mate waarin ons persoonlik by hierdie reëling kan baat vind, hang af van hoe goed ons vir die kringopsiener se besoek voorberei en dit ondersteun. Mag ons almal vasbeslote wees om die volgende besoek van ons kringopsiener ten volle te ondersteun.