Bied Die Goeie Nuus Aan—In gebied wat gereeld gedek word
1 Hoe dikwels werk jy in jou gebied? As die gebied gereeld gedek word, is jy besonder geseënd. Waarom? Omdat gemeentes wat gereeld in hulle gebied werk gewoonlik vinnige groei ondervind. Dit was die ondervinding van gemeentes in talle groot stede. Op die Witwatersrand, Soweto inkluis, waar baie van die gebied byvoorbeeld gereeld gedek word, is daar nou meer as 140 gemeentes.
2 Toe ’n broer in ’n gebied gewerk het wat weekliks gedek word, het hy ’n vrou ontmoet wat gesê het dat sy nog nooit voorheen ’n besoek ontvang het nie. Sy het die lektuur gretig aanvaar en was bly dat iemand haar gevind het. Daar is dus steeds mense in sulke gebied wat nie die geleentheid gehad het om die goeie nuus te hoor nie. (Vergelyk 2 Petrus 3:9b.) Dit is belangrik dat ons gebied waarin ons gereeld werk deeglik dek sodat ons skaapgeaarde mense kan vind.—Matt. 10:11.
HOE OM DIE UITDAGING TE AANVAAR
3 Waar gebied gereeld gedek word, is dit noodsaaklik om ’n akkurate huis-tot-huisverslag te hou. Lyste van waar mense nie tuis was nie, kan gebruik word om groepe in die velddiens besig te hou wanneer ander gebied nie beskikbaar is nie. Jy kan gerus gedurende aandgetuieniswerk probeer om diegene te bereik wat nie vroeër in die dag tuis was nie. Onthou dat diegene wat gedurende die dag en oor naweke weg is dikwels in die aande tuis ontspan.
4 As jy jou gebied gereeld dek terwyl jy een ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik, is dit voordelig om jou inleiding te verander. Jy kan gepaste inleidings op bladsye 9-15 in die Redenering-boek. vind. Gebruik hulle om jou te help om gesprekke aan te knoop met diegene wat jy in die velddiens ontmoet.—Spr. 1:5.
5 Nog ’n manier om jou inleiding te verander, is om ’n traktaat aan te bied. Skakel die onderwerp van die traktaat in by die ‘Onderwerp vir gesprekke’. Maak ook gebruik van die jongste gebeure in die nuus. As jy vrae oor sulke dinge stel, kan dit die huisbewoner se gedagtes prikkel en sodoende ’n grondslag vir ’n goeie bespreking voorsien.
GETUIG VIR ALMAL
6 Bestee jy ongeveer 50 persent van jou velddienstyd daaraan om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou? As jy ’n afsonderlike huis-tot-huisverslag hou van diegene wat belangstelling toon, sal jy jou verslag van waar mense nie tuis was nie aan die persoon kan gee wat die gebiedskaart het. Maak seker dat jy so gou moontlik teruggaan na almal wat lektuur geneem het asook na enigiemand wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon.
7 Ons sal selfs meer mense met die goeie nuus kan bereik as ons wakker is vir alle geleenthede om ’n getuienis te gee. Wanneer ons byvoorbeeld in ons gebied werk, sien ons dikwels mense wat uit huise of woonstelle loop. Waar dit moontlik en gepas is, kan jy gerus kortliks die tydskrifte of ’n traktaat aanbied.
8 Selfs waar gebied elke week gedek word, moet jy in gedagte hou dat daar heel waarskynlik opregtes van hart is wat nog nie gevind is nie al het ons herhaaldelik pogings aangewend om met hulle in verbinding te tree. En hoewel jy voorheen by dieselfde deur getuig het, ontmoet jy dalk hierdie keer ’n ander persoon. Laat ons derhalwe soos die apostels deeglik in ons toegekende gebied getuig.—Hand. 8:14, 25; 20:20, 21.