Bied die Goeie Nuus Aan—Gebruik doeltreffende inleidings
1 Ons kan baie goeie resultate in ons veldbediening behaal as ons doeltreffende inleidings voorberei het. Tensy ons van die begin af die huisbewoner se aandag boei sodat ons ’n gesprek met hom kan begin of lektuur by hom kan laat, sal ons moontlik nie soveel belangstelling wek dat dit ’n herbesoek met die doel om ’n tuisbybelstudie te begin, regverdig nie. Die doeltreffendheid van ons eerste woorde kan dus deurslaggewend wees. Hoe kan ons ons inleidings doeltreffender maak?
DIE DOEL VAN INLEIDINGS
2 Ten eerste moet ons die doel van inleidings helder in gedagte hê. Die Skool-Handleiding sê: “Die inleiding . . . [moet] belangstelling in die onderwerp wek. Dit behoort die aandag van die gehoor aan te gryp en hulle daarvoor voor te berei om gunstige oorweging te skenk aan wat gaan volg.” Die boek voeg by: “Een van die beste maniere om belangstelling . . . te wek, is om die gehoor . . . te betrek.” (Kyk bladsy 113, paragrawe 1 en 2.) Hoe kan ons dit in die veldbediening doen?
3 Die inleidings op bladsye 9-15 in die Redenering-boek is voorberei met die voorgaande punte in gedagte. Ontleed hierdie inleidings. Let op hoe hulle ontwerp is om belangstelling te wek en die aandag van die huisbewoners te vestig op die onderwerpe wat bespreek word. Baie het die inleidings in die Redenering-boek met welslae gebruik. Een suster het gesê dat sy haar velddiens meer geniet en meer daarvan bewus is om mense in gesprekke te probeer betrek sedert sy ’n verskeidenheid inleidings gebruik. Aangaande die voorstelle in die Redenering-boek het sy gesê: “Dit werk regtig.”
4 Watter inleidings het jy met welslae saam met die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik? Het jy die onder die hofie “Bybel/God”op bladsy 10 van die Redenering-boek probeer? Die een kan soos volg saam met ons huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik word: “Ek is bly om u tuis te vind. Ek bespreek ’n bemoedigende gedagte uit die Bybel met my bure. Het u al ooit gewonder wat godsdiens waardevol in God se oë maak?” ’n Ander inleiding wat gebruik kan word, is: “Ons spoor mense aan om hulle Bybel te lees. Die antwoorde wat dit op belangrike vrae verstrek, verbaas mense dikwels. Let byvoorbeeld op hoe 2 Timotheüs 3:1, 2, 5 toon waarom God nie die aanbidding van sommige godsdienstige mense aanvaar nie.”
5 Jy vind dit dalk gepas om ander inleidings benewens die in die Redenering-boek te gebruik. Dit sal grootliks afhang van die soort mense wat jy in jou gebied ontmoet. Jy sal dit egter voordelig vind om die patroon van die inleidings in die Redenering-boek te volg. Hulle draai om sake wat mense raak. Hulle betrek die huisbewoner by die gesprek. Hulle is kort en saaklik. Dit is baie voordelig om die inleidings in die Redenering-boek deeglik te ondersoek, selfs as inleidings wat nie in die boek verskyn nie soms in jou gebied nodig is.
6 Aan die ander kant is dit baie doeltreffend as ’n mens die inleidings in die Redenering-boek woord vir woord gebruik. Party het gepaste inleidings direk uit hulle Redenering-boek gelees wanneer hulle by geboue met streng sekuriteit oor die interkom moes praat. Dit het hulle gehelp om vlot en bondig te wees en om die huisbewoner se aandag te boei. Hulle is in die gebou ingenooi om die gesprek voort te sit. In een groot stad is hierdie metode die effektiefste manier om mense in geboue met streng sekuriteit te bereik.
7 Ons moet in gedagte hou hoe belangrik ons eerste woorde in die veldbediening is. Baie hang van hulle doeltreffendheid af. Soos Salomo moet ons ook deeglik soek na welgevallige woorde wanneer ons voorberei om doeltreffende inleidings in ons huis-tot-huiswerk te gebruik. Die Redenering-boek sal ons in hierdie soektog help.—Pred. 12:9, 10.