Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w16 Oktober bl. 3-7
  • Ek het goeie voorbeelde probeer navolg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het goeie voorbeelde probeer navolg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EK HET GOEIE VOORBEELDE GEHAD
  • EK TREK WEER
  • OPWINDENDE UITNODIGINGS
  • ’N NUWE TOEWYSING
  • NOG VERANDERINGE
  • NOG ’N OPWINDENDE UITNODIGING
  • Ek laat toe dat Jehovah my pad kies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Ek het nooit ophou leer nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Jehovah het my van jongs af opgelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
w16 Oktober bl. 3-7

LEWENSVERHAAL

Ek het goeie voorbeelde probeer navolg

Soos vertel deur Thomas Mclain

“Weet jy hoe oud ek is?” het ek gevra. “Ek weet presies hoe oud jy is”, het Izak Marais geantwoord, wat my in Colorado gebel het vanaf Patterson, New York. Laat ek verduidelik wat tot daardie gesprek gelei het.

Thomas en Bethel McLain

EK IS op 10 Desember 1936 in Wichita, Kansas, VSA, gebore en is die oudste van vier kinders. My ouers, William en Jean, was getroue aanbidders van Jehovah. My pa was die groepkneg, die term wat destyds gebruik is vir die broer wat die leiding in ’n gemeente geneem het. My ma het Bybelwaarhede geleer by haar ma, Emma Wagner. Emma het hierdie waarhede aan baie mense geleer, ook aan Gertrude Steele, wat jare lank as ’n sendeling in Puerto Rico gedien het.a Ek het dus talle goeie voorbeelde gehad om na te volg.

EK HET GOEIE VOORBEELDE GEHAD

Thomas McLain se pa bied tydskrifte aan op ’n straathoek

My pa, waar hy op ’n straathoek staan en tydskrifte vir verbygangers aanbied

Toe ek vyf jaar oud was, het ek en my pa Die Wagtoring en Vertroosting (nou Ontwaak!) een Saterdagaand vir verbygangers op straat aangebied. Op daardie stadium was die land betrokke by die Tweede Wêreldoorlog. ’n Dokter wat te veel gedrink het, het na ons toe gekom en my pa weens sy Christelike neutraliteit daarvan beskuldig dat hy ’n lafaard is en militêre diens probeer vryspring. Die dokter het reg voor my pa kom staan en gesê: “Waarom slaan jy my nie, jou lafaard!” Ek was bang, maar het my pa bewonder. Hy het net voortgegaan om die tydskrifte aan te bied vir die mense wat om ons begin saamdrom het. Toe het ’n soldaat verbygeloop, en die dokter het geskreeu: “Doen iets omtrent hierdie lafaard!” Die soldaat kon sien dat die man dronk is, en daarom het hy vir hom gesê: “Gaan huis toe en word nugter!” Toe is hulle albei daar weg. Ek is baie dankbaar vir die moed wat Jehovah my pa gegee het. Hy het twee haarkapperswinkels in Wichita besit, en die dokter was een van sy kliënte!

Thomas McLain saam met sy ouers in die 1940’s

Saam met my ouers, op pad na ’n byeenkoms in Wichita in die 1940’s

Toe ek agt jaar oud was, het my ouers hulle huis en winkels verkoop, ’n mobiele huis gebou en na Colorado gegaan om te dien waar hulp nodig was. Ons het naby Grand Junction gaan bly, waar my ouers as pioniers gedien het en deeltyds op plase gewerk het. Danksy Jehovah se seën en my ouers se ywerige werk, is ’n gemeente gestig. Daar het my pa my en ander wat Bybelwaarhede aanvaar het, op 20 Junie 1948 in ’n bergstroom gedoop. Billie Nichols en sy vrou is saam met my gedoop. Hulle, sowel as hulle seun en sy vrou, het later kringwerk gedoen.

Ons het noue assosiasie en opbouende geestelike gesprekke geniet met baie wat hulle lewe gewy het aan die Koninkrykswerk, veral die Steele-familie—Don en Earlene, Dave en Julia sowel as Si en Martha—wat ’n groot invloed op my lewe gehad het. Hulle het vir my gewys dat die lewe werklik betekenisvol en vol vreugde is as jy die Koninkryk eerste stel.

EK TREK WEER

Toe ek 19 was, het Bud Hasty, ’n familievriend, my gevra om saam met hom in die suidelike deel van die Verenigde State te gaan pionier. Die kringopsiener het ons gevra om te trek na Ruston, Louisiana, waar ’n aantal Getuies onbedrywig geword het. Ons is gevra om elke week al die vergaderinge te hou, ongeag hoeveel dit bywoon. Ons het ’n geskikte vergaderplek gekry en dit opgeknap. Ons het elke vergadering gehou, hoewel net ons twee dit in die begin bygewoon het. Ons het beurte gemaak om die vergaderingdele aan te bied. Die een wat nie die deel behartig het nie, moes al die vrae beantwoord. Wanneer demonstrasies gehou moes word, was ons albei op die verhoog met niemand in die gehoor nie! Uiteindelik het ’n bejaarde suster die vergaderinge begin bywoon. Sommige Bybelstudente sowel as sommige wat onbedrywig was, het die vergaderinge mettertyd begin bywoon, en kort voor lank het ons ’n florerende gemeente gehad.

Ek en Bud het op ’n dag ’n predikant van die Kerk van Christus ontmoet, wat tekste genoem het waarmee ek nie bekend was nie. Dit het my ’n bietjie geskok en my diep laat nadink oor wat ek glo. Ek het ’n week lank tot laat in die nag gestudeer om antwoorde te kry op die vrae wat hy geopper het. Dit het my werklik gehelp om die waarheid my eie te maak, en ek kon nie wag om weer met ’n predikant te praat nie.

Kort daarna het die kringopsiener my gevra om na El Dorado, Arkansas, te trek om die gemeente daar te help. Terwyl ek daar was, het ek gereeld na Colorado gereis om voor die dienspligraad te verskyn. Toe ek en ’n paar ander pioniers eenkeer saam in my motor daarheen gereis het, was ons in Texas in ’n ongeluk, en my motor is afgeskryf. Ons het ’n broer gebel om ons te kom haal, en hy het ons na sy huis geneem en daarna na die gemeentelike vergadering. Daar het hulle aangekondig dat ons ’n ongeluk gehad het, en die broers was so gaaf om ons geldelik te help. En die broer het my motor vir $25 verkoop.

Ons het ’n geleentheid gekry na Wichita, waar ’n goeie familievriend, E.F. “Doc” McCartney, gepionier het. Sy tweelingseuns, Frank en Francis, was en is nog steeds twee van my beste vriende. Hulle het ’n ou motor aan my verkoop vir $25, presies wat ek vir my wrak gekry het. Dit was die eerste keer dat ek duidelik gesien het hoe Jehovah in een van my behoeftes voorsien omdat ek Koninkryksbelange eerste stel. Tydens hierdie besoek het die McCartneys my voorgestel aan ’n lieflike Christensuster, Bethel Crane. Haar ma, Ruth, ’n baie ywerige Getuie in Wellington, Kansas, het as ’n pionier gedien totdat sy in haar 90’s was. Ek en Bethel is minder as ’n jaar later, in 1958, getroud, en ons het saam in El Dorado gepionier.

OPWINDENDE UITNODIGINGS

Nadat ons nagedink het oor die goeie voorbeelde wat ons gehad het terwyl ons grootgeword het, het ons besluit om ons beskikbaar te stel om enigiets te doen wat Jehovah se organisasie ons vra om te doen. Ons is as spesiale pioniers gestuur na Walnut Ridge, Arkansas. Ons was verheug toe ons in 1962 genooi is om die 37ste klas van Gilead by te woon. Tot ons vreugde was Don Steele ook in hierdie klas. Nadat ons gegradueer het, is ek en Bethel na Nairobi, Kenia, gestuur. Ons het New York met ’n knop in die keel verlaat, maar ons hartseer het in vreugde verander toe ons ons broers by die lughawe in Nairobi sien!

Thomas en Bethel McLain saam met Mary en Chris Kanaiya in Nairobi, Kenia

In die bediening in Nairobi saam met Mary en Chris Kanaiya

Ons het gou lief geword vir Kenia en het ons bediening daar baie geniet. Ons eerste progressiewe Bybelstudie was met Chris en Mary Kanaiya. Hulle is nog steeds getroue voltydse bedienaars in Kenia. Ons is die volgende jaar gevra om na Kampala, Uganda, te gaan en was die eerste sendelinge in daardie land. Dit was opwindende tye omdat daar so baie mense was wat graag Bybelwaarhede wou leer, en hulle het later ons broers en susters geword. Maar ná drie en ’n half jaar in Afrika het ons teruggekeer na die Verenigde State, waar ons kinders gebore is. Die dag toe ons Afrika verlaat het, het ons ’n groter knop in die keel gehad as toe ons New York verlaat het. Ons het lief geword vir die mense van Afrika en het gehoop dat ons eendag kan terugkeer.

’N NUWE TOEWYSING

Ons het gaan woon in die westelike deel van Colorado, waar my ouers gewoon het. Kort daarna is ons eerste dogter, Kimberly, gebore, en 17 maande later is Stephany gebore. Ons het hierdie nuwe toewysing, om ouers te wees, baie ernstig opgeneem, en ons het hard probeer om die waarheid by ons pragtige dogters se hartjies in te skerp. Ons wou dieselfde goeie voorbeeld vir hulle stel as wat ander vir ons gestel het. Ons het besef dat ’n goeie voorbeeld baie kan help om ons kinders te vorm, maar dat dit nie waarborg dat hulle Jehovah sal bly dien nie. My jonger broer en een van my susters het die waarheid verlaat. Hopelik sal hulle eendag weer die goeie voorbeelde navolg wat ook vir hulle gestel is.

Ons het dit baie geniet om ons dogters groot te maak en het altyd probeer om dinge as ’n gesin saam te doen. Aangesien ons naby Aspen, Colorado, gewoon het, het ons almal begin ski, want dit was ’n vorm van ontspanning wat ons saam kon geniet. Dit het ons die geleentheid gebied om met ons dogters te gesels terwyl ons saam op die skihysers gery het. Ons het ook saam met hulle gaan kamp en het lekker om die kampvuur gesels. Al was hulle jonk, het hulle vrae gevra soos: “Wat gaan ek word wanneer ek groot is?” en “Met watter soort man wil ek eendag trou?” Ons het geestelike waardes by ons dogters probeer inskerp. Ons het hulle aangespoor om voltydse diens hulle doelwit te maak en om eendag ’n huweliksmaat te soek wat dieselfde doelwit as hulle het. Ons het vir hulle gesê dat dit beter is om nie te jonk te trou nie. Ons het ’n sêding gehad: “Bly ongetroud tot minstens 23 jaar oud.”

Ons het ons ouers se voorbeeld gevolg en ons bes gedoen om as ’n gesin die vergaderinge by te woon en gereeld velddiens te doen. Soms het ons gereël dat voltydse bedienaars by ons kom bly. En ons het dikwels gepraat oor hoe ons sendingwerk geniet het. Ons het gesels oor die moontlikheid dat ons al vier eendag saam na Afrika kan gaan. Dit was iets wat ons dogters baie graag wou doen.

Ons het altyd ’n gereelde gesinstudie gehad en het dikwels geoefen hoe hulle situasies kon hanteer wat by die skool kon opduik. Ons het die dogters die rol laat speel van ’n Getuie wat vrae beantwoord. Dit was vir hulle pret om so te leer, en dit het hulle selfvertroue gegee. Toe hulle ouer geword het, het hulle soms gekla omdat ons gesinstudie moes hou. Eenkeer het ek moedeloos vir hulle gesê om na hulle kamers te gaan en dat ons nie die studie sal hê nie. Hulle was geskok en het begin huil en gesê dat hulle die studie wil hê. Ons het toe besef dat ons wel daarin slaag om waardering vir geestelike dinge in hulle jong hartjies te laat posvat. Hulle het baie lief geword vir die studie, en ons het hulle toegelaat om te sê presies hoe hulle voel. Maar dit was moeilik wanneer hulle soms gesê het dat hulle nie saamstem met die een of ander aspek van die waarheid nie. En tog het ons so uitgevind wat werklik in hulle hart is. Nadat ons met hulle geredeneer het, het hulle Jehovah se denke oor sake aanvaar.

NOG VERANDERINGE

Voordat ons ons oë kon uitvee, was ons dogters groot. Met die hulp en leiding van God se organisasie het ons ons bes gedoen om hulle te help om Jehovah lief te kry. Ons was baie dankbaar toe albei ons dogters begin pionier het nadat hulle hulle skoolloopbaan voltooi het en vaardighede aangeleer het om hulleself te onderhou. Hulle het saam met twee ander susters na Cleveland, Tennessee, getrek om te gaan dien waar hulp nodig was. Ons het hulle baie gemis, maar ons was bly dat hulle hulle lewe in die voltydse diens gebruik. Ek en Bethel het toe weer begin pionier, wat dit vir ons moontlik gemaak het om ander wonderlike voorregte te geniet. Ek het ingestaan as ’n kringopsiener en ons het byeenkomswerk gedoen.

Voordat ons dogters na Tennessee getrek het, het hulle na Londen, Engeland, gereis en die takkantoor daar besoek. Daar het Stephany, wat toe 19 was, Paul Norton, ’n jong Betheliet, ontmoet. Toe hulle Engeland weer besoek het, het Kimberly een van Paul se werksmaats, Brian Llewellyn, ontmoet. Paul en Stephany het getrou—maar eers toe sy 23 was. Brian en Kimberly het die volgende jaar getrou—toe sy 25 was. Hulle het dus ongetroud gebly totdat hulle minstens 23 was. Ons was baie tevrede met die goeie mans wat hulle gekies het.

Thomas en Bethel McLain saam met hulle twee dogters en skoonseuns

Saam met Paul, Stephany, Kimberly en Brian by die takkantoor in Malawi, in die jaar 2002

Ons dogters het vir ons gesê dat die voorbeeld wat ons en hulle grootouers gestel het, hulle gehelp het om Jesus se bevel te gehoorsaam om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’, selfs wanneer hulle finansieel gesukkel het (Matt. 6:33). Paul en Stephany is in April 1998 na die 105de klas van Gilead genooi, en daarna is hulle na Malawi, Afrika, gestuur. Brian en Kimberly is op dieselfde tyd genooi om by die Londense Bethel te werk en is later na die Bethel in Malawi gestuur. Ons was baie bly, aangesien dit die beste manier is waarop jongmense hulle lewe kan gebruik.

NOG ’N OPWINDENDE UITNODIGING

In Januarie 2001 het ek die telefoonoproep ontvang wat aan die begin van die artikel genoem word. Broer Marais, die opsiener van die Vertaaldiensteafdeling, het verduidelik dat die broers ’n kursus reël om vertalers regoor die wêreld te help om hulle begrip van Engels te verbeter en dat hulle daaraan dink om my, op 64-jarige ouderdom, as een van die instrukteurs op te lei. Ek en Bethel het hieroor gebid en die saak met ons twee bejaarde moeders bespreek om hulle raad te vra. Hulle wou albei hê dat ons moet gaan, al sou hulle sonder ons hulp moes klaarkom. Ek het teruggebel en gesê dat ons hierdie wonderlike toewysing met graagte sal aanvaar.

Toe het my ma uitgevind dat sy kanker het. Ek het vir haar gesê dat ons sal bly en my suster Linda sal help om haar te versorg. “Jy sal niks van die aard doen nie”, het my ma gesê. “Ek sal erger voel as julle nie gaan nie.” Linda het ook so gevoel. Ons het hulle selfopofferende gees sowel as die hulp van die plaaslike broers en susters baie waardeer! Die dag nadat ons vertrek het om na die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson te gaan, het Linda ons gebel om te sê dat my ma oorlede is. My ma sou ons aangespoor het om ons nuwe toewysing met groot ywer aan te pak, en dit is presies wat ons gedoen het.

Ons was baie bly toe ons eerste toewysing in Malawi was, waar ons dogters en hulle mans gedien het. Dit was ’n wonderlike reünie! Daarna het ons die kursus in Zimbabwe en toe in Zambië aangebied. Ná drie en ’n half jaar is ons gevra om terug te keer na Malawi om die ondervindinge op te teken van die Getuies wat daar vervolg is weens hulle Christelike neutraliteit.b

Thomas en Bethel McLain doen velddiens saam met hulle kleindogters

In die bediening saam met ons kleindogters

In 2005 het ons weer met ’n knop in die keel teruggekeer huis toe na Basalt, Colorado, waar ek en Bethel nog steeds pionier. Brian en Kimberly het in 2006 langs ons ingetrek om hulle twee dogters, Mackenzie en Elizabeth, groot te maak. Paul en Stephany is nog steeds in Malawi, waar Paul op die Takkomitee dien. Ek is nou byna 80 jaar oud, en dit is vir my wonderlik om te sien dat jonger manne saam met wie ek oor die jare gewerk het, die verantwoordelikhede aanvaar wat ek voorheen gehad het. Die vreugde wat ons ervaar, is grootliks te danke aan die goeie voorbeelde wat ander vir ons gestel het en wat ons tot die voordeel van ons kinders en kleinkinders probeer navolg het.

a Sien The Watchtower van 1 Mei 1956, bl. 269-272, en 15 Maart 1971, bl. 186-190, om meer te lees oor die sendingwerk van lede van die Steele-familie.

b Sien byvoorbeeld die lewensverhaal van Trophim Nsomba in Die Wagtoring van 15 April 2015, bl. 27-31.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel