’n God of ’n mens?
“EK IS die lig van die wêreld. Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit” (Johannes 8:12). Hierdie woorde is deur Jesus Christus geuiter. ’n Geleerde man van die eerste eeu het van hom geskryf: “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” (Kolossense 2:3). Ook sê die Bybel: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Juiste kennis van Jesus is noodsaaklik om ons geestelike behoefte te bevredig.
Regoor die aarde het mense al van Jesus Christus gehoor. Daar bestaan geen twyfel oor sy invloed op die geskiedenis van die mensdom nie. Trouens, die kalender wat in die meeste wêrelddele gebruik word, is gebaseer op die jaar waarin hy vermoedelik gebore is. “Baie mense verwys na datums voor daardie jaar as v.C., of voor Christus”, verduidelik The World Book Encyclopedia. “Hulle gebruik AD, of anno Domini (in die jaar van ons Here), vir datums ná daardie jaar.”
Maar daar is teenstrydige idees oor wie Jesus was. Vir party was hy maar net ’n uitsonderlike man wat sy stempel op die geskiedenis afgedruk het. Ander aanbid hom egter as God die Almagtige. Party Hindoedenkers het Jesus Christus vergelyk met die Hindoegod Krisjna, wat volgens baie ’n god in die vlees was. Was Jesus bloot ’n mens, of was hy iemand wat aanbid moet word? Presies wie was hy? Waarvandaan het hy gekom? Watter soort persoon was hy? En waar is hy nou? Soos ons in die volgende artikel sal sien, verskaf die boek wat baie oor Jesus sê, betroubare antwoorde op hierdie vrae.