Die grootste mens wat nog geleef het
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—MATTHEÜS 16:16.
1, 2. (a) Hoe kan ’n mens se grootheid bepaal word? (b) Watter mense in die geskiedenis is al Groot genoem, en waarom?
WIE dink jy is die grootste mens wat nog geleef het? Hoe bepaal ’n mens iemand se grootheid? Deur sy militêre vernuf? sy groot verstandelike vermoë? sy fisiese krag?
2 Verskeie heersers is al Groot genoem, heersers soos Kores die Grote, Alexander die Grote en Karel die Grote, wat selfs gedurende sy eie lewe “die Grote” genoem is. Sulke manne het deur hulle formidabele persoonlikheid ’n groot invloed uitgeoefen op diegene oor wie hulle geheers het.
3. (a) Watter toets kan ’n mens doen om iemand se grootheid te bepaal? (b) Wie is volgens so ’n toets die grootste mens wat nog geleef het?
3 Dit is interessant hoe die geskiedskrywer H. G. Wells sy toets om ’n mens se grootheid te bepaal, omskryf het. Meer as 50 jaar gelede het hy geskryf: “Die geskiedskrywer se toets van iemand se grootheid is: ‘Wat het hy agtergelaat om te groei? Het hy mense in nuwe rigtings laat dink met ’n krag wat ná hom voortgeduur het?’” Wells se slotsom was: “Volgens hierdie toets staan Jesus eerste.” Selfs Napoleon Bonaparte het gesê: “Jesus Christus het Sy onderdane beïnvloed en aangevoer sonder dat Hy sigbaar, fisies teenwoordig was.”
4. (a) Watter teenstellende beskouings is daar aangaande Jesus? (b) Watter plek gee ’n nie-Christelike geskiedskrywer Jesus in die geskiedenis?
4 Maar party maak die aantyging dat Jesus nie ’n historiese persoon is nie, dat hy ’n mite is. Die ander uiterste is dat baie mense Jesus as God vereer, en hulle sê dat God as Jesus aarde toe gekom het. Maar Wells het sy gevolgtrekkings alleenlik op die geskiedkundige getuienis van Jesus se bestaan as ’n mens gegrond en geskryf: “Dit is interessant en betekenisvol dat ’n geskiedskrywer, met hoegenaamd geen teologiese vooroordeel nie, moet vind dat hy die vooruitgang van die mensdom nie eerlik kan weergee sonder om ’n vername plek te gee aan ’n brandarm onderrigter uit Nasaret nie. . . . ’n Geskiedskrywer soos ek, wat homself nie eers ’n Christen noem nie, vind dat die lewe en persoonlikheid van hierdie uiters merkwaardige man die spil is waarom die hele situasie draai.”
Het Jesus werklik gelewe?
5, 6. Wat sê geskiedskrywers H. G. Wells en Will Durant oor die historisiteit van Jesus?
5 Maar gestel iemand sê vir jou dat Jesus nooit geleef het nie, dat hy in werklikheid ’n mite, ’n verdigsel van ’n paar eerste-eeuse manne, was? Hoe sou jy op hierdie aantyging reageer? Hoewel Wells erken dat “ons nie soveel van [Jesus] weet as wat ons graag sou wou weet nie”, sê hy nietemin: “Die vier Evangelies . . . stem ooreen deurdat hulle vir ons ’n beeld van ’n baie definitiewe persoonlikheid skilder; hulle het die oortuiging wat met die werklikheid gepaardgaan. Om aan te neem dat hy nie bestaan het nie, dat die verslae van sy lewe verdigsels is, is moeiliker en veroorsaak baie meer probleme vir die geskiedskrywer as om die essensiële elemente van die Evangelieverslae as feite te aanvaar.”
6 Die hoogaangeskrewe geskiedskrywer Will Durant het ’n soortgelyke argument aangevoer en verduidelik: “As ’n paar eenvoudige manne [wat hulleself Christene genoem het] in een geslag so ’n kragtige en aantreklike persoonlikheid, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende visioen van die broederskap van die mens kon skep, sou dit ’n wonderwerk wees wat veel groter is as enige van dié wat in die Evangelies opgeteken is.”
7, 8. In watter mate het Jesus die mens se geskiedenis beïnvloed?
7 Daarom kan jy met so ’n skeptikus redeneer: Sou ’n mitiese karakter—iemand wat nooit werklik geleef het nie—so ’n groot invloed op die mens se geskiedenis kon hê? Die naslaanwerk The Historians’ History of the World het gesê: “Die historiese gevolg van [Jesus se] bedrywighede was betekenisvoller, selfs uit ’n suiwer sekulêre oogpunt beskou, as die dade van enigiemand anders in die geskiedenis. ’n Nuwe era, wat deur die belangrikste beskawings van die wêreld erken word, word van sy geboorte af gereken.” Dink net daaraan. Selfs party hedendaagse kalenders word gebaseer op die jaar waarin Jesus na bewering gebore is. “Jaartalle voor daardie jaar word as v.C., of voor Christus, aangegee”, verduidelik The World Book Encyclopedia. “Jaartalle ná daardie jaar word as AD, of anno Domini (in die jaar van ons Here), aangegee.”
8 Deur sy dinamiese leer en deur die manier waarop hy in ooreenstemming daarmee geleef het, het Jesus al byna tweeduisend jaar lank ’n groot invloed op die lewe van tallose menigtes gehad. Soos een skrywer dit gepas gestel het: “Al die leërs wat ooit uitgetrek het, al die vlote wat ooit gebou is, al die parlemente wat ooit gesit het en al die konings wat ooit geheers het, het saam nie so ’n kragtige uitwerking op die lewe van die mensdom op aarde gehad nie.” Maar kritici sê: “Alles wat ons werklik van Jesus weet, word in die Bybel gevind. Daar is geen ander verslae oor hom uit daardie tyd nie.” Maar is dit waar?
9, 10. (a) Wat het vroeë sekulêre geskiedskrywers en skrywers oor Jesus gesê? (b) Wat is die gevolgtrekking van ’n vername ensiklopedie op grond van die getuienis van vroeë geskiedskrywers?
9 Al het vroeë sekulêre geskiedskrywers maar selde na Jesus Christus verwys, bestaan daar wel sulke verwysings. Cornelius Tacitus, ’n hoogaangeskrewe Romeinse geskiedskrywer van die eerste eeu, het geskryf dat die Romeinse keiser Nero ‘die skuld vir die brand in Rome op Christene gepak het’, en Tacitus het voorts verduidelik: “Die naam [Christen] is afgelei van Christus, wat deur die prokurator Pontius Pilatus gedurende die bewind van Tiberius tereggestel is.” Suetonius en Plinius die Jongere, ander Romeinse skrywers van daardie tyd, het ook van Christus melding gemaak. Daarbenewens het Flavius Josephus, ’n eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer, in sy Antiquities of the Jews geskryf van die dood van die Christendissipel Jakobus. Josephus het ter verduideliking gesê dat Jakobus “die broer van Jesus, wat die Christus genoem is”, was.
10 The New Encyclopædia Britannica maak dus hierdie gevolgtrekking: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in antieke tye nooit die historisiteit van Jesus betwyfel het nie. Dit is iets wat vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu betwis is.”
Wie was Jesus werklik?
11. (a) Wat is hoofsaaklik die enigste bron van geskiedkundige informasie oor Jesus? (b) Watter vraag het Jesus se eie volgelinge oor sy identiteit gehad?
11 Maar alles wat werklik vandag oor Jesus bekend is, is deur sy eerste-eeuse volgelinge opgeteken. Hulle verslae het behoue gebly in die Evangelies—die Bybelboeke wat geskryf is deur twee van sy apostels, Mattheüs en Johannes, en deur twee van sy dissipels, Markus en Lukas. Wat sê hierdie manne se verslae oor die identiteit van Jesus? Wie was hy werklik? Jesus se eerste-eeuse metgeselle het oor daardie vraag nagedink. Toe hulle sien hoe Jesus ’n stormagtige see stilmaak deur dit te bestraf, het hulle in verbasing gewonder: “Wie is Hy tog?” By ’n ander geleentheid het Jesus sy apostels gevra: “Wie sê julle is Ek?”—Markus 4:41; Mattheüs 16:15.
12. Hoe weet ons dat Jesus nie God is nie?
12 Hoe sou jy antwoord as daardie vraag aan jou gestel word? Wie was Jesus werklik? Baie lede van die Christendom sal natuurlik sê dat hy die almagtige God in ’n menslike gedaante, God in die vlees, was. Maar die persoonlike metgeselle van Jesus het nooit geglo dat hy God was nie. Die apostel Petrus het hom “die Christus, die Seun van die lewende God”, genoem (Mattheüs 16:16). En ’n mens kan soek soos jy wil, jy sal nooit lees dat Jesus gesê het dat hy God is nie. Hy het eerder vir die Jode gesê dat hy “die Seun van God” is, nie God nie.—Johannes 10:36.
13. Hoe was Jesus anders as alle ander mense?
13 Toe Jesus oor ’n stormagtige see geloop het, het die dissipels weer eens besef dat hy nie ’n mens soos enigiemand anders was nie (Johannes 6:18-21). Hy was ’n baie spesiale mens. Dit is omdat hy vroeër as ’n geespersoon saam met God in die hemel geleef het, ja, as ’n engel wat in die Bybel die aartsengel genoem word (1 Thessalonicense 4:16; Judas 9). God het hom geskep voor Hy enigiets anders geskep het (Kolossense 1:15). Jesus het dus ’n onbekende tyd lank, selfs voor die sigbare heelal geskep is, in die hemel geleef en ’n intieme verhouding met sy Vader, Jehovah God, die Grootse Skepper, geniet.—Spreuke 8:22, 27-31; Prediker 12:1.
14. Hoe het Jesus ’n mens geword?
14 Toe, omtrent tweeduisend jaar gelede, het God sy Seun se lewe oorgeplaas na die baarmoeder van ’n vrou. Hy het sodoende ’n menslike seun van God geword, wat op die normale manier uit ’n vrou gebore is (Galasiërs 4:4). Terwyl Jesus in die baarmoeder van sy moeder, Maria, ontwikkel het en later, terwyl hy grootgeword het, was hy afhanklik van diegene wat God gekies het om sy aardse ouers te wees. Jesus het eindelik volwassenheid bereik, en dit is toe klaarblyklik aan hom gegee om sy vorige lewe saam met God in die hemel te onthou. Dit het gebeur toe hy gedoop is en ‘die hemele vir Hom oopgegaan het’.—Mattheüs 3:16; Johannes 8:23; 17:5.
15. Hoe weet ons dat Jesus in alle opsigte ’n mens was toe hy op die aarde geleef het?
15 Jesus was voorwaar ’n unieke persoon. Maar hy was nietemin ’n mens, die gelyke van Adam, die mens wat oorspronklik deur God geskep en in die tuin van Eden geplaas is. Die apostel Paulus het verduidelik: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees.” Jesus word “die laaste Adam” genoem, omdat hy, soos die eerste Adam, ’n volmaakte mens was. Maar toe Jesus gesterf het, is hy opgewek en het hy weer as ’n geespersoon by sy Vader in die hemel aangesluit.—1 Korinthiërs 15:45.
Die beste manier om God te leer ken
16. (a) Waarom was dit so ’n voorreg om ’n metgesel van Jesus te wees? (b) Waarom kan daar gesê word dat jy God as ’t ware gesien het as jy Jesus gesien het?
16 Dink ’n oomblik na oor die wonderlike voorreg wat party mense geniet het om metgeselle van Jesus te wees toe hy op aarde was! Stel jou voor dat jy Iemand wat moontlik duisendmiljoene jare as ’n intieme metgesel van Jehovah God in die hemel deurgebring het, hoor praat, dat jy met hom praat, dat jy hom sien en selfs saam met hom werk! Omdat hy ’n getroue seun is, het Jesus sy hemelse Vader noukeurig nagevolg in alles wat hy gedoen het. Trouens, Jesus het sy Vader so volmaak nagevolg dat hy kort voor hy tereggestel is vir sy volgelinge kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9, 10). Ja, in elke situasie wat hy hier op aarde teëgekom het, het Jesus opgetree net soos sy Vader, die almagtige God, sou opgetree het as Hy hier was. Wanneer ons dus die lewe en bediening van Jesus Christus bestudeer, leer ons in werklikheid watter soort persoon God is.
17. Van watter nut was die reeks “Jesus se lewe en bediening” in Die Wagtoring?
17 Daarom het die reeks “Jesus se lewe en bediening” wat vanaf April 1985 tot Junie 1991 in elke nommer van Die Wagtoring verskyn het nie net ’n goeie beskrywing van die mens Jesus gegee nie, maar ons ook baie omtrent sy hemelse Vader, Jehovah God, geleer. Ná die eerste twee dele het ’n pionierbedienaar uit waardering aan die Wagtoringgenootskap geskryf en gesê: “Daar is geen beter manier om nader aan die Vader te kom as om die Seun beter te leer ken nie!” Dit is beslis waar! Die Vader se tere sorg vir mense en sy ruimhartigheid word in die lewe van die Seun verheerlik.
18. Wie is die Outeur van die Koninkryksboodskap, en hoe het Jesus dit erken?
18 Jesus se liefde vir sy Vader, wat uit sy algehele onderworpenheid aan sy Vader se wil geblyk het, is werklik iets wonderliks. “Uit Myself doen Ek niks nie”, het Jesus vir die Jode gesê wat hom wou doodmaak, “maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Jesus was dus nie die outeur van die Koninkryksboodskap wat hy verkondig het nie. Jehovah God was! En Jesus het sy Vader altyd die eer hiervoor gegee. “Ek het nie uit Myself gespreek nie”, het hy gesê, “maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. . . . Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.”—Johannes 12:49, 50.
19. (a) Hoe weet ons dat Jesus se onderrigmetodes net soos Jehovah s’n was? (b) Waarom was Jesus die grootste mens wat nog geleef het?
19 Maar Jesus het nie bloot gespreek en onderrig wat die Vader hom gesê het nie. Hy het veel meer gedoen. Hy het dit gespreek of daaroor onderrig gegee op die manier wat die Vader dit sou gespreek het of daaroor onderrig sou gegee het. Daarbenewens was sy gedrag en optrede in al sy bedrywighede en verhoudings net soos die gedrag en optrede van die Vader in dieselfde omstandighede sou wees. “Die Seun kan niks uit Homself doen”, het Jesus verduidelik, “tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19). Jesus het sy Vader, Jehovah God, in alle opsigte volmaak weerspieël. Dit is dus geen wonder dat Jesus die grootste mens was wat nog geleef het nie! Daarom is dit beslis van lewensbelang dat ons hierdie uiters merkwaardige man van naderby beskou!
Ons sien God se liefde in Jesus
20. Hoe kon die apostel Johannes weet dat ‘God liefde is’?
20 Wat leer ons veral wanneer ons ’n diep, noukeurige studie van die lewe en bediening van Jesus maak? Wel, die apostel Johannes het erken dat ‘niemand God ooit gesien het nie’ (Johannes 1:18). En tog het Johannes met absolute vertroue in 1 Johannes 4:8 geskryf: “God is liefde.” Johannes kon dit sê omdat hy God se liefde geken het deur wat hy in Jesus gesien het.
21. Wat het Jesus die grootste mens gemaak wat nog geleef het?
21 Jesus was, soos die Vader, simpatiek, goedhartig, nederig en genaakbaar. Die swakkes en vertraptes het op hulle gemak gevoel by hom, soos trouens alle mense—mans, vroue, kinders, die rykes, die armes, die magtiges, selfs groot sondaars. Ja, dit was veral Jesus se voortreflike voorbeeld van liefde, in navolging van sy Vader, wat van hom die grootste mens gemaak het wat nog geleef het. Selfs Napoleon Bonaparte het na bewering gesê: “Ek, Alexander, Caesar en Karel die Grote het ryke gestig, maar waarop het ons ons geniale skeppings gegrond? Op geweld. Slegs Jesus Christus het sy koninkryk op liefde gegrond, en vandag is daar miljoene mense wat vir hom sal sterf.”
22. Wat was revolusionêr aangaande Jesus se leringe?
22 Jesus se leringe was revolusionêr. “Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie”, het Jesus gemaan, “maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.” “Julle moet jul vyande liefhê; . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.” ‘Doen aan andere wat julle wil hê hulle aan julle moet doen’ (Mattheüs 5:39, 44; 7:12). Hoe anders sou die wêreld tog gewees het as almal hierdie verhewe leringe toegepas het!
23. Wat het Jesus gedoen om harte te bereik en mense te beweeg om die goeie te doen?
23 Jesus se gelykenisse, of illustrasies, het harte geraak en mense beweeg om die goeie te doen en die kwaad te vermy. Jy onthou seker sy bekende verhaal van ’n veragte Samaritaan wat ’n beseerde man van ’n ander ras gehelp het toe vroom manne van sy eie ras dit nie wou doen nie. Of die verhaal van ’n barmhartige, vergewensgesinde vader en sy verlore seun. En wat van die verhaal van die koning wat ’n dienskneg ’n skuld van tienduisend talente kwytgeskeld het; en tog het daardie dienskneg ’n mededienskneg in die tronk laat stop omdat hy nie sy skuld van slegs honderd pennings kon betaal nie? Jesus het deur eenvoudige illustrasies dade van selfsug en hebsug afstootlik laat lyk en dade van liefde en barmhartigheid tog so aantreklik gemaak!—Mattheüs 18:23-35; Lukas 10:30-37; 15:11-32.
24. Waarom kan ons sê dat Jesus ongetwyfeld die grootste mens was wat nog geleef het?
24 Maar wat mense veral na Jesus aangetrek en hulle ten goede beïnvloed het, was dat sy eie lewe volmaak gestrook het met wat hy geleer het. Sy dade het met sy woorde gestrook. Hy het ander se tekortkominge geduldig verdra. Toe sy dissipels gestry het oor wie die grootste was, het hy hulle liefdevol reggehelp en hulle nie streng bestraf nie. Hy het nederig na hulle behoeftes omgesien en selfs hulle voete gewas (Markus 9:30-37; 10:35-45; Lukas 22:24-27; Johannes 13:5). En uiteindelik was hy gewillig om ’n pynlike dood te sterf, nie net ten behoewe van hulle nie, maar ten behoewe van die hele mensdom! Jesus was ongetwyfeld die grootste mens wat nog geleef het.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter bewys is daar dat Jesus ’n werklike persoon in die geskiedenis was?
◻ Hoe weet ons dat Jesus ’n mens was, maar hoe was hy anders as alle ander mense?
◻ Waarom is ’n studie van die lewe van Jesus die beste manier om God te leer ken?
◻ Wat kan ons van God se liefde leer as ons ’n studie van Jesus se lewe maak?
[Prent op bladsy 10]
Jesus se apostels het in verbasing gewonder: “Wie is Hy tog?”