Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 9/1 bl. 13-17
  • Wandel met God in hierdie onstuimige tye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel met God in hierdie onstuimige tye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wandel met God, nie met die nasies nie
  • Hoe en waarom met God wandel?
  • Henog het in onstuimige tye met God gewandel
  • Wat het Henog versterk om met God te wandel?
  • Volg Henog se voorbeeld na
  • ‘Hy was vir God welbehaaglik’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Henog het met God gewandel in ’n goddelose wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Henog onbevrees ten spyte van ’n oormag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hy het God gelukkig gemaak
    Wees moedig en maak God gelukkig
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 9/1 bl. 13-17

Wandel met God in hierdie onstuimige tye

“Henog het met die ware God bly wandel. Toe was hy nie meer daar nie, want God het hom geneem.”—GENESIS 5:24.

1. Wat is party van die dinge wat ons tye rampspoedig maak?

ONSTUIMIGE tye! Dít is ’n goeie beskrywing van die jare van onrus en geweld wat die mensdom sedert die geboorte van die Messiaanse Koninkryk in 1914 ondervind het. Die mensdom lewe al van daardie tyd af in “die laaste dae”. Hulle is op ongeëwenaarde skaal geteister deur ellendes soos hongersnood, siektes, aardbewings en oorloë (2 Timoteus 3:1; Openbaring 6:1-8). Aanbidders van Jehovah het hierdie dinge nie vrygespring nie. In meerdere of mindere mate moet ons almal die ontberinge en onsekerheid van die tye die hoof bied. Ekonomiese druk, politieke onrus, misdaad en siekte is van die dinge wat die lewe baie moeilik maak.

2. Voor watter uitdagings kom Jehovah se knegte te staan?

2 Boonop het baie van Jehovah se knegte die een vlaag van bittere vervolging ná die ander verduur omdat Satan bly oorlog voer teen diegene “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:17). En al het ons nie almal direkte vervolging ondervind nie, moet alle ware Christene stry teen Satan die Duiwel en die gees wat hy onder die mensdom bevorder (Efesiërs 2:2; 6:12). Dit vereis volgehoue waaksaamheid om nie deur hierdie gees beïnvloed te word nie, aangesien ons daaraan blootgestel word by die werk, op skool en oral waar ons in aanraking kom met mense wat nie in ware aanbidding belangstel nie.

Wandel met God, nie met die nasies nie

3, 4. In watter opsig is Christene anders as die wêreld?

3 In die eerste eeu het Christene ook hard gestry teen die gees van hierdie wêreld, en dit het hulle opvallend anders as mense buite die Christengemeente gemaak. Paulus het die verskil beskryf toe hy in ’n brief gesê het: “Dít sê ek dan en getuig ek van in die Here, dat julle nie langer moet aanhou wandel soos ook die nasies in die nutteloosheid van hulle verstand wandel nie, terwyl hulle verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart. Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf.”—Efesiërs 4:17-19.

4 Hoe kragtig beskryf hierdie woorde tog die diep geestelike en sedelike duisternis van hierdie wêreld—in Paulus se dag sowel as ons s’n! Vandag, net soos in die eerste eeu, hou Christene ‘nie aan om te wandel soos die nasies nie’. Hulle geniet eerder die wonderlike voorreg om met God te wandel. Baie mense twyfel weliswaar of dit redelik is om te sê dat nederige, onvolmaakte mense met Jehovah wandel. Maar die Bybel toon dat hulle kan. Wat meer is, Jehovah verwag dat hulle dit doen. In die agtste eeu voor ons Gewone Jaartelling het die profeet Miga die volgende geïnspireerde woorde neergeskryf: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Miga 6:8.

Hoe en waarom met God wandel?

5. Hoe kan ’n onvolmaakte mens met God wandel?

5 Hoe kan ons met die almagtige, onsigbare God wandel? Beslis nie op die manier waarop ons met mense wandel nie. In die Bybel kan die uitdrukking “om te wandel” beteken “om ’n sekere handelswyse te volg”.a As ons dit in gedagte hou, verstaan ons dat iemand wat met God wandel, ’n lewensweg volg wat deur God voorgeskryf word en hom behaag. Wanneer ons so ’n weg volg, maak dit ons anders as die meeste van die mense om ons. Dit is egter die enigste regte keuse vir ’n Christen. Hoe so? Daar is baie redes.

6, 7. Waarom is dit die beste weg om met God te wandel?

6 Eerstens, Jehovah is ons Skepper, die Bron van ons lewe en die Voorsiener van alles wat ons nodig het om te lewe (Openbaring 4:11). Gevolglik het net hy die reg om vir ons te sê hoe om te wandel. Verder is daar geen voordeliger weg om te volg as om met God te wandel nie. Vir dié wat met hom wandel, het Jehovah voorsiening gemaak vir die vergifnis van sonde, en hy bied die vaste hoop op die ewige lewe. Ons oneindig liefdevolle hemelse Vader voorsien ook wyse raad wat diegene wat met hom wandel, help om nou reeds ’n sukses van die lewe te maak, ten spyte daarvan dat hulle onvolmaak is en in ’n wêreld lewe wat in Satan se mag lê (Johannes 3:16; 2 Timoteus 3:15, 16; 1 Johannes 1:8; 2:25; 5:19). ’n Verdere rede om met God te wandel, is dat ons gewilligheid om dit te doen, tot die vrede en eenheid van die gemeente bydra.—Kolossense 3:15, 16.

7 Laastens, en van die grootste belang, wanneer ons met God wandel, toon ons waar ons staan ten opsigte van die groot geskil wat destyds in die tuin van Eden geopper is—die geskil oor soewereiniteit (Genesis 3:1-6). Ons toon deur ons lewensweg dat ons Jehovah se kant van die geskil heelhartig ondersteun, en ons verkondig onbevrees dat hy alleen die regmatige Soewerein is (Psalm 83:18). Sodoende tree ons op in ooreenstemming met ons gebed dat God se naam geheilig moet word en dat sy wil moet geskied (Matteus 6:9, 10). Hoe wys is diegene tog wat kies om met God te wandel! Hulle kan seker wees dat hulle die regte weg volg, aangesien Jehovah “alleen wys” is. Hy maak nooit ’n fout nie.—Romeine 16:27.

8. Hoe was die tye van Henog en Noag soortgelyk aan ons tyd?

8 Maar hoe is dit moontlik om soos Christene te lewe in sulke onstuimige tye waarin die meeste mense glad nie daarin belangstel om Jehovah te dien nie? Ons vind die antwoord wanneer ons kyk na getroue manne van ouds wat hulle onkreukbaarheid tydens baie moeilike tye gehandhaaf het. Twee van hulle was Henog en Noag. Albei het gelewe in tye wat baie soortgelyk was aan ons tyd. Goddeloosheid het hoogty gevier. In Noag se dag was die aarde vol geweld en onsedelikheid. Tog het Henog en Noag die gees van die wêreld van hulle tyd weerstaan en met Jehovah gewandel. Wat het hulle in staat gestel om dit te doen? Om hierdie vraag te beantwoord, gaan ons die voorbeeld van Henog in hierdie artikel bespreek. In die volgende artikel gaan ons na Noag kyk.

Henog het in onstuimige tye met God gewandel

9. Watter inligting het ons oor Henog?

9 Henog is die eerste persoon van wie die Skrif sê dat hy met God gewandel het. Die Bybelverslag sê: “Nadat Henog die vader van Metusalag geword het, het hy nog . . . met die ware God gewandel” (Genesis 5:22). Dan, nadat dit noem hoe lank Henog gelewe het—wat nou wel lank is in vergelyking met ons lewensduur, maar kort was vir daardie dae—sê die verslag: “Henog het met die ware God bly wandel. Toe was hy nie meer daar nie, want God het hom geneem” (Genesis 5:24). Klaarblyklik het Jehovah Henog uit die land van die lewendes weggevoer na die slaap van die dood voordat teenstanders die hand op hom kon lê (Hebreërs 11:5, 13). Benewens hierdie kort verse is daar min verwysings na Henog in die Bybel. Maar op grond van die inligting wat ons wel het en volgens ander aanduidings, het ons goeie rede om te sê dat Henog se tye onstuimig was.

10, 11. (a) Hoe het verdorwenheid ná die opstand van Adam en Eva versprei? (b) Watter profetiese boodskap het Henog verkondig, en met watter reaksie het hy sekerlik te kampe gehad?

10 Kyk byvoorbeeld hoe gou verdorwenheid onder die mensdom versprei het nadat Adam gesondig het. Die Bybel sê vir ons dat Adam se eersgebore seun, Kain, die eerste mensemoordenaar geword het toe hy sy broer Abel doodgemaak het (Genesis 4:8-10). Ná Abel se gewelddadige dood is nog ’n seun vir Adam en Eva gebore, en hulle het hom Set genoem. Van hom lees ons: “Ook vir Set is ’n seun gebore, en hy het hom Enos genoem. In dié tyd het mense die naam van Jehovah begin aanroep” (Genesis 4:25, 26). Ongelukkig was dit op ’n afvallige wyse dat hulle ‘die naam van Jehovah aangeroep’ het.b Baie jare ná die geboorte van Enos het Lameg, ’n afstammeling van Kain, ’n lied vir twee van sy vrouens geskryf waarin hy sê dat hy ’n jong man wat hom gewond het, doodgemaak het. Hy het ook gewaarsku: “As Kain sewe keer gewreek moet word, dan Lameg sewe-en-sewentig keer.”—Genesis 4:10, 19, 23, 24.

11 Feite soos dié wat kortliks hierbo gemeld word, dui aan dat die verdorwenheid wat Satan in die tuin van Eden ingebring het, gou daartoe gelei het dat goddeloosheid onder Adam se nakomelinge versprei het. In so ’n wêreld was Henog ’n profeet van Jehovah wie se kragtige, geïnspireerde woorde selfs vandag nog van toepassing is. Judas meld dat Henog geprofeteer het: “Kyk! Jehovah het met sy heilige tienduisende gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Hierdie woorde sal ’n finale vervulling by Armageddon hê (Openbaring 16:14, 16). Ons kan nietemin seker wees dat daar selfs in Henog se dag talle “goddelose sondaars” was wat Henog se profesie met ergernis aangehoor het. Hoe liefdevol was dit tog van Jehovah om die profeet buite hulle bereik te neem!

Wat het Henog versterk om met God te wandel?

12. Wat het Henog anders gemaak as sy tydgenote?

12 In die tuin van Eden het Adam en Eva na Satan geluister, en Adam het teen Jehovah in opstand gekom (Genesis 3:1-6). Hulle seun Abel het ’n ander weg gevolg, en Jehovah het hom gunstig aangesien (Genesis 4:3, 4). Ongelukkig was die meerderheid van Adam se nakomelinge nie soos Abel nie. Maar Henog, wat honderde jare later gebore is, was wel. Wat was die verskil tussen Henog en soveel ander afstammelinge van Adam? Die apostel Paulus het daardie vraag beantwoord toe hy geskryf het: “Deur geloof is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie, en hy kon nêrens gevind word nie, omdat God hom weggevoer het; want voor sy wegvoering het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was” (Hebreërs 11:5). Henog was deel van ’n groot “wolk van [voor-Christelike] getuies”, wat uitmuntende voorbeelde van geloof was (Hebreërs 12:1). Dit was geloof wat Henog in staat gestel het om te volhard in regskape gedrag gedurende ’n leeftyd van oor die 300 jaar—meer as drie leeftye vir die meeste van ons wat vandag lewe!

13. Watter soort geloof het Henog gehad?

13 Paulus het die geloof van Henog en ander getuies beskryf toe hy gesê het: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ja, geloof is die vaste verwagting, gegrond op waarborge, dat die dinge waarop ons hoop, bewaarheid sal word. Dit behels ’n verwagting wat so sterk is dat dit ’n uitwerking het op wat ons as die belangrikste dinge in ons lewe beskou. Dit was hierdie soort geloof wat Henog in staat gestel het om met God te wandel hoewel die wêreld om hom dit nie gedoen het nie.

14. Op watter juiste kennis was Henog se geloof moontlik gegrond?

14 Ware geloof is gegrond op juiste kennis. Watter kennis het Henog gehad? (Romeine 10:14, 17; 1 Timoteus 2:4). Hy het ongetwyfeld geweet van die gebeure in Eden. Hy het waarskynlik ook gehoor hoe die lewe was in die tuin van Eden—wat moontlik nog bestaan het, al kon mense nie daar ingaan nie (Genesis 3:23, 24). En hy het geweet van God se voorneme dat Adam se nakomelinge die aarde sou vul en die hele planeet soos daardie oorspronklike Paradys sou maak (Genesis 1:28). Verder het Henog sekerlik groot waardering gehad vir Jehovah se belofte om ’n Saad voort te bring wat Satan se kop sou vermorsel en al die slegte gevolge van Satan se bedrog ongedaan sou maak (Genesis 3:15). Trouens, die geïnspireerde profesie wat Henog self uitgespreek het en wat in die boek Judas bewaar is, handel oor die vernietiging van Satan se saad. Aangesien Henog geloof gehad het, weet ons dat hy Jehovah aanbid het as die Een wat “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Hoewel Henog dus nie al die kennis gehad het wat ons het nie, het hy genoeg gehad om die grondslag van sterk geloof te vorm. Hierdie geloof het hom gehelp om sy onkreukbaarheid gedurende onstuimige tye te handhaaf.

Volg Henog se voorbeeld na

15, 16. Hoe kan ons dieselfde weg as Henog volg?

15 Aangesien ons, soos Henog, Jehovah wil behaag gedurende die onstuimige tye van vandag, sal dit verstandig van ons wees om Henog se voorbeeld na te volg. Ons moet juiste kennis van Jehovah en sy voorneme opdoen en in ons geheue bewaar. Maar dit is nie al nie. Ons moet toelaat dat hierdie juiste kennis ons weg rig (Psalm 119:101; 2 Petrus 1:19). Ons moet ons deur God se denke laat lei en altyd daarna streef om hom met elke gedagte en daad te behaag.

16 Ons het geen verslag van wie anders Jehovah in Henog se tyd gedien het nie, maar dit is duidelik dat hy óf alleen óf deel van ’n klein minderheid was. Ons is ook ’n minderheid in die wêreld, maar dit ontmoedig ons nie. Jehovah sal ons ondersteun ongeag wie teen ons is (Romeine 8:31). Henog het moedig gewaarsku oor die komende vernietiging van goddelose mense. Ons is ook moedig terwyl ons “hierdie goeie nuus van die koninkryk” verkondig ten spyte van bespotting, teenstand en vervolging (Matteus 24:14). Henog het nie so lank soos baie van sy tydgenote gelewe nie. Maar sy hoop was nie op daardie wêreld nie. Sy oë was op iets baie groter gevestig (Hebreërs 11:10, 35). Ons oë is ook op die vervulling van Jehovah se voorneme gevestig. Gevolglik gebruik ons hierdie wêreld nie ten volle nie (1 Korintiërs 7:31). Ons gebruik eerder ons krag en middele hoofsaaklik in Jehovah se diens.

17. Watter kennis het ons wat Henog nie gehad het nie, en wat moet ons dus doen?

17 Henog het geloof gehad dat die Saad wat deur God belowe is, op Jehovah se vasgestelde tyd sou verskyn. Daar het nou al bykans 2 000 jaar verloop sedert daardie Saad—Jesus Christus—verskyn het, die losprys voorsien het en dit vir ons, sowel as vir getroue getuies van ouds, soos Henog, moontlik gemaak het om die ewige lewe te beërf. Daardie Saad, wat nou die gekroonde Koning van God se Koninkryk is, het Satan uit die hemel na die aarde neergewerp, en ons sien oral om ons die verdrukking wat dit tot gevolg gehad het (Openbaring 12:12). Ja, ons het veel meer kennis tot ons beskikking as wat Henog gehad het. Mag ons dan, soos hy, sterk geloof hê. Mag ons vertroue in die vervulling van God se beloftes ’n invloed hê op alles wat ons doen. Mag ons, soos Henog, met God wandel, al lewe ons in onstuimige tye.

[Voetnote]

a Sien Deel 1, bladsy 220, paragraaf 6, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Voor die dae van Enos het Jehovah met Adam gepraat. Abel het ’n aanvaarbare offerande aan Jehovah gebring. God het selfs met Kain gekommunikeer voordat jaloerse woede Kain daartoe gedryf het om moord te pleeg. Dit was dus ongetwyfeld op ’n nuwe manier wat nie met ware aanbidding verband gehou het nie dat mense “die naam van Jehovah begin aanroep” het.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken dit om met God te wandel?

• Waarom is dit die beste weg om met God te wandel?

• Wat het Henog in staat gestel om ten spyte van onstuimige tye met God te wandel?

• Hoe kan ons Henog navolg?

[Prent op bladsy 15]

Deur geloof het ‘Henog met die ware God bly wandel’

[Prent op bladsy 17]

Ons glo vas dat Jehovah se beloftes bewaarheid sal word

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Vrou, heel regs: FAO photo/B. Imevbore; gebou wat ineenstort: San Hong R-C Picture Company

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel