Seëvierend op ’n spesiale manier
ONDERVIND jy teenstand as gevolg van jou geloof—dalk by die werk, op skool, in die gesin of weens beperkings wat deur die regering opgelê is? Moet dan nie moed verloor nie. Baie van Jehovah se Getuies het al soortgelyke beproewinge verduur en nietemin geseëvier. Kyk na die voorbeeld van Erna Ludolph.
Erna is in 1908 in Lübeck, Duitsland, gebore. Sy was die enigste een in haar gesin wat Jehovah gedien het. Toe Hitler in 1933 aan bewind gekom het, het die lewe vir Jehovah se Getuies moeilik geword. Erna se werksmaats het haar aangekla omdat sy geweier het om die Hitler-saluut te gee, en dit het daartoe gelei dat sy deur die Nazi’s in hegtenis geneem is. Sy was agt jaar lank in verskeie tronke en in die konsentrasiekampe by Hamburg-Fuhlsbüttel, Moringen, Lichtenburg en Ravensbrück. Terwyl Erna in Ravensbrück was, het iets gebeur wat haar laat seëvier het.
’n Buitengewone huishoudster
Professor Friedrich Holtz en sy vrou, Alice, het in Berlyn gewoon. Hulle was nie lede van die Nazi-party nie en het nie die party se ideologie ondersteun nie. Hulle was egter verwant aan ’n senior SS-amptenaar wat vir sekere gevangenes in die konsentrasiekamp verantwoordelik was. Toe die professor en sy vrou dus ’n huishoudster gesoek het, het hierdie SS-amptenaar hulle toegelaat om ’n vroulike gevangene te kies. In Maart 1943 het Alice dus Ravensbrück besoek om ’n huishoudster te kies. Wie het sy gekies? Erna Ludolph. Erna het ingetrek by die Holtz-gesin, wat haar goed behandel het. Ná die oorlog het sy saam met hierdie gesin na Halle op die Saale-rivier getrek. Daar het Erna weer eens teenstand ondervind, hierdie keer van die sosialistiese regering in Oos-Duitsland. In 1957 is die gesin na Wes-Duitsland gedeporteer, en Erna het saam met hulle getrek. Uiteindelik kon Erna haar geloof vryelik beoefen.
Hoe het Erna op ’n spesiale manier geseëvier? As gevolg van Erna se goeie gedrag en doeltreffende verkondiging van die Bybel se boodskap het Alice Holtz en haar vyf kinders almal gedoopte Getuies van Jehovah geword. Daarbenewens is 11 van Alice se kleinkinders ook Getuies. Twee van hulle dien tans in die takkantoor van Jehovah se Getuies in Selters, Duitsland. “Ons gesin is hoofsaaklik weens Erna se voorbeeld in die waarheid”, sê Susanne, een van Alice se dogters. Erna se volharding is ryklik beloon. Wat van jou situasie? Jou getroue volharding onder moeilike omstandighede kan soortgelyke lonende resultate hê. Ja, goeie gedrag en doeltreffende getuieniswerk kan jou help om op ’n spesiale manier te seëvier.a
[Voetnoot]
a Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, is Erna Ludolph op die ouderdom van 96 oorlede. Sy het tot die einde toe getrou gebly.
[Prent op bladsy 31]
Erna Ludolph (sittend) saam met lede van die Holtz-gesin