Moedig te midde van teenstand
’N FANATIESE skare het Gajus en Aristargus, twee metgeselle van die apostel Paulus, by die teater van Efese ingedwing. Daar het die woedende skare twee uur lank geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” (Handelinge 19:28, 29, 34). Het Paulus se metgeselle te midde van hierdie teenstand standvastig gebly? En wat het in die eerste plek hierdie situasie veroorsaak?
Paulus het omtrent drie jaar lank die predikingswerk met welslae in die stad Efese gedoen. Gevolglik het baie Efesiërs opgehou om afgode te aanbid (Handelinge 19:26; 20:31). Die kenmerkende afgodsbeeld van Efese was ’n klein silwertempeltjie van Artemis, die godin van vrugbaarheid, wie se luisterryke tempel oor die stad uitgekyk het. Hierdie beeldjies van die tempel is as gelukbringers gedra of in huise vertoon. Christene het natuurlik nie hierdie afgodsbeelde gekoop nie.—1 Johannes 5:21.
Demetrius, een van die silwersmede, het geglo dat Paulus se bediening hulle winsgewende bedryf in gevaar stel. Deur middel van halwe waarhede en oordrywings het hy medevakmanne oortuig dat mense oor die hele Klein-Asië sou ophou om Artemis te aanbid. Toe die woedende silwersmede lofbetuigings aan Artemis begin uitroep het, het daar ’n groot oproer uitgebreek en het die hele stad in verwarring geraak.—Handelinge 19:24-29.
Duisende mense het na die teater gestroom, wat sitplek vir 25 000 toeskouers gehad het. Paulus het aangebied om die oproerige skare toe te spreek, maar vriendelike amptenare het hom oortuig om dit nie te doen nie. Uiteindelik het die stadskrywer die skare tot bedaring gebring, en Gajus en Aristargus het ongedeerd daarvan afgekom.—Handelinge 19:35-41.
Vandag het God se volk ook soms te kampe met teenstanders en selfs oproere terwyl hulle hulle bediening uitvoer. Hulle verkondig dikwels die goeie nuus in stede waar daar ’n milieu van afgodediens, onsedelikheid en misdaad is. Nietemin volg hulle die apostel Paulus moedig na, wat ‘hom nie daarvan weerhou het om mense in die openbaar en van huis tot huis [in die stad Efese] te leer nie’ (Handelinge 20:20). En hulle is ook verheug wanneer hulle sien dat ‘die woord van Jehovah bly groei en seëvier’.—Handelinge 19:20.
[Prent op bladsy 30]
Ruïnes van die teater in Efese