Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 5/15 bl. 15-20
  • Liefde teenoor bejaardes—’n Christelike verantwoordelikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde teenoor bejaardes—’n Christelike verantwoordelikheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons verantwoordelikheid as kinders
  • Hoe ouer manne toon dat hulle omgee
  • Sorg vir mekaar
  • Jehovah beloon diegene wat omgee
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Sien om na die belange van die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Voorsien in die behoeftes van ons bejaardes—’n Christelike uitdaging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe moet ons bejaardes behandel?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 5/15 bl. 15-20

Liefde teenoor bejaardes—’n Christelike verantwoordelikheid

“Selfs tot die ouderdom toe is ek dieselfde; en tot die grysheid toe sal ek julle ondersteun.”—JESAJA 46:4.

1, 2. Hoe verskil ons hemelse Vader se sorg van menseouers s’n?

TOEGEWYDE ouers sorg liefdevol vir hulle kinders terwyl hulle babas is, in hulle kinderjare en in hulle tienerjare. Selfs wanneer jongmense volwassenheid bereik en hulle eie gesinne het, ontvang hulle steeds hulle vader en moeder se liefdevolle aandag en ondersteuning.

2 Hoewel mense beperk is in wat hulle vir hulle kinders kan doen, is ons hemelse Vader altyd in staat om liefdevolle aandag en ondersteuning aan sy getroue knegte te gee. Jehovah het vir sy uitverkore volk van die ou tyd gesê: “Selfs tot die ouderdom toe is ek dieselfde; en tot die grysheid toe sal ek julle ondersteun” (Jesaja 46:4). Watter gerusstellende woorde is dit tog vir ouer Christene! Jehovah laat nie diegene wat lojaal aan hom bly, in die steek nie. Trouens, hy beloof om hulle regdeur hulle lewe te onderskraag, te ondersteun en te lei, selfs tot in hulle oudag.—Psalm 48:14.

3. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

3 Hoe kan ons Jehovah se liefdevolle besorgdheid oor bejaardes navolg? (Efesiërs 5:1, 2). Kom ons kyk na maniere waarop kinders, gemeentelike opsieners en individuele Christene na die behoeftes van senior lede van ons wêreldwye broederskap kan omsien.

Ons verantwoordelikheid as kinders

4. Watter verantwoordelikheid het Christenkinders teenoor hulle ouers?

4 “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2; Eksodus 20:12). Met hierdie eenvoudige dog betekenisvolle aanhaling uit die Hebreeuse Geskrifte het die apostel Paulus kinders aan hulle verantwoordelikheid teenoor hulle ouers herinner. Maar hoe is hierdie woorde van toepassing wanneer dit kom by die betoning van liefde aan bejaardes? ’n Bemoedigende voorbeeld uit voor-Christelike tye sal ons help om hierdie vraag te beantwoord.

5. (a) Wat toon dat Josef nie sy verpligtinge teenoor sy vader vergeet het nie? (b) Wat beteken dit om ons ouers te eer, en watter goeie voorbeeld het Josef in hierdie opsig gestel?

5 Josef het meer as 20 jaar lank geen kontak met sy bejaarde vader, die patriarg Jakob, gehad nie. Maar dit is duidelik dat Josef nie sy liefde vir sy vader Jakob verloor het nie. Trouens, toe Josef sy ware identiteit aan sy broers geopenbaar het, wou hy weet: “Lewe my vader nog?” (Genesis 43:7, 27; 45:3). In daardie tyd het ’n knellende hongersnood in die land Kanaän geheers. Josef het sy vader dus laat weet: “Kom af na my toe. Moenie talm nie. En u moet in die land Gosen woon, en u moet naby my bly . . . En ek sal u daar van voedsel voorsien” (Genesis 45:9-11; 47:12). Ja, om bejaarde ouers te eer, behels dat ons hulle beskerm en in hulle materiële behoeftes voorsien wanneer hulle nie vir hulleself kan sorg nie (1 Samuel 22:1-4; Johannes 19:25-27). Josef het hierdie verantwoordelikheid met blydskap aanvaar.

6. Hoe het Josef opregte liefde vir sy vader getoon, en hoe kan ons sy voorbeeld navolg?

6 Met Jehovah se seën het Josef een van Egipte se rykste en magtigste manne geword (Genesis 41:40). Maar hy het nie gedink dat hy te belangrik of te besig is om sy 130-jarige vader te eer nie. Toe hy hoor dat Jakob (of Israel) naby was, “het Josef sy wa gereed laat maak en opgegaan om sy vader Israel in Gosen te ontmoet. Toe hy voor hom verskyn, het hy hom dadelik om die hals geval en herhaaldelik aan sy hals in trane uitgebars” (Genesis 46:28, 29). Hierdie verwelkoming was baie meer as ’n formele betoning van respek. Josef het sy bejaarde vader innig liefgehad en was nie skaam om sy liefde te toon nie. As ons bejaarde ouers het, kan ons ons afvra: Betoon ons ons liefde net so vryelik aan hulle?

7. Waarom wou Jakob in Kanaän begrawe word?

7 Jakob was tot sy dood volkome toegewyd aan Jehovah (Hebreërs 11:21). Weens sy geloof in God se beloftes het Jakob gevra dat sy liggaam in Kanaän begrawe word. Josef het sy vader geëer deur aan hierdie versoek te voldoen, ten spyte van die aansienlike koste en moeite wat daaraan verbonde was.—Genesis 47:29-31; 50:7-14.

8. (a) Wat is die vernaamste beweegrede waarom ons na ons bejaarde ouers omsien? (b) Wat het ’n voltydse kneg gedoen om na sy bejaarde ouers om te sien? (Sien venster op bladsy 17.)

8 Wat het Josef beweeg om vir sy vader te sorg? Hoewel liefde en ’n pligsgevoel teenoor die een wat hom verwek en grootgemaak het, faktore was, het Josef ongetwyfeld ook ’n sterk begeerte gehad om Jehovah te behaag. Ons moet dieselfde voel. Paulus het geskryf: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë” (1 Timoteus 5:4). Ja, liefde vir Jehovah en eerbiedige vrees vir hom sal ons beweeg om na ons bejaarde ouers om te sien, ongeag watter uitdagings dit mag behels.a

Hoe ouer manne toon dat hulle omgee

9. Wie het Jehovah aangestel om die kudde, waaronder bejaarde Christene, te lei?

9 Teen die einde van sy lang lewe het Jakob na Jehovah verwys as “die ware God wat my gedurende my hele lewe tot vandag toe as herder gelei het” (Genesis 48:15). Vandag lei Jehovah sy aardse knegte as herder deur middel van Christenopsieners, of ouer manne, onder die leiding van sy Seun, Jesus Christus, “die hoofherder” (1 Petrus 5:2-4). Hoe kan opsieners Jehovah navolg terwyl hulle na die ouer lede van die kudde omsien?

10. Wat is al gedoen om materiële hulp vir bejaarde Christene te voorsien? (Sien venster op bladsy 19.)

10 Kort ná die ontstaan van die Christengemeente het die apostels “sewe manne van goeie getuienis [en] vol gees en wysheid” aangestel om toesig te hou oor “die daaglikse uitdeling” van voedsel onder behoeftige Christenweduwees (Handelinge 6:1-6). Later het Paulus die opsiener Timoteus beveel om voorbeeldige bejaarde weduwees op die lys te plaas van diegene wat daarop geregtig was om materiële hulp te ontvang (1 Timoteus 5:3, 9, 10). Ook vandag reël gemeentelike opsieners graag praktiese hulp vir bejaarde Christene wanneer dit nodig is. Maar om na getroue bejaardes om te sien, behels meer.

11. Wat het Jesus gesê oor die behoeftige weduwee wat ’n klein bydrae gegee het?

11 Teen die einde van sy aardse bediening het Jesus by die tempel gaan sit en “begin toekyk hoe die skare geld in die skatkiste gooi”. Toe het sy oog op iemand geval. Die verslag sê: “’n Arm weduwee het gekom en twee muntstukkies ingegooi wat baie min waarde het.” Jesus het sy dissipels na hom toe geroep en vir hulle gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer ingegooi het as almal wat geld in die skatkiste gegooi het; want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud” (Markus 12:41-44). Wat geldwaarde betref, was die weduwee se bydrae gering, maar Jesus het geweet hoeveel sy hemelse Vader sulke heelhartige blyke van toegewydheid waardeer. Hoe oud hierdie arm weduwee ook al was, Jesus het nie geïgnoreer wat sy gedoen het nie.

12. Hoe kan ouer manne hulle waardering toon vir die bydrae wat bejaarde Christene maak?

12 Soos Jesus sien Christenopsieners raak wat bejaardes doen om ware aanbidding te bevorder. Ouer manne het rede om bejaardes te prys vir hulle aandeel aan die bediening, vir hulle deelname aan vergaderinge, vir hulle positiewe invloed in die gemeente en vir hulle volharding. Opregte woorde van bemoediging kan bejaardes help om “rede tot vreugde” te vind in hulle heilige diens, en sodoende kan hulle die frustrasie vermy wat dit sou meebring as hulle hulle diens vergelyk met dié van ander Christene of met wat hulle self vroeër gedoen het.—Galasiërs 6:4.

13. Op watter maniere kan ouer manne gebruik maak van die talente en ondervinding van bejaardes?

13 Ouer manne kan die waardevolle bydrae van ouer Christene erken deur gebruik te maak van hulle ondervinding en talente. Voorbeeldige bejaardes kan soms in demonstrasies of onderhoude gebruik word. “Die gehoor luister werklik aandagtig wanneer ek ’n onderhoud voer met ’n ouer broer of suster wat kinders in die waarheid grootgemaak het”, sê een ouer man. Ouer manne in ’n ander gemeente vertel van ’n 71-jarige pioniersuster wat Koninkryksverkondigers met welslae help om gereeld aan die velddiens deel te neem. Sy spoor hulle ook aan om die “basiese dinge” te doen, soos om die Bybel en die dagteks te lees en dan te peins oor wat hulle gelees het.

14. Hoe het een liggaam van ouer manne waardering getoon vir ’n ouer medeopsiener?

14 Ouer manne waardeer ook die bydrae van hulle ouer medeopsieners. José, wat in sy sewentigerjare is en al dekades lank as ’n ouer man dien, het onlangs ’n groot operasie ondergaan. Omdat die hersteltyd so lank sou wees, het hy dit oorweeg om sy voorreg as presiderende opsiener op te gee. “Die reaksie van die ander ouer manne het my verbaas”, sê José. “Pleks van my voorstel te aanvaar, wou hulle weet watter praktiese hulp hulle kon gee sodat ek steeds na my verantwoordelikhede kon omsien.” Met die hulp van ’n jonger ouer man kon José voortgaan om met vreugde as presiderende opsiener te dien, en dit was ’n seën vir die gemeente. ’n Mede- ouer man sê: “Die broers het groot waardering vir José se werk as ’n ouer man. Hulle is lief vir hom en respekteer hom vanweë sy ondervinding en die voorbeeld van geloof wat hy stel. Hy is ’n aanwins vir ons gemeente.”

Sorg vir mekaar

15. Waarom moet alle Christene belangstel in die welsyn van die bejaardes onder hulle?

15 Dit is nie net kinders met bejaarde ouers en aangestelde knegte wat besorg moet wees oor bejaardes nie. Paulus het die Christengemeente met die menseliggaam vergelyk en geskryf: “God het die liggaam saamgestel en oorvloediger eer gegee aan die deel wat ’n tekort gehad het, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam moet wees nie, maar die lede daarvan dieselfde sorg vir mekaar moet dra” (1 Korintiërs 12:24, 25). ’n Ander vertaling lui: “Al die verskillende dele van [die liggaam moet] onderlinge besorgdheid oor mekaar se welsyn toon” (Knox). Die Christengemeente kan slegs harmonieus saamwerk as elke lid besorg is oor die welsyn van sy medegelowiges, wat die bejaardes insluit.—Galasiërs 6:2.

16. Hoe kan ons belangstelling in bejaardes toon wanneer ons Christelike vergaderinge bywoon?

16 Christelike vergaderinge bied ’n goeie geleentheid om ons belangstelling in bejaardes te toon (Filippense 2:4; Hebreërs 10:24, 25). Neem ons die tyd om by sulke geleenthede met ouer mense te gesels? Dit is moontlik gepas om na hulle fisiese welstand te verneem, maar kan ons hulle “die een of ander geestelike gawe . . . meedeel”, deur moontlik ’n opbouende ondervinding te vertel of oor ’n skriftuurlike gedagte met hulle te gesels? Aangesien sommige ouer mense nie so maklik rondbeweeg nie, sal dit liefdevol wees om eerder na hulle toe te gaan as om te verwag dat hulle na ons toe moet kom. As hulle sukkel met hulle gehoor, sal ons dalk stadig en duidelik moet praat. En om te verseker dat daar “wedersydse aanmoediging” is, moet ons aandagtig luister na wat die ouer persoon sê.—Romeine 1:11, 12.

17. Hoe kan ons ons besorgdheid toon vir bejaarde Christene wat nie hulle huis kan verlaat nie?

17 Gestel sekere ouer persone kan nie Christelike vergaderinge bywoon nie. Jakobus 1:27 toon dat dit ons plig is “om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien”. Een betekenis van die Griekse werkwoord wat met ‘omsien’ vertaal word, is “om te besoek” (Handelinge 15:36). En hoe waardeer die bejaardes tog nie ons besoeke nie! Toe die “bejaarde man” Paulus omstreeks 65 G.J. ’n gevangene in Rome was, was hy so te sê alleen. Hy het daarna verlang om sy medewerker Timoteus te sien en het geskryf: “Doen jou uiterste bes om binnekort na my toe te kom” (Filemon 9; 2 Timoteus 1:3, 4; 4:9). Hoewel hulle nie letterlik gevangenes is nie, kan sommige bejaardes weens gesondheidsprobleme nie die huis verlaat nie. Hulle sê as ’t ware: ‘Doen asseblief jou bes om my gou te kom besoek.’ Reageer ons op sulke versoeke?

18. Watter voordele kan dit hê wanneer ons bejaardes besoek?

18 Moet nooit die voordele van ’n besoek aan ’n bejaarde geestelike broer of suster onderskat nie. Toe ’n Christen met die naam Onesiforus in Rome was, het hy naarstig na Paulus gesoek, hom gevind en daarna ‘dikwels aan hom verkwikking verskaf’ (2 Timoteus 1:16, 17). “Ek geniet dit baie om tyd saam met jongeres deur te bring”, sê een bejaarde suster. “Waarvan ek die meeste hou, is dat hulle my soos familie behandel. Dit beur my werklik op.” ’n Ander ouer Christen sê: “Ek waardeer dit baie wanneer iemand vir my ’n kaartjie stuur, ’n paar minute met my oor die telefoon gesels of by my kom inloer. Dit is waarlik verkwikkend.”

Jehovah beloon diegene wat omgee

19. Watter seëninge bring dit mee om na bejaardes om te sien?

19 Dit bring baie seëninge mee om na ouer mense om te sien. Om met bejaardes te assosieer en by hulle kennis en ondervinding baat te vind, is op sigself ’n voorreg. Versorgers ondervind die groter geluk wat dit meebring om te gee, asook tevredenheid en gemoedsrus omdat hulle hulle skriftuurlike verantwoordelikheid nakom (Handelinge 20:35). Boonop hoef diegene wat na bejaardes omsien, nie bekommerd te wees dat daar nie vir hulle in hulle latere jare gesorg sal word nie. God se Woord verseker ons: “Die vrygewige siel sal vet gemaak word, en wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”—Spreuke 11:25.

20, 21. Hoe beskou Jehovah diegene wat na bejaardes omsien, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

20 Jehovah beloon godvresende kinders, opsieners en ander besorgde Christene wat op onselfsugtige wyse na die behoeftes van bejaarde medegelowiges omsien. So ’n gees is in ooreenstemming met hierdie spreuk: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spreuke 19:17). As liefde ons motiveer om aan die geringe en die arme guns te betoon, beskou God sulke dade as ’n lening wat hy met seëninge terugbetaal. Hy beloon ons ook vir ons liefdevolle sorg aan bejaarde medeaanbidders, waarvan baie ‘arm is ten opsigte van die wêreld, maar ryk is in geloof’.—Jakobus 2:5.

21 En hoe mildelik betaal God tog nie terug nie! Dit sluit die ewige lewe in. Vir die oorgrote meerderheid van Jehovah se knegte sal dit ewige lewe op ’n paradysaarde wees, waar die gevolge van oorgeërfde sonde uit die weg geruim sal word en getroue bejaardes hulle jeugdige krag sal terugkry (Openbaring 21:3-5). Laat ons, terwyl ons op daardie geseënde tyd wag, voortgaan om ons Christelike verantwoordelikheid na te kom deur liefde aan bejaardes te betoon.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1994, bladsye 3-10, vir praktiese wenke oor hoe ons na bejaarde ouers kan omsien.

Wat is jou antwoorde?

• Hoe kan kinders hulle bejaarde ouers eer?

• Hoe toon ouer manne waardering vir ouer lede van die kudde?

• Wat kan individuele Christene doen om hulle opregte belangstelling in bejaardes te toon?

• Watter seëninge bring dit mee as ons na bejaarde Christene omsien?

[Venster op bladsy 17]

Toe sy ouers hulp nodig gehad het

Philip het in 1999 as ’n vrywillige konstruksiewerker in Liberië gedien toe hy die nuus ontvang het dat sy vader ernstig siek is. Hy was oortuig daarvan dat sy moeder nie die situasie op haar eie sou kon hanteer nie en het besluit om terug te gaan huis toe sodat hy mediese sorg vir sy vader kon reël.

“Dit was nie maklik om terug te gaan nie”, sê Philip, “maar ek het gevoel dat my ouers my vernaamste verantwoordelikheid is.” Oor die volgende drie jaar het hy sy ouers gehelp om na ’n geskikter huis te trek en dit met die hulp van plaaslike mede-Christene by sy vader se spesiale behoeftes aangepas.

Philip se moeder is nou in ’n beter posisie om na sy vader se ernstige gesondheidsprobleme om te sien. Dit was onlangs vir Philip moontlik om ’n uitnodiging te aanvaar om as ’n vrywillige werker by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Masedonië te gaan dien.

[Venster op bladsy 19]

Hulle het nie haar behoeftes geïgnoreer nie

Toe Ada, ’n 85-jarige Christen in Australië, weens swak gesondheid nie meer haar huis kon verlaat nie, het gemeentelike ouer manne hulp georganiseer. Hulle het gereël dat ’n groep medegelowiges haar help. Hierdie broers en susters het met graagte gehelp om skoon te maak, wasgoed te was, te kook en ander take te verrig.

Daar is byna ’n dekade gelede begin met hierdie hulp. Tot dusver het meer as 30 Getuies van Jehovah na Ada help omsien. Hulle gaan voort om haar te besoek, uit Bybelpublikasies vir haar te lees, haar op hoogte te hou van die geestelike vordering van diegene in die gemeente en gereeld saam met haar te bid.

’n Plaaslike Christen- ouer man het gesê: “Dit is vir diegene wat na Ada omsien, ’n voorreg om haar te help. Haar getroue diens oor die dekades het baie aangespoor, en hulle sal eenvoudig nie haar behoeftes kan ignoreer nie.”

[Prent op bladsy 16]

Betoon ons ons liefde vryelik aan ons bejaarde ouers?

[Prente op bladsy 18]

Almal in die gemeente kan hulle liefde vir bejaarde medegelowiges toon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel