Voorsien in die behoeftes van ons bejaardes—’n Christelike uitdaging
DRIE maande het verbygegaan. Maar geeneen van die bejaarde vrou se kinders het die moeite gedoen om haar te besoek nie. Sy is ’n eensame inwoner van ’n tehuis vir bejaardes in Kaapstad. Haar kinders woon daar naby.
In ’n ouetehuis in Johannesburg bring ’n bejaarde vrou die meeste van haar tyd op haar kamer se balkon deur. Ander sien haar dikwels huil.
Jammerlike tonele soos hierdie word al hoe algemener, selfs in lande waar bejaardes tradisioneel goed versorg was. In Soweto, die ontsaglike Swart woongebied naby Johannesburg, het “die ou mense die tradisionele eerbied, gesag en sorg van hulle familielede verloor”, het een koerantberig gesê. ’n Soortgelyke situasie het onder die groot Indiërbevolking in Suid-Afrika ontstaan. Hoewel Indiërs tradisioneel begaan was oor hulle bejaardes het ’n amptenaar onlangs verduidelik dat jonger Indiërpaartjies ‘nie die las van hulle ouers op hulle wil neem nie’.
Ware Christene kom egter die Bybel se gebod na: “Eer jou vader en jou moeder” (Exodus 20:12; Efesiërs 6:2). Hierdie verpligting eindig nie wanneer hulle ouers oud word nie. Eerste Timotheüs 5:8 sê: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.” Bejaarde ouers tel onder diegene vir wie ’n Christen sal moet voorsien, al verg dit ook aansienlike opofferinge—emosioneel en finansieel.
Lede van die Christengemeente kwyt hulle vandag oor die algemeen uitstekend van hulle taak om in die emosionele en fisiese behoeftes van hulle ouers te voorsien. Maar sê nou bejaarde Christene het nie Godvresende kinders of kleinkinders om hulle te versorg nie. Wat dan? Hoe word daar in hulle behoeftes voorsien?
’n Gemeentelike verantwoordelikheid
Die dissipel Jakobus het geskryf: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan.” Jakobus het ook gesê: “As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan been in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”—Jakobus 1:27, NAV; 2:15-17.
As ’n bejaarde Christen dus hulpbehoewend is, is dit ’n saak van belang vir die hele gemeente. Die ouere manne kan die leiding neem in hierdie verband. Soos Paulus in 1 Timotheüs 5:4 (NW) getoon het, moet hulle eers vasstel of die bejaarde kinders of kleinkinders het wat bereid is om “’n paslike vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë”. Indien nie, kan die ouere manne moontlik ondersoek instel na watter versekerings- of staatsgesubsidieerde voorsienings beskikbaar is. Dalk is sommige in die gemeente in ’n posisie om op ’n persoonlike basis finansiële hulp te kan verleen.
Maar as geen sodanige reëlings getref kan word nie, kan die ouere manne dit oorweeg of die individu aan die vereistes voldoen om hulp van die gemeente self te ontvang. Paulus het gesê: “Laat ’n weduwee [op die lys geplaas] word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke.”—1 Timotheüs 5:9, 10, vgl. NW.
Dit is egter heel dikwels nie geld wat nodig is nie. Die ouere manne kan vasstel wat die presiese behoefte is. Het die bejaarde hulp nodig om inkopies te doen? Is hy eensaam of het hy bemoediging nodig? Het hy vervoer nodig om by die vergaderinge te kom? Het hy iemand nodig om die Bybel en Christelike publikasies vir hom voor te lees? Kan daar bandopnames gemaak word sodat die bejaarde tuis daarna kan luister as hy fisies nie daartoe in staat is om vergaderinge by te woon nie? Daar kan moontlik eers na ’n hele paar besoeke en geselsies vasgestel word wat die ware toedrag van sake is. Maar as herders moet die ouere manne ‘weet hoe die kudde daar uitsien’.—Spreuke 27:23, NW.
Hoe gemeentes gehelp het
Sodra daar vasgestel is wat die behoeftes van ’n bejaarde is, kan spesifieke reëlings getref word. Waar daar ’n hartlike, sorgsame en onselfsugtige gees in die gemeente is, is dit nie moeilik om etlike broers en susters te vind wat bereid is om te help nie. Sodoende word daar nie ’n onbillike las op ’n paar individue geplaas nie. Een gemeente het byvoorbeeld ’n rooster opgestel waarvolgens verkondigers bejaardes besoek. Die broers en susters doen dit met graagte, en nie een van die bejaardes word oor die hoof gesien nie.
In ’n ander gemeente is ’n bejaarde Getuie deur haar ongelowige kinders verwaarloos. Jong plaaslike Getuies het egter al haar was-, stryk- en skoonmaakwerk gedoen en ook haar tuin aan die kant gehou. Die broers het gehelp om haar huur en kos te betaal. Hulle het haar na byeenkomste en vergaderinge geneem. En toe sy gesterf het, het hulle al die begrafnisreëlings getref en uitgawes gedek.
In een gemeentetjie in Suid-Afrika was daar ’n bejaarde Kleurlingbroer wat as gevolg van beroerte heeltemal verlam was. Aangesien daar geen familielid was om hom te versorg nie, het ’n suster in die gemeente—self ’n weduwee—en haar seun hom ingeneem. Broers in die gemeente het beurte gemaak om hom te bad. Daarbenewens het ’n Blanke pionierbroer hierdie ouer broer in ’n rystoel rondgestoot met uitstappies. Hierdie toneel, wat in Suid-Afrika iets buitengewoons is, het heelwat opspraak verwek. Die gemeente het die bejaarde broer tot sy dood toe liefdevol versorg.
Dit beteken egter nie dat dit maklik is om in die behoeftes van bejaarde broers en susters te voorsien nie. Ware inisiatief en vasberadenheid is soms nodig om die probleme wat kan ontstaan te bowe te kom.
Help bejaardes om vergaderinge by te woon
’n Bejaarde suster, wat ’n weduwee en hartlyer is, het eendag besoek van ’n ouere man ontvang. Terwyl hy daar was, het een van die bure ingekom en gekla: “Baiekeer as ek kom inloer, tref ek haar in trane aan omdat niemand gekom het om haar na die Koninkryksaal te neem nie.” Die probleem was nie so ernstig as wat die buurvrou voorgegee het nie, want ’n gesin in die gemeente het haar gereeld kom oplaai. Die pa het egter partymaal oortyd gewerk en die suster nie kom haal nie. Ander vervoerreëlings kon tog seker getref geword het.
Dit is dus goed om in gedagte te hou dat dit vir bejaardes uiters belangrik is om vergaderinge by te woon (Hebreërs 10:24, 25). Een ouere man maak altyd seker of ’n sekere bejaarde Getuie teenwoordig is. As sy nie daar is nie omdat die vervoerreëling deur die mat geval het, gaan haal die ouere man haar gou met sy motor. Die lieflike glimlag op haar gesig is oorgenoeg vergoeding vir sy ekstra moeite.
Taktvol, dog volhardend
Maar ouer persone kan soms taamlik onafhanklik wees. Hulle het moontlik hulp nodig, maar wil dit nie aanvaar nie. En tensy ouere manne, of dié wat toegewys is om hulp te verleen, wakker is, kan sulke bejaardes geneig wees om ‘alleen die mas te probeer opkom’.
Een bejaarde weduwee het aan kanker gely, maar niemand van haar siekte vertel nie. Sy het hulp nodig gehad om haar persoonlike besittings na ’n plek anderhalf kilometer daarvandaan te vervoer. Pleks van ander van haar behoefte te vertel, het sy ’n 84-jarige vriendin se hulp opgekommandeer. Hulle het saam-saam party goed op ’n trollie gelaai en dit self probeer stoot. Maar hulle het gou besef dat die taak bo hulle kragte is, en die weduwee se vriendin het ’n ouere man wat daar naby woon om hulp gaan vra.
Daarom vereis dit dalk taktvolle, dog volgehoue navraag van ons kant om vas te stel wat ons presies kan doen om sulke persone te help. As ons net ’n vae aanbod maak soos: ‘Sê net as jy enigiets nodig het’, is die reaksie dalk ’n kortaf: ‘Dankie, maar ek het niks nodig nie.’ Onthou egter dat Lidia, toe sy gasvryheid aan die apostel Paulus en ander gebied het, nie van stryk gebring is toe hulle dit skynbaar eers van die hand gewys het nie. Sy het hulle eerder ‘gedwing om te kom’ (Handelinge 16:15). Volhard dus. Vind uit wat die behoeftes en voorkeure van bejaardes is voordat hulle om hulp moet vra.
Bejaardes moet natuurlik ander se moeite waardeer en nie liggeraak, te veeleisend of krities wees nie. As hulle van vervoer voorsien word, sal dit byvoorbeeld heel gepas wees om ’n bydrae vir die reiskoste aan te bied. Een bejaarde suster bak brood en hekel goedjies wat sy vir diegene wat haar na die vergaderinge neem present gee. In baie gevalle is ’n woord van dank egter al wat nodig is.
Christene probeer vandag om die gebod in Levitikus 19:32 te gehoorsaam: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.” Jehovah se knegte volg nie die wêreldse tendens om ou mense te verstoot en hulle verantwoordelikheid as kinders te ontduik nie. Christene span hulle eerder in om met tyd, geduld en Jehovah se huip die uitdaging om ons bejaardes te versorg die hoof te bied.
[Prent op bladsy 23]
Jonger mense in die gemeente kan dikwels baie doen om ouer persone te help