Wat ons by die voëls kan leer
“HOU die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26). Jesus Christus het hierdie woorde gesê in ’n welbekende preek wat hy teen ’n berghelling naby die See van Galilea gehou het. Sy gehoor het nie net uit sy volgelinge bestaan nie. ’n Groot menigte potensiële dissipels van regoor die land was daar teenwoordig. Baie van hulle was arm mense wat die siekes na Jesus gebring het sodat hy hulle kon genees.—Matteus 4:23–5:2; Lukas 6:17-20.
Nadat Jesus al die siekes genees het, het hy aandag gegee aan die belangriker geestelike behoeftes. Een van die lesse wat hy geleer het, is die een wat hierbo genoem word.
Die voëls van die hemel bestaan al baie lank. Party van hulle eet insekte, ander eet vrugte en saad. As God die voëls van so ’n oorvloed voedsel voorsien het, is hy ongetwyfeld in staat om sy menseknegte te help om hulle daaglikse brood te verkry. Hy kan dit doen deur hulle te help om werk te kry sodat hulle geld vir kos kan verdien. Of hy kan toesien dat die voedsel wat hulle plant, groei. En in tye van nood kan God die harte van goedhartige bure en vriende beweeg om hulle voedsel met behoeftiges te deel.
Ons kan nog baie meer leer deur voëls noukeurig dop te hou. God het voëls geskep met die wonderlike instink om neste te bou waarin hulle hulle kleintjies kan grootmaak. Kyk na twee soorte neste. Op die foto aan die linkerkant is die nes van ’n kransswaeltjie. Dit word teen ’n rotswand of teen die muur van ’n huis gebou. ’n Oorhangende rots of die lys van ’n gebou, soos op die foto, vorm die dak van hierdie neste. Die onderkant van die nes bestaan uit klein stukkies klei wat in die vorm van ’n kommetjie saamgevoeg word. Die mannetjie sowel as die wyfie werk hard om die stukkies klei bymekaar te maak, en dit kan hulle meer as ’n maand neem om die nes klaar te bou. Dan voer hulle dit met gras en veertjies uit. Albei help om die kleintjies te voer. Hieronder kan die nes van ’n geelvinkmannetjie gesien word. Hierdie vlytige voëltjie bou sy nes van grashalms of repies van ander blare. Hy kan ’n nes in een dag klaarmaak en kan meer as 30 neste in een seisoen weef!
Die les? Aangesien God die voëls sulke vaardigheid en ’n oorvloed boumateriaal vir hulle neste gee, kan hy sekerlik sy menseknegte help om ’n dak oor hulle kop te kry. Maar Jesus het getoon dat iets anders nodig is as ons wil hê dat Jehovah God ons moet help om in ons materiële behoeftes te voorsien. “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word”, het Jesus belowe (Matteus 6:33). Jy wonder dalk: ‘Wat behels dit om eers God se Koninkryk te soek?’ Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif versprei, sal daardie vraag met graagte beantwoord.