Vrae van lesers
Kan Satan die Duiwel mense se gedagtes lees?
Hoewel ons nie dogmaties hieroor kan wees nie, wil dit voorkom of nie Satan of sy demone ons gedagtes kan lees nie.
Beskou die beskrywende name wat aan Satan gegee is. Hy word Satan (Teenstander), Duiwel (Lasteraar), Slang (sinoniem met Bedrieër), Versoeker en Leuenaar genoem (Job 1:6; Matteus 4:3; Johannes 8:44; 2 Korintiërs 11:3; Openbaring 12:9). Nie een van hierdie beskrywende name gee te kenne dat Satan die vermoë het om ons gedagtes te lees nie.
In teenstelling hiermee word Jehovah God as “die ondersoeker van harte” beskryf (Spreuke 17:3; 1 Samuel 16:7; 1 Kronieke 29:17). “Daar is nie ’n skepping wat nie vir [Jehovah se] oë sigbaar is nie”, sê Hebreërs 4:13, “maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee.” Dit is nie verbasend dat Jehovah die vermoë om harte te ondersoek aan sy Seun, Jesus, gegee het nie. Die verrese Jesus het gesê: “[Dit is ek] wat die niere en harte deursoek, en ek sal aan elkeen van julle gee volgens julle dade.”—Openbaring 2:23.
Die Bybel sê nie dat Satan mense se harte en gedagtes kan deursoek nie. Dit is betekenisvol, aangesien die apostel Paulus ons verseker dat Christene “nie onkundig omtrent [Satan se] planne [is] nie” (2 Korintiërs 2:11). Ons hoef dus nie bang te wees dat Satan die een of ander buitengewone vermoë het waarvan ons heeltemal onbewus is nie.
Dit is egter nie te sê dat ons Teenstander nie ons swakhede kan onderskei nie. Satan bestudeer mensegedrag al eeue lank. Dit is nie vir hom nodig om gedagtes te kan lees om te sien wat ons gedragspatroon is, te let op watter vermaak ons verkies of te hoor waaroor ons praat nie, ensovoorts. Ons gesigsuitdrukkings en liggaamshouding kan ook verraai wat ons dink of voel.
Maar Satan gebruik oor die algemeen dieselfde liste as wat hy in die tuin van Eden gebruik het—leuens, bedrog en verkeerde inligting (Genesis 3:1-5). Hoewel Christene nie hoef bang te wees dat Satan hulle gedagtes sal lees nie, het hulle wel rede om besorg te wees oor watter gedagtes Satan dalk in hulle verstand sal probeer plaas. Hy wil hê dat Christene “verdorwe van verstand en van die waarheid beroof” moet word (1 Timoteus 6:5). Geen wonder dat Satan se wêreld ’n vloedgolf verderflike inligting en vermaak voortgebring het nie. Om hierdie aanslag af te weer, moet Christene hulle verstande beskerm deur “die helm van redding” te dra (Efesiërs 6:17). Hulle doen dit deur hulle verstande met Bybelwaarhede te vul en onnodige kontak met die ongure elemente van Satan se wêreld te vermy.
Satan is ’n gedugte vyand. Maar ons hoef nie ’n morbiede vrees vir hom of sy demone te hê nie. Jakobus 4:7 verseker ons: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” As ons hierdie raad volg, sal ons, net soos Jesus, kan sê dat Satan geen houvas op ons het nie.—Johannes 14:30.