Bloot ’n gebruik of omkopery?
BY PARTY Poolse kolleges is dit algemeen vir studente om geld in te samel om vir hulle dosente geskenke te koop, in die hoop dat hulle beter punte in die eksamen sal behaal. Dit is geen wonder dat ’n jong Christen genaamd Katarzyna voor ’n moeilike situasie te staan gekom het nie. “Sal ek geld gee, of nie?” het sy gewonder. Haar medestudente het geredeneer: “Dit is ’n algemene gebruik. Jy kan niks verloor nie, maar jy kan baie wen. Waarom twyfel jy dan nog?”
“Ek moet erken dat ek in my eerste studiejaar aan die geldinsameling deelgeneem het”, sê Katarzyna. “Eers later het ek besef dat ek op hierdie manier omkopery ondersteun het, iets wat deur die Bybel veroordeel word.” Sy het gedink aan tekste wat toon dat Jehovah omkopery baie sterk afkeur (Deuteronomium 10:17; 16:19; 2 Kronieke 19:7). Katarzyna sê: “Ek het besef hoe maklik dit is om voor portuurdruk te swig. Ek het daaroor nagedink en van toe af nooit weer aan hierdie gebruik deelgeneem nie.” Gedurende die afgelope drie jaar kon sy, ondanks die gespot van ander studente, aan party verduidelik dat sy weens haar Bybelse oortuigings nie aan hierdie “geskenk”-insamelings deelneem nie.
Party het Katarzyna daarvan beskuldig dat sy selfsugtig en antisosiaal is. “Ek kom nog steeds nie goed met sommige van hulle oor die weg nie”, sê sy. “Aan die ander kant respekteer baie my standpunt, en dit maak my bly.” Katarzyna het bekend geword as een van Jehovah se Getuies, wat Bybelbeginsels in hulle daaglikse lewe toepas.