Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 3/1 bl. 30-31
  • Die Bybel se gebalanseerde beskouing van hoofskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel se gebalanseerde beskouing van hoofskap
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Jesus Christus se posisie
  • Die man se posisie
  • Die vrou se posisie
  • Voordele van hoofskap
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 3/1 bl. 30-31

Die Bybel se gebalanseerde beskouing van hoofskap

DIE hoofskapbeginsel het in werking getree toe die eerste mense geskep is. Die mens is na God se beeld gemaak en het wilsvryheid gehad. Hy kon self kies om goed of kwaad te doen. Deur sy gewillige, liefdevolle gehoorsaamheid aan sy Skepper kon hy God eer en verheerlik. Hy kon God op intelligente wyse loof vir sy wonderlike eienskappe en kon Sy soewereiniteit ondersteun.

Maar Adam se vryheid was relatief; dit was nie absoluut nie. Hy kon slegs voortgaan om ’n gelukkige lewe te lei as hy Jehovah se soewereiniteit erken het. Dit is aangedui deur die boom van kennis van goed en kwaad, waarvan Adam verbied is om te eet. As hy daarvan sou eet, sou dit ’n daad van ongehoorsaamheid wees, ’n opstand teen God se soewereiniteit.—Genesis 2:9, 16, 17.

Dit is net so belangrik dat aanbidders van God vandag sy beskouing van hoofskap respekteer. Die basiese beginsel van hoofskap word in 1 Korintiërs 11:3 uiteengesit: “Christus [is] die hoof . . . van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus.”

Jesus Christus se posisie

As hoof van die Christengemeente het Jesus Christus die reg om besluite in verband daarmee te maak en gesag daaroor uit te oefen (Efesiërs 5:23). Maar sy hoofskap verplig hom ook om die verantwoordelikheid te aanvaar om na die gemeente om te sien asook om die verantwoordelikheid vir sy besluite te dra.

Jesus Christus het nog altyd in ooreenstemming met die hoofskapbeginsel opgetree en in woord en daad getoon dat hy sy Vader se hoofskap ten volle erken. Selfs nadat hy duisend jaar lank oor die aarde regeer het, sal hy Jehovah se universele hoofskap erken deur die Koninkryk aan Jehovah oor te gee en hom te onderwerp “aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees”.—1 Korintiërs 15:24-28; Filippense 2:5-8.

Die man se posisie

Hoewel die man hoofskap in die gesin uitoefen, beteken dit nie dat hy onafhanklik is en nie ’n “hoof” hoef te erken nie. Inteendeel, hy is verplig om die riglyne en voorbeeld te volg wat sy hoof, Christus, voorsien het (1 Johannes 2:6). Dit geld nie net in sy godsdiensbedrywighede nie, maar ook in sy persoonlike bedrywighede.

As hy byvoorbeeld ’n gesinsman is, moet hy uit eerbied vir sy eie hoof, Christus, gehoor gee aan die raad om ooreenkomstig kennis met sy vrou saam te woon en ‘aan haar eer toe te ken as ’n swakker vat’. Hy moet ook ’n ywerige poging aanwend om sy kinders reg op te lei.—1 Petrus 3:7; Efesiërs 6:4.

Aangesien die man voor die vrou geskep is, is hy voorrang bo die vrou gegee (1 Timoteus 2:12, 13). Die vrou is uit ’n ribbebeen van die man geskep (Genesis 2:22, 23). Sy is ter wille van die man geskep, nie die man ter wille van haar nie (1 Korintiërs 11:9). Daarom sou die vrou in God se reëling vir die gesin altyd aan haar man onderdanig moes wees en nie sy gesag probeer oorneem nie (Efesiërs 5:22, 23). En in die Christengemeente moet die vrou nie ander toegewyde mans onderrig of gesag oor hulle uitoefen nie.—1 Timoteus 2:12.

Onder die Hebreërs van die ou tyd is die gesagsposisie van die man in die gesin en in die stamreëling erken. Sara was onderdanig en het Abraham “heer” genoem, en sy is gunstig vermeld weens hierdie erkenning van sy hoofskap.—Genesis 18:12; 1 Petrus 3:5, 6.

Die vrou se posisie

In die ou tyd was daar omstandighede waaronder ’n vrou ’n hoofbedekking gedra het om onderdanigheid te toon (Genesis 24:65). Toe die apostel Paulus die hoofskapreëling in die Christengemeente bespreek het, het hy verduidelik dat ’n vrou ’n hoofbedekking moet dra as sy in die gemeente bid of profeteer en sodoende ’n rol vervul wat God aan die man toegewys het.

Wanneer ’n vrou hierdie dinge tydelik doen omdat geen toegewyde Christenman teenwoordig is nie, moet sy nie, al het sy lang hare, redeneer dat haar lang hare genoeg is om haar onderdanigheid te toon nie. Sy moet eerder haar onderdanigheid en haar erkenning van die man se hoofskap deur haar dade openbaar. Die Christenvrou doen dit deur ’n hoofbedekking te dra as “’n teken van gesag”.—1 Korintiërs 11:5-16.

Dit moet gedoen word “weens die engele”, wat die Christen se dade waarneem en wat, as dienaars van die Christengemeente, daarin belangstel. As ’n Christenvrou ’n hoofbedekking dra wanneer dit om geestelike redes nodig is, erken sy God se hoofskapreëling.—Hebreërs 1:14.

Hierdie gepaste teokratiese orde in die gemeente en in die gesinsreëling verhinder nie dat die vrou God dien nie, en dit belemmer ook nie haar pogings om haar gesinsbedrywighede en -verantwoordelikhede uit te voer nie. Dit gee haar algehele en skriftuurlike vryheid om in haar plek te dien, terwyl sy God steeds behaag in ooreenstemming met die beginsel: “God [het] die lede, elkeen van hulle, in die liggaam geplaas net soos dit hom behaag het.”—1 Korintiërs 12:18.

Baie vroue van die ou tyd het wonderlike voorregte geniet terwyl hulle die hoofskap van die man erken het en het gelukkige, bevredigende lewens gelei. Onder hulle was Sara, Rebekka, Abigail en Christenvroue soos Priscilla en Febe.

Voordele van hoofskap

Die uitoefening van gemagtigde hoofskap gaan met sekere regte gepaard, maar dit bring ook verpligtinge mee. ’n Man het byvoorbeeld die reg om finale besluite te neem en oor dinge toesig te hou. Maar hy is ook verplig om die verantwoordelikheid vir sy gesin te aanvaar. Sy vernaamste verpligting is om materieel en geestelik vir sy huisgesin te sorg.—1 Timoteus 5:8.

Die Christenman moet sy hoofskap verstandig uitoefen en sy vrou liefhê soos homself (Efesiërs 5:33). Jesus Christus oefen sy hoofskap oor die Christengemeente op hierdie manier uit (Efesiërs 5:28, 29). As hoof oor sy kinders moet ’n vader hulle nie irriteer nie, maar hulle opvoed “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah”.—Efesiërs 6:4.

As herders van God se kudde moet “ouer manne” in die Christengemeente nie baasspeel oor God se “skape” nie, maar onthou dat hulle aan Jesus Christus en Jehovah God onderworpe is (1 Petrus 5:1-4). Christene, volgelinge van Jesus Christus, erken ook Jehovah se opperste hoofskap deur hulle gebede tot hom te rig en hom as Vader en die almagtige God te erken.—Matteus 6:9; Openbaring 1:8.

Die regte uitoefening van skriftuurlike hoofskap bring beslis voordele vir die mensdom mee. Die vrede en harmonie wat dit tot gevolg het, bring eer aan die mensdom se Skepper.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel