“Ek het alles gevind wat ek nodig het”
VOLGENS ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie ly meer as 120 miljoen mense regoor die wêreld vandag aan depressie. Elke jaar pleeg eenmiljoen mense selfmoord, en tussen 10 en 20 miljoen probeer selfmoord pleeg. Watter hulp is daar vir diegene wat aan depressie ly? Mediese behandeling kan soms die lyding verlig, en emosionele ondersteuning is noodsaaklik. Daarbenewens is party wat hierdie gevoelens ervaar, ook gehelp deur die praktiese Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies, soos die volgende brief uit Frankryk toon.
“’n Ruk gelede kon ek nie ’n rede sien om langer te lewe nie. Ek het tot God gebid om my te laat sterf. Dit was asof ek innerlik dood was. Ek het leiding gesoek en vurig tot Jehovah gebid. Ek het ook besluit om die 2002 Yearbook of Jehovah’s Witnesses te lees en het dit binne drie dae voltooi. Ek moet erken dat dit my grootliks aangemoedig het en my geloof versterk het.
“Ek het navorsing in Die Wagtoring en Ontwaak! gedoen, en hoe verras was ek tog nie! Ek lees hierdie tydskrifte nou al meer as 15 jaar gereeld, maar ek het nog nooit besef hoe bemoedigend en interessant die artikels is nie. Dit loop oor van liefde—’n eienskap wat deesdae bitter skaars is. Ek het alles gevind wat ek nodig het.”
Die Bybel sê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:18). Alle “gebrokenes van hart” of “verbryseldes van gees” kan beslis bemoediging en ’n hoop vir die toekoms in die Bybel vind. Jehovah se Getuies versprei Bybellektuur om diegene wat hulp nodig het, te help om by daardie Goddelik geïnspireerde bron van vertroosting baat te vind.