Help mense om nader aan Jehovah te kom
“Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”—JOHANNES 14:6.
1. Watter opdrag het die verrese Jesus aan sy dissipels gegee, en wat was die gevolg omdat Jehovah se Getuies dit gehoorsaam het?
JESUS CHRISTUS het sy volgelinge beveel om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies, en hulle te doop in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees’ (Matteus 28:19). In die afgelope tien jaar het Jehovah se Getuies meer as driemiljoen mense gehelp om na God te kom en hulle uiteindelik gedoop as simbool van hulle toewyding aan hom om sy wil te doen. Hoe verheug is ons tog om hulle te help om nader aan God te kom!—Jakobus 4:8.
2. Hoewel talle nuwelinge gedoop word, wat het ook plaasgevind?
2 In party lande waar talle nuwe dissipels gedoop is, is daar egter nie ’n ooreenstemmende vermeerdering in die aantal Koninkryksverkondigers nie. Ons moet natuurlik in ag neem dat sommige gesterf het, aangesien die jaarlikse sterftesyfer omtrent 1 persent is. Maar in die laaste paar jaar het heelparty om die een of ander rede afgedwaal. Waarom? Hierdie artikel en die volgende een sal bespreek hoe mense na Jehovah getrek word, asook moontlike redes waarom sommige afdwaal.
Die doel van ons predikingswerk
3. (a) Hoe stem die werk wat aan Jesus se dissipels opgedra is ooreen met dié van die engel wat in Openbaring 14:6 gemeld word? (b) Wat is ’n doeltreffende manier om mense se belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek, maar watter probleem bestaan daar?
3 In hierdie “tyd van die einde” het Jesus se dissipels die opdrag om “ware kennis” aangaande “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te versprei (Daniël 12:4, NW; Matteus 24:14). Hulle werk stem ooreen met dié van die engel wat “ewige goeie nuus gehad [het] om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk” (Openbaring 14:6). In hierdie wêreld wat só besig met alledaagse sake is, is die doeltreffendste manier om mense se belangstelling in God se Koninkryk te wek en hulle te help om nader aan Jehovah te kom gewoonlik om hulle van die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde te vertel. Dit is heeltemal verstaanbaar, maar diegene wat hoofsaaklik met God se volk assosieer om lewe in die Paradys te ontvang, staan nie vas op die nou pad wat na die lewe lei nie.—Matteus 7:13, 14.
4. Wat is die doel van ons verkondigingswerk volgens Jesus en die engel wat in die middel van die hemel vlieg?
4 Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Die engel wat in die middel van die hemel vlieg, maak “ewige goeie nuus” bekend en sê aan dié wat op die aarde woon: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het” (Openbaring 14:7). Die uiteindelike oogmerk waarmee ons dus die goeie nuus verkondig, is om mense te help om deur middel van Christus Jesus nader aan Jehovah te kom.
Ons rol in Jehovah se werk
5. Wat het Paulus en Jesus gesê wat toon dat ons Jehovah se werk doen, nie ons s’n nie?
5 Toe die apostel Paulus aan gesalfde mede-Christene geskryf het, het hy gepraat van “die bediening van die versoening” en gesê dat God mense met homself versoen op grond van Jesus Christus se losprysofferande. Paulus sê dat dit is “asof God ’n dringende versoek deur ons doen” en dat ons “as plaasvervangers vir Christus smeek . . . : ‘Raak met God versoen.’” Wat ’n bemoedigende gedagte! Of ons nou gesalfde “ambassadeurs [is] wat as plaasvervangers vir Christus optree” en of ons gesante met ’n aardse hoop is, ons moet nooit vergeet dat dit Jehovah se werk is, nie ons s’n nie (2 Korintiërs 5:18-20). Dit is in werklikheid God wat mense trek en diegene leer wat na Christus kom. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie; en ek sal hom in die laaste dag opwek. Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word.’ Elkeen wat by die Vader gehoor het en geleer het, kom na my toe.”—Johannes 6:44, 45.
6. Hoe bring Jehovah ’n voorlopige skudding in die nasies teweeg, en wie vind terselfdertyd veiligheid in sy “huis” van aanbidding?
6 Hoe trek Jehovah mense en maak hy die “deur van geloof” vir hulle oop in hierdie laaste dae? (Handelinge 14:27, voetnoot in naslaanuitgawe; 2 Timoteus 3:1). ’n Vername manier is deur sy Getuies sy boodskappe van redding en van oordeel oor hierdie goddelose stelsel van dinge te laat verkondig (Jesaja 43:12; 61:1, 2). Hierdie wêreldwye verkondigingswerk veroorsaak ’n skudding in die nasies—’n voorteken van die veroordelende verwoesting wat binnekort sal volg. Terselfdertyd word mense wat “kosbaar” in God se oë is uit hierdie stelsel getrek en vind hulle veiligheid in sy “huis” van ware aanbidding. Jehovah vervul sodoende sy profetiese woord wat deur Haggai opgeteken is: “Ek sal al die nasies skud‚ en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul.”—Haggai 2:6, 7, NW, voetnoot; Openbaring 7:9, 15.
7. Hoe maak Jehovah die harte van mense ontvanklik en trek hy individue na hom en na sy Seun?
7 Jehovah maak die harte van hierdie godvresendes—“die beste dinge uit al die nasies”—ontvanklik dat hulle ‘aandag kan skenk aan die dinge wat gespreek word’ deur sy Getuies (Haggai 2:7, Jewish Publication Society; Handelinge 16:14). Soos in die eerste eeu gebruik Jehovah soms sy engele om sy Getuies te lei na opregte mense wat hom om hulp smeek (Handelinge 8:26-31). Wanneer individue leer van die wonderlike dinge wat God hulle deur sy Seun, Jesus Christus, gegee het, word hulle na Jehovah getrek deur sy liefde (1 Johannes 4:9, 10). Ja, God trek mense na hom en na sy Seun deur middel van Sy “liefderyke goedhartigheid”, of “lojale liefde”.—Jeremia 31:3, NW, voetnoot.
Wie word deur Jehovah getrek?
8. Watter soort mense trek Jehovah na hom?
8 Jehovah trek persone wat hom soek na hom en na sy Seun (Handelinge 17:27). Hulle sluit mense in wat “sug en steun oor al die gruwels” wat in die Christendom, en eintlik in die hele wêreld, gedoen word (Esegiël 9:4). Hulle is “bewus van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Trouens, hulle is die “ootmoediges [“nederiges”, voetnoot in NW] van die land” wat vir ewig op die paradysaarde sal woon.—Sefanja 2:3.
9. Hoe kan Jehovah sien of mense ‘die regte gesindheid vir die ewige lewe het’, en hoe trek hy hulle?
9 Jehovah kan ’n mens se hart lees. Koning Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Op grond van ’n individu se hartstoestand en gees, of oorheersende gesindheid, kan Jehovah sien of hy of sy moontlik op Goddelike voorsienings vir die vergifnis van sondes en die hoop op ewige lewe in God se regverdige nuwe stelsel sal reageer (2 Petrus 3:13). Deur middel van sy Woord, wat sy Getuies verkondig en aan ander leer, trek Jehovah ‘almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het’ na hom en na sy Seun, en hulle ‘word gelowiges’.—Handelinge 13:48.
10. Wat toon dat voorbeskikking nie verband hou met die feit dat Jehovah sommige na hom trek en ander nie?
10 Hou die feit dat Jehovah sommige na hom trek en ander nie, enigsins verband met voorbeskikking? Hoegenaamd nie! God trek mense op grond van hulle eie begeerte. Hy respekteer hulle wilsvryheid. Jehovah stel vandag dieselfde keuse voor die aarde se bewoners wat hy meer as 3 000 jaar gelede voor die Israeliete gestel het, toe Moses gesê het: “Ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. . . . Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”—Deuteronomium 30:15-20.
11. Hoe moes die Israeliete die lewe kies?
11 Let op dat die Israeliete die lewe moes kies ‘deur Jehovah lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang’. Toe daardie woorde geuiter is, het die nasie Israel nog nie die Beloofde Land in besit geneem nie. Hulle het op die vlakte van Moab gestaan en het gereedgemaak om die Jordaanrivier oor te steek en Kanaän in te gaan. Hoewel dit natuurlik vir hulle was om te dink aan die “goeie en wye land . . . wat oorloop van melk en heuning” wat hulle spoedig sou ontvang, het die verwesenliking van hulle drome afgehang van hulle liefde vir Jehovah, of hulle na sy stem sou luister en of hulle hom sou aanhang (Exodus 3:8). Moses het dit duidelik gestel toe hy gesê het: “As jy luister na die gebooie van Jehovah jou God, wat ek jou vandag beveel, deur Jehovah jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy regterlike beslissings te onderhou, dan sal jy sekerlik bly lewe en vermenigvuldig, en Jehovah jou God moet jou seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.”—Deuteronomium 30:16, NW.
12. Wat moet ons uit die voorbeeld van die Israeliete omtrent ons predikings- en onderrigtingswerk leer?
12 Moet die voorgaande ons nie iets leer omtrent ons predikings- en onderrigtingswerk in hierdie tyd van die einde nie? Ons dink aan die komende Paradysaarde en ons praat daaroor in ons bediening. Maar nie ons of die dissipels wat ons maak, sal die vervulling van die belofte sien as ons of hulle God om selfsugtige redes dien nie. Soos die Israeliete moet ons en diegene wat ons onderrig, leer om ‘Jehovah lief te hê, na sy stem te luister en hom aan te hang’. As ons dít onthou wanneer ons ons bediening uitvoer, sal ons in werklikheid met God saamwerk om mense na hom te trek.
God se medewerkers
13, 14. (a) Hoe word ons, volgens 1 Korintiërs 3:5-9, medewerkers van God? (b) Wie kom die eer toe vir enige vermeerdering, en waarom?
13 Paulus het die voorbeeld gebruik van ’n saailand wat bewerk word om toe te lig hoe ons met God saamwerk. Hy het geskryf: “Wat is Apollos dan? Ja, wat is Paulus? Bedienaars deur wie julle gelowiges geword het, net soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei; sodat nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets is, maar God wat dit laat groei. En hy wat plant en hy wat natgooi, is een, maar elkeen sal sy eie beloning volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is God se medewerkers. Julle is God se saailand wat bewerk word.”—1 Korintiërs 3:5-9.
14 As God se medewerkers moet ons getrou “die woord van die koninkryk” in die harte van mense plant en dan moet ons dit natgooi deur enige belangstelling wat getoon is met goed voorbereide herbesoeke en Bybelstudies op te volg. As die grond, die hart, goed is, sal Jehovah sy deel bydra deur die saad van Bybelwaarheid in ’n vrugbare plant te laat ontkiem (Matteus 13:19, 23). Hy sal die persoon na hom en na sy Seun trek. Enige vermeerdering in die aantal Koninkryksverkondigers is dus uiteindelik te danke aan die verandering wat Jehovah in die harte van mense teweegbring, deur die saad van waarheid te laat groei en sulke mense na hom en na sy Seun te trek.
Bouwerk wat staande sal bly
15. Watter illustrasie het Paulus gebruik om te toon hoe ons ander help om geloof op te bou?
15 Hoewel ons verheug is oor die vermeerdering, wil ons baie graag sien dat mense aanhou om Jehovah lief te hê, na sy stem te luister en hom aan te hang. Ons is hartseer wanneer ons sien dat sommige afkoel en afdwaal. Is daar enigiets wat ons kan doen om dit te voorkom? In ’n ander illustrasie toon Paulus hoe ons ander kan help om geloof op te bou. Hy skryf: “Geen mens kan enige ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus. As iemand dan nou op die fondament goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels bou—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit uitwys, omdat dit deur middel van vuur geopenbaar sal word; en die vuur self sal aantoon hoedanig elkeen se werk is.”—1 Korintiërs 3:11-13.
16. (a) Watter verskil is daar tussen die hoofgedagtes van die twee illustrasies wat Paulus gebruik het? (b) Wat kan veroorsaak dat ons bouwerk op die ou end onbevredigend en nie teen vuur bestand is nie?
16 In Paulus se illustrasie van die saailand moet saad pligsgetrou geplant, gereeld natgegooi en deur God geseën word sodat dit kan groei. Die apostel se ander illustrasie beklemtoon die verantwoordelikheid wat die Christenbedienaar dra vir wat van sy bouwerk word. Het hy op ’n stewige fondament en met boumateriaal van hoë gehalte gebou? Paulus waarsku: “Laat elkeen aanhou let op hoe hy daarop bou” (1 Korintiërs 3:10). Wat doen ons nadat ons iemand se belangstelling gewek het deur hom of haar van die hoop op ewige lewe in die Paradys te vertel? Vestig ons al sy aandag op net die grondbeginsels van skriftuurlike kennis en beklemtoon ons dan hoofsaaklik wat hy moet doen om die ewige lewe te kry? Leer ons mense uitsluitlik: ‘As jy vir ewig in die Paradys wil lewe, moet jy studeer, vergaderinge bywoon en aan die predikingswerk deelneem’? Indien wel, bou ons nie die persoon se geloof op ’n stewige fondament nie, en wat ons bou, sal dalk nie die vuur van beproewinge of die toets van die tyd deurstaan nie. As ons mense na Jehovah probeer trek deur hulle bloot te leer van die hoop op lewe in die Paradys wat hulle in ruil vir ’n paar jaar se diens aan hom kan kry, is dit soos om met “hout, hooi, stoppels” te bou.
Bou liefde vir God en Christus
17, 18. (a) Wat is onontbeerlik vir ’n persoon se geloof om staande te bly? (b) Hoe kan ons iemand help om Christus in sy of haar hart te laat woon?
17 Geloof kan slegs staande bly as dit op ’n persoonlike verhouding met Jehovah God deur Jesus Christus gegrond is. As onvolmaakte mense kan ons so ’n vreedsame verhouding met God alleenlik deur sy Seun verkry (Romeine 5:10). Onthou dat Jesus gesê het: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Om ander te help om geloof op te bou, kan “geen mens . . . enige ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus”. Wat behels dit?—Johannes 14:6; 1 Korintiërs 3:11.
18 Om op Christus as die fondament te bou, beteken dat ons die Bybelstudent só leer dat hy ’n innige liefde vir Jesus ontwikkel, gegrond op breedvoerige kennis van Sy rol as Loskoper, Hoof van die gemeente, liefdevolle Hoëpriester en heersende Koning (Daniël 7:13, 14; Matteus 20:28; Kolossense 1:18-20; Hebreërs 4:14-16). Dit beteken dat ons Jesus so ’n werklike persoon vir hulle maak dat hy feitlik in hulle harte woon. Ons bede vir hulle behoort soos Paulus se versoek ten behoewe van Christene in Efese te wees. Hy het geskryf: ‘Ek buig my knieë voor die Vader, dat hy aan julle sal gee om die Christus deur julle geloof in julle harte met liefde te laat woon; dat julle gewortel kan wees en gegrond op die fondament.’—Efesiërs 3:14-17.
19. Wat behoort die feit dat ons liefde vir Christus in die harte van ons Bybelstudente opbou tot gevolg te hê, maar wat moet ons hulle leer?
19 As ons bouwerk tot gevolg het dat liefde vir Christus in die harte van ons studente ontwikkel, sal dit logieserwys daartoe lei dat hulle liefde vir Jehovah God opbou. Jesus se liefde, teerheid en medelye is ’n getroue weerspieëling van Jehovah se eienskappe (Matteus 11:28-30; Markus 6:30-34; Johannes 15:13, 14; Kolossense 1:15; Hebreërs 1:3). Namate mense Jesus dus leer ken en liefkry, sal hulle Jehovah leer ken en liefkry (1 Johannes 4:14, 16, 19).a Ons moet Bybelstudente leer dat Jehovah verantwoordelik is vir alles wat Christus vir die mensdom gedoen het en dat ons derhalwe aan Hóm die dank, lof en aanbidding as die “God van ons redding” moet gee.—Psalm 68:19, 20, NW; Jesaja 12:2-5; Johannes 3:16; 5:19.
20. (a) Hoe kan ons mense help om nader aan God en aan sy Seun te kom? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
20 As God se medewerkers moet ons mense help om nader aan hom en aan sy Seun te kom en hulle help om liefde en geloof in hulle harte op te bou. Jehovah sal dus ’n werklike persoon vir hulle word (Johannes 7:28). Deur Christus sal hulle ’n intieme verhouding met God kan opbou en hulle sal hom liefhê en hom aanhang. Hulle sal geen beperking stel op hoe lank hulle hulle liefdevolle diens gaan verrig nie, maar sal geloof stel in die feit dat Jehovah se wonderlike beloftes op sy bestemde tyd vervul sal word (Klaagliedere 3:24-26, vgl. NW; Hebreërs 11:6). Maar terwyl ons ander help om geloof, hoop en liefde op te bou, moet ons ons eie geloof versterk sodat dit kan wees soos ’n sterk skip wat hewige storms kan trotseer. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
[Voetnoot]
a ’n Uitstekende hulpmiddel om Jesus, en deur hom sy Vader, Jehovah, beter te leer ken, is die boek Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Ter hersiening
◻ Hoe wek ons dikwels mense se belangstelling in die Koninkryksboodskap, maar watter gevaar bestaan daar?
◻ Watter soort mense trek Jehovah na hom en na sy Seun?
◻ Waarvan het Israel se intog in die Beloofde Land afgehang, en wat kan ons hieruit leer?
◻ Watter rol speel ons daarin om mense te help om nader aan Jehovah en sy Seun te kom?
[Prent op bladsy 10]
Hoewel ons aan mense die hoop op ewige lewe in die Paradys voorhou, is ons hoofdoel om hulle na Jehovah te trek
[Prente op bladsy 13]
Ons herbesoeke kan baie doeltreffend wees as ons goed voorberei