Ouers, wat leer julle kinders uit julle voorbeeld?
“Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”—EFESIËRS 5:1, 2.
1. Watter soort riglyne het Jehovah aan die eerste mensepaar voorsien?
JEHOVAH is die Insteller van die gesinsreëling. Elke gesin het sy bestaan aan hom te danke omdat hy die eerste gesin tot stand gebring het en aan die eerste mensepaar die vermoë gegee het om kinders voort te bring (Efesiërs 3:14, 15). Hy het vir Adam en Eva basiese instruksies oor hulle verantwoordelikhede gegee en hulle ook voldoende geleentheid gegee om hulle eie inisiatief te gebruik om hierdie verantwoordelikhede na te kom (Genesis 1:28-30; 2:15-22). Nadat Adam en Eva gesondig het, het die situasies waarvoor gesinne te staan gekom het ingewikkelder geraak. Jehovah het nogtans op liefdevolle wyse riglyne voorsien wat sy knegte sou help om sulke situasies die hoof te bied.
2. (a) Hoe het Jehovah geskrewe raad met mondelinge onderrigting aangevul? (b) Watter vraag moet ouers hulle afvra?
2 As ons Grootse Onderrigter het Jehovah ons baie meer as net geskrewe riglyne gegee oor wat ons moet en nie moet doen nie. In die ou tyd het hy geskrewe onderrigting gekombineer met mondelinge onderrigting deur middel van die priesters en die profete en deur middel van gesinshoofde. Wie gebruik hy om sulke mondelinge onderrigting in ons dag te voorsien? Christen- ouer manne en ouers. As jy ’n ouer is, kom jy jou plig na om jou gesin in Jehovah se weë te onderrig?—Spreuke 6:20-23.
3. Wat kan gesinshoofde oor doeltreffende onderrigting by Jehovah leer?
3 Hoe moet sulke onderrigting in die gesin gegee word? Jehovah stel die voorbeeld. Hy sê uitdruklik wat goed en wat sleg is, en hy maak dikwels van herhaling gebruik (Exodus 20:4, 5; Deuteronomium 4:23, 24; 5:8, 9; 6:14, 15; Josua 24:19, 20). Hy gebruik gedagteprikkelende vrae (Job 38:4, 8, 31). Deur middel van illustrasies en werklike voorbeelde raak hy ons emosies en vorm hy ons harte (Genesis 15:5; Daniël 3:1-29). Ouers, probeer julle daardie voorbeeld volg wanneer julle julle kinders onderrig?
4. Wat leer ons by Jehovah oor die toepassing van dissipline, en waarom is dissipline belangrik?
4 Jehovah neem ’n ferm standpunt in vir wat reg is, maar hy verstaan die gevolge van onvolmaaktheid. Voordat hy dus onvolmaakte mense straf, onderrig hy hulle en gee hy hulle herhaalde waarskuwings en herinneringe (Genesis 19:15, 16; Jeremia 7:23-26). Wanneer hy dissiplineer, doen hy dit tot die regte mate, nooit uitermate nie (Psalm 103:10, 11; Jesaja 28:26-29). As ons ons kinders so behandel, toon dit dat ons Jehovah ken, en dit sal ook vir hulle makliker wees om hom te leer ken.—Jeremia 22:16, NW; 1 Johannes 4:8.
5. Wat kan ouers by Jehovah leer oor hoe om te luister?
5 Dit is wonderlik dat Jehovah as ’n liefdevolle hemelse Vader na ons luister. Hy hiet en gebied nie net nie. Hy moedig ons aan om ons hart voor hom uit te stort (Psalm 62:9). En as die gedagtes wat ons uitspreek nie heeltemal reg is nie, bestraf hy ons nie bulderend uit die hemel nie. Hy onderrig ons geduldig. Hoe gepas is die raad van die apostel Paulus dus: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders”! (Efesiërs 4:31–5:1). Wat ’n uitstekende voorbeeld stel Jehovah tog vir ouers terwyl hulle hulle kinders probeer onderrig! Dit is ’n voorbeeld wat ons hart bereik en maak dat ons in sy weg van die lewe wil wandel.
Die invloed wat ’n mens se voorbeeld het
6. Hoe word kinders deur die gesindheid en voorbeeld van hulle ouers beïnvloed?
6 Benewens mondelinge onderrigting, het ’n voorbeeld ’n kragtige invloed op kinders. Of ouers nou daarvan hou of nie, hulle kinders gaan hulle navolg. Dit kan ouers verbly—en soms kan dit hulle skok—wanneer hulle hulle kinders dinge hoor sê wat hulle self gesê het. Wanneer die gedrag sowel as die gesindheid van die ouers diepe waardering vir geestelike sake weerspieël, het dit ’n positiewe invloed op die kinders.—Spreuke 20:7.
7. Watter soort ouerlike voorbeeld het Jefta vir sy dogter gestel, en wat was die gevolg?
7 Die uitwerking wat ’n ouer se voorbeeld het, word goed toegelig in die Bybel. Jefta, wat deur Jehovah gebruik is om Israel in ’n oorwinning oor die Ammoniete te lei, was ook ’n vader. Die verslag van Jefta se antwoord aan die koning van Ammon dui aan dat Jefta die geskiedenis van Jehovah se handelinge met Israel dikwels gelees het. Hy kon daardie geskiedenis vryelik aanhaal, en hy het sterk geloof in Jehovah getoon. Sy voorbeeld het sy dogter ongetwyfeld gehelp om die geloof op te bou en die selfopofferende gees aan te kweek wat sy geopenbaar het toe sy ’n leeftyd van diens betree het as ’n ongetroude vrou wat toegewyd was aan Jehovah.—Rigters 11:14-27, 34-40; vergelyk Josua 1:8.
8. (a) Watter goeie gesindheid het Samuel se ouers geopenbaar? (b) Hoe het dit Samuel tot voordeel gestrek?
8 Samuel was ’n voorbeeldige kind en regdeur sy lewe getrou aan God as ’n profeet. Sou jy graag wou hê dat jou kinders soos hy moet word? Ondersoek die voorbeeld wat Samuel se ouers, Elkana en Hanna, gestel het. Hoewel die situasie in hulle huisgesin nie volmaak was nie, het hulle gereeld na Silo opgegaan om te aanbid, na die plek waar die heilige tabernakel was (1 Samuel 1:3-8, 21). Let op met watter intense gevoel Hanna gebid het (1 Samuel 1:9-13). Kyk na hoe belangrik dit vir hulle albei was om enige belofte na te kom wat aan God gemaak is (1 Samuel 1:22-28). Hulle goeie voorbeeld het Samuel ongetwyfeld gehelp om die eienskappe aan te kweek wat hom in staat gestel het om die regte weg te volg—selfs wanneer mense om hom wat Jehovah oënskynlik gedien het geen respek vir God se weë getoon het nie. Mettertyd het Jehovah Samuel die verantwoordelikheid gegee om as Sy profeet te dien.—1 Samuel 2:11, 12; 3:1-21.
9. (a) Wat het tuis ’n goeie invloed op Timoteus gehad? (b) Watter soort persoon het Timoteus geword?
9 Sou jy graag wou hê dat jou seun soos Timoteus moet word, wat as ’n jong man ’n metgesel van die apostel Paulus geword het? Timoteus se vader was nie ’n gelowige nie, maar sy moeder en grootmoeder het ’n goeie voorbeeld van waardering vir geestelike dinge gestel. Dit het ongetwyfeld gehelp om ’n goeie grondslag te lê vir Timoteus se lewe as ’n Christen. Daar word vir ons gesê dat sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder, Loïs, “geloof . . . sonder enige huigelary” gehad het. Hulle lewe as Christene was nie toneelspel nie; hulle het werklik in ooreenstemming gelewe met wat hulle gesê het hulle glo, en hulle het vir jong Timoteus geleer om dieselfde te doen. Timoteus het bewys dat hy betroubaar was en dat hy opreg besorg was oor die welsyn van ander.—2 Timoteus 1:5; Filippense 2:20-22.
10. (a) Watter voorbeelde buite die huis kan ons kinders beïnvloed? (b) Hoe moet ons reageer wanneer hierdie invloede in die spraak en gesindheid van ons kinders na vore kom?
10 Die voorbeelde wat ons kinders beïnvloed, is nie net in die huis nie. Daar is die kinders saam met wie hulle skoolgaan, onderwysers wie se werk dit is om jong verstande te vorm, mense wat sterk daaroor voel dat almal volgens diepgewortelde gebruike in die stam of gemeenskap moet lewe, sporthelde wie se prestasies oral geprys word en staatsamptenare wie se gedrag opspraak verwek in die nuus. Miljoene kinders is ook al aan die wreedheid van oorlog blootgestel. Behoort dit ons te verbaas as hierdie invloede in die spraak of gesindheid van ons kinders na vore kom? Hoe reageer ons wanneer dit gebeur? Los ons die probleem op deur hulle skerp te berispe of hulle die leviete voor te lees? In plaas van dadelik te reageer op wat ons kinders sê, sal dit nie beter wees om ons af te vra nie: ‘Is daar iets in die manier waarop Jehovah met ons handel wat ons kan help om te sien hoe ons hierdie situasie moet hanteer?’—Vergelyk Romeine 2:4.
11. Hoe kan dit die gesindheid van hulle kinders beïnvloed as ouers foute maak?
11 Onvolmaakte ouers gaan natuurlik nie altyd situasies op die beste manier hanteer nie. Hulle gaan foute maak. Gaan die kinders se respek vir hulle ouers afneem wanneer hulle dit agterkom? Dit kan, veral as ouers hulle foute probeer toesmeer deur hulle gesag op ongevoelige wyse uit te oefen. Maar die uitkoms kan baie anders wees as die ouers nederig is en hulle foute openlik erken. Hulle kan sodoende ’n waardevolle voorbeeld stel vir hulle kinders, wat moet leer om dieselfde te doen.—Jakobus 4:6.
Wat ons voorbeeld ons kinders kan leer
12, 13. (a) Wat moet kinders oor liefde leer, en wat is die beste manier om hulle dit te leer? (b) Waarom is dit belangrik dat kinders omtrent liefde leer?
12 Daar is talle waardevolle lesse wat die beste oorgedra kan word wanneer mondelinge onderrigting met ’n goeie voorbeeld gepaardgaan. Kom ons kyk na ’n paar.
13 Hoe om onselfsugtige liefde te betoon: Een van die belangrikste lesse waaraan ons voorbeeld krag moet verleen, is die betekenis van liefde. “Ons het lief omdat [God] ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Hy is die Bron en allerbeste voorbeeld van liefde. Hierdie beginselvaste liefde, a·gaʹpe, word meer as 100 keer in die Bybel gemeld. Dit is ’n eienskap wat ware Christene identifiseer (Johannes 13:35). Ons moet sulke liefde teenoor God en Jesus Christus asook teenoor mekaar betoon—selfs teenoor mense van wie ons moontlik nie hou nie (Matteus 5:44, 45; 1 Johannes 5:3). Hierdie liefde moet in ons hart wees en in ons lewe gesien kan word voordat ons dit op doeltreffende wyse aan ons kinders kan leer. Ons voorbeeld beteken baie meer as ons woorde. In die gesin moet kinders liefde en ander verwante eienskappe, soos geneentheid, sien en ervaar. Sonder hierdie dinge word ’n kind se fisiese, verstandelike en emosionele ontwikkeling belemmer. Kinders moet ook sien hoe liefde en geneentheid op gepaste wyse teenoor mede-Christene buite die gesin betoon word.—Romeine 12:10; 1 Petrus 3:8.
14. (a) Hoe kan kinders geleer word om goeie werk te doen wat bevrediging bring? (b) Hoe kan dit in julle gesin gedoen word?
14 Hoe om te leer werk: Werk is ’n fundamentele aspek van die lewe. Om ’n gevoel van eiewaarde te hê, moet ’n mens leer hoe om goeie werk te doen (Prediker 2:24; 2 Tessalonisense 3:10). As ’n kind take gegee word en beswaarlik gewys word hoe om te werk te gaan en dan raas kry omdat hy dit nie goed doen nie, sal hy waarskynlik nie leer om goeie werk te doen nie. Maar wanneer kinders leer deur saam met hulle ouers te werk en gepaste lof gegee word, is die kanse groter dat hulle sal leer om werk te doen wat bevrediging bring. As die ouers se voorbeeld met verduidelikings gepaardgaan, sal die kinders nie net leer hoe om ’n taak te doen nie, maar ook hoe om probleme die hoof te bied, hoe om ’n taak enduit te voer en hoe om te redeneer en besluite te neem. In hierdie atmosfeer kan hulle gehelp word om te verstaan dat Jehovah ook werk, dat hy goeie werk doen en dat Jesus sy Vader navolg (Genesis 1:31; Spreuke 8:27-31; Johannes 5:17). As ’n gesin ’n plaas of ’n sakeonderneming het, kan van die gesinslede saam werk. Of miskien kan die moeder haar seun of dogter leer om te kook en ná ’n maaltyd op te ruim. ’n Vader wat weg van die huis af werk, kan reël om by die huis saam met sy kinders aan projekte te werk. Hoe voordelig is dit tog wanneer ouers nie net daaraan dink om take nou afgehandel te kry nie, maar om die kinders vir die lewe toe te rus!
15. Op watter maniere kan lesse in geloof oorgedra word? Lig toe.
15 Hoe om geloof te behou ten spyte van teëspoed: Geloof is ook ’n lewensbelangrike aspek van ons lewe. Wanneer geloof tydens ’n gesinstudie bespreek word, kan kinders leer om dit te definieer. Hulle sal ook moontlik bewus word van bewyse wat sal maak dat geloof in hulle hart sal begin groei. Maar wanneer hulle sien hoe hulle ouers onwrikbare geloof ten spyte van kwaai beproewinge toon, kan dit ’n lewenslange uitwerking op hulle hê. ’n Bybelstudent in Panama se man het gedreig dat hy haar uit die huis sou sit as sy voortgaan om Jehovah te dien. Sy het nogtans gereeld saam met haar vier kindertjies 16 kilometer geloop en dan nog 30 kilometer per bus afgelê om by die naaste Koninkryksaal uit te kom. Danksy haar voorbeeld het ongeveer 20 lede van haar familie die weg van die waarheid aangeneem.
Stel ’n voorbeeld in daaglikse Bybellees
16. Waarom word daar aanbeveel dat die gesin elke dag die Bybel moet lees?
16 Een van die nuttigste gewoontes wat enige gesin kan hê—’n gewoonte waarby die ouers sal baat vind en wat ’n voorbeeld sal wees wat die kinders kan navolg—is om die Bybel gereeld te lees. Lees elke dag ’n deel van die Bybel, indien dit enigsins moontlik is. Dit is nie hoeveel julle lees wat die belangrikste is nie. Gereeldheid en die manier waarop julle dit doen, is baie belangriker. Vir kinders kan die Bybellees aangevul word met oudiokassette van My boek met Bybelverhale as dit in julle taal beskikbaar is. As ons God se Woord elke dag lees, help dit ons om God se gedagtes altyd in ag te neem. En as sulke Bybellees nie net deur individue nie, maar deur gesinne gedoen word, kan dit hele huisgesinne help om in Jehovah se weë te wandel. By die onlangse “God se weg van die lewe”-streekbyeenkoms is ons in die drama Gesinne—Maak daaglikse Bybellees deel van julle lewenswyse! aangemoedig om hierdie gewoonte aan te kweek.—Psalm 1:1-3.
17. Hoe help dit om die raad in Efesiërs 6:4 toe te pas as ’n gesin die Bybel saam lees en sleuteltekste memoriseer?
17 Bybellees as ’n gesin is in ooreenstemming met wat die apostel Paulus in sy geïnspireerde brief aan die Christene in Efese geskryf het, naamlik: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Wat beteken dit? “Verstandsregulering” beteken letterlik “denkwyse inskerp”; Christenvaders word dus aangespoor om Jehovah God se denkwyse in hulle kinders in te skerp—om kinders te help om God se gedagtes te leer ken. Julle kan die kinders help om dit te doen deur hulle aan te spoor om sleuteltekste te memoriseer. Die doel is om die kinders se denke deur Jehovah se gedagtes te laat lei sodat hulle begeertes en gedrag geleidelik Goddelike standaarde begin weerspieël, hetsy die ouers saam met die kinders is of nie. Die Bybel is die grondslag van sulke denke.—Deuteronomium 6:6, 7.
18. Wanneer ons die Bybel lees, wat moet ons dalk doen sodat ons (a) dit duidelik sal verstaan? (b) sal baat vind by die raad wat dit bevat? (c) sal reageer op wat dit oor Jehovah se voorneme openbaar? (d) sal baat vind by wat dit oor die gesindhede en dade van mense sê?
18 Ons moet natuurlik verstaan wat die Bybel sê voordat dit ’n uitwerking op ons lewe gaan hê. Vir baie sal dit beteken dat hulle sekere dele meer as een keer moet lees. Ons sal moontlik woorde in ’n woordeboek of in Insight on the Scriptures moet naslaan om sekere uitdrukkings duidelik te verstaan. As die teks raad of ’n opdrag bevat, moet ons tyd neem om oor situasies in ons dag te praat waarop dit van toepassing is. Dan kan jy vra: ‘Hoe kan dit ons tot voordeel strek as ons hierdie raad toepas?’ (Jesaja 48:17, 18, NW). As die teks oor die een of ander aspek van Jehovah se voorneme handel, kan jy vra: ‘Hoe word ons lewe hierdeur geraak?’ Moontlik lees julle ’n verslag wat handel oor die gesindhede en dade van mense. Met watter druk in die lewe het hulle te kampe gehad? Hoe het hulle dit hanteer? Hoe kan ons by hulle voorbeeld baat vind? Laat altyd tyd toe om te bespreek wat die verslag vandag in ons lewe beteken.—Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11.
19. Wat sal ons vir ons kinders wees as ons navolgers van God is?
19 Wat ’n uitstekende manier is dit tog nie om ons verstand en hart met God se denke te vul nie! Sodoende sal ons werklik gehelp word om “navolgers van God, as geliefde kinders” te word (Efesiërs 5:1). En ons sal ’n waarlik navolgenswaardige voorbeeld vir ons kinders wees.
Onthou jy?
◻ Hoe kan ouers by Jehovah se voorbeeld baat vind?
◻ Waarom moet die mondelinge onderrigting van kinders met die goeie voorbeeld van ouers gepaardgaan?
◻ Wat is sommige lesse wat die heel beste deur ouers se voorbeeld oorgedra word?
◻ Hoe kan ons ten volle by Bybellees as ’n gesin baat vind?
[Prente op bladsy 10]
Baie lees die Bybel elke dag saam as ’n gesin