Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 6/15 bl. 10-13
  • Moet jy jou beskouing verruim?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy jou beskouing verruim?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kry al die feite
  • Jou beskouing van ander
  • Wanneer jy materieel gee
  • Wanneer jy raad gee
  • Span jou in om jou beskouing te verruim
  • Beskou jy ander soos Jehovah hulle beskou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Is jy besig om Jehovah se denke jou eie te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • “Wie het die denke van Jehovah leer ken?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 6/15 bl. 10-13

Moet jy jou beskouing verruim?

’N VERWOESTENDE aardbewing het Kobe-stad in die weste van Japan getref, en selfopofferende vrywilligers het die verslae inwoners gou te hulp gesnel. Maar toe ’n span besoekende dokters die stad se Gesondheidsburo vir mediese voorraad gevra het, het ’n amptenaar hulle versoek geweier. Daardie amptenaar, wat ook die direkteur van ’n groot munisipale hospitaal was, wou nie hê dat die dokters duur inspuitings en binne-aarse vloeistowwe by noodlenigingsentrums moet toedien nie, maar eerder dat slagoffers na hospitale in Kobe moet gaan. Die dokters se versoek is uiteindelik goedgekeur, maar die amptenaar se aanvanklike onversetlike gesindheid en skynbare gebrek aan meegevoel het oral kritiek uitgelok.

Miskien het iemand in ’n gesagsposisie jou al met soortgelyke ontoegeeflikheid behandel. Jy was dalk al self daaraan skuldig. Kan dit jou baat as jy jou beskouing verruim?

Kry al die feite

Mense beskou sake dikwels net uit een hoek, of gesigspunt, en sodoende beperk hulle hulle insig in sake en hulle begrip daarvan. Dit is dikwels die gevolg van faktore soos opvoeding, lewensondervinding en agtergrond. ’n Mens kan wyser besluite neem wanneer jy al die feite probeer kry. Sal dit byvoorbeeld wys wees om net reg voor jou te kyk as jy ’n besige kruising wil oorsteek waar daar geen verkeersligte is nie? Beslis nie! Dit kan jou eweneens baie help om besluite te neem en op ’n verantwoordelike manier op te tree as jy jou denke verruim en al die feite kry. Dit kan selfs jou lewe red.

Almal van ons kan heel waarskynlik in hierdie opsig verbeter. Vra jou dus af: ‘Op watter gebiede sal dit vir my goed wees om my denke te verruim?’

Jou beskouing van ander

Wat sien jy wanneer jy na ander kyk? Is jy geneig om alles wat hulle sê of doen as swart of wit te sien, asof daar geen ander kleure of skakerings bestaan nie? Sien jy ’n opmerking wat iemand maak altyd óf as ’n kompliment óf as ’n belediging? Dink jy ander is óf heeltemal reg óf totaal verkeerd? So ’n beskouing is soos om ’n fotograaf te wees wat die groot verskeidenheid pragtige kleure en skakerings in ’n herfslandskap ignoreer, asof net swart-en-wit-beelde bestaan. Of is jy geneig om op die negatiewe punte van iemand se persoonlikheid te konsentreer, baie soos ’n reisiger wat nie ’n pragtige toneel kan waardeer nie omdat ’n paar onbedagsame besoekers ’n bietjie rommel gestrooi het?—Vergelyk Prediker 7:16.

Ons kan baie leer deur te kyk na Jehovah se beskouing van foute wat mense maak. Hoewel hy bewus is van al die mens se swakhede en tekortkominge, verkies hy om nie daarop te konsentreer of daaroor te bly dink nie. Die dankbare psalmis het gesê: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, . . . wie sal bestaan?” (Psalm 130:3). Jehovah is bereid om berouvolle sondaars se foute ver van hulle te verwyder, ja, hy delg dit op groothartige wyse uit, sodat hulle nie ons verhouding met hom skaad nie (Psalm 51:3; 103:12). Jehovah kon sê dat koning Dawid, wat vroeër ernstige sondes met Batseba gepleeg het, ’n man was wat “My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë” (1 Konings 14:8). Waarom kon God dit van Dawid sê? Omdat hy op die berouvolle Dawid se goeie eienskappe gekonsentreer het. Hy het al die betrokke faktore oorweeg en het besluit om voort te gaan om barmhartigheid aan sy kneg te bewys.

Christus Jesus het hierdie ruim beskouing van ander se foute volmaak weerspieël (Johannes 5:19). Toe hy met die tekortkominge van sy apostels te doen gekry het, was Jesus barmhartig en simpatiek. Hy het aangaande onvolmaakte mense besef dat selfs wanneer ‘die gees gretig is, die vlees swak is’ (Matteus 26:41). Dáármee in gedagte kon Jesus die swakhede en foute van sy dissipels met geduld en begrip hanteer. Hy het nie op hulle tekortkominge gekonsentreer nie, maar eerder op hulle goeie eienskappe.

By een geleentheid, nadat Jesus die apostels tereggewys het omdat hulle gestry het oor wie die grootste was, het hy bygevoeg: “Julle is egter dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:24-30). Ja, ten spyte van die apostels se talle tekortkominge het Jesus hulle getrouheid en hulle liefde vir hom onthou (Spreuke 17:17). Jesus het vertroue gehad in wat hulle kon en sou doen, en daarom het hy ’n verbond vir ’n koninkryk met hulle gesluit. Ja, ‘Jesus het sy dissipels tot die einde toe liefgehad’.—Johannes 13:1.

As iemand se eienaardighede en foute jou dus maklik irriteer, moet jy soos Jehovah en Jesus wees. Verruim jou denke, en probeer al die faktore in aanmerking neem. Wanneer jy dinge in die regte perspektief sien, sal dit vir jou makliker wees om jou broers lief te hê en te waardeer.

Wanneer jy materieel gee

Die voorreg om te gee, is een van die vreugdes wat Christene kan ervaar. Maar moet ons ons mededeelsaamheid tot net een bedrywigheid beperk, byvoorbeeld om velddiens te doen? (Matteus 24:14; 28:19, 20). Of kan jy jou denke verruim sodat dit die fisiese behoeftes en welsyn van ander insluit? Alle Christene besef natuurlik dat dit van die allergrootste belang is om in geestelike sin te gee (Johannes 6:26, 27; Handelinge 1:8). Maar al is dit baie belangrik om in geestelike sin te gee, moet ons beslis nie nalaat om in materiële sin te gee nie.—Jakobus 2:15, 16.

Wanneer ons oor die dringende behoeftes van ons geestelike broers in ons eie gemeente en regoor die wêreld nadink, kan ons beter verstaan wat ons kan doen om hulle te help. Wanneer dié wat kan milddadig met ander deel, vind ’n gelykmaking plaas. Op hierdie manier word daar in die behoeftes van al ons broers voorsien. ’n Christen- ouer man het dit só gestel: “As ’n behoefte in een deel van die wêreld ontstaan, sal broers in ’n ander deel van die wêreld hulp verleen. As húlle nie kan help nie, dan sal broers op ’n ander plek dit doen. Sodoende word daar in die behoeftes van ons broers regoor die wêreld voorsien. Die wêreldwye broederskap is beslis wonderlik.”—2 Korintiërs 8:13-15; 1 Petrus 2:17.

Een Christensuster wat baie graag een van die internasionale byeenkomste wou bywoon wat in Oos-Europa gehou is, kon eenvoudig net nie gaan nie. Omdat sy egter gehoor het dat die broers daar baie Bybels nodig gehad het, het sy ’n bydrae vir die Bybels saam met iemand gestuur wat wel die byeenkoms bygewoon het. Sodoende het sy die vreugde ervaar om te gee, om mededeelsaam te wees teenoor haar broers in ’n vreemde land.—Handelinge 20:35.

As jy jou denke verruim, kan jy moontlik selfs ’n groter bydrae lewer tot die immer groeiende wêreldwye Bybelonderrigtingswerk, en sodoende vreugde vir jouself en vir ander bring.—Deuteronomium 15:7; Spreuke 11:24; Filippense 4:14-19.

Wanneer jy raad gee

Wanneer ons iemand raad moet gee of tereg moet wys, sal bedagsaamheid en gebalanseerde denke ons help om die respek van ons geestelike broers te verdien en om werklik doeltreffende hulp te verleen. Dit is so maklik om op ’n paar feite te konsentreer en oorhaastig tot ’n eensydige gevolgtrekking te kom. Dit gee die indruk dat ons bekrompe is, indien nie dogmaties nie, soos die godsdiensleiers van Jesus se dag, wat geneig was om ander met hulle eindelose reëls te belas (Matteus 23:2-4). As ons daarenteen uiterstes vermy en goeie raad gee wat stewig op skriftuurlike beginsels gegrond is en wat Jehovah se regverdige, maar gebalanseerde en barmhartige denke weerspieël, sal dit vir ander baie makliker wees om ons wenke te aanvaar en toe te pas.

’n Paar jaar gelede het jong broers van verskeie gemeentes bymekaargekom om aan sport deel te neem. Ongelukkig het ’n mededingende gees onder hulle ontstaan, wat tot kwaai woordewisselings gelei het. Hoe het die plaaslike ouer manne die probleem hanteer? Omdat hulle besef het dat jongmense ’n behoefte aan ontspanning het, het hulle nie aanbeveel dat hulle heeltemal daarmee ophou nie (Efesiërs 5:17; 1 Timoteus 4:8). Hulle het eerder ferm, maar redelike waarskuwings gegee teen die gevolge van ’n mededingende gees. Hulle het ook nuttige wenke gegee, soos om ouer, verantwoordelike broers teenwoordig te hê. Die jongmense het ingesien dat dit wyse en gebalanseerde raad was en het goed daarop gereageer. Daarbenewens het hulle respek en liefde vir die ouer manne gegroei.

Span jou in om jou beskouing te verruim

Hoewel jy dalk nie opsetlik of bewustelik bevooroordeeld is nie, sal dit nog steeds ’n doelbewuste poging verg om jou denke te verruim. Wanneer jy God se Woord bestudeer, moet jy daaroor peins sodat jy Jehovah se denkwyse kan begryp en waardeer (Psalm 139:17). Probeer verstaan wat die redes is vir stellings wat in die Bybel gemaak word en watter beginsels daarby betrokke is, en probeer sake soos Jehovah beoordeel. Dit sal in ooreenstemming wees met Dawid se gebed: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my.”—Psalm 25:4, 5.

Namate jy jou beskouing verruim, sal jy geseën word. Een seëning wat jy sal ondervind wanneer jy jou beskouing verruim het, is dat jy bekend sal wees as iemand wat gebalanseerd en simpatiek is. Jy sal redeliker en simpatieker kan optree wanneer jy in verskillende situasies hulp verleen. Dít sal weer bydra tot die wonderlike eenheid en harmonie van die Christenbroederskap.

[Prente op bladsy 12]

Wanneer ons milddadig gee, help dit ander, maak dit die gewer gelukkig en behaag dit ons hemelse Vader

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel