Liefde vir dié “wat in die geloof aan ons verwant is”
DIE band tussen ware Christene is soos dié in ’n gesin. Trouens, sedert die eerste eeu G.J. al noem hulle mekaar “broer” en “suster” (Markus 3:31-35; Filemon 1, 2). Dit is nie net woorde nie; dit is ’n beskrywing van hoe aanbidders van God oor mekaar voel. (Vergelyk 1 Johannes 4:7, 8.) Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Sulke liefde is in Julie 1997 betoon toe ’n langdurige droogte in Chili deur stortreën en oorstromings gevolg is. Skielik het baie mense kos, klere en ander goed nodig gehad. Wanneer daar ’n ramp is, probeer Jehovah se Getuies Paulus se vermaning aan die Galasiërs gehoorsaam: “Ja, laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”—Galasiërs 6:10.
Gevolglik het Jehovah se Getuies vinnig gereël om te help. Kos, klere en ander benodigdhede is bymekaargemaak, gesorteer, verpak en toe na die rampgebied gestuur. Kinders het selfs speelgoed geskenk! Een suster was verbaas toe sy die Koninkryksaal vol noodlenigingsvoorrade sien. “Ek was stomgeslaan en het nie geweet of ek moes lag of huil nie”, sê sy. “Dit was net wat ons nodig gehad het.”
Toe het ’n aardbewing onverwags ’n deel van dieselfde gebied getref wat oorstroom is. Baie huise is verwoes. Nog noodlenigingskomitees is gevorm om in die behoefte te voorsien. Streekboukomitees, wat gewoonlik gemoeid is met die bou van vergaderplekke vir Jehovah se Getuies, het ook hulle hulp aangebied. Die resultaat? Beskeie huise—ontwerp en gebou deur die broers—is geskenk aan dié wat hulle huise verloor het. Hoewel hierdie huise eenvoudig was, was hulle baie beter as die huise wat sekulêre noodlenigingsinstansies as tydelike verblyf voorsien het en wat nie vloere en vensters gehad het nie en ook nie geverf was nie.
Party broers het baie ver gereis om te help. Die voorsitter van een Streekboukomitee het die gebied twee dae ná mekaar deeglik geïnspekteer—ten spyte van die feit dat hy in ’n rolstoel is. ’n Blinde broer het hard gewerk om balke na die skrynwerker te dra wat hulle tot die regte grootte gesaag het. ’n Dowe broer het die balke gaan haal en afgelewer waar dit nodig was.
Baie mense wat dit gesien het, was beïndruk deur die hulp wat die broers verleen het. In een dorp was ’n polisievoertuig geparkeer naby ’n suster se huis wat die broers besig was om te herstel. Die polisiemanne was nuuskierig. Een van hulle het vir ’n broer gevra: “Wie is hierdie werkers wat so gelukkig lyk, en hoeveel word hulle betaal?” Die broer het verduidelik dat hulle almal vrywilligers is. Een van die offisiere het gesê dat hy elke maand ’n tiende aan sy kerk betaal, maar dat sy pastoor hom sedert die aardbewing nog nie eens besoek het nie! Die volgende dag het ’n polisiebeampte die suster gebel. Hy het ook die werkers gesien. Hy het gesê dat hy so beïndruk was deur die geesdrif van die werkers dat hy sommer lus gevoel het om hulle te help!
Die noodlenigingspoging in Chili was waarlik ’n vreugdevolle ondervinding vir die vrywilligers en ’n uitstekende getuienis vir die mense wat dit gesien het.