Stiefgesinne kan suksesvol wees
IS SUKSESVOLLE STIEFGESINNE MOONTLIK? JA, VERAL AS ALMAL WAT BETROKKE IS, ONTHOU DAT ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer’ (2 Timoteus 3:16). Wanneer almal Bybelbeginsels toepas, kan ’n mens feitlik seker wees van sukses.
Die basiese eienskap
Die Bybel gee in werklikheid net ’n paar wette om menseverhoudings te rig. Dit spoor ons meestal aan om goeie eienskappe en gesindhede aan te kweek wat ons help om verstandig op te tree. Sulke goeie gesindhede en eienskappe is die grondslag van ’n gelukkige gesinslewe.
Dit lyk miskien voor die hand liggend, maar dit is nietemin die moeite werd om te sê dat liefde die basiese eienskap is wat nodig is vir enige gesin om suksesvol te wees. Die apostel Paulus het gesê: “Laat julle liefde sonder huigelary wees. . . . In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê” (Romeine 12:9, 10). Die woord “liefde” word baie misbruik, maar die eienskap waarna Paulus hier verwys het, is spesiaal. Dit is goddelike liefde, en dit “faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). Die Bybel beskryf dit as onselfsugtig en bereid om te dien. Dit tree daadwerklik op vir die beswil van ander. Dit is geduldig en goedhartig, nooit jaloers, grootpraterig of verwaand nie. Dit soek nie sy eie voordeel nie. Dit is altyd bereid om toegewings te maak, om te vertrou, om te hoop, om enigiets te verduur.—1 Korintiërs 13:4-7.
Ware liefde help om verskille uit te stryk en om mense met uiteenlopende agtergronde en persoonlikhede te verenig. En dit help om die verwoestende uitwerking van ’n egskeiding of die dood van ’n biologiese ouer teë te werk. Een man wat ’n stiefvader geword het, beskryf die probleme waarmee hy te kampe gehad het: “Ek was dikwels te besorg oor my eie gevoelens om die emosies van my stiefkinders of selfs van my vrou te ontleed. Ek moes leer om minder sensitief te wees. En nog belangriker, ek moes leer om nederig te wees.” Liefde het hom gehelp om die nodige veranderinge aan te bring.
Die biologiese ouer
Liefde kan help om die kinders se verhouding met hulle afwesige biologiese ouer te hanteer. ’n Stiefvader sê: “Ek wou die eerste plek in my stiefkinders se harte hê. Wanneer hulle hulle biologiese vader besoek het, was dit vir my moeilik om die versoeking te weerstaan om hom te kritiseer. Wanneer hulle ná ’n aangename dag saam met hom huis toe gekom het, het ek verskriklik gevoel. Wanneer hulle ’n slegte dag gehad het, was ek verheug. Ek was in werklikheid bang ek verloor hulle. Een van die moeilikste dinge was om te aanvaar watter belangrike rol die biologiese vader in my stiefkinders se lewe speel.”
Ware liefde het hierdie stiefvader gehelp om die feit onder die oë te sien dat dit onrealisties was om “kitsliefde” te verwag. Hy moes nie verwerp gevoel het toe die kinders hom nie onmiddellik aanvaar het nie. Hy het tot die besef gekom dat hy dalk nooit heeltemal die plek van die biologiese vader in sy kinders se harte sal inneem nie. Die kinders het hierdie man van hulle vroegste dae af geken, terwyl die stiefvader ’n nuweling was wat nog die kinders se liefde moes wen. Die navorser Elizabeth Einstein toon wat baie ondervind het wanneer sy sê: “Die biologiese ouer kan nooit vervang word nie—nooit nie. Selfs ’n ouer wat dood is of een wat die kinders verlaat het, behou ’n belangrike plek in die kinders se lewe.”
Dissipline—’n netelige kwessie
Die Bybel toon dat liefdevolle dissipline noodsaaklik is vir jongmense, en dit sluit stiefkinders in (Spreuke 8:33). ’n Aantal deskundiges begin saamstem met wat die Bybel hieroor sê. Professor Ceres Alves de Araújo het gesê: “Niemand hou uiteraard van beperkings nie, maar hulle is nodig. ‘Nee’ is ’n beskermende woord.”
Maar in ’n stiefgesin kan beskouings oor dissipline ernstige onenigheid veroorsaak. Stiefkinders is deels gevorm deur ’n volwassene wat nou afwesig is. Hulle het waarskynlik gewoontes of gebruike wat die stiefouer moontlik sal irriteer. En hulle verstaan waarskynlik nie waarom die stiefouer sterk voel oor sekere sake nie. Hoe kan ’n mens die situasie met welslae die hoof bied? Paulus spoor Christene aan: ‘Streef na liefde, volharding, saggeaardheid’ (1 Timoteus 6:11). Christelike liefde help die stiefouer sowel as die kinders om sagmoedig en geduldig te wees terwyl hulle mekaar leer verstaan. As die stiefouer ongeduldig is, kan ‘toorn, gramskap en smadende taal’ enige verhouding wat reeds opgebou is vinnig vernietig.—Efesiërs 4:31.
Die profeet Miga het nuttige raad in hierdie verband gegee. Hy het gesê: “Wat vra Jehovah van jou terug anders as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” (Miga 6:8, NW). Geregtigheid is baie belangrik wanneer dissipline uitgeoefen word. Maar wat van goedhartigheid? Een Christen- ouer man vertel dat dit dikwels moeilik was om sy stiefkinders op ’n Sondagoggend te laat opstaan sodat hulle aan gemeentelike bedrywighede kon deelneem. Hy het nie met hulle geraas nie, maar het eerder goedhartig probeer wees. Hy het vroeg opgestaan, ontbyt gemaak en dan vir elkeen van hulle ’n warm drankie geneem. Gevolglik was hulle baie gewilliger om op te staan wanneer hy hulle gevra het om dit te doen.
Professor Ana Luisa Vieira de Mattos het die volgende interessante kommentaar gelewer: “Dit is nie die soort gesin wat belangrik is nie, maar die gehalte van die verhouding. In my studies het ek opgemerk dat jongmense wat gedragsprobleme het byna altyd uit gesinne kom waarin daar swak ouerlike toesig en ’n gebrek aan reëls en kommunikasie is.” Sy het ook gesê: “Dit kan nooit genoeg beklemtoon word dat die opvoeding van kinders impliseer dat ’n mens nee moet sê nie.” Daarbenewens het drs. Emily en John Visher gesê: “Dissipline werk eintlik net wanneer die een wat gedissiplineer word, omgee vir die reaksies van die persoon wat die dissipline uitoefen en besorg is oor sy verhouding met daardie persoon.”
Hierdie opmerkings roer die kwessie aan van wie die dissipline in stiefgesinne moet uitoefen. Wie moet nee sê? Nadat hulle die saak bespreek het, het party ouers besluit dat die biologiese ouer hoofsaaklik die een moet wees wat die kinders vir eers dissiplineer sodat die stiefouer tyd kan hê om ’n hegter verhouding met die kinders op te bou. Laat die kinders eers seker voel oor die stiefouer se liefde vir hulle voordat hulle deur hom of haar gedissiplineer word.
Gestel die stiefouer is die vader. Sê die Bybel nie dat die vader die hoof van die gesin is nie? Ja (Efesiërs 5:22, 23; 6:1, 2). Maar ’n stiefvader kan besluit om die taak om dissipline uit te oefen ’n ruk lank te delegeer, veral as dit straf behels. Hy kan toelaat dat die kinders ‘die onderwysing van hulle moeder’ gehoorsaam terwyl hy ’n grondslag lê vir hulle om ‘na die tug van hulle [nuwe] vader te luister’ (Spreuke 1:8; 6:20; 31:1). Bewyse toon dat dit nie die beginsel van hoofskap op die lange duur ondermyn nie. Boonop sê een stiefvader: “Ek het onthou dat dissipline vermaning, teregwysing en berisping insluit. Wanneer dit op ’n regverdige, liefdevolle en medelydende manier gedoen word en die ouers ’n goeie voorbeeld stel, werk dit gewoonlik.”
Ouers moet kommunikeer
Spreuke 15:22 sê: “Planne misluk sonder beraadslaging.” In ’n stiefgesin is kalm en openhartige beraadslaging tussen die ouers baie belangrik. ’n Rubriekskrywer in die koerant O Estado de S. Paulo het gesê: “Kinders is altyd geneig om die beperkings te toets wat deur die ouers gestel word.” Dit is dalk selfs meer die geval in stiefgesinne. Gevolglik moet die ouers tot ’n ooreenkoms kom oor verskillende sake sodat die kinders sal sien dat hulle verenig is. Maar gestel die stiefouer doen iets wat volgens die biologiese ouer onregverdig is. Dan moet die twee die saak privaat uitstryk, nie voor die kinders nie.
Een moeder wat weer getrou het, sê: “Die moeilikste ding vir ’n moeder is om te sien hoe die stiefvader haar kinders dissiplineer, veral as sy voel dat hy oorhaastig optree of dat hy nie werklik regverdig is nie. Dit breek haar hart, en sy wil haar kinders verdedig. Wanneer dit gebeur, is dit moeilik om onderdanig aan jou man te bly en hom te ondersteun.
“My twee seuns, wat 12 en 14 jaar oud was, het eenkeer hulle stiefvader se toestemming gevra om iets te doen. Hy het onmiddellik nee gesê en toe die vertrek verlaat sonder om die seuns kans te gee om te verduidelik waarom die versoek vir hulle belangrik was. Die seuns was byna in trane, en ek was sprakeloos. Die ouer seun het vir my gekyk en gesê: ‘Ma, het Ma gesien wat hy gedoen het?’ Ek het geantwoord: ‘Ja, ek het. Maar hy is nog steeds die hoof van die huis, en die Bybel sê dat ons hoofskap moet respekteer.’ Hulle was goeie seuns en het hiermee saamgestem en toe ’n bietjie gekalmeer. Daardie selfde aand het ek die saak aan my man verduidelik, en hy het besef dat hy onredelik was. Hy het onmiddellik na die seuns se kamer gegaan en om verskoning gevra.
“Ons het baie uit daardie voorval geleer. My man het geleer om te luister voordat hy besluite neem. Ek het geleer om die beginsel van hoofskap te handhaaf, selfs wanneer dit seermaak. Die seuns het geleer hoe belangrik dit is om onderdanig te wees (Kolossense 3:18, 19). En my man se opregte verskoning het ons almal ’n belangrike les in nederigheid geleer (Spreuke 29:23). Vandag is albei seuns Christen- ouer manne.”
Foute gaan wel gemaak word. Kinders sal dinge sê of doen wat seermaak. Die spanning van die oomblik sal daartoe lei dat stiefouers onredelik optree. Maar hierdie eenvoudige woorde: “Ek is jammer, vergewe my asseblief”, kan baie help om wonde te heel.
Versterk gesinseenheid
Dit neem tyd om ’n innige verhouding in ’n stiefgesin op te bou. As jy ’n stiefouer is, moet jy empatie betoon. Toon begrip en wees gewillig om tyd saam met die kinders deur te bring. Speel met die jonger kinders. Wees bereid om met die ouer kinders te gesels. Soek geleenthede om tyd saam deur te bring—vra die kinders byvoorbeeld om met die huiswerk te help, soos om aandete te maak of die motor te was. Vra hulle om saam te kom en jou te help wanneer jy na die supermark gaan. Daarbenewens kan klein, liefdevolle dade toon dat jy hulle liefhet. (Stiefvaders moet natuurlik daarop let om nie die grense van welvoeglikheid met hulle stiefdogters te oorskry en hulle ongemaklik te laat voel nie. En stiefmoeders moet onthou dat seuns ook grense het.)
Stiefgesinne kan suksesvol wees. Baie ís ook. Die suksesvolste stiefgesinne is dié waarin almal wat betrokke is, veral die ouers, die regte gesindhede aankweek en realistiese verwagtinge koester. Die apostel Johannes het geskryf: “Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God” (1 Johannes 4:7). Ja, opregte liefde is die ware geheim van ’n gelukkige stiefgesin.
[Prente op bladsy 7]
GELUKKIGE STIEFGESINNE
bestudeer God se Woord saam . . .
bring tyd saam deur . . .
gesels met mekaar . . .
werk saam . . .