Die unieke probleme van stiefgesinne
GELUKKIGE STIEFGESINNE IS MOONTLIK! HOE?
Die stiefgesin het in baie wêrelddele iets algemeens geword. Tog het stiefgesinne unieke probleme. Die probleem wat die grootste uitdaging bied, is ongetwyfeld die grootmaak van kinders. Maar soos ons in die volgende twee artikels sal probeer toon, is dit moontlik om kinders suksesvol in ’n stiefgesin groot te maak.
STIEFVADERS EN STIEFMOEDERS WORD TRADISIONEEL IN ’N ONGUNSTIGE LIG GESTEL. TOE ONS kinders was, het baie van ons die een of ander weergawe van die sprokie Aspoestertjie gehoor, wat baie gely het deur die toedoen van haar wrede stiefmoeder. Die sprokie Sneeuwitjie en die sewe dwergies word ook aan kinders in Europa vertel. Sneeuwitjie se stiefmoeder was eintlik ’n bose heks!
Gee sulke sprokies die regte indruk omtrent stiefgesinne? Is alle stiefouers werklik so sleg? Nee. Die meeste van hulle wil net die beste hê vir die kinders wat hulle deur die huwelik erf. Maar hulle moet ’n paar moeilike probleme die hoof bied wat eie is aan die lewe van stiefgesinne.
Die probleme van kinderopvoeding
Wanneer die eerste huwelik verbrokkel, is die oorsaak dikwels die onvolwassenheid van die huweliksmaats. In ’n tweede huwelik kan die manier waarop die kinders behandel word spanning in die verhouding veroorsaak. Party verslae toon dat meer as 4 uit 10 stiefgesinne binne die eerste vyf jaar op ’n egskeiding uitloop.
Die pasgetroudes besef moontlik nie watter emosionele verwarring, botsende lojaliteite en gevoelens van jaloesie en gegriefdheid die teenwoordigheid van die stiefouer vir die stiefkinders veroorsaak nie. Hulle dink dalk dat die natuurlike ouer nou liewer is vir die stiefouer as vir hulle. Bowendien sal ’n natuurlike ouer wat deur ’n maat verlaat is dit dalk moeilik vind om te verstaan waarom die kinders nog aan die voormalige maat geheg is. Een seun het sy goeie verhouding met sy biologiese vader probeer verduidelik en gesê: “Ma, ek weet dat Pa vir Ma sleg behandel het, maar hy is goed vir my!” Hoewel sulke woorde opreg bedoel word, kan dit ’n moeder bittere gegriefdheid teenoor die kind se vader laat voel.
’n Stiefvader het erken: “Ek was nie werklik daarop voorbereid om al die probleme wat met die grootmaak van my stiefkinders gepaardgegaan het die hoof te bied nie. Ek het in die situasie ingeloop met die gedagte dat ek hulle vader is aangesien ek met hulle moeder getroud is. Dit was doodeenvoudig! Ek het nie die kinders se gehegtheid aan hulle biologiese vader verstaan nie, en ek het baie foute gemaak.”
Spanning kan veral ontstaan in verband met dissipline. Kinders het liefdevolle dissipline nodig, maar hulle kom dikwels in opstand daarteen, selfs wanneer dit van ’n natuurlike ouer af kom. Hoeveel moeiliker is dit tog om dit van ’n stiefouer te aanvaar! Wanneer ’n stiefkind sulke dissipline kry, sal hy dikwels iets sê soos: “Jy is nie regtig my pa nie!” Hoe verpletterend kan sulke woorde tog vir ’n welmenende stiefouer wees!
Kan kinders suksesvol in ’n stiefgesin grootgemaak word? Kan stiefouers ’n positiewe rol speel om ’n suksesvolle stiefgesin op te bou? Die antwoord op albei vrae is ja, as almal wat betrokke is die raad in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, volg.
[Prent op bladsy 3]
“Jy is nie regtig my pa nie!”