Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/1 bl. 13-18
  • Bly na aan die teokrasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly na aan die teokrasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ware teokrasie?
  • ’n Teokratiese organisasie
  • Die teokratiese beskouing van sekulêre heerskappy
  • Stel God se heerlikheid eerste
  • ‘Word navolgers van God’
  • Jehovah regeer—deur teokrasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Herders en skape in ’n teokrasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Deel 10—Oplaas ’n volmaakte regering!
    Ontwaak!—1990
  • Herderswerk saam met ons Grootse Skepper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/1 bl. 13-18

Bly na aan die teokrasie

“Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning.”—JESAJA 33:22, NW.

1. Waarom is heerskappy ’n saak van belang vir die meeste mense?

DIE kwessie van heerskappy is vir almal van groot belang. Goeie heerskappy bring vrede en voorspoed. Die Bybel sê: “Deur geregtigheid laat ’n koning ’n land standhou” (Spreuke 29:4, NW). Slegte heerskappy lei daarenteen tot ongeregtigheid, korrupsie en onderdrukking. “As die goddelose heers, sug die volk” (Spreuke 29:2). Mense het deur die geskiedenis heen baie regeringsvorme op die proef gestel, en ongelukkig het hulle dikwels ‘gesug’ weens onderdrukking deur hulle heersers (Prediker 8:9). Sal enige regeringsvorm daarin slaag om die onderdane daarvan altyd tevrede te hou?

2. Waarom is “teokrasie” ’n goeie beskrywing van die regering van eertydse Israel?

2 Die geskiedskrywer Josefus het ’n unieke regeringsvorm gemeld toe hy geskryf het: “Party volke het die hoogste politieke mag toevertrou aan monargieë, ander aan oligargieë en nog ander aan die volksmassa. Ons wetgewer [Moses] het egter nie in enigeen van hierdie regeringsvorme belanggestel nie, maar het sy grondwet ’n vorm laat aanneem wat—as ’n mens dit ’n naam kan gee—’n ‘teokrasie’ genoem kan word, wat alle soewereiniteit en gesag aan God gegee het” (Against Apion, II, 164-5). Volgens die Concise Oxford Dictionary beteken teokrasie “’n regeringsvorm deur God”. Die woord kom nie in die Bybel voor nie, maar dit is ’n goeie beskrywing van die regering van eertydse Israel. Hoewel die Israeliete later ’n sigbare koning gehad het, was Jehovah hulle eintlike heerser. Die Israelitiese profeet Jesaja het gesê: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning.”—Jesaja 33:22, NW.

Wat is ware teokrasie?

3, 4. (a) Wat is ’n ware teokrasie? (b) Watter seëninge sal teokrasie binnekort vir die hele mensdom teweegbring?

3 Vandat Josefus die woord geskep het, is baie gemeenskappe al as teokrasieë beskryf. Sommige het hulle blykbaar aan onverdraagsaamheid, fanatisme en wrede onderdrukking skuldig gemaak. Was hulle ware teokrasieë? Nie in die sin waarin Josefus die woord gebruik het nie. Die probleem is dat “teokrasie” ’n wyer betekenis gekry het. Die World Book Encyclopedia definieer dit as “’n regeringsvorm waarin die staat deur ’n priester of priesters regeer word en waarin lede van die priesterdom gesag in burgerlike en godsdiensaangeleenthede het”. Ware teokrasie is egter nie ’n priesterheerskappy nie. Dit is in werklikheid heerskappy deur God, regering deur die Skepper van die heelal, Jehovah God.

4 Die hele aarde sal binnekort onder teokrasie wees, en wat ’n seën sal dit tog wees! “God self sal by [die mensdom] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Geen priesterheerskappy deur onvolmaakte mense kan sulke geluk teweegbring nie. Slegs heerskappy deur God kan dit doen. Ware Christene probeer derhalwe nie teokrasie deur politieke optrede tot stand bring nie. Hulle wag geduldig op God om ’n wêreldwye teokrasie in sy eie tyd en op sy eie manier tot stand te bring.—Daniël 2:44.

5. Waar is ware teokrasie vandag in werking, en watter vrae word daaroor geopper?

5 Maar intussen is daar wel ’n ware teokrasie in werking. Waar? Onder diegene wat hulle vrywillig aan God se heerskappy onderwerp en saamwerk om sy wil te doen. Hierdie getroues is as ’n wêreldwye geestelike “nasie” in sy geestelike “land” byeengebring. Hulle is die oorblywende lede van “die Israel van God” en hulle Christenmetgeselle, wat meer as vyf en ’n half miljoen sterk is (Jesaja 66:8; Galasiërs 6:16). Hulle is onderdanig aan Jesus Christus, die hemelse Koning wat deur Jehovah God, “die Koning van die ewigheid”, gekroon is (1 Timoteus 1:17; Openbaring 11:15). In watter opsig is hierdie organisasie teokraties? Hoe beskou sy lede die gesag van sekulêre regerings? En hoe word die beginsel van teokrasie deur diegene gehandhaaf wat gesag binne hulle geestelike gemeenskap uitoefen?

’n Teokratiese organisasie

6. Hoe kan ’n sigbare, menslike organisasie deur God regeer word?

6 Hoe kan ’n menslike organisasie regeer word deur Jehovah, wat in die onsigbare hemel woon? (Psalm 103:19). Omdat diegene wat daaraan verbonde is die geïnspireerde raad volg: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Spreuke 2:6; 3:5). Hulle laat toe dat God oor hulle heers terwyl hulle “die wet van die Christus” nakom en geïnspireerde Bybelbeginsels in hulle daaglikse lewe toepas. (Galasiërs 6:2; 1 Korintiërs 9:21; 2 Timoteus 3:16; sien Matteus 5:22, 28, 39; 6:24, 33; 7:12, 21.) Hulle moet Bybelstudente wees om dit te kan doen (Psalm 1:1-3). Soos die ‘edelmoedige’ Bereane van die ou tyd volg hulle nie mense nie, maar bevestig hulle voortdurend in die Bybel die dinge wat hulle leer (Handelinge 17:10, 11; Psalm 119:33-36). Hulle bid soos die psalmis: “Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.”—Psalm 119:66.

7. Hoe word toesig in die teokrasie uitgeoefen?

7 In elke organisasie moet daar diegene wees wat gesag uitoefen of leiding voorsien. Jehovah se Getuies is geen uitsondering nie, en hulle volg die gesagstruktuur wat deur die apostel Paulus uiteengesit is: “Die Christus [is] die hoof . . . van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). In ooreenstemming hiermee dien slegs bekwame manne as ouer manne in die gemeentes. En hoewel Jesus—‘die hoof van elke man’—in die hemel is, is “die oorblywendes” van sy gesalfde broers, wat die hoop het om saam met hom in die hemel te regeer, nog steeds op die aarde (Openbaring 12:17; 20:6). Hulle vorm die saamgestelde “getroue en verstandige slaaf”. Christene toon hulle onderdanigheid aan Jesus, en derhalwe aan Jesus se hoof, Jehovah, deur hulle aan die toesig van daardie “slaaf” te onderwerp (Matteus 24:45-47; 25:40). Sodoende is die teokrasie ordelik. “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.”—1 Korintiërs 14:33.

8. Hoe steun Christen- ouer manne die beginsel van teokrasie?

8 Christen- ouer manne steun die beginsel van teokrasie omdat hulle besef dat hulle teenoor Jehovah aanspreeklik is vir hoe hulle hulle beperkte mate van gesag uitoefen (Hebreërs 13:17). En wanneer hulle besluite neem, maak hulle staat op God se wysheid, nie op hulle eie nie. Hierin volg hulle Jesus se voorbeeld na. Hy was die wysste man wat nog geleef het (Matteus 12:42). Hy het nogtans vir die Jode gesê: “Die Seun kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen” (Johannes 5:19). Ouer manne het ook dieselfde gesindheid as koning Dawid. Hy het groot gesag in ’n teokrasie uitgeoefen. Maar hy wou Jehovah se weg volg, nie sy eie nie. Hy het gebid: “HERE, leer my u weg en lei my op ’n gelyk pad.”—Psalm 27:11.

9. Watter gebalanseerde beskouing het toegewyde Christene met betrekking tot die verskillende verwagtinge en verskillende diensvoorregte in die teokrasie?

9 Party het al gevra of dit regverdig is dat gesag in die gemeente slegs deur bekwame manne uitgeoefen word of dat sommige ’n hemelse hoop het terwyl ander ’n aardse hoop het (Psalm 37:29; Filippense 3:20). Toegewyde Christene besef egter dat hierdie reëlings in God se Woord uiteengesit word. Hulle is teokraties. As hulle in twyfel getrek word, is dit gewoonlik deur diegene wat nie Bybelbeginsels erken nie. Christene weet buitendien dat manne en vroue gelyk is in Jehovah se oë wat redding betref (Galasiërs 3:28). Vir ware Christene is dit die grootste voorreg denkbaar om aanbidders van die Soewerein van die heelal te wees, en hulle is bly om enige rol te vervul wat Jehovah hulle gee (Psalm 31:24; 84:11; 1 Korintiërs 12:12, 13, 18). Daarbenewens is die ewige lewe, hetsy in die hemel of op ’n paradysaarde, ’n waarlik wonderlike hoop.

10. (a) Watter goeie gesindheid het Jonatan geopenbaar? (b) Hoe openbaar Christene van vandag ’n soortgelyke gesindheid aan dié van Jonatan?

10 Jehovah se Getuies is dus baie soos Jonatan, die godvresende seun van koning Saul. Jonatan sou waarskynlik ’n uitstekende koning gewees het. Maar as gevolg van Saul se ontrouheid het Jehovah Dawid gekies om die tweede koning van Israel te wees. Het dit Jonatan verbitterd gemaak? Nee. Hy het ’n goeie vriend van Dawid geword en het hom selfs teen Saul beskerm (1 Samuel 18:1; 20:1-42). Diegene met ’n aardse hoop is insgelyks nie afgunstig op diegene met ’n hemelse hoop nie. En ware Christene is nie afgunstig op diegene wat teokratiese gesag in die gemeente uitoefen nie. Hulle betoon hulle eerder “meer as buitengewone agting . . . in liefde”, omdat hulle besef dat hulle hard werk ten behoewe van hulle geestelike broers en susters.—1 Tessalonisense 5:12, 13.

Die teokratiese beskouing van sekulêre heerskappy

11. Hoe beskou Christene wat hulle aan teokratiese heerskappy onderwerp sekulêre owerhede?

11 As Jehovah se Getuies onder ’n teokrasie is, hoe beskou hulle dan landsregeerders? Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie (Johannes 17:16). Maar Christene besef dat hulle ’n verpligting het teenoor “Caesar”, sekulêre regerings. Jesus het gesê dat hulle ‘aan Caesar moet terugbetaal wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort’ (Matteus 22:21). Volgens die Bybel is menseregerings “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”. Jehovah, die Bron van alle gesag, laat toe dat regerings bestaan, en hy verwag dat hulle goed doen aan diegene onder hulle jurisdiksie. Wanneer hulle dit doen, is hulle “God se dienaar”. Christene is onderhorig aan die regering van die land waarin hulle woon “weens [hulle] gewete” (Romeine 13:1-7). As die staat iets vereis wat bots met God se wet, sal die Christen natuurlik “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.

12. Wie se voorbeeld volg Christene wanneer hulle deur die owerheid vervolg word?

12 Sê nou ware Christene word deur ’n goewermentele owerheid vervolg? Dan volg hulle die voorbeeld van die vroeë Christene, wat tye van kwaai vervolging verduur het (Handelinge 8:1; 13:50). Hierdie beproewinge van geloof was nie iets onverwags nie, aangesien Jesus gewaarsku het dat dit sou gebeur (Matteus 5:10-12; Markus 4:17). Maar daardie vroeë Christene het hulle vervolgers nie in eie munt terugbetaal nie; en hulle geloof het ook nie onder die druk verswak nie. Hulle het eerder Jesus se voorbeeld gevolg: “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar homself bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:21-23). Ja, Christelike beginsels het geseëvier oor die uittartings van Satan.—Romeine 12:21.

13. Hoe het Jehovah se Getuies op vervolging en lasterlike veldtogte teen hulle gereageer?

13 Vandag is dit ook so. Gedurende hierdie eeu het Jehovah se Getuies baie gely deur die toedoen van despotiese heersers—net soos Jesus voorspel het (Matteus 24:9, 13) In party lande word leuens en wanvoorstellings deur diegene versprei wat die owerheid probeer dwing om teen opregte Christene op te tree. Maar ten spyte van sulke ‘slegte berigte’ beveel die Getuies hulleself aan as God se bedienaars deur hulle goeie gedrag (2 Korintiërs 6:4, 8). Wanneer dit moontlik is, stel hulle hulle saak aan amptenare en voor die howe van die land om hulle onskuld te bewys. Hulle gebruik alle middele tot hulle beskikking om die goeie nuus in die openbaar te verdedig (Filippense 1:7). Maar nadat hulle alles gedoen het wat hulle binne die wet kan doen, laat hulle die saak in Jehovah se hande (Psalm 5:9-13; Spreuke 20:22). As dit moet, is hulle, soos die vroeë Christene, nie bang om ter wille van regverdigheid te ly nie.—1 Petrus 3:14-17; 4:12-14, 16.

Stel God se heerlikheid eerste

14, 15. (a) Wat is van die grootste belang vir diegene wat die beginsel van teokrasie steun? (b) By watter geleentheid het Salomo ’n goeie voorbeeld van nederigheid in sy posisie van toesig gestel?

14 Toe Jesus sy volgelinge leer bid het, was die eerste ding wat hy gemeld het die heiliging van Jehovah se naam (Matteus 6:9). Diegene wat onder teokrasie lewe, soek in ooreenstemming hiermee God se heerlikheid, nie hulle eie nie (Psalm 29:1, 2). Die Bybel sê dat dit ’n struikelblok vir sommige in die eerste eeu was wat geweier het om Jesus te volg omdat ‘hulle die heerlikheid van mense liefgehad het’, met ander woorde, hulle wou graag deur mense verheerlik word (Johannes 12:42, 43). Dit verg beslis nederigheid om Jehovah bo ’n mens se eie gevoel van belangrikheid te stel.

15 Salomo het in hierdie opsig ’n goeie gesindheid geopenbaar. Vergelyk sy woorde by die inwyding van die luisterryke tempel wat hy gebou het met dié van Nebukadnesar oor sý bouprestasies. Nebukadnesar het met oordrewe trots gespog: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (Daniël 4:30). In teenstelling hiermee het Salomo nederig sy prestasie verklein deur te sê: “Sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!” (2 Kronieke 6:14, 15, 18; Psalm 127:1). Salomo het homself nie verheerlik nie. Hy het geweet dat hy bloot ’n verteenwoordiger van Jehovah is en het geskryf: “Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.”—Spreuke 11:2.

16. Hoe is ouer manne ’n ware seën omdat hulle nie hulleself verheerlik nie?

16 Christen- ouer manne verheerlik insgelyks Jehovah, nie hulleself nie. Hulle volg Petrus se raad: “As iemand dien, laat hom dien as afhanklik van die krag wat God verskaf; sodat God in alles deur middel van Jesus Christus verheerlik kan word” (1 Petrus 4:11). Die apostel Paulus het die “opsienersamp” nie as ’n belangrike posisie van vernaamheid beskryf nie, maar as “’n voortreflike werk” (1 Timoteus 3:1). Ouer manne word aangestel om te dien, nie om te heers nie. Hulle is onderrigters en herders van God se kudde (Handelinge 20:28; Jakobus 3:1). Nederige, selfopofferende ouer manne is ’n ware seën vir ’n gemeente (1 Petrus 5:2, 3). “Hou aan om hierdie soort manne in eer te hou”, en dank Jehovah dat hy soveel bekwame ouer manne voorsien het om teokrasie in hierdie “laaste dae” te bevorder.—Filippense 2:29; 2 Timoteus 3:1.

‘Word navolgers van God’

17. Op watter maniere volg diegene onder teokrasie God na?

17 Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Word dus navolgers van God, as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Diegene wat hulle aan teokrasie onderwerp, probeer so ver as wat dit vir onvolmaakte mense moontlik is soos God wees. Die Bybel sê byvoorbeeld oor Jehovah: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:3, 4). Om God in hierdie opsig na te volg, streef Christene getrouheid, regverdigheid en ’n gebalanseerde regsgevoel na (Miga 6:8; 1 Tessalonisense 3:6; 1 Johannes 3:7). Hulle vermy baie dinge wat aanvaarbaar geword het in die wêreld, soos onsedelikheid, hebsug en gierigheid (Efesiërs 5:5). Omdat Jehovah se knegte God se standaarde volg, nie mense s’n nie, is sy organisasie teokraties, rein en heilsaam.

18. Wat is God se vernaamste eienskap, en hoe weerspieël Christene hierdie eienskap?

18 Jehovah God se vernaamste eienskap is liefde. “God is liefde”, sê die apostel Johannes (1 Johannes 4:8). Aangesien teokrasie heerskappy deur God beteken, kom dit neer op heerskappy deur liefde. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Die teokratiese organisasie het gedurende hierdie moeilike laaste dae uitstaande liefde betoon. Gedurende die pogings tot volksmoord in Afrika het Jehovah se Getuies liefde teenoor almal bewys, ongeag aan watter etniese groep hulle behoort het. Tydens die oorlog in die voormalige Joego-Slawië het Jehovah se Getuies uit alle gebiede mekaar gehelp, terwyl ander godsdiensgroepe aan die so genoemde etniese suiwering deelgeneem het. Op ’n persoonlike vlak probeer Jehovah se Getuies Paulus se raad volg: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:31, 32.

19. Watter seëninge is daar nou sowel as in die toekoms vir diegene wat hulle aan teokrasie onderwerp?

19 Diegene wat hulle aan teokrasie onderwerp, geniet groot seëninge. Hulle het vrede met God en met mede-Christene (Hebreërs 12:14; Jakobus 3:17). Hulle het ’n doel in die lewe (Prediker 12:13). Hulle het geestelike veiligheid en ’n vaste toekomshoop (Psalm 59:10). Hulle geniet inderdaad ’n voorsmaak van hoe dit sal wees wanneer die hele mensdom onder teokratiese heerskappy is. Dan, sê die Bybel, “sal [hulle] geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Wat ’n glorieryke tyd sal dit tog wees! Mag ons almal ons plek in daardie toekomstige Paradys verseker deur nou na aan die teokrasie te bly.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is ware teokrasie en waar kan dit vandag gevind word?

◻ Hoe onderwerp mense hulle aan teokratiese heerskappy in hulle lewe?

◻ Op watter maniere streef almal onder teokrasie God se heerlikheid voor hulle eie heerlikheid na?

◻ Wat is party goddelike eienskappe wat deur diegene nagevolg word wat teokrasie steun?

[Prent op bladsy 17]

Salomo het God se heerlikheid bo sy eie heerlikheid gestel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel