Jehovah regeer—deur teokrasie
“[Jehovah] is vir ewig Koning.”—PSALM 146:10.
1, 2. (a) Waarom het die mens se pogings om te regeer, misluk? (b) Wat was nog altyd die enigste waarlik suksesvolle regeringsvorm?
MENSE het al van Nimrod se tyd af op verskillende maniere probeer om oor die mensegemeenskap te regeer. Daar was al diktatorskappe, monargieë, oligargieë en verskillende vorme van demokrasie. Jehovah het hulle almal toegelaat om te regeer. Ja, aangesien God die Hoofbron van alle gesag is, het hy die verskillende heersers in sekere sin in hulle relatiewe posisies geplaas (Romeine 13:1, NW). Alle mensepogings om te regeer, het desondanks misluk. Geen menslike heerser kon nog ’n blywende, bestendige en regverdige gemeenskap teweegbring nie. Alte dikwels het ‘die een mens oor die ander geheers tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9.
2 Moet dit ons verbaas? Natuurlik nie! Die onvolmaakte mens is nie gemaak om oor homself te regeer nie. “Ek weet . . . dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is waarom daar deur die ganse mensegeskiedenis heen nog net een waarlik suksesvolle regeringsvorm was. Watter een? Teokrasie onder Jehovah God. In die Bybelse Grieks beteken “teokrasie” ’n heerskappy [kraʹtos] deur God [the·osʹ]. Kan daar ’n beter regering wees as dié van Jehovah God self?—Psalm 146:10.
3. Wat is ’n paar vroeë voorbeelde van teokrasieë wat op aarde bestaan het?
3 Teokrasie het ’n kort tydjie in Eden bestaan, totdat Adam en Eva teen Jehovah in opstand gekom het (Genesis 3:1-6, 23). In Abraham se tyd het daar blykbaar ’n teokrasie in die stad Salem bestaan, waar Melgisedek as koning-priester gedien het (Genesis 14:18-20; Hebreërs 7:1-3). Maar die eerste nasionale teokrasie onder Jehovah God is in die 16de eeu v.G.J. in die woestyn Sinai tot stand gebring. Hoe het dit gebeur? En hoe het daardie teokratiese regering gewerk?
’n Teokrasie word tot stand gebring
4. Hoe het Jehovah die teokratiese nasie Israel tot stand gebring?
4 In 1513 v.G.J. het Jehovah die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry en Farao se magte wat hulle agtervolg het in die Rooi See verdelg. Daarna het Hy die Israeliete na die berg Sinai gelei. Toe hulle in ’n laer aan die voet van die berg versamel was, het God deur Moses aan hulle gesê: “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees.” Die Israeliete het geantwoord: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:4, 5, 8). ’n Verbond is gesluit en die teokratiese nasie Israel is tot stand gebring.—Deuteronomium 26:18, 19.
5. Hoe kon daar gesê word dat Jehovah in Israel geregeer het?
5 Maar hoe het Jehovah, wat onsigbaar vir mense-oë is, oor Israel geregeer? (Exodus 33:20). Deurdat Jehovah die nasie se wette en priesterdom voorsien het. Diegene wat die wette gehoorsaam het en volgens die godgegewe voorskrifte aanbid het, het die Groot Teokraat, Jehovah, gedien. Die hoëpriester het ook die Urim en die Tummim gehad, waardeur Jehovah God ten tye van nood leiding voorsien het (Exodus 28:29, 30). Daarbenewens was bekwame oudstes Jehovah se verteenwoordigers in die teokrasie, en hulle het toegesien dat God se Wet toegepas word. As ons die lewenswandel van party van hierdie manne beskou, sal ons ’n beter begrip hê van hoe mense hulle aan God se heerskappy moet onderwerp.
Gesag onder die teokrasie
6. Waarom was dit vir mense ’n uitdaging om ’n gesagsposisie in ’n teokrasie te beklee, en watter soort manne was vir hierdie verantwoordelikheid nodig?
6 Diegene wat gesagsposisies in Israel beklee het, het ’n groot voorreg gehad, maar dit was vir hulle ’n uitdaging om hulle balans te handhaaf. Hulle moes versigtig wees dat hulle hulleself nooit belangriker as die heiliging van Jehovah se naam begin ag het nie. Die geïnspireerde verklaring dat dit ‘aan ’n man nie toebehoort om te loop en sy voetstappe te rig nie’, het net soveel vir die Israeliete as vir die res van die mensdom gegeld. Israel het alleenlik goed gevaar wanneer die oudstes onthou het dat Israel ’n teokrasie was en dat hulle Jehovah se wil, en nie hulle eie nie, moes doen. Kort nadat Israel tot stand gebring is, het Moses se skoonvader, Jetro, ’n goeie beskrywing gegee van die soort manne wat hulle moes wees, naamlik: “Bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat.”—Exodus 18:21.
7. In watter opsigte was Moses ’n goeie voorbeeld van iemand wat gesag onder Jehovah God se heerskappy gehad het?
7 Die eerste persoon wat groot gesag in Israel uitgeoefen het, was Moses. Hy was ’n goeie voorbeeld van ’n teokratiese gesagsfiguur. Menslike swakheid het weliswaar by een geleentheid na vore gekom. Maar Moses het altyd op Jehovah vertrou. Wanneer vrae geopper is waarop daar nog nie antwoorde was nie, het hy hom tot Jehovah vir leiding gewend. (Vergelyk Numeri 15:32-36.) Hoe het Moses die versoeking weerstaan om sy hoë posisie vir selfverheerliking te gebruik? Wel, ofskoon hy ’n nasie van miljoene gelei het, was hy “baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Hy het geen eersug gehad nie, maar was besorg oor God se heerlikheid (Exodus 32:7-14). En Moses het sterk geloof gehad. Die apostel Paulus het van Moses gepraat voordat hy die leier van ’n nasie geword het en gesê: “Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:27). Dit blyk duidelik dat Moses nooit vergeet het dat Jehovah eintlik die Heerser van die nasie was nie (Psalm 90:1, 2). Wat ’n goeie voorbeeld vir ons vandag!
8. Watter opdrag het Jehovah aan Josua gegee, en waarom is dit noemenswaardig?
8 Toe Moses die toesig oor Israel nie meer alleen kon behartig nie, het Jehovah sy gees op 70 oudstes uitgestort wat Moses bygestaan het om oor die nasie reg te spreek (Numeri 11:16-25). Later het elke stad sy oudstes gehad. (Vergelyk Deuteronomium 19:12; 22:15-18; 25:7-9.) Ná Moses se dood het Jehovah Josua as leier van die nasie aangestel. As gevolg van hierdie voorreg het Josua ongetwyfeld baie gehad om te doen. Jehovah het nogtans vir hom gesê dat daar een ding was wat hy nooit moes nalaat nie: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan” (Josua 1:8). Dit is noemenswaardig dat Josua moes voortgaan om die Wet te lees, al het hy toe reeds meer as 40 jaar se diens agter die rug gehad. Ons moet ook die Bybel bestudeer en Jehovah se wette en beginsels hersien—ongeag hoe lank ons Jehovah al dien of hoeveel voorregte ons geniet.—Psalm 119:111, 112, NAV.
9. Wat het in die tyd van die rigters in Israel gebeur?
9 Ná Josua was daar ’n aantal rigters. Ongelukkig het die Israeliete in die tyd van die rigters dikwels “gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (Rigters 2:11). Die verslag sê aangaande die tyd van die rigters: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Elkeen het sy eie besluite oor gedrag en aanbidding geneem, en die geskiedenis toon dat baie Israeliete verkeerde besluite geneem het. Hulle het afgode begin aanbid en soms gruwelike wandade gepleeg (Rigters 19:25-30). Party het egter navolgenswaardige geloof geopenbaar.—Hebreërs 11:32-38.
10. Hoe het heerskappy in Israel drasties in Samuel se tyd verander, en wat het daartoe aanleiding gegee?
10 In die tyd van die laaste rigter, Samuel, het Israel ’n krisis met betrekking tot heerskappy beleef. Die Israeliete is deur die omliggende vyandelike nasies, wat almal deur konings geregeer is, beïnvloed en het gemeen dat hulle ook ’n koning nodig het. Hulle het vergeet dat hulle reeds ’n Koning gehad het en dat hulle regering ’n teokrasie was. Jehovah het vir Samuel gesê: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Samuel 8:7). Hulle voorbeeld herinner ons aan hoe maklik dit is om ons geestelike beskouing te verloor en deur die wêreld rondom ons beïnvloed te word.—Vergelyk 1 Korinthiërs 2:14-16.
11. (a) Hoe kan daar, ondanks die verandering in heerskappy, gesê word dat Israel onder die konings steeds ’n teokrasie was? (b) Watter opdrag het Jehovah aan Israel se konings gegee, en met watter doel?
11 Jehovah het nietemin aan die Israeliete se versoek voldoen en hulle eerste twee konings, Saul en Dawid, gekies. Israel was steeds ’n teokrasie, met Jehovah as heerser. Aangesien die konings dit altyd voor oë moes hou, moes elke koning sy eie afskrif van die Wet maak en dit daagliks lees, “dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie” (Deuteronomium 17:19, 20). Ja, Jehovah wou hê dat diegene met gesag in sy teokrasie hulle nie oor ander moes verhef nie en dat hulle in ooreenstemming met sy Wet moes optree.
12. Watter rekord van getrouheid het koning Dawid opgebou?
12 Koning Dawid het besondere geloof in Jehovah gehad, en God het ’n verbond met hom gesluit waarvolgens hy die vader van ’n lyn van konings sou wees wat vir ewig sou voortbestaan (2 Samuel 7:16; 1 Konings 9:5; Psalm 89:30). Dawid het ’n navolgenswaardige voorbeeld van nederige onderdanigheid aan Jehovah gestel. Hy het gesê: “O HERE, die koning is bly oor u sterkte, en hoe baie juig hy oor u hulp!” (Psalm 21:2). Hoewel Dawid soms weens vleeslike swakheid te kort geskiet het, het hy gewoonlik op Jehovah se krag gesteun, en nie op sy eie nie.
Onteokratiese dade en gesindhede
13, 14. Wat is sommige van die onteokratiese dinge wat Dawid se opvolgers gedoen het?
13 Nie al die Israelitiese leiers was soos Moses en Dawid nie. Baie het groot minagting vir die teokratiese reëling getoon en valse aanbidding in Israel toegelaat. Selfs party van die getroue heersers het met tye onteokraties opgetree. ’n Baie tragiese geval is dié van Salomo, aan wie groot wysheid en voorspoed gegee is (1 Konings 4:25, 29). Tog het hy Jehovah se wet verontagsaam deur met baie vrouens te trou en afgodediens in Israel toe te laat. Salomo se heerskappy het blykbaar in sy latere jare onderdrukkend geword.—Deuteronomium 17:14-17; 1 Konings 11:1-8; 12:4.
14 Salomo se seun Rehabeam is deur sy onderdane gevra om hulle juk ligter te maak. Pleks van toegeeflik te wees, het hy sy gesag op ’n aggressiewe wyse laat geld—en 10 van die 12 stamme verloor (2 Kronieke 10:4-17). Die eerste koning van die afgeskeie tienstammeryk was Jerobeam. Hy het kalfaanbidding ingestel om te probeer verseker dat sy koninkryk nooit weer met sy sustervolk sou saamsmelt nie. Dit het dalk uit ’n politieke oogpunt na ’n slim stap gelyk, maar het skreiende minagting vir teokrasie geopenbaar (1 Konings 12:26-30). Later het koning Asa, aan die einde van ’n lang lewe van getroue diens, toegelaat dat sy goeie naam as gevolg van trots beklad word. Hy het die profeet wat met raad van Jehovah na hom toe gekom het sleg behandel (2 Kronieke 16:7-11). Ja, selfs bejaardes het soms raad nodig.
Die einde van ’n teokrasie
15. Hoe het die Joodse leiers as gesagsfigure in ’n teokrasie gefaal toe Jesus op die aarde was?
15 Toe Jesus Christus op die aarde was, was Israel nog steeds ’n teokrasie. Ongelukkig was baie van die verantwoordelike oudstes nie geestelik gesind nie. Hulle het beslis nie die sagmoedigheid van Moses aangekweek nie. Jesus het op hulle geestelike verdorwenheid gewys toe hy gesê het: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.”—Mattheüs 23:2, 3.
16. Hoe het eerste-eeuse Joodse leiers getoon dat hulle geen respek vir teokrasie gehad het nie?
16 Nadat die Joodse leiers Jesus aan Pontius Pilatus oorgelewer het, het hulle getoon hoe ver hulle van teokratiese onderworpenheid afgedwaal het. Pilatus het Jesus ondervra en tot die slotsom gekom dat hy onskuldig was. Pilatus het Jesus voor die Jode gebring en gesê: “Dáár is julle Koning!” Toe die Jode geskreeu het dat Jesus doodgemaak moes word, het Pilatus gevra: “Moet ek julle Koning [aan die paal hang]?” Die owerpriesters het geantwoord: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie” (Johannes 19:14, 15, vgl. NW). Hulle het die keiser as koning erken pleks van Jesus, ‘wat in die Naam van Jehovah gekom het’!—Mattheüs 21:9.
17. Waarom het vleeslike Israel nie ’n teokratiese nasie gebly nie?
17 Deur Jesus te verwerp, het die Jode teokrasie verwerp, want Jesus sou die hoofrol in toekomstige teokratiese reëlings speel. Jesus was die koninklike seun van Dawid wat vir ewig sou regeer (Jesaja 9:5, 6; Lukas 1:33; 3:23, 31). Vleeslike Israel is gevolglik as God se uitverkore volk verwerp.—Romeine 9:31-33.
’n Nuwe teokrasie
18. Watter nuwe teokrasie het in die eerste eeu tot stand gekom? Verduidelik.
18 Die feit dat God vleeslike Israel verwerp het, het egter nie die einde van teokrasie op aarde beteken nie. Jehovah het deur middel van Jesus Christus ’n nuwe teokrasie tot stand gebring. Dit was die gesalfde Christengemeente, wat in werklikheid ’n nuwe nasie was (1 Petrus 2:9). Die apostel Paulus het dit “die Israel van God” genoem en die lede daarvan het later “uit elke stam en taal en volk en nasie” gekom (Galasiërs 6:16; Openbaring 5:9, 10). Hoewel hulle onderworpe was aan die menslike regerings waaronder hulle gelewe het, het God in werklikheid oor die lede van hierdie nuwe teokrasie geregeer (1 Petrus 2:13, 14, 17). Kort ná die totstandkoming van die nuwe teokrasie het die heersers van vleeslike Israel sommige dissipels probeer dwing om op te hou om ’n opdrag wat Jesus aan hulle gegee het uit te voer. Hoe het hulle gereageer? “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). ’n Waarlik teokratiese beskouing!
19. Waarom kon die eerste-eeuse Christengemeente ’n teokrasie genoem word?
19 Maar hoe het die nuwe teokrasie gefunksioneer? Wel, daar was ’n Koning, Jesus Christus, wat die Groot Teokraat, Jehovah God, verteenwoordig het (Kolossense 1:13). Hoewel die Koning onsigbaar in die hemele was, was sy heerskappy vir sy onderdane ’n werklikheid, en sy woorde het as ’n rigsnoer in hulle lewe gedien. Wat sigbare toesig betref, is geestelik bekwame ouere manne aangestel. In Jerusalem het ’n groep van hierdie manne as ’n bestuursliggaam gedien. Reisende ouere manne, soos Paulus, Timotheüs en Titus, het daardie liggaam verteenwoordig. En ’n liggaam van ouderlinge, oftewel ouere manne, het na elke gemeente omgesien (Titus 1:5). Wanneer ’n moeilike probleem opgeduik het, het die ouere manne die bestuursliggaam of een van sy verteenwoordigers, soos Paulus, geraadpleeg. (Vergelyk Handelinge 15:2; 1 Korinthiërs 7:1; 8:1; 12:1.) Daarbenewens het elke lid van die gemeente ’n rol daarin gespeel om die teokrasie te handhaaf. Elkeen was voor Jehovah verantwoordelik om skriftuurlike beginsels in sy lewe toe te pas.—Romeine 14:4, 12.
20. Wat kan oor teokrasie in na-apostoliese tye gesê word?
20 Paulus het gewaarsku dat afvalligheid ná die dood van die apostels sou ontwikkel, wat toe ook gebeur het (2 Thessalonicense 2:3). Daar was naderhand miljoene, en later honderdmiljoene, wat bely het dat hulle Christene is. Hulle het verskillende stelsels van kerkbestuur, soos hiërargiese, presbiteriaanse en kongregasionalistiese stelsels, ontwikkel. Maar nóg die optrede nóg die opvattings van hierdie kerke het die heerskappy van Jehovah weerspieël. Hulle was nie teokrasieë nie!
21, 22. (a) Hoe het Jehovah teokrasie in die tyd van die einde herstel? (b) Watter vrae oor teokrasie sal vervolgens beantwoord word?
21 Gedurende die tyd van die einde van hierdie stelsel van dinge sou ware Christene van valse Christene geskei word (Mattheüs 13:37-43). Dit het in 1919, ’n spiljaartal in die geskiedenis van teokrasie, plaasgevind. Die glorieryke profesie in Jesaja 66:8 is toe vervul: “Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar?” Die antwoord op hierdie vrae was ’n dawerende ja! In 1919 het die Christengemeente weer eens ’n aparte “nasie” geword. ’n Teokratiese “land” is as ’t ware op een enkele dag gebore! Namate hierdie nuwe nasie dieper in die tyd van die einde inbeweeg het, is die organisasie daarvan aangepas sodat dit so nou as moontlik met dié van die eerste eeu sou ooreenstem (Jesaja 60:17). Maar dit was altyd ’n teokrasie. Wat optrede en opvattings betref, het dit altyd die Goddelik geïnspireerde wette en beginsels in die Skrif weerspieël. En dit was altyd aan die gekroonde Koning, Jesus Christus, onderworpe.—Psalm 45:18 NW; 72:1, 2.
22 Is jy aan hierdie teokrasie verbonde? Beklee jy ’n gesagsposisie daarin? Indien wel, weet jy wat dit beteken om teokraties op te tree? Weet jy watter strikke om te vermy? Die laaste twee vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is ’n teokrasie?
◻ Hoe was Israel ’n teokrasie?
◻ Watter reëling het Jehovah ingestel om die konings daaraan te herinner dat Israel ’n teokrasie was?
◻ Hoe was die Christengemeente ’n teokrasie, en hoe is dit georganiseer?
◻ Watter teokratiese organisasie is in ons tyd tot stand gebring?
[Prent op bladsy 12]
Voor Pontius Pilatus het die Joodse leiers die keiser pleks van Jehovah se teokraties aangestelde Koning erken