Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 2/15 bl. 4-7
  • Kweek die gees van dankbaarheid aan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kweek die gees van dankbaarheid aan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onderliggende rede vir ondankbaarheid
  • Bepeinsing is ’n moet!
  • Betuig jou dankbaarheid
  • Dankbaar teenoor God
  • “Toon dat julle dankbaar is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Dankbaar vir ons “gelukkig hoop”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Waarom moet jy dankbaar wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Dankbaarheid
    Ontwaak!—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 2/15 bl. 4-7

Kweek die gees van dankbaarheid aan

IN DIE staat New York red ’n dokter Marie se lewe in ’n noodsituasie. Maar die 50-jarige Marie bedank die dokter nie en betaal ook nie haar rekening nie. Hoe tipies is dit tog nie van ondankbaarheid nie!

Die Bybel vertel dat Jesus eenkeer, toe hy in ’n dorpie ingaan, tien manne teëgekom het wat die verskriklike siekte melaatsheid gehad het. Hulle het hardop tot hom geroep: “Jesus, Onderrigter, wees ons barmhartig!” Jesus het hulle beveel: “Gaan wys julle vir die priesters.” Die melaatses het sy instruksie gehoorsaam, en terwyl hulle op pad was, het hulle begin sien en voel dat hulle genees is.

Nege van die geneesde melaatses het verder geloop. Maar die ander melaatse, ’n Samaritaan, het teruggedraai om na Jesus te soek. Hierdie gewese melaatse het God geloof, en toe hy Jesus vind, het hy voor sy voete geval en hom gedank. In antwoord hierop het Jesus gesê: “Al tien is gereinig, nie waar nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand gevind wat teruggedraai het om aan God heerlikheid te gee behalwe hierdie man van ’n ander nasie nie?”—Lukas 17:11-19.

’n Belangrike les lê opgesluit in die vraag: “Waar is die ander nege dan?” Soos Marie het die nege melaatses ’n ernstige tekortkoming gehad—hulle het nie dankbaarheid getoon nie. Sulke ondankbaarheid is vandag baie algemeen. Waarom is dit die geval?

Onderliggende rede vir ondankbaarheid

Ondankbaarheid spruit basies voort uit selfsug. Beskou ons eerste menseouers, Adam en Eva. Jehovah het hulle met Goddelike eienskappe geskep en alles voorsien om hulle gelukkig te maak, met inbegrip van ’n pragtige tuintuiste, ’n volmaakte omgewing sowel as sinvolle en bevredigende werk (Genesis 1:26-29; 2:16, 17). Maar toe Satan druk op hulle uitgeoefen het deur hom op hulle baatsug toe te spits, was hulle albei ongehoorsaam en het hulle Jehovah se vrygewigheid met minagting bejeën.—Genesis 3:1-5; Openbaring 12:9.

Dink ook aan die eertydse volk Israel, wat deur God uitgekies is om sy spesiale eiendom te wees. Hoe dankbaar moes al die Israelitiese ouers tog nie op die nag van 14 Nisan 1513 v.G.J. gewees het nie! Op daardie belangrike nag het God se engel “al die eersgeborenes in Egipteland” gedood, maar by al die behoorlik gemerkte Israelitiese huise verbygegaan (Exodus 12:12, 21-24, 30). En toe hulle van Farao se leër by die Rooi See verlos is, het ‘Moses en die kinders van Israel’ met harte vol waardering ‘tot eer van Jehovah gesing’.—Exodus 14:19-28; 15:1-21.

Maar net ’n paar weke nadat hulle Egipte verlaat het, het “die hele vergadering van die kinders van Israel . . . gemurmureer”. Hoe gou is hulle tog nie deur ondankbaarheid oormeester nie! Hulle het daarna terugverlang om ‘by die vleispotte te sit en volop brood te eet’, dinge wat hulle in Egipteland, die land van hulle slawerny, geniet het (Exodus 16:1-3). Dit is duidelik dat selfsug dit moeilik maak om dankbaarheid aan te kweek en te betoon.

As afstammelinge van die sondige Adam word alle mense met ’n geneigdheid tot selfsug en ondankbaarheid gebore (Romeine 5:12). Ondankbaarheid is ook deel van die selfsugtige gees wat die mense van hierdie wêreld oorheers. Soos die lug wat ons inasem, is daardie gees oral, en dit beïnvloed ons (Efesiërs 2:1, 2). Daarom moet ons ’n dankbare gesindheid aankweek. Hoe kan ons dit doen?

Bepeinsing is ’n moet!

Webster’s Third New International Dictionary omskryf dankbaarheid as “die toestand van dankbaar te wees: ’n hartlike en vriendelike gevoel teenoor ’n weldoener wat jou beweeg om hom vir ’n guns te vergoed”. ’n Gevoel kan nie werktuiglik aan- en afgeskakel word nie; dit moet spontaan binne ’n mens ontstaan. Dankbaarheid is nie net ’n betoning van goeie maniere of die nakoming van ’n sekere gedragsreël nie; dit spruit uit die hart voort.

Hoe kan ons leer om uit ons hart dankbaar te voel? Die Bybel skryf ons gevoelens in groot mate toe aan die dinge waaroor ons dink (Efesiërs 4:22-24). As ons wil leer om dankbaar te voel, moet ons met waardering peins oor die weldade wat aan ons bewys word. In ooreenstemming hiermee sê dr. Wayne W. Dyer, wat op die gebied van geestesgesondheid praktiseer: “Jy kan nie ’n gevoel (emosie) hê sonder dat daar eers ’n gedagte was nie.”

Neem byvoorbeeld dankbaarheid vir die skepping om ons. Hoe laat dit jou voel wanneer jy op ’n wolklose nag na ’n sterbesaaide hemel kyk? Koning Dawid het beskryf watter ontsag dit by hom gewek het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” En in die stilte van die nag het die sterre tot Dawid gespreek sodat hy geskryf het: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Waarom het die sterrehemel Dawid so diep geraak? Hy antwoord self: “Ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.”—Psalm 8:4, 5; 19:2; 143:5.

Dawid se seun Salomo het ook besef hoe belangrik dit is om oor die skeppingswonders na te dink. Hy het byvoorbeeld geskryf aangaande die rol wat reënwolke daarin speel om ons aarde te verfris: “Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer” (Prediker 1:7). So is dit dan ook. Nadat die reën en die riviere die aarde verfris het, word hulle water hersirkuleer deurdat dit uit die oseane opgeneem word om weer wolke te vorm. Hoe sou die aarde gewees het sonder hierdie suiwering en hersirkulering van water? Hoe dankbaar moes Salomo tog nie gewees het toe hy oor hierdie gedagtes gepeins het nie!

’n Dankbare mens beskou ook sy verhoudinge met gesinslede, vriende en kennisse as kosbaar. Hy sien watter goedhartige dade hulle verrig. Terwyl hy met waardering oor hulle weldade nadink, voel hy uit sy hart dankbaar.

Betuig jou dankbaarheid

“Dankie” is tog so ’n eenvoudige woord! Dit is baie maklik om te uiter. En daar is talle geleenthede om dit te doen. Hoe verkwikkend is ’n hartlike en opregte “Dankie” tog nie vir iemand wat ’n deur vir ons oophou of iets optel wat ons laat val het nie! Daardie woord kan die werk van ’n winkelklerk of ’n kelnerin in ’n restaurant of die posman ligter en lonender maak.

Dankiesêkaartjies maak dit maklik om ander vir hulle goedhartige dade te bedank. Baie van die kaartjies wat in winkels beskikbaar is, druk die gedagtes pragtig uit. Maar sal dit nie liefdevol wees om dit ’n bietjie persoonliker te maak deur woorde van waardering in jou eie handskrif by te voeg nie? Party verkies selfs om eerder ’n persoonlike briefie as ’n gedrukte kaartjie te stuur.—Vergelyk Spreuke 25:11.

Diegene wat ons dankbaarheid bes moontlik die meeste verdien, is ons gesinslede. Die Bybel sê van ’n deugsame vrou: “Haar eienaar staan op, en hy prys haar” (Spreuke 31:28, NW). Bevorder dit nie ’n vreedsame en gelukkige atmosfeer in die huis as ’n man sy opregte dank teenoor sy vrou uitspreek nie? En is ook die man nie bly as sy vrou hom hartlik en waarderend groet wanneer hy tuiskom nie? Vandag is die huwelik aan groot druk onderhewig, en wanneer die druk toeneem, verloor mense gou hulle humeur. Iemand met ’n dankbare gesindheid is bereid om toegewings te doen en is gou om iets oor te sien en te vergewe.

Ook jongmense moet onthou dat hulle hartgrondige waardering teenoor hulle ouers moet uitspreek. Ouers is weliswaar nie volmaak nie, maar dit is geen rede om ondankbaar te wees vir wat hulle vir jou gedoen het nie. Die liefde en aandag wat hulle jou al sedert jou geboorte gee, kan nie gekoop word nie. As hulle jou die kennis van God geleer het, het jy ’n bykomende rede om dankbaar te wees.

“Seuns is ’n erfdeel van die HERE”, sê Psalm 127:3. Ouers moet dus eerder geleenthede soek om hulle kinders te prys as om gedurig oor onbenullighede te kla (Efesiërs 6:4). En wat ’n voorreg het hulle tog nie om die jonges onder hulle sorg te help om die gees van dankbaarheid aan te kweek nie!—Vergelyk Spreuke 29:21.

Dankbaar teenoor God

Jehovah God is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). ’n Gawe wat veral belangrik is, is die lewe, want alles wat ons het of dalk beplan, sal waardeloos wees as ons ons lewe verloor. Die Skrif spoor ons aan om te onthou dat “die fontein van die lewe” by Jehovah God is (Psalm 36:6, 8, 10; Handelinge 17:28). As ons ’n dankbare hart teenoor God wil aankweek, moet ons peins oor sy mildelike voorsienings wat ons fisiese en geestelike lewe onderhou (Psalm 1:1-3; 77:12, 13). So ’n hart sal ons beweeg om ons waardering met woord en daad te toon.

Een manier waarop ons ons dankbaarheid teenoor God kan uitspreek, is natuurlik in gebed. Die psalmis Dawid het gesê: “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel” (Psalm 40:6). Mag ons op soortgelyke wyse beweeg word.

Dawid was ook vasbeslote om sy waardering teenoor God te toon deur sy woorde aan ander. Hy het gesê: “Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel” (Psalm 9:2). Om met ander oor God te praat, ons gedagtes uit te druk deur die waarheid uit sy Woord aan hulle te verkondig, is seker die beste manier om ons dankbaarheid teenoor hom te toon. En dit sal ons help om groter dankbaarheid in ander lewensaangeleenthede te toon.

“Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil . . . laat geniet”, sê Jehovah. Mag jy die vreugde ervaar wat dit meebring wanneer jy hartgrondige dankbaarheid teenoor hom toon.—Psalm 50:23; 100:2.

[Prent op bladsy 7]

Die lewe is ’n gawe van God Maak dit ’n bietjie persoonliker

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel