Jongmense met ’n veilige toekoms
“SO AFGRYSLIK en walglik as wat enige [verkragtingsaak] kan wees”—dit is hoe die voorsittende regter van ’n onlangse verhoor die misdaad beskryf het. ’n Bende van agt tieners, tussen die ouderdomme van 14 en 18, het ’n vroulike toeris in die middestad van Londen oorval, haar herhaaldelik seksueel aangerand en haar toe in ’n nabygeleë kanaal gegooi al het sy gesê dat sy nie kan swem nie. Dit is te begrype dat die moeder van een van die tieners gesê het dat sy siek gevoel het toe sy die TV-nuusberig gesien het van wat haar seun gedoen het.
Ongelukkig weerspieël hierdie voorval wat vandag in die samelewing gebeur. Wreedheid het die norm geword, hetsy in misdade, huislike struwelinge of die etniese konflikte van die Balkan, Sentraal- en Wes-Afrika en elders. Jongmense word onder sulke toestande groot, of hulle hoor dikwels daarvan. Dit is dus geen wonder nie dat baie ongevoelig word en “sonder natuurlike geneentheid” en “sonder selfbeheersing” is.—2 Timoteus 3:3.
“Wreedaardig”
Toe die Christenapostel Paulus sy tweede brief aan sy mede- ouer man Timoteus geskryf het, was Rome die heersende wêreldmoondheid. Wreedheid en barbaarsheid was algemeen in die Romeinse arenas. Tog het Paulus gewaarsku dat tye in die toekoms ‘moeilik sou wees om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Dit is interessant dat die Griekse woord wat hierdie tye beskryf as ‘moeilik om deur te kom’, die gedagte insluit dat hulle ‘wreed’ sou wees. ’n Voorval gedurende Jesus se aardse bediening meer as 30 jaar tevore toon wat deels verantwoordelik was vir die wreedheid van sy tyd.
Jesus het pas per boot die oostelike kus van die See van Galilea bereik. Toe hy aan land gaan, het twee manne hom tegemoetgekom. Hulle wilde voorkoms en geskreeu het duidelik getoon dat daar iets drasties met hulle geskort het. Hulle was “buitengewoon wreedaardig”, trouens, demoonbesete.a Wat hulle uitgeroep het, het gekom van die bose geeste wat hulle gewelddadige optrede beheer het. “Wat het ons met u te doen, Seun van God?” het die manne geskreeu. “Het u hierheen gekom om ons voor die vasgestelde tyd te pynig?” Die bose geeste wat in die twee gevaar het, het baie goed geweet dat God reeds ’n tyd bepaal het om sy oordeel aan die demone te voltrek. Dit sal hulle ewige vernietiging beteken. Maar tot daardie tyd sou hulle hulle bomenslike vermoëns gebruik om wrede gewelddade uit te lok. Net Jesus se wonderdadige optrede om daardie demone uit te dryf, het vir die twee manne verligting gebring.—Matteus 8:28-32; Judas 6.
Wanneer mense vandag, ook jongmense, waansinnig optree, sal dit goed wees as ons daardie voorval onthou. Waarom? Omdat ons in hierdie 20ste eeu met ’n soortgelyke gevaar te kampe het, soos die Bybel se laaste boek, Openbaring, verduidelik: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:12). Let asseblief daarop dat hierdie vernedering van Satan gepaardgaan met “groot toorn” omdat hy weet dat hy min tyd het.
Die skyf van aanvalle
Soos al dikwels in die bladsye van hierdie tydskrif gemeld is, het Christus Jesus in 1914 die troon bestyg as die Koning van God se Koninkryk in die hemel. Jesus het onmiddellik teen God se vernaamste vyand, Satan, opgetree. Die Duiwel en sy demone is dus uit die hemel verdryf, en hulle spits nou hulle aandag op hierdie aarde toe (Openbaring 12:7-9). Aangesien Satan se invloedsfeer grootliks ingeperk is, “loop [hy] rond soos ’n brullende leeu en is [hy] daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Wie is maklike prooi vir hom? Is dit nie verstaanbaar dat dit veral diegene sal wees wat min ondervinding in die lewe en menseverhoudinge het nie? Jongmense van vandag het gevolglik die skyf van die Duiwel se aanvalle geword. Deur ’n groot deel van hulle musiek en vryetydsbesteding speel hulle reg in die hande van hierdie onsigbare, geslepe manipuleerder.—Efesiërs 6:11, 12.
Selfs wanneer jongmense iewers in die lewe probeer kom, word hulle pogings belemmer. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het mense in baie van die lande wat vroeër by die oorlog betrokke was, daarvoor probeer vergoed deur hulle gesin ’n welvarende lewenstyl te gee. Materiële besittings, onbeperkte ontspanning en vermaak het vername doelwitte geword. Gevolglik is hulle groot skade berokken. “Dié wat egter vasbeslote is om ryk te wees”, het Paulus vir Timoteus gewaarsku, “val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes . . . Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, . . . het [party] hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:9, 10). Die mense van vandag se materialistiese samelewing word oor die algemeen deurboor met ekonomiese, finansiële en emosionele pyne. Onder hulle is baie jongmense, slagoffers van hierdie set van God se aartsvyand.
Maar gelukkig is daar goeie nuus. En dit raak jongmense, diegene vir wie daar ’n veilige toekoms voorlê. Hoe kan dit wees?
Soek en jy sal vind
Baie jongmense koester hoë ideale. Hulle verwerp die verslegtende standaarde wat algemeen onder volwassenes is. Hulle deins terug vir die onregverdigheid en gevoellose gesindheid van magshonger politici en sakemanne. As jy jonk is, is dit miskien hoe jy voel.
Beskou die geval van Cedric, ’n jong man in sy laat tienerjare, wie se ondervinding geensins uniek is nie.b As kind het hy baie vrese gehad, waaronder ’n vrees vir die dood. Hy het gewonder wat die doel van die lewe is. Toe hy teen die tyd dat hy 15 was nog nie antwoorde op sy vrae gevind het nie, het hy maar saam met ander idealistiese jongmense oor die lewe gepeins. “Ons het dwelms gerook en ure aaneen gesit en praat”, vertel hy. “’n Mens het gevoel dat almal dieselfde as jy dink, maar niemand het die antwoorde gehad nie.”
Soos baie jongmense was Cedric lief vir opwinding. Om bloot dwelms te neem, was nie vir hom genoeg nie. Dit was nie lank nie of hy het by diefstal en dwelmhandel betrokke geraak. Maar hy het nog nuwe uitdagings gesoek. Hy het op bestelling begin steel. “Ek het dit geniet”, erken hy. “Maar ek het nooit iets van gewone mense gevat nie. As ek ’n motor gesteel het, het ek dit in ’n goeie toestand gelos. As ek by ’n winkel ingebreek het, het ek dit net gedoen waar ek geweet het hulle word deur versekering gedek. Dit het my my dade help regverdig.” Soos jy kan verwag, het Cedric in die gevangenis beland.
Cedric vertel: “Mark, ’n medegevangene, het met my gesels. Toe hy sien dat ek ’n groot kruis as tatoeëermerk op my boarm het, het hy my gevra waarom ek dit het. Hy het gedink dat dit om godsdienstige redes vir my belangrik moet wees.” ’n Paar weke later het Mark vir Cedric die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee.c “‘Jy kan vir ewig lewe’—daardie paar woorde het my onmiddellik getref. Dit is waaroor ons altyd gepraat het, maar ons kon nooit tot die kern van die saak deurdring nie.” Ná talle besprekings met een van Jehovah se Getuies wat die gevangenis besoek het, het Cedric besef dat dit wat hy nagestreef het, bereikbaar is—maar net op God se manier.
“Ek het opgehou om met my voormalige vriende om te gaan en het vinnig vooruitgang gemaak”, sê Cedric. Dit was nie vir hom maklik om in begrip toe te neem en om ware geluk te vind nie. “Ek lê my nog steeds daarop toe”, sê hy. “Ek moet versigtig wees hoe ek dink.” Ja, Cedric besef nou dat sy idealisme hom in ’n valstrik van die Duiwel gelei het, omdat hy gedink het dat hy alleenlik sy doelwitte kon bereik deur aan bedrywighede deel te neem wat om opwinding draai.
Gelukkig is Cedric al lank uit die gevangenis, en hy geniet gereelde omgang met ander wat gevind het waarna hulle gesoek het. Hy is nou een van Jehovah se Getuies en deel hulle hoop om in die Paradys hier op die aarde te lewe. Hy sien ook uit na die einde van alle vorme van sataniese invloed.
Dit is natuurlik nie net jongmense soos Cedric wat ’n veilige toekoms het nie; ander is deur godvrugtige ouers grootgemaak, wat in hulle kinders ’n liefde vir Bybelwaarheid ingeskerp het.
Godvrugtige opleiding werp vrugte af
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie”, het wyse koning Salomo van die ou tyd geskryf (Spreuke 22:6). Dit was die geval met talle opregte jongmense wat gekies het om die Bybel se standaard te volg.
Sheila, Gordon en Sarah het dit gedoen. Hulle onthou dat hulle ouers groot klem gelê het op gehoorsaamheid aan Christus se opdrag om te ‘gaan en dissipels te maak’ deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14; 28:19, 20). “Met alle besluite wat geneem moes word, het ek en my ma altyd vir mekaar gesê: ‘Hoe sal dit die predikingswerk raak?’” vertel Sheila. “As gevolg van hierdie redenasie het ons baie projekte laat vaar”, erken sy en sê verder, “maar watter seëninge het ons tog gehad!” Selfs aan die einde van lang dae waartydens Sheila en haar ma mense by hulle huise besoek het met die goeie nuus, het hulle doodmoeg maar al singende huis toe geloop. “My vreugde was volkome”, sê sy. “Ek kan dit nou nog voel.”
Gordon onthou talle genotvolle Saterdagaande. “Ek is uitgenooi na die huise van die ouer manne in die gemeente, waar ons opbouende vasvraspeletjies en besprekings gehad het. Ons is aangespoor om Bybeltekste te memoriseer, vryelik oor skriftuurlike onderwerpe te praat, ’n velddiensondervinding te vertel en uit te vind hoe die Koninkrykswerk uitbrei”, vertel Gordon. “Al hierdie dinge het my gehelp om ’n goeie fondament te lê en liefde vir Jehovah God aan te kweek.”
Sarah het aangename herinneringe van aande wat hulle saam met besoekende Getuies deurgebring het. “Ons het ’n ete saam geniet. Om die dag af te sluit, het ons klavier gespeel en begeleiding verskaf vir dié wat liedere oor God se Koninkryk gesing het. Musiek het ons werklik baie gehelp, veral gedurende ons skooljare, omdat dit ons as gesin in staat gestel het om dinge saam te doen.”
Nie alle jongmense wat Jehovah wil behaag, het natuurlik ideale gesinsomstandighede nie. Maar noue omgang met ander Getuiegesinne in die gemeente bied hulle sekuriteit en ’n gevoel dat hulle iewers behoort.
Lê ’n veilige fondament vir die toekoms as ’n skat weg
Jongmense het vandag ’n keuse. Hulle kan deel van hierdie goddelose wêreld bly terwyl dit op vernietiging afstuur in die komende “groot verdrukking” wat Jesus voorspel het. Of hulle kan ‘hulle vertroue op God stel en sy gebooie bewaar’, soos die geïnspireerde psalmis Asaf gesing het. Gehoorsaamheid aan God sal verhoed dat hulle “’n koppige en wederstrewige geslag [word], ’n geslag met ’n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie”.—Matteus 24:21; Psalm 78:6-8.
In die meer as 80 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld sal jy baie jongmense vind wat jy kan bewonder. Hulle het ag geslaan op Paulus se raad aan jong Timoteus “om goed te doen, om ryk te wees in voortreflike werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n voortreflike fondament vir die toekoms as ’n skat veilig weg te lê”. Gevolglik het hulle nou “’n stewige houvas op die werklike lewe” (1 Timoteus 6:18, 19). Vind meer uit omtrent hierdie ware Christene deur hulle vergaderinge by te woon. Dan kan jy ook die hoop op ’n veilige toekoms hê.
[Voetnote]
a “Wreedaardig” vertaal dieselfde Griekse woord wat in Matteus 8:28 en in 2 Timoteus 3:1 gebruik word.
b Name is verander.
c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 7]
Bose geeste was agter die “buitengewoon wreedaardige” manne wat deur Jesus genees is
[Prent op bladsy 8]
Bou “’n voortreflike fondament vir die toekoms”