Wat gebeur met jongmense?
DIE goeie nuus of die slegte nuus—wat wil jy eerste hoor? Wanneer hierdie vraag aan mense gestel word, kies baie om eers die slegte nuus te hoor in die hoop dat die goeie nuus hulle sal bybly.
Wanneer ons ondersoek instel na wat met jongmense gebeur, moet ons eers na die huidige situasie kyk. Ouer mense sê oor die algemeen dat jongmense vandag nie soos jongmense van die verlede is nie. Jongmense daarenteen voel beledig oor enige implikasie dat hulle nie aan die standaarde van die verlede voldoen nie. Belangstellende waarnemers van die mensdom stem nietemin saam dat vandag se jongmense anders is.
Hoe anders?
Hoewel mense oor die algemeen dink dat jongmense goeie maniere, ’n verantwoordelikheidsgevoel en respek vir ander moet hê, skiet die werklikheid dikwels ver te kort aan hierdie ideale. Volgens ’n opname wat in die Londense koerant The Independent verskyn het, is jongmense besig om “’n ‘nuwe gees van opstandigheid’ aan te kweek teen ’n wêreld wat na hulle mening hulle grotendeels in die steek gelaat het”. Hierdie “nuwe gees van opstandigheid” word weerspieël in die bevinding dat minder hedendaagse jongmense hulleself as “verstandig en verantwoordelik” wil beskou. Hulle wil eerder as “wild en onvoorspelbaar” beskou word.
In Brittanje het gerapporteerde misdaad—waarvan die meeste deur jongmense gepleeg is—byvoorbeeld tussen 1950 en 1993 tienvoudig toegeneem. Verhoogde dwelm- en alkoholmisbruik volg dieselfde tendens. Terselfdertyd, sê The Times van Londen, het amper al die ontwikkelde lande “sedert die Tweede Wêreldoorlog ’n aansienlike toename in psigososiale versteurings onder jongmense” gehad. Volgens David J. Smith, professor in kriminologie, is hierdie versteurings “op geen eenvoudige manier verwant aan ontbering of toenemende welvaart nie”. Navorsing toon dat ’n groter onderskeid nou tussen jongmense en ouer mense merkbaar is.
Kinders en jong tieners is vandag aan toenemende druk onderhewig. Gevalle van selfmoord, mislukte sowel as geslaagde pogings, het alledaags geword. Selfmoordpogings deur kinders onder 12 het in minder as tien jaar verdubbel, berig die Herald van Glasgow, Skotland. Ouer kinders laat toe dat wanhoop hulle op dieselfde manier beïnvloed. “Dit is die uiterste gevolge van ’n toenemende vlaag van psigiatriese probleme onder jongmense wat dreig om die dienste uit te put wat daargestel is om hulle te help”, sê die koerant.
Wie dra die skuld?
Volwassenes vind dit maklik om jongmense die skuld te gee vir die jeug se “afwykende” beskouings. Maar dra volwassenes nie in alle eerlikheid baie van die skuld van wat nou onder jongmense gebeur nie? Afknouery, verwaarlosing deur ouers, die gebrek aan rolmodelle wat jongmense kan vertrou, word dikwels ter verklaring aangevoer. “Depressie onder die algemene bevolking is geensins algemener as wat dit 30 jaar gelede was nie”, beweer professor sir Michael Rutter, hoof van die Kinderpsigiatrie-eenheid van Brittanje se Mediese Navorsingsraad. “Maar”, voeg hy by, “die voorkoms daarvan onder tieners en jong volwassenes het grootliks toegeneem. . . . Gesinsverbrokkeling speel ongetwyfeld ’n rol; nie alleen egskeiding nie, maar die algemene vlakke van onenigheid en konflik onder volwassenes.”
Een navorser beweer dat jongmense “konvensionaliteit verwerp”. Waarom? “Omdat die konvensies nie daar is vir hulle nie.” Kyk byvoorbeeld na die veranderende beskouings oor geslagsrolle. Talle jong vroue neem die manliker eienskappe van aggressie en gewelddadigheid aan, terwyl jong manne vervroulik. Hoe verskil dit tog van die norme van die verlede!
Maar waarom sien ons nou sulke diepgaande veranderinge? En watter goeie nuus is daar vandag oor jongmense? Hoe kan hulle ’n veilige toekoms hê? Ons volgende artikel bespreek die antwoorde op hierdie vrae.