’n Regverdige wêreld is nie ’n droom nie!
“GEREGTIGHEID is vir die mens op aarde ’n saak van die allergrootste belang”, het die Amerikaanse staatsman Daniel Webster gesê. En die Bybel sê: “Die HERE het die reg lief” (Psalm 37:28). Aangesien die eerste mensepaar na die gelykenis van God gemaak is, het hulle goddelike eienskappe gehad, waaronder ’n regsgevoel.—Genesis 1:26, 27.
Die Skrif praat ook van “mense van die nasies wat geen wet het nie [wat] van nature die dinge van die wet doen”. Sodoende “toon [hulle] dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle, tussen hulle eie gedagtes, beskuldig of selfs verontskuldig word” (Romeine 2:14, 15). Ja, mense het die gawe van ’n gewete ontvang—’n innerlike besef van wat reg en verkeerd is. Dit is duidelik dat die behoefte aan geregtigheid ’n inherente deel van die mens is.
Iets wat nou verband hou met die behoefte aan geregtigheid is die mens se soeke na geluk, want Psalm 106:3 (NW) sê: “Gelukkig is dié wat geregtigheid bewaar, wat te alle tye regverdigheid doen.” Maar waarom kon die mens nie ’n regverdige wêreld tot stand bring nie?
Waarom het die mens misluk?
’n Grondliggende rede vir die onvermoë om ’n regverdige wêreld tot stand te bring, is die smet wat ons van ons eerste ouers, Adam en Eva, oorgeërf het. Die Bybel verduidelik: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Die smet is sonde. Hoewel Adam en Eva sondeloos geskep is, het hulle besluit om teen God in opstand te kom en het hulle hulleself sodoende sondaars gemaak (Genesis 2:16, 17; 3:1-6). As gevolg hiervan het hulle aan hulle kinders die erfenis van sondige, verkeerde neigings nagelaat.
Is karaktertrekke soos hebsug en vooroordeel nie die gevolg van sondige neigings nie? En dra hierdie karaktertrekke nie tot die ongeregtighede in die wêreld by nie? Hebsug is immers die grondoorsaak van opsetlike misbruik van die omgewing en ekonomiese onderdrukking! Vooroordeel sit beslis agter etniese konflik en onregverdige behandeling wat op rasseverskille gegrond is. Sulke karaktertrekke beweeg mense ook om te steel, te kul en op te tree op ’n manier wat ander skade berokken.
Selfs die opregste pogings om geregtigheid te laat geskied en goed te doen, misluk dikwels as gevolg van ons sondige neigings. Die apostel Paulus het self erken: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek.” Hy verduidelik die stryd verder en sê: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Romeine 7:19-23). Ons het vandag waarskynlik dieselfde stryd. Dit is waarom ongeregtighede so algemeen is.
Die manier waarop mense heers, het ook tot ongeregtigheid in die wêreld bygedra. In elke land is daar wette, asook diegene wat dit toepas. En daar is natuurlik regters en howe. Party beginselvaste mense het ongetwyfeld probeer om menseregte te handhaaf en te sorg dat daar gelyke geregtigheid vir almal is. Nietemin het die meeste van hulle pogings misluk. Waarom? Jeremia 10:23 vat verskeie faktore saam wat by hulle mislukking betrokke is en sê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” Omdat die mens van God vervreemd is, is hy eenvoudig nie daartoe in staat om ’n regverdige wêreld tot stand te bring nie.—Spreuke 14:12; Prediker 8:9.
’n Groot hindernis in die weg van die mens se pogings om ’n regverdige wêreld voort te bring, is Satan die Duiwel. Die Bybel sê duidelik dat die opstandige engel Satan die oorspronklike “mensemoordenaar” en “leuenaar” is en dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose [lê]” (Johannes 8:44; 1 Johannes 5:19). Die apostel Paulus identifiseer hom as “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:3, 4). Omdat Satan regverdigheid haat, doen hy alles in sy vermoë om goddeloosheid te bevorder. Solank hy die wêreld beheer, sal die mensdom slawe wees van allerhande ongeregtighede en die ellendes wat daarmee gepaardgaan.
Beteken dit alles dat ongeregtigheid onvermydelik deel van die mensegemeenskap is? Is ’n regverdige wêreld ’n onmoontlike droom?
’n Regverdige wêreld ’n werklikheid—Hoe?
As die mensdom wil sien dat die vooruitsig op ’n regverdige wêreld ’n werklikheid word, moet hulle vertroue stel in ’n bron wat die oorsake van ongeregtigheid uit die weg kan ruim. Maar wie kan sonde uitroei en Satan en sy heerskappy tot niet maak? Dit is duidelik dat geen mens of enige menslike instelling so ’n ontsaglike taak kan uitvoer nie. Net Jehovah God kan! Die Bybel sê van hom: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid‚ by wie geen onreg is nie; regverdig en opreg is hy” (Deuteronomium 32:4, NW). En aangesien Jehovah ‘die reg liefhet’, wil hy hê dat die mensdom die lewe in ’n regverdige wêreld moet geniet.—Psalm 37:28.
Die apostel Petrus het van God se reëling gepraat om ’n regverdige wêreld tot stand te bring en geskryf: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Hierdie “nuwe hemele” is nie nuwe fisiese hemele nie. God het ons fisiese hemele volmaak gemaak, en dit bring hom heerlikheid (Psalm 8:4; 19:2, 3). Die “nuwe hemele” is ’n nuwe heerskappy oor die aarde. Die huidige “hemele” bestaan uit mensgemaakte regerings. Binnekort, tydens God se oorlog van Armageddon, sal dit plek maak vir die “nuwe hemele”—sy hemelse Koninkryk, of regering (Openbaring 16:14-16). Die Koning van daardie Koninkryk is Jesus Christus. Hierdie regering sal menseheerskappy permanent beëindig en sal tot in ewigheid regeer.—Daniël 2:44.
Wat is die “nuwe aarde” dan? Dit is nie ’n nuwe planeet nie, want God het die aarde net reg gemaak sodat mense dit kan bewoon, en dit is sy wil dat dit vir ewig bestaan (Psalm 104:5). Die “nuwe aarde” verwys na ’n nuwe mensegemeenskap (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Die “aarde” wat vernietig gaan word, bestaan uit die mense wat hulle ’n deel van hierdie goddelose stelsel van dinge maak (2 Petrus 3:7). Die “nuwe aarde” wat dit vervang, sal bestaan uit ware knegte van God, wat goddeloosheid haat en regverdigheid en geregtigheid liefhet (Psalm 37:10, 11). Satan se wêreld sal dus weg wees.
Maar wat wag op Satan? Die apostel Johannes het voorspel: “Hy [Christus Jesus] het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei [nie]” (Openbaring 20:1-3). Die invloed wat die vasgekettingde Satan op die mensdom sal hê, sal niks groter wees as dié van ’n gevangene in ’n diep kerker nie. Wat ’n verligting sal dit tog vir die mensdom wees, aangesien dit ’n gebeurtenis sal wees wat ’n regverdige wêreld sal inlei! En aan die einde van die duisend jaar sal Satan heeltemal vernietig word.—Openbaring 20:7-10.
Maar wat van oorgeërfde sonde? Jehovah het reeds die grondslag voorsien om sonde uit te roei. ‘Die Seun van die mens, Jesus Christus, het gekom om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie’ (Matteus 20:28). Die woord “losprys” dui op die prys wat nodig is om gevangenes vry te koop. Jesus het die prys van sy volmaakte menselewe betaal as die losprys om die mensdom te verlos.—2 Korintiërs 5:14; 1 Petrus 1:18, 19.
Jesus se losprysofferande kan ons selfs nóú tot voordeel strek. Deur geloof daarin te beoefen, kan ons ’n rein posisie voor God geniet (Handelinge 10:43; 1 Korintiërs 6:11). Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal die losprys dit vir die mensdom moontlik maak om volkome van sonde te herstel. Die laaste boek van die Bybel beskryf ’n figuurlike “rivier van water van die lewe” wat uit die troon van God vloei, en langs die oewers daarvan is simboliese vrugtebome met blare “vir die genesing van die nasies” (Openbaring 22:1, 2). Wat die Bybel hier beskryf, beeld die Skepper se wonderlike voorsiening uit om die mensdom op grond van Jesus se losprysofferande van sonde te genees. Wanneer hierdie voorsiening ten volle aangewend word, sal dit gehoorsame mense van sonde en die dood bevry.
Die lewe in ’n regverdige wêreld
Stel jou voor hoe die lewe onder Koninkryksheerskappy sal wees. Misdaad en geweld sal tot die verlede behoort (Spreuke 2:21, 22). Ekonomiese ongeregtigheid sal nie meer wees nie (Psalm 37:6; 72:12, 13; Jesaja 65:21-23). Alle spore van maatskaplike, rasse-, stam- en etniese diskriminasie sal uitgewis word (Handelinge 10:34, 35). Daar sal nie meer oorlog en oorlogswapens wees nie (Psalm 46:10). Miljoene dooies sal opgewek word in ’n wêreld sonder ongeregtigheid (Handelinge 24:15). Almal sal volmaakte, blakende gesondheid geniet (Job 33:25; Openbaring 21:3, 4). “In waaragtigheid”, verseker die Bybel ons, “sal [Jesus Christus] geregtigheid voortbring.”—Jesaja 42:3, NW.
Intussen kan ons slagoffers van ongeregtigheid word, maar mag ons ons nooit op ons beurt aan ongeregtigheid skuldig maak nie (Miga 6:8). Mag ons ’n positiewe uitkyk behou, selfs wanneer ons ongeregtigheid moet verduur. Die beloofde regverdige wêreld sal binnekort ’n werklikheid word (2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:11-13). Die almagtige God het sy woord gegee, en dit ‘sal so wees’ (Jesaja 55:10, 11). Dit is nou die tyd om voor te berei vir die lewe in daardie regverdige wêreld deur uit te vind wat God van ons vereis.—Johannes 17:3; 2 Timoteus 3:16, 17.
[Prent op bladsy 7]
Alle spore van ongeregtigheid sal in God se beloofde nuwe wêreld uitgewis word