Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/15 bl. 3-4
  • Smag jy na ’n regverdige wêreld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Smag jy na ’n regverdige wêreld?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Jy kan onreg verwerk!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Antwoorde op Bybelvrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/15 bl. 3-4

Smag jy na ’n regverdige wêreld?

’NHOUTSEILSKIP met drie maste en twee dekke nader die kus van wat nou Kaap Cod, Massachusetts, VSA, is. Die bemanning en die 101 passasiers aan boord is uitgeput nadat hulle 66 dae op die see deurgebring het. Hulle het hierdie vermoeiende reis oor die Atlantiese Oseaan onderneem om aan godsdiensvervolging en swaar ekonomiese toestande te ontkom.

Wanneer die passasiers van hierdie vaartuig, die Mayflower, op 11 November 1620 land sien, glinster hulle oë in die verwagting van ’n nuwe begin. Omdat hulle graag die fondament vir ’n beter wêreld wil lê, onderteken die meeste van die skip se volwasse manlike passasiers die Mayflower-ooreenkoms. Daarin kom hulle ooreen om “regverdige en eenvormige wette” vir “die algemene welsyn van die kolonie” uit te vaardig. Het hulle droom van ’n wêreld wat sedelik opreg en billik teenoor almal is—’n regverdige wêreld—’n werklikheid geword?

Selfs al word die ooreenkoms wat aan boord van die Mayflower onderteken is as een van die hoekstene van die Amerikaanse regeringstelsel beskou, kom ongeregtigheid algemeen voor in Amerika, net soos in alle wêrelddele. Beskou byvoorbeeld die geval van ’n man wat deur die polisie geskiet is terwyl hy probeer ontsnap het nadat hy ’n winkeleienaar beroof en geskiet het. Hy het die polisie en die stad New York gedagvaar en miljoene dollars as skadevergoeding ontvang.

Beskou nog ’n voorbeeld. Terwyl regstudente die balie-eksamen in Pasadena, Kalifornië, geskryf het, het een van hulle ’n siekteaanval gehad en inmekaargesak. Twee studente wat naby was, het gou kom help en eerstehulp verleen totdat die paramedici gekom het. Hulle het die man 40 minute lank bygestaan. Maar toe hulle vir kompenserende tyd vra om die eksamen te voltooi, het die baliebeampte dit geweier.

Daar is ook die kwessie van straf vir misdade. Die ekonomiese ontleder Ed Rubenstein sê: “Die meeste misdade lei nooit tot ’n inhegtenisneming nie. Baie van diegene wat in hegtenis geneem word, word nie vervolg nie. Baie gevangenes word op parool vrygelaat. Uit die oogpunt van die misdadiger is die verwagte straf ’n waarskynlikheid en nie ’n sekerheid nie.” Deur die gegewens oor inbrake te gebruik, kom hy tot die slotsom dat ’n potensiële inbreker “gevangenisstraf meer as 98 persent van die tyd sal vryspring”. Die lae risiko van straf lei tot meer misdaad en misdaadslagoffers.—Prediker 8:11.

In baie lande word ’n ryk minderheid steeds ryker, terwyl die arm volksmassa met ekonomiese ongeregtigheid te kampe het. Sulke ongeregtigheid heers wanneer mense as gevolg van hulle velkleur, etniese agtergrond, taal, geslag of godsdiens min geleentheid kry om hulle omstandighede te verbeter of selfs om in hulle eie onderhoud te voorsien. Byvoorbeeld, volgens The New York Times “is daar in Suid-Asië wat deur Hindoeïsme oorheers word nagenoeg ’n kwartmiljard mense—die meeste van hulle in Indië en Nepal—wat as onaanraakbares gebore word en so sterf”. Die gevolg is dat miljoene deur armoede, honger en siekte geteister word. Ongeregtigheid is van die wieg tot die graf deel van hulle lewe.

Wat van die skynbare ongeregtighede wat buite die mens se beheer is? Dink aan die babas wat met oorgeërfde gebreke gebore word—wat blind, vertraag of gebreklik is. Sal ’n vrou nie voel dat sy verontreg is as haar baba gebreklik of dood gebore word terwyl ander vroue naby haar gesonde kindertjies liefkoos nie?

Ongelukkig is ongeregtigheid algemeen en so ook die gevolge daarvan—ontsaglike lyding en die gebrek aan vrede, vreugde en tevredenheid. Omdat baie mense met woede vervul is deur die ongeregtighede wat hulle sien of ondervind, het hulle hulle tot geweld gewend en sodoende net tot menselyding bygedra. Die meeste oorloë is gevoer as gevolg van oënskynlike ongeregtighede.

Waarom kon die mens nie daarin slaag om ’n regverdige wêreld tot stand te bring nie? Is so ’n wêreld net ’n droom?

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Corbis-Bettmann

[Prent op bladsy 4]

Die ondertekening van die Mayflower-ooreenkoms

[Erkenning]

Corbis-Bettmann

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel