Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/1 bl. 30-31
  • ’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Elia berei voor om te vertrek
  • Lesse vir ons
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hy het tot die einde toe volhard
    Volg hulle geloof na
  • Waardeer jy bejaarde medegelowiges?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/1 bl. 30-31

Hulle het Jehovah se wil gedoen

’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit

WAT vir ’n jong boer met die naam Elisa as ’n doodgewone dag van ploegwerk begin het, het uiteindelik die belangrikste dag in sy lewe geword. Terwyl Elisa op die saailand gewerk het, is hy onverwags deur Elia, Israel se vernaamste profeet, besoek. ‘Wat wil hy van my hê?’ het Elisa dalk gewonder. Hy het nie nodig gehad om lank te wag vir ’n antwoord nie. Elia het sy mantel oor Elisa gegooi om te toon dat Elisa eendag sy opvolger sou wees. Elisa het nie hierdie roeping lig opgeneem nie. Hy het sy saailand onmiddellik agtergelaat en Elia se dienaar geword.—1 Konings 19:19-21.

Sowat ses jaar later was dit tyd vir Elia om weg te gaan. Die verslag van sy vertrek is al “een van die indrukwekkendste verhale” in die Hebreeuse Geskrifte genoem.

Elia berei voor om te vertrek

Elia wou graag Bet-el, Jerigo en die Jordaan vir die laaste keer besoek. Dit sou beteken dat hulle baie kilometers ver sou moes loop, onder andere oor ruwe, bergagtige dele. Aan die begin van elke skof van die reis het Elia Elisa aangemoedig om daar agter te bly. Maar Elisa het daarop aangedring om reg tot die einde toe by sy heer te bly.—2 Konings 2:1, 2, 4, 6.

Terwyl hulle in Bet-el en in Jerigo was, het “die profete-seuns” na Elisa gekom.a “Weet u dat die HERE vandag u heer van u hoof sal wegneem?” het hulle hom gevra. “Ek weet dit ook”, het hy geantwoord. “Bly stil.”—2 Konings 2:3, 5.

Elia en Elisa het vervolgens na die Jordaanrivier vertrek. Toe hulle by die Jordaan kom, het Elia ’n wonderwerk verrig terwyl sowat 50 profete-seuns van ’n afstand toegekyk het. “Toe neem Elia sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het.”—2 Konings 2:8.

Nadat hulle deurgegaan het, het Elia vir Elisa gesê: “Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het “’n dubbele deel” van Elia se gees gevra—dit wil sê die dubbele deel wat gewoonlik ’n eersgebore seun toegekom het. Ja, Elisa het Elia geëer net soos ’n eersgebore seun sy vader sou eer. Daarbenewens is hy gesalf om Elia se opvolger te word as Jehovah se profeet in Israel. Sy versoek was dus nie selfsugtig of ongepas nie. Elia het nietemin, omdat hy geweet het dat net Jehovah hierdie versoek kon toestaan, nederig geantwoord: “Jy het ’n harde saak begeer.” Toe het hy bygevoeg: “As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie.”—2 Konings 2:9, 10; Deuteronomium 21:17.

Elisa was nou ongetwyfeld selfs meer vasbeslote as ooit om na aan sy heer te bly. Toe het “’n wa van vuur met perde van vuur” verskyn. Reg voor Elisa se verskrikte oë is Elia in ’n windstorm weggeneem—en wonderdadig na ’n ander plek verplaas.b Elisa het Elia se mantel opgetel en na die wal van die Jordaanrivier teruggeloop. Hy het op die water geslaan en gesê: “Waar is die HERE, die God van Elia, ja, Hy?” Die water het verdeel, ’n duidelike bewys dat Elisa God se ondersteuning as Elia se opvolger gehad het.—2 Konings 2:11-14.

Lesse vir ons

Toe Elisa die uitnodiging vir spesiale diens saam met Elia ontvang het, het hy onmiddellik sy saailand verlaat om Israel se vernaamste profeet te bedien. Blykbaar was party van sy take nederig, want hy het bekend geword as die een wat “water op die hande van Elia gegiet het” (2 Konings 3:11).c Elisa het sy werk nietemin as ’n voorreg beskou, en hy het lojaal aan Elia se sy gebly.

Vandag openbaar baie van God se knegte ’n soortgelyke selfopofferende gees. Party het hulle “saailande”, hulle lewensonderhoud, agtergelaat om die goeie nuus in afgeleë gebiede te verkondig of om as lede van ’n Bethelgesin te dien. Ander het na die buiteland gegaan om aan die Genootskap se bouprojekte te werk. Baie het take aanvaar wat as nederige take beskou kan word. Maar niemand wat Jehovah as ’n slaaf dien, verrig ’n onbeduidende diens nie. Jehovah waardeer almal wat hom gewillig dien, en hy sal hulle selfopofferende gees seën.—Markus 10:29, 30.

Elisa het tot die einde toe by Elia gebly. Hy het geweier om die ouer profeet te verlaat, selfs toe hy die geleentheid gebied is. Die hegte verhouding wat hy met Elia opgebou het, het hom ongetwyfeld sulke lojale liefde met plesier laat betoon. Vandag streef God se knegte daarna om hulle verhouding met God te versterk en nader aan hulle medegelowiges te kom. ’n Hegte band van eenheid sal geseën word, want die Bybel sê van Jehovah: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal u lojaal optree.”—2 Samuel 22:26, NW.

[Voetnote]

a Die benaming “profete-seuns” kan dui op ’n opleidingskool vir diegene wat hierdie roeping gehad het of bloot ’n groep profete wat saam gewerk het.

b Elia se boodskap aan koning Joram van Juda is ’n paar jaar later geskryf.—2 Kronieke 21:12-15.

c Dit was gebruiklik dat ’n kneg water oor die hande van sy heer uitgegiet het sodat hy sy hande kon was, veral ná etes. Hierdie gebruik het ooreengekom met die was van voete, wat ’n daad van gasvryheid, respek en, in sekere verhoudings, nederigheid was.—Genesis 24:31, 32; Johannes 13:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel