Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/1 bl. 13-18
  • In die wêreld maar geen deel daarvan nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • In die wêreld maar geen deel daarvan nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groei van wêreldmoondhede
  • Die komende heerskappy van God se Koninkryk
  • Vermy “die merk” van die “dier”
  • Die “dier” en “Caesar”
  • Gewetensgetroue burgers
  • Neutrale Christene in die laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • God en Caesar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vrede, veiligheid en die ‘beeld van die dier’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Wêreld
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/1 bl. 13-18

In die wêreld maar geen deel daarvan nie

“Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, . . . haat die wêreld julle.”—JOHANNES 15:19.

1. Watter verhouding het Christene met die wêreld, maar hoe beskou die wêreld hulle?

GEDURENDE Jesus se laaste nag saam met sy dissipels het hy vir hulle gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie.’ Van watter wêreld het hy gepraat? Hy het immers by ’n vroeëre geleentheid gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die dissipels was klaarblyklik ’n deel van daardie wêreld omdat hulle die eerstes was wat geloof in Jesus beoefen het tot die ewige lewe. Waarom het Jesus dan nou gesê dat sy dissipels afgeskeie van die wêreld was? En waarom het hy verder gesê: “Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, . . . om dié rede haat die wêreld julle”?—Johannes 15:19.

2, 3. (a) Van watter “wêreld” moes Christene geen deel wees nie? (b) Wat sê die Bybel van die “wêreld” waarvan Christene geen deel is nie?

2 Die antwoord is dat die Bybel die woord “wêreld” (Grieks, koʹsmos) op verskillende maniere gebruik. Soos in die vorige artikel verduidelik is, verwys “die wêreld” in die Bybel soms na die mensdom oor die algemeen. Dit is die wêreld wat God liefgehad het en waarvoor Jesus gesterf het. Maar The Oxford History of Christianity sê: “Die ‘wêreld’ is ook ’n term in Christelike gebruik vir iets wat vervreemd van God is en vyandig teenoor hom staan.” Hoe so? Die Katolieke skrywer Roland Minnerath verduidelik in sy boek Les chrétiens et le monde (Christene en die wêreld): “In ongunstige sin word die wêreld dus gesien as . . . die domein waar magte wat God vyandiggesind is hulle bedrywighede uitvoer en wat weens sy teenstand teen Christus se seëvierende heerskappy ’n vyandige ryk onder die beheer van Satan is”. Hierdie “wêreld” is die deel van die mensdom wat van God vervreemd is. Ware Christene is geen deel van hierdie wêreld nie, en hulle word daardeur gehaat.

3 Johannes het hierdie wêreld in gedagte gehad toe hy teen die einde van die eerste eeu geskryf het: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld” (1 Johannes 2:15, 16). Hy het ook geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Jesus self het Satan “die heerser van hierdie wêreld” genoem.—Johannes 12:31; 16:11.

Die groei van wêreldmoondhede

4. Hoe het wêreldmoondhede tot stand gekom?

4 Die huidige mensewêreld wat van God vervreemd is, het kort ná die Vloed van Noag se dag begin ontwikkel, toe baie van Noag se nakomelinge opgehou het om Jehovah God te aanbid. In die vroeë dae was Nimrod, ’n stadsbouer en “’n geweldige jagter in verset teen Jehovah”, ’n prominente man (Genesis 10:8-12, NW). In daardie jare was ’n groot deel van hierdie wêreld georganiseer in klein stadstate, wat van tyd tot tyd bondgenootskappe gevorm het en teen mekaar oorlog gevoer het (Genesis 14:1-9). Party stadstate het ander oorheers en het streekmagte geword. Party streekmagte het uiteindelik gegroei totdat hulle groot wêreldmoondhede geword het.

5, 6. (a) Wat is die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis? (b) Waardeur word hierdie wêreldmoondhede voorgestel, en waar kry hulle hulle krag?

5 Soos Nimrod het die heersers van die wêreldmoondhede Jehovah nie aanbid nie, en daardie feit is in hulle wrede, gewelddadige dade weerspieël. Hierdie wêreldmoondhede word in die Skrif deur wilde diere voorgestel, en deur die gang van die eeue heen identifiseer die Bybel ses wat ’n kragtige impak op Jehovah se volk gehad het. Hulle was Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome. Daar is voorspel dat daar ná Rome ’n sewende wêreldmoondheid sou opstaan (Daniël 7:3-7; 8:3-7, 20, 21; Openbaring 17:9, 10). Dit was die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, wat uit die Britse Ryk bestaan het tesame met sy bondgenoot die Verenigde State, wat Brittanje uiteindelik oorskadu het wat mag betref. Die Britse Ryk het begin ontwikkel nadat die laaste spoor van die Romeinse Ryk uiteindelik verdwyn het.a

6 Die sewe opeenvolgende wêreldmoondhede word in die boek Openbaring voorgestel deur die koppe van ’n sewekoppige wilde dier wat uit die see van die rustelose mensdom opkom (Jesaja 17:12, 13; 57:20, 21; Openbaring 13:1). Wie gee hierdie heersende dier sy krag? Die Bybel antwoord: “Die draak het aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee” (Openbaring 13:2). Die draak is niemand anders nie as Satan die Duiwel.—Lukas 4:5, 6; Openbaring 12:9.

Die komende heerskappy van God se Koninkryk

7. Waarop hoop Christene, en watter uitwerking het dit op hulle verhouding met die regerings van die wêreld?

7 Christene bid al byna 2000 jaar: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Jehovah se Getuies weet dat slegs God se Koninkryk ware vrede op die aarde kan bring. Omdat hulle noukeurig op Bybelprofesieë let, is hulle oortuig dat hierdie gebed binnekort verhoor gaan word en dat die Koninkryk weldra beheer van die aangeleenthede van die aarde sal oorneem (Daniël 2:44). Hulle steun aan hierdie Koninkryk maak hulle neutraal in die aangeleenthede van die regerings van die wêreld.

8. Hoe reageer regerings op die heerskappy van God se Koninkryk, soos Psalm 2 voorspel?

8 Party nasies beweer dat hulle godsdienstige beginsels naleef. Maar in werklikheid ignoreer hulle die feit dat Jehovah die Universele Soewerein is en dat hy Jesus as hemelse Koning met gesag oor die aarde op die troon geplaas het (Daniël 4:17; Openbaring 11:15). ’n Profetiese psalm sê: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Psalm 2:2, 3). Regerings aanvaar geen “bande” of “toue” van God wat die uitoefening van hulle nasionale soewereiniteit beperk nie. Gevolglik sê Jehovah vir Jesus, sy gekose Koning: “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (Psalm 2:8, 9). Maar die mensewêreld waarvoor Jesus gesterf het, sal nie heeltemal “verpletter” word nie.—Johannes 3:17.

Vermy “die merk” van die “dier”

9, 10. (a) Waaroor word ons in die boek Openbaring gewaarsku? (b) Wat word daardeur afgebeeld as iemand ‘die merk van die dier’ het? (c) Watter tekens aanvaar God se knegte?

9 Die Openbaring wat die apostel Johannes ontvang het, het gewaarsku dat die mensewêreld wat van God vervreem is kort voor sy einde al hoe groter eise sou stel, deur “dwang op almal uit [te oefen], klein en groot, en die rykes en die armes, en die vryes en die slawe, dat hulle dié ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop moet gee, en dat niemand sal kan koop of verkoop nie, behalwe iemand wat die merk het” (Openbaring 13:16, 17). Wat beteken dit? ’n Merk op die regterhand is ’n gepaste simbool van daadwerklike ondersteuning. Wat van die merk op die voorkop? The Expositor’s Greek Testament sê: “Hierdie uiters figuurlike uitdrukking sinspeel op die gewoonte om soldate en slawe met ’n opsigtelike tatoeëermerk of brandmerk te merk . . . ; of, nog beter, op die godsdienstige gebruik om ’n god se naam as ’n gelukbringer te dra.” Baie mense toon deur hulle dade en woorde dat hulle simbolies gesproke hierdie merk het, wat hulle as “slawe” of “soldate” van die “dier” identifiseer (Openbaring 13:3, 4). Die Theological Dictionary of the New Testament sê oor hulle toekoms: “Die vyande van God laat toe dat die [merk] van die dier, die raaiselagtige nommer wat sy naam bevat, op hulle voorkop en een hand gestempel word. Dit gee hulle groot geleenthede om op ekonomiese en handelsgebied vooruitgang te maak, maar dit haal hulle die gramskap van God op die hals en sluit hulle uit die duisendjarige koninkryk uit, Op. 13:16; 14:9; 20:4.”

10 Dit verg al hoe meer moed en volharding om die druk te weerstaan om “die merk” te ontvang (Openbaring 14:9-12). Knegte van God het egter daardie krag, en as gevolg daarvan word hulle dikwels gehaat en belaster (Johannes 15:18-20; 17:14, 15). Jesaja het gesê dat hulle, eerder as om die merk van die dier te hê, simbolies gesproke op hulle hand sou skryf: “Ek behoort aan [Jehovah, NW]” (Jesaja 44:5). Aangesien hulle boonop “sug en steun” oor die gruwels wat deur afvallige godsdienste beoefen word, ontvang hulle ’n simboliese teken op hulle voorkop wat hulle identifiseer as mense wat waardig is om gespaar te word wanneer Jehovah se oordele voltrek word.—Esegiël 9:1-7.

11. Wie gee menseregerings toestemming om te heers tot God se Koninkryk kom om heerskappy oor die aarde oor te neem?

11 God laat toe dat menseregerings heers tot die tyd dat Christus se hemelse Koninkryk die heerskappy oor hierdie aarde heeltemal oorneem. Professor Oscar Cullmann verwys in sy boek The State in the New Testament na hierdie Goddelike toelating van politieke state. Hy skryf: “Die komplekse begrip van die ‘tydelike’ aard van die Staat is die rede waarom die gesindheid van die eerste Christene teenoor die Staat nie konsekwent is nie, maar dat dit eerder teenstrydig voorkom. Ek benadruk die feit dat dit so voorkom. Ons hoef maar net Romeine 13:1: ‘Laat elke mens onderdanig wees aan die owerheid . . . ’, in dieselfde asem te noem as Openbaring 13: die Staat as die dier uit die afgrond.”

Die “dier” en “Caesar”

12. Watter gebalanseerde beskouing het Jehovah se Getuies oor menseregerings?

12 Dit sou verkeerd wees om tot die slotsom te kom dat alle mense wat regeringsmag het instrumente van Satan is. Baie het getoon dat hulle beginselvaste mense is, soos die prokonsul Sergius Paulus, wat in die Bybel as “’n intelligente man” beskryf word (Handelinge 13:7). Party heersers het die regte van minderheidsgroepe moedig verdedig omdat hulle deur hulle godgegewe gewete gerig is, al het hulle nie Jehovah en sy voornemens geken nie (Romeine 2:14, 15). Onthou, die Bybel gebruik die woord “wêreld” op twee kontrasterende maniere: die mensewêreld, waarvoor God lief is en waarvoor ons ook lief moet wees, en die wêreld van die mensdom wat van Jehovah vervreem is, waarvan Satan die god is en waarvan ons afgeskeie moet wees (Johannes 1:9, 10; 17:14; 2 Korintiërs 4:4; Jakobus 4:4). Jehovah se knegte het derhalwe ’n gebalanseerde gesindheid ten opsigte van menseheerskappy. Ons is neutraal wat politieke aangeleenthede betref, aangesien ons ambassadeurs of gesante van God se Koninkryk is en ons lewe aan God toegewy is (2 Korintiërs 5:20). Aan die ander kant is ons weens ons gewete onderdanig aan diegene wat gesag het.

13. (a) Hoe beskou Jehovah menseregerings? (b) Hoe ver strek Christelike onderdanigheid aan menseregerings?

13 Hierdie gebalanseerde benadering weerspieël Jehovah God se eie beskouing. Wanneer wêreldmoondhede, of selfs klein staatjies, hulle gesag misbruik, hulle mense onderdruk of diegene vervolg wat God aanbid, verdien hulle beslis om profeties as wrede diere beskryf te word (Daniël 7:19-21; Openbaring 11:7). Maar wanneer landsregerings aan God se doel beantwoord deur reg en orde op regverdige wyse te handhaaf, beskou hy hulle as sy “openbare dienaars” (Romeine 13:6). Jehovah verwag van sy volk om menseregerings te eerbiedig en onderdanig aan hulle te wees, maar hulle onderdanigheid is nie onbeperk nie. Wanneer mense dinge van God se knegte vereis wat deur God se wet verbied word of wanneer hulle dinge verbied wat God van sy knegte vereis, neem laasgenoemde die standpunt in wat die apostels ingeneem het, naamlik: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.

14. Hoe word Christelike onderdanigheid aan menseregerings verduidelik deur Jesus? deur Paulus?

14 Jesus het getoon dat sy volgelinge verpligtinge teenoor regerings sowel as teenoor God sou hê toe hy gesê het: “Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede . . . Maar as jy doen wat sleg is, vrees dan: want dit is nie verniet dat hy die swaard dra nie; want hy is God se dienaar, ’n wreker om gramskap te bring oor die een wat beoefen wat sleg is. Daar is dus dwingende rede vir julle om onderdanig te wees, nie net weens dié gramskap nie, maar ook weens julle gewete. Want dit is waarom julle ook belastings betaal” (Romeine 13:1, 4-6). Van die eerste eeu G.J. af tot vandag toe moes Christene eise oorweeg wat die Staat stel. Hulle moes onderskei of hulle hulle aanbidding sou kompromitteer deur aan daardie eise toe te gee en of sulke eise regmatig was en met ’n skoon gewete nagekom moes word.

Gewetensgetroue burgers

15. Hoe betaal Jehovah se Getuies pligsgetrou terug aan die keiser wat hulle aan hom verskuldig is?

15 Die politieke “hoër owerhede” is God se “dienaar” wanneer hulle die funksie vervul wat God vir hulle goedkeur, wat insluit dat hulle die gesag het “om boosdoeners te straf maar om dié wat goed doen te loof” (1 Petrus 2:13, 14). Jehovah se knegte betaal pligsgetrou terug aan die keiser wat hy die reg het om in die vorm van belasting van hulle te eis, en hulle gaan so ver as wat hulle Bybelopgeleide gewete hulle toelaat om “gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk” (Titus 3:1). “Goeie werk” sluit in dat hulle ander help, soos ten tye van ’n ramp. Baie mense het al getuig van die goedhartigheid wat Jehovah se Getuies in hierdie situasies teenoor hulle medemens betoon het.—Galasiërs 6:10.

16. Watter goeie werke doen Jehovah se Getuies gewetensgetrou vir regerings en hulle medemens?

16 Jehovah se Getuies het hulle medemens lief en voel dat die voordeligste goeie werk wat hulle ten behoewe van hulle medemens kan doen, is om hulle te help om tot ’n juiste kennis te kom van God se voorneme om ’n regverdige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te bewerkstellig (2 Petrus 3:13). Omdat hulle ander van die hoë sedelike beginsels van die Bybel leer en dit self naleef, is hulle ’n aanwins vir die mensegemeenskap en verhoed hulle dat baie by misdaad betrokke raak. Jehovah se knegte is wetsgehoorsaam en het respek vir regeringsministers, amptenare, regters en stadsowerhede, en hulle gee eer aan ‘dié wat eer verlang’ (Romeine 13:7). Getuie-ouers werk met graagte saam met hulle kinders se onderwysers en help hulle kinders om goed te leer, sodat hulle later ’n bestaan kan maak en nie ’n las op die gemeenskap sal wees nie (1 Tessalonisense 4:11, 12). In hulle gemeentes staan die Getuies rassevooroordeel en klasseverskille teë, en hulle heg groot waarde aan die versterking van gesinsbande (Handelinge 10:34, 35; Kolossense 3:18-21). Deur hulle dade toon hulle dus dat die aantygings dat hulle antigesin of nutteloos vir die gemeenskap is, vals is. Die woorde van die apostel Petrus word dus waar bewys: “Dít is die wil van God, dat julle deur goed te doen die onkundige praatjies van die onredelike mense muilband.”—1 Petrus 2:15.

17. Hoe kan Christene voortgaan om “in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is”?

17 Terwyl Christus se ware volgelinge dus ‘geen deel van die wêreld is nie’, is hulle nog altyd in die mensewêreld en moet hulle voortgaan om “in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is” (Johannes 17:16; Kolossense 4:5). Solank Jehovah die hoër owerhede toelaat om sy dienaar te wees, sal ons behoorlike respek vir hulle betoon (Romeine 13:1-4). Hoewel ons neutraal bly wat die politiek betref, bid ons aangaande “konings en almal wat ’n hoë posisie beklee”, veral wanneer hulle besluite moet neem wat vryheid van aanbidding kan raak. Ons sal aanhou om dit te doen “sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”, sodat ‘alle soorte mense gered sal word’.—1 Timoteus 2:1-4.

[Voetnoot]

a Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, hoofstuk 35, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Hersieningsvrae

◻ Van watter “wêreld” is Christene ’n deel, maar van watter “wêreld” kan hulle geen deel wees nie?

◻ Wat word deur “die merk” van die “dier” op ’n mens se hand of voorkop afgebeeld, en watter tekens het Jehovah se getroue knegte?

◻ Watter gebalanseerde beskouing het ware Christene oor menseregerings?

◻ Wat is ’n paar maniere waarop Jehovah se Getuies tot die welsyn van die mensegemeenskap bydra?

[Prent op bladsy 16]

Die Bybel identifiseer menseregerings as God se dienaar en ook as ’n wilde dier

[Prent op bladsy 17]

Jehovah se Getuies is ’n aanwins vir hulle gemeenskap omdat hulle liefdevolle besorgdheid vir ander toon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel