Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/1 bl. 4-7
  • Wêreldeenheid—Hoe sal dit tot stand kom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wêreldeenheid—Hoe sal dit tot stand kom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Dans op die randjie van die graf’
  • Eksterne magte is aan die werk
  • ’n Wêreldregering
  • ’n Verenigde volk uit alle nasies
  • Waar kan ons eenheid vind in hierdie wêreld vol tweedrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe daar in ons behoeftes voorsien sal word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Waarop stuur die wêreld af?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Sal die wêreld verenig?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/1 bl. 4-7

Wêreldeenheid—Hoe sal dit tot stand kom?

SOOS ’n vervalle gebou wat erg verniel is deur ongeërgde huurders is die huidige wêreldstelsel net vir een ding geskik—om vernietig en vervang te word. Dit is nie maar net nog ’n siniese droefgeestige voorspelling nie. Volgens die Bybel is dit die enigste realistiese beskouing. Waarom?

Die fondamente van die huidige wêreldorde is onveilig. Die hele struktuur word geteister deur ’n plaag van termiete en houtswam. Die staalraam is geroes. Die steunmure is verswak. Die dak sak in. Die waterpype lek. Die bedrading is foutief en gevaarlik. Die inwoners baklei onophoudelik en rig moedswillig skade aan dwarsdeur die gebou. Die hele eiendom en omgewing is vol ongediertes en is uiters gevaarlik.

‘Dans op die randjie van die graf’

As gevolg van voortdurende politieke konflikte, hebsug, aggressie en diepgewortelde vyandigheid tussen stamme en etniese groepe “dans die hele menseras”, soos Gwynne Dyer dit stel, “op die randjie van die graf”. Oor die hele wêreld is vasbeslote minderhede—drukgroepe, vryheidsvegters, misdaadbendes, internasionale terroriste en ander—besig om hulle eie selfsugtige doelstellings na te jaag, en dit lyk of hulle enige kans op vrede in die wêreld na willekeur kan laat skipbreuk ly. Soos ontwrigtende huurders kan hulle die lewe vir almal onaangenaam maak.

Volgens baie kommentators is andersdenkende groepe of onbeheerbare individue egter nie die enigstes wat wêreldeenheid dwarsboom nie. Die grootste struikelblok is die volkstaat self. Onafhanklike nasies, sê die oorlogskrywer S. B. Payne jr., is in “’n toestand van internasionale anargie”. Hulle doen wat ook al in die grootste belang van hulle eie land is, met min of geen agting vir ander. Deur die geskiedenis heen was die gevolg hiervan dat ‘die een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9.

Party nasionale regerings het weliswaar binne hulle landsgrense en, in sekere mate op internasionale vlak, ’n mate van sukses behaal in die stryd teen onregverdigheid en onderdrukking. Hulle het van tyd tot tyd ’n mate van internasionale eenheid tot stand gebring. Maar selfs wanneer party saamgestaan het om teen ’n aggressor op te tree, was daar dikwels die vermoede dat hulle eerder uit eiebelang opgetree het as uit ware onbaatsugtigheid. Die werklikheid is dat menseregerings geen omvattende, blywende oplossing vir die verdeeldheid in die wêreld het nie. Gwynne Dyer sê: “Die idee dat al die nasies van die wêreld sal saamstaan om aggressie deur die een of ander dwarstrekkerige land te voorkom of te straf, is in beginsel goed, maar wie bepaal wie die aggressor is, en wie voorsien die geld en ly die verlies aan menselewens wat dalk nodig is om hom te stop?”

Aggressie van een nasie teenoor ’n ander is natuurlik net moontlik wanneer die meeste van daardie nasie se burgers nie teen die aggressie gekant is nie. Die geskiedenis het herhaaldelik getoon dat dit nie bloot in die een of ander “dwarstrekkerige land” is waar burgers ondersteuning gegee het aan hulle leiers, reg of verkeerd, nie. Trouens, die meeste van die aarde se bewoners het dit gedoen. Soos die tydskrif Time dit gestel het, het hulle die “leuens, opswepery en propaganda” van ’n stroom politieke en godsdiensleiers blindelings gevolg.

Nasionalisme het die emosies van mense wat andersins redelik en medelydend is, laat opvlam en hulle gruwelike wandade teen mans, vrouens en kinders van ander nasionaliteite laat pleeg. Die geskiedskrywer J. M. Roberts sê byvoorbeeld van die Eerste Wêreldoorlog: “Een van die paradokse van 1914 is dat groot getalle mense van alle partye, gelowe en klasse in elke land, verbasend genoeg, heel gewillig en tevrede was om oorlog te gaan maak.” Het mense sedertdien hulle les geleer? Nee! Die monster van “blinde nasionalisme”, soos die joernalis Rod Usher dit genoem het, verongeluk steeds enige kans op wêreldeenheid.

Eksterne magte is aan die werk

Daar is egter ’n groter hindernis in die weg van wêreldeenheid. Die Bybel openbaar dat eksterne magte aan die werk is. Hulle word geïdentifiseer as Satan die Duiwel en sy trawante, die demone. Volgens die Bybel is Satan “die god van hierdie stelsel van dinge [wat] die verstande van die ongelowiges verblind het”, sodat “die heerlike goeie nuus oor die Christus” geen indruk op hulle maak nie.—2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:9.

Dit onthef individue natuurlik nie van aanspreeklikheid vir hulle eie dade nie. Maar dit verduidelik wel waarom menseregerings nooit ’n waarlik verenigde wêreld tot stand kan bring nie. Solank Satan die Duiwel daar is, sal hy manne en vroue beïnvloed om aan te kweek wat die Bybel “die werke van die vlees” noem, onder meer ‘vyandskappe, twis, rusies en verdeeldhede’.—Galasiërs 5:19-21.

’n Wêreldregering

Wat is dan die oplossing? Sowat sewehonderd jaar gelede het die welbekende Italiaanse digter en wysgeer Dante op die antwoord gewys. Hy het geredeneer dat net ’n wêreldregering die vrede en eenheid van die mensdom kan verseker. Vir baie mense is die hoop op enige vorm van wêreldregering bloot ’n illusie, nie iets waarin ’n mens ware vertroue kan stel nie. “’n Wêreldregering”, sê die bogemelde skrywer Payne, “is op hierdie tydstip in die geskiedenis buite die kwessie.” Waarom? Omdat enige suksesvolle wêreldregering twee dinge sal moet waarborg wat klaarblyklik heeltemal buite die mens se vermoë is, naamlik dat “’n wêreldregering oorlog sal beëindig en dat ’n wêreldregering nie ’n wêreldwye tirannie sal wees nie”.

Dit staan vas dat geen menseregering ooit hieraan sal kan voldoen nie. Maar God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus kan en sal oorlog afskaf (Psalm 46:10, 11; Matteus 6:10). Trouens, dit sal alle oorlogstokers uit die weg ruim. Die profeet Daniël toon dat menseheerskappy oor die aarde aan die einde van God se vasgestelde tyd daarvoor ‘verdeeld’ sal wees soos “yster [wat] met kleigrond gemeng” is (Daniël 2:41-43). Dit sal lei tot politieke versplintering en onvermydelike konflik. Maar Daniël sê dat God se Koninkryk “al daardie [nasionalistiese en verdeelde] koninkryke”, of regerings, ‘sal verbrysel en ’n einde daaraan sal maak’ deur dit met sy langverwagte Koninkryk in die hande van Jesus Christus te vervang.—Daniël 2:44.

Dit sou sinneloos wees om ’n pragtige omgewing vir mense te skep indien die aarde steeds bewoon word deur roofsugtige persone wat aanhou om die lewe vir ander onaangenaam te maak. Maar “die kwaaddoeners sal uitgeroei word” (Psalm 37:1, 2, 9, 38; Spreuke 2:22). Christus sal gevolglik almal verwyder wat opsetlik God se standaarde verwerp of wat ontwrigtende wêreldse owerhede ondersteun. Hy sal almal vernietig wat hierdie planeet skend. God belowe “om die verderwers van die aarde te verderf”.—Openbaring 11:18.

Dit sal nie ’n soort wêreldwye tirannie wees nie. Jesus Christus sal “ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid” optree wanneer hy die goeie mense van die slegtes skei (Psalm 45:4, 5; Matteus 25:31-33). Dit is ook nie bloot negatief en verwoestend, ’n misbruik van mag, nie. Nee! Dit is nie asof ’n pragtige ou gebou deur ’n hebsugtige eiendomsontwikkelaar gesloop gaan word nie. Dit sal meer wees soos die vernietiging van ’n vervalle krotgebou om plek te maak vir ’n pragtige, skoon omgewing.

Maar wat van die eksterne magte wat in die verlede soveel verdeeldheid veroorsaak het? Sal hulle in hierdie nuwe stelsel kan indring sodat die mense wat daarin woon die vernietigende proses weer van voor af sal begin deur met mede-inwoners te baklei en die lewe vir almal onaangenaam te maak? Beslis nie. Hierdie uitsetting en vernuwing is finaal en volledig. “Die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.”—Nahum 1:9.

Die Bybel vergelyk die finale vernietiging van Satan met die verbranding van vullis. Dit sê: “Die Duiwel, wat [die bewoners van die aarde] mislei het, is in die poel van vuur en swael geslinger” (Openbaring 20:10). Wat ’n kragtige sinnebeeld! Dink daaraan: ’n Vernietiging wat nie bloot met ’n klein verbrandingsoond vergelyk word wat net ’n beperkte kapasiteit het nie, maar met ’n hele poel van vuur, wat alles wat boos en besoedel is, verteer en vernietig. Niemand, geen mens of demoon, sal toegelaat word om dinge te bly doen wat die universele orde bedreig, wat God se standaarde van reg en verkeerd skend of wat hulle medemens leed aandoen nie. Alle verwoesters van eenheid sal weg wees!—Psalm 21:10-12; Sefanja 1:18; 3:8.

’n Verenigde volk uit alle nasies

Die oorlewendes van hierdie groot skoonmaakprojek sal “’n groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” vorm (Openbaring 7:9). Nasionale en stamverskille sal hulle nie verdeel nie. Hulle sal leer om in vreedsame harmonie saam te leef (Jesaja 2:2-4). Wat selfs wonderliker is, is dat voormalige bewoners van die planeet deur middel van die wonderlike voorsiening van die opstanding by hulle sal aansluit om die gereinigde aarde te bewoon.—Johannes 5:28, 29.

Wil jy graag in so ’n wêreld lewe? Net diegene wat aan God se vereistes voldoen, sal toegelaat word om dit te doen, en sy vereistes word duidelik in die Bybel uiteengesit (Johannes 17:3; Handelinge 2:38-42). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om te leer wat God vereis sodat jy die vooruitsig kan hê om vir ewig in ’n waarlik verenigde wêreld te lewe.

[Prent op bladsy 7]

’n Regering in die hande van Jesus Christus sal ’n verenigde wêreld waarborg

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel