Wêreldeenheid—Sal dit ooit ’n werklikheid wees?
“INDIEN ons gedurende die volgende paar geslagte daarin sou slaag om die wêreld van onafhanklike state waarin ons lewe te omskep in ’n soort ware internasionale gemeenskap, . . . dan sou ons in werklikheid ook ’n einde gemaak het aan die eeue oue instelling van oorlogvoering . . . Maar indien ons misluk, sal daar waarskynlik . . . geen beskawing wees nie.” Dit is wat die militêre geskiedskrywer Gwynne Dyer in sy boek met die titel War sê.
Die annale van die geskiedenis, sê Dyer, is vol verslae van nasies en ander magtige groepe wat hulle geskille deur oorlog besleg het. Hulle verdeeldheid het die lewens van miljoene slagoffers verwoes. Koning Salomo se beskrywing van hoe mense in sy dag daardeur geraak is, is vandag nog toepaslik. Hy het geskryf: “Weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.”—Prediker 4:1.
Soos die bogenoemde geskiedskrywer toon, is daar deesdae, buiten simpatie vir die “trane van verdruktes”, ’n bykomende rede waarom ’n manier gevind moet word om die wêreld van onafhanklike state in ’n soort ware internasionale gemeenskap te omskep: Die voortbestaan van die beskawing hang daarvan af! Moderne oorlogvoering het die vermoë om elke nasie wat hom daartoe wend te vernietig en sal geen oorwinnaars agterlaat nie.
Wêreldeenheid op hande?
Wat is die vooruitsigte vir wêreldeenheid? Kan die mensegemeenskap die verdelende kragte oorkom wat die aarde se voortbestaan bedreig? Party dink so. Die militêre redakteur van Brittanje se Daily Telegraph, John Keegan, skryf: “Ondanks verwarring en onsekerheid lyk dit tog moontlik dat ’n mens ’n vae blik kan kry op die geleidelike verskyning van ’n wêreld sonder oorlog.”
Wat gee hom hierdie optimistiese beskouing? Waarom lyk baie mense hoopvol ten spyte van die mensdom se lang geskiedenis van oorlogvoering en die mens se skynbare onvermoë om suksesvol oor homself te regeer? (Jeremia 10:23). ‘Die mensdom beweeg vorentoe. Die geskiedenis toon ’n patroon van voortdurende vooruitgang’, het party vroeër geredeneer. Selfs vandag glo baie dat die mens se inherente goedheid op die een of ander manier oor boosheid sal seëvier. Is dit ’n realistiese hoop? Of is dit bloot ’n illusie wat tot nog teleurstelling sal lei? In sy boek Shorter History of the World het die geskiedskrywer J. M. Roberts realisties geskryf: “Die wêreld se toekoms kan hoegenaamd nie as seker beskryf word nie. Geen einde aan menselyding is nou in sig nie en daar is ook geen rede om te glo dat dit die geval moet wees nie.”
Is daar geldige redes om te glo dat volke en nasies werklik hulle wedersydse wantroue en verdelende verskille sal oorkom? Of is iets meer as mensepogings nodig? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.