Sunem—Gekenmerk deur liefde en geweld
DIE stad Sunem was in suidelike Galilea, aan die oostekant van die laagvlakte van Jisreël. Hierdie klein stad het twee van die betekenisvolste veldslae in die Bybelgeskiedenis gesien, maar dit het ook bekendheid verwerf as die geboorteplek van twee vroue wat voorbeelde van lojale liefde was.
Die heuwel wat agter Sunem gelê het, was vermoedelik More, terwyl die berg Gilboa sowat agt kilometer daarvandaan aan die oorkant van die vlakte gestaan het. Tussen daardie twee heuwels was daar ’n waterryke, vrugbare land—een van die streke in Israel wat die grootste oeste opgelewer het.
Hierdie welige landelike gebied om Sunem is die agtergrond vir een van die mooiste liefdesverhale wat nog ooit vertel is—Die Hooglied van Salomo. Hierdie lied vertel van ’n pragtige plattelandse meisie wat verkies het om eerder met haar herdervriend te trou as om koning Salomo se aanbod te aanvaar om een van sy vrouens te word. Salomo het al sy wysheid en rykdom ingespan om haar hart te probeer verower. Hy het haar keer op keer geprys: “Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son?” En hy het beloof om haar te bederf met al die juweliersware waarvan sy kon droom.—Hooglied 1:11; 6:10.
Om haar ’n voorsmakie van die koninklike lewe te gee, het Salomo haar saam met hom na Jerusalem laat gaan as deel van sy gevolg, vergesel van 60 van sy beste soldate (Hooglied 3:6-11). Hy het haar in sy koninklike hof gehuisves, ’n hof wat so indrukwekkend was dat “daar in [die koningin van Skeba] geen gees meer” was toe sy dit sien nie.—1 Konings 10:4, 5.
Maar die meisie van Sunem was lojaal teenoor die jong herder. “Soos ’n appelboom onder die bome van die bos,” het sy gesê, “so is my beminde” (Hooglied 2:3). Laat Salomo hom maar oor sy duisend wingerde verbly. Een wingerd—saam met haar geliefde—was genoeg vir haar. Haar liefde was onwankelbaar.—Hooglied 8:11, 12.
Nog ’n pragtige vrou het in Sunem gewoon. Ons weet niks van haar fisiese voorkoms nie, maar sy het beslis ’n mooi hart gehad. Die Bybel sê sy het ‘sorg bestee’—of baie moeite gedoen—om gereelde maaltye en huisvesting aan die profeet Elisa te voorsien.—2 Konings 4:8-13.
Ons kan ons voorstel hoe Elisa ná ’n lang, vermoeiende reis met ’n dankbare hart teruggekeer het na die klein bo-kamer wat sy en haar man vir hom gebou het. Hy het hulle huis waarskynlik dikwels besoek, aangesien sy bediening oor 60 jaar gestrek het. Waarom het hierdie Sunamitiese vrou daarop aangedring dat Elisa by hulle bly elke keer as hy daar verbygegaan het? Omdat sy Elisa se werk op prys gestel het. Hierdie nederige, selfopofferende profeet het as die gewete van die nasie gedien deur konings, priesters en die gewone mense te herinner aan hulle plig om Jehovah te dien.
Die Sunamitiese vrou was ongetwyfeld een van die mense wat Jesus in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Hy wat ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning kry” (Matteus 10:41). Jehovah het hierdie godvresende vrou ’n spesiale beloning gegee. Hoewel sy baie jare lank onvrugbaar was, het sy geboorte gegee aan ’n seun. Jare later het sy ook Goddelike hulp ontvang toe ’n hongersnood wat sewe jaar geduur het die land verwoes het. Hierdie roerende verhaal herinner ons daaraan dat die goedhartigheid wat ons teenoor God se knegte betoon altyd deur ons hemelse Vader raakgesien word.—2 Konings 4:13-37; 8:1-6; Hebreërs 6:10.
Twee beslissende veldslae
Hoewel Sunem onthou word as die tuiste van hierdie twee lojale vroue, het dit ook twee veldslae gesien wat die verloop van Israel se geskiedenis verander het. Daar was ’n ideale slagveld daar naby—die vlakte tussen die heuwels More en Gilboa. Militêre bevelvoerders in Bybeltye het sonder uitsondering laer opgeslaan waar daar ’n oorvloed water, hoogliggende grond vir beskerming en, indien moontlik, ’n uitkykpunt was met ’n goeie uitsig op ’n droë valleivlakte met genoeg ruimte waarop hordes manskappe, perde en strydwaens kon rondbeweeg. Sunem en Gilboa het sulke voordele gehad.
Gedurende die tyd van die rigters het ’n leër van 135 000 Midianiete, Amalekiete en ander in die vlakte voor More laer opgeslaan. Hulle kamele was “ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte” (Rigters 7:12). Teenoor hulle, aan die oorkant van die vlakte, by die fontein Harod aan die voet van berg Gilboa, was die Israeliete onder rigter Gideon, wat net 32 000 soldate gehad het.
Gedurende die dae voor ’n veldslag het elke kant probeer om die ander te demoraliseer. Die hordes koggelende troepe, die oorlogskamele, die strydwaens en die perde kon die voetsoldate se harte met vrees vul. Die Midianiete—wat reeds in posisie was terwyl die Israeliete versamel het—was ongetwyfeld ’n vreesaanjaende gesig. Toe Gideon gevra het: ‘Wie is bang en bewe?’ het twee derdes van sy leer daarop gereageer deur die slagveld te verlaat.—Rigters 7:1-3.
Net 10 000 Israelitiese troepe het nou oor die vlakte na die 135 000 vyandelike soldate gestaar, en kort daarna het Jehovah die aantal Israelitiese soldate tot ’n skrale 300 verminder. Volgens die Israeliete se gebruik is hierdie klein groepie in drie afdelings verdeel. Onder die sluier van die nag het hulle uitgesprei en hulle stellings aan drie kante van die vyandelike laer ingeneem. Toe het die 300 op die bevel van Gideon die kruike stukkend geslaan waarin hulle hulle fakkels versteek het, daardie fakkels omhoog gehou en uitgeroep: “Die swaard van die HERE en van Gideon!” Hulle het op hulle ramshorings geblaas en aangehou blaas. In die donker het die verraste gemengde skare soldate gedink dat dit 300 groepe is wat hulle aanval. Jehovah het hulle teen mekaar laat draai, en ‘die hele laer het gehardloop en geskreeu en gevlug’.—Rigters 7:15-22; 8:10.
’n Tweede veldslag het gedurende die tyd van koning Saul naby Sunem plaasgevind. Die Bybel sê dat “die Filistyne bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan [het] in Sunem. En Saul het die hele Israel versamel, en hulle het laer opgeslaan op Gilboa”, net soos Gideon se leër jare tevore gedoen het. Maar anders as Gideon het Saul min vertroue in Jehovah gehad en verkies om die medium in Endor te raadpleeg. Toe hy die laer van die Filistyne sien, “het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe”. In die veldslag wat gevolg het, het die Israeliete op die vlug geslaan en het hulle ’n swaar nederlaag gely. Saul sowel as Jonatan het hulle lewe verloor.—1 Samuel 28:4-7; 31:1-6.
So is die geskiedenis van Sunem dan gekenmerk deur liefde sowel as geweld, geloof in Jehovah en vertroue op die demone. In hierdie valleivlakte was twee vroue standvastig in die manier waarop hulle liefde en gasvryheid betoon het en was twee Israelitiese leiers in beslissende veldslae betrokke. Al vier voorbeelde toon die belangrikheid van vertroue op Jehovah, wat nooit nalaat om diegene te beloon wat hom dien nie.
[Prent op bladsy 31]
Die moderne dorpie Sulam op die terrein van eertydse Sunem, met More op die agtergrond
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.