Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 9/1 bl. 25-28
  • My hart loop oor van dankbaarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My hart loop oor van dankbaarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dankbaar vir goeie voorbeelde
  • Ek neem standpunt in vir die waarheid
  • Dankbaar vir my bediening
  • Ek kry ’n getroue lewensmaat
  • Dankbaar vir ons lewe saam
  • Ek hou al 70 jaar vas aan die slip van ’n Jood
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • My pa se getroue voorbeeld
    Ontwaak!—1993
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 9/1 bl. 25-28

My hart loop oor van dankbaarheid

SOOS VERTEL DEUR JOHN WYNN

Hoe dikwels het ek nie daarteen gestribbel om na die vergaderinge van Jehovah se Getuies te gaan nie! Ek het gemaak of ek maagpyn of hoofpyn het—enigiets sodat ek nie nodig gehad het om vergadering toe te gaan nie. Maar die fermheid van my ma het sulke kwale gou laat verdwyn, en dan het ek maar die drie kilometer na die Koninkryksaal saam met haar geloop en geluister terwyl sy met ’n ouer vriendin oor God se Woord gepraat het.

DIT het my ’n waardevolle les geleer: Ouers moet nooit ophou om op ’n liefdevolle wyse ferm te bly by wat reg is in God se oë nie (Spreuke 29:15, 17). Hulle moet nooit die Goddelike bevel vergeet om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’ (Hebreërs 10:25). Wanneer ek op my lewe terugkyk, is ek baie dankbaar dat my ma gesorg het dat ek doen wat die beste vir my is!

Dankbaar vir goeie voorbeelde

Hoewel my pa ’n ongelowige was, was hy verdraagsaam teenoor my ma se oortuigings toe sy ’n Bybelstudent geword het, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. In 1913 het sy na die toespraak “Anderkant die graf” gaan luister wat deur Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, gehou is. Sy het egter laat daar aangekom, en daar was nie meer sitplek oor nie. Sy is gevolglik genooi om saam met die ander laatkommers naby die verhoog te sit, by pastor Russell. Daardie toespraak het ’n groot indruk op haar gemaak. Dit het die volgende dag in die plaaslike koerant verskyn, en sy het ’n uitknipsel daarvan gehou en dit dikwels gelees.

Ná die vergadering het my ma ’n papier met haar naam daarop ingegee, en ’n Bybelstudent het weldra met haar in verbinding getree. Mettertyd het sy begin om Bybeltraktate van deur tot deur te versprei in ons tuisdorp Gloucester, Engeland. Ek en my twee susters het van ’n baie vroeë ouderdom saam met my ma in die predikingswerk uitgegaan.

Toe Harry Francis, ’n ywerige Bybelstudent, na Gloucester verhuis het, het my ma hom hartlik verwelkom. Hy het kort daarna persoonlike aandag aan my begin gee, en sy aansporing het ’n groot rol daarin gespeel dat ek later ’n pionier geword het, soos voltydse bedienaars genoem word. Die voorbeeld van broer Francis het my ’n belangrike les geleer: Ouer persone moet altyd na maniere soek om die jongeres aan te moedig.

Toe my ma ’n Bybelstudent geword het, het ander in Gloucester dieselfde gedoen. Party ouer manne in die gemeente het egter te veel van hulleself begin dink, en lede van die klas—soos die gemeente destyds genoem is—het individue begin navolg. By een vergadering het party my ma die hele tyd sover probeer kry om haar hand op te steek ter ondersteuning van sekere ouer manne. Maar my ma het geweet dat hulle nie ’n goeie voorbeeld stel nie, en sy het geweier om geïntimideer te word. Gedurende daardie tyd, in die laat twintigerjare, het baie weggeval en opgehou om die weg van die waarheid te bewandel (2 Petrus 2:2). My ma het egter nooit opgehou om die organisasie lojaal te ondersteun nie, en het sodoende ’n goeie voorbeeld vir my gestel.

Ek neem standpunt in vir die waarheid

Ek is uiteindelik in Junie 1939, toe ek 18 was, in die Severnrivier gedoop. Daardie jaar is ek ook as klankkneg aangestel. Destyds het ons ’n groot transkripsiemasjien gebruik wat die boodskap “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel” in openbare plekke uitgebasuin het. Destyds het die klem geval op die blootlegging van die huigelary en valse leringe van die Christendom.

By een geleentheid het ek aan die voorpunt van ’n optog geloop en ’n banier gedra wat aan die een kant gesê het: “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel” en aan die ander kant: “Dien God en Christus die Koning”. Agter ons het ’n ponie geloop met groot plakkate aan weerskante van sy rug wat die openbare toespraak geadverteer het. Wat ’n gesig moes daardie optog tog gewees het in Gloucester, ’n baie godsdienstige stad!

Ondanks finansiële probleme by die huis het my ma my aangemoedig om ’n pionier te word. Ek het gevolglik in September 1939, aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, by my eerste pioniertoewysing in Leamington, ’n klein dorpie in die graafskap Warwick, aangekom. ’n Hele aantal afgetrede geestelikes het in die dorpie gewoon.

Ons het ’n draagbare grammofoon in ons bediening van huis tot huis gebruik en toesprake van Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, gespeel. Ons transkripsiemasjien (wat vir groter gehore gebruik kon word) was egter baie swaarder, en ons het dit in ’n kinderwaentjie rondgestoot. Soms het geestelikes, wat ontstoke was oor die boodskap wat valse godsdiens ontmasker het, ons van hulle eiendom af weggejaag. Maar ons het nie mismoedig geraak nie. Jehovah het ons werk geseën, en vandag is daar ’n gemeente met meer as honderd Getuies in Leamington.

In 1941, terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, het ek na Wallis verhuis, waar ek in die dorpe Haverfordwest, Carmarthen en Wrexham pionierdiens gedoen het. As ’n voltydse bedienaar is ek vrygestel van militêre diens, maar mense het nie van ons neutrale standpunt gehou nie. Gevolglik is ek en my maat vir spioene of vyfdekolonners uitgemaak. Een nag het die polisie ons woonwa omsingel. My maat, wat pas teruggekom het van sy werk waar hy steenkool gelaai het, het sy kop uitgesteek om te kyk wie daar is. Sy gesig was die ene steenkoolstof, en vir die polisie het dit gelyk of hy gereed was vir ’n kommando-aanval. Dit was ’n moeilike situasie om te verduidelik!

Ons is ryklik geseën in ons toewysings. By een geleentheid, terwyl ons in Carmarthen was, het John Barr van die takkantoor in Londen (nou ’n lid van die Bestuursliggaam) ’n bemoedigende besoek by ons afgelê. Daar was destyds net ’n paar verkondigers in Carmarthen; nou is daar meer as honderd. Wrexham het tans drie gemeentes, en ek het onlangs die voorreg gehad om ’n pragtige Koninkryksaal in Haverfordwest toe te wy.—1 Korintiërs 3:6.

Dankbaar vir my bediening

Terwyl ons in Swansea, Suid-Wallis, was, is my maat, Don Rendell, vrystelling van diensplig geweier. Hy is in die gevangenis gesit al het hy verduidelik dat sy gewete hom nie toelaat om oorlog te voer teen mede-Christene in ander lande nie (Jesaja 2:2-4; Johannes 13:34, 35). Ek het die transkripsiemasjien daar naby gesit en Bybeltoesprake gespeel om hom aan te moedig en ook om vir die bure ’n getuienis te gee.

Maar die plaaslike vroue het nie hiervan gehou nie en het onder mekaar geld ingesamel om soldate te betaal om my en my metgesel aan te rand. Ons het so vinnig as wat ons kon weggehardloop en die veiligheid van die Koninkryksaal opgesoek—ek het ook nog die kinderwaentjie met die transkripsiemasjien gestoot. Maar toe ons daar kom, was dit gesluit! Dit was net die tydige ingryping van die polisie wat gekeer het dat ons ernstig aangerand word.

Die voorval het blykbaar heel bekend geword. Toe ek ’n tydjie later in die platteland naby Swansea predikingswerk gedoen het, het ’n man goedkeurend vir my gesê: “Julle kom op vir die Christelike godsdiens, soos die jong man in Swansea wat moedig sy geloof verkondig het en toe moes weghardloop.” Hoe verbaas was hy tog toe hy uitvind dat ek daardie jong man was!

Pionierdiens was nie maklik gedurende daardie oorlogsjare nie. Ons het nie baie wêreldse besittings gehad nie, maar ons het dit wat ons wel gehad het, waardeer en geniet. Ons het altyd gereeld geestelike voedsel ontvang, en ons het nooit van ’n vergadering weggebly nie, behalwe wanneer ons siek was. Ek het ’n ou fiets gekoop, en ons het groot mandjies daarop laat aanbring waarin ons ’n grammofoon asook Bybellektuur gedra het. Soms het ek 80 kilometer per dag met die fiets gery! Ek het ongeveer sewe jaar lank pionierdiens gedoen en het goeie herinneringe aan daardie dae.

In 1946, ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is ek genooi om te gaan werk by Bethel, soos die hooffasiliteite van Jehovah se Getuies in hulle onderskeie lande genoem word. Ons Bethel was destyds by Craven Terrace 34, langs die London Tabernacle. Ek het dit geniet om met die ouer mense daar te assosieer, soos Alice Hart, wie se vader, Tom Hart, glo die eerste Getuie in Engeland was.

Ek kry ’n getroue lewensmaat

In 1956 het ek Bethel verlaat om met Etty te trou, ’n pionier met wie ek bevriend geraak het toe sy van Nederland gekom het om by haar suster te kuier wat toe in Londen gewoon het. Teen die einde van die oorlog het Etty klas gegee in tik en snelskrif by ’n handelskool in Tilburg, in die suide van Nederland. Eendag het ’n ander onderwyser aangebied om per fiets saam met haar huis toe te ry om seker te maak dat sy veilig tuiskom. Hy was ’n Rooms-Katoliek. Toe hulle daar aankom, het hulle in ’n gesprek betrokke geraak met Etty se Protestantse ouers. Hulle het vriende geraak, en die onderwyser het gereeld by hulle huis kom kuier.

Kort ná die einde van die oorlog het hierdie onderwyser by Etty se huis aangekom en uitgeroep: “Ek het die waarheid gevind!”

“Ek het gedink jy het gesê dat jy die waarheid het toe jy ’n Rooms-Katoliek was!” het Etty se pa gesê.

“Nee!” het hy opgewonde geantwoord. “Dis Jehovah se Getuies wat die waarheid het!”

Daardie aand en baie ander daarna het hulle diep Bybelbesprekings gehad. Kort daarna het Etty ’n pionier geword. Sy het ook bitter teenstand in haar bediening ondervind, wat in Nederland van die Rooms-Katolieke Kerk gekom het. Kinders, wat deur die priesters opgesteek is, het haar gesprekke ontwrig wanneer sy van huis tot huis gegaan het, en by een geleentheid het hulle haar fiets beskadig. Sy het haar fiets na ’n herstelwerker geneem wat vroeër ’n boekie by haar geneem het. “Kyk wat het die kinders gedoen!” het sy snikkend gesê.

“Toemaar, moenie moed opgee nie”, het die man vriendelik geantwoord. “Jy doen ’n baie goeie werk. Ek sal jou fiets verniet regmaak.” En hy het ook.

Etty het gevind dat die priesters min belangstelling in hulle kuddes getoon het totdat sy die Bybel saam met hulle begin studeer het. Dan het die priesters en nonne kom besoek aflê om die mense se geloof in die Bybel sowel as in Jehovah te ondermyn. Desondanks het sy baie vrugbare Bybelstudies gehad.

Dankbaar vir ons lewe saam

Ná ons troue het ek en Etty die toewysing ontvang om reisende werk in Engeland te doen, en byna vyf jaar lank het ons gemeentes besoek om hulle geestelik te versterk. Toe het ek ’n uitnodiging ontvang om die 36ste klas van Gilead by te woon, wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gehou is. Die kursus van tien maande, wat in November 1961 geëindig het, was veral bedoel om manne op te lei om werk in takkantore van Jehovah se Getuies te behartig. Terwyl ek weg was, het Etty in Engeland agtergebly by die Londense Bethel. Ná my graduering het ons ’n toewysing ontvang om saam daar te dien.

Die volgende 16 jaar het ek in die diensafdeling gewerk en sake hanteer wat met gemeentelike bedrywighede verband gehou het. In 1978, ná die dood van die huisopsiener van Bethel, Pryce Hughes, is ek in sy plek aangestel. Dit was werklik ’n lonende toewysing om deur al hierdie jare heen verantwoordelik te wees vir die welsyn van die lede van ons groeiende Bethelgesin—daar is nou meer as 260 in ons gesin.

In 1971 is my dierbare ma op die ouderdom van 85 oorlede. Ek en Etty het teruggegaan Gloucester toe vir die begrafnis, waar ’n broer die hemelse hoop wat my ma gehad het mooi verduidelik het (Filippense 3:14). Ek is dankbaar vir die liefdevolle manier waarop my susters, Doris en Grace, my ma op haar oudag versorg het, want dit het dit vir my en Etty moontlik gemaak om in die voltydse bediening te bly.

Ek en Etty dink dikwels aan ons ouers en hoe hulle ons op so ’n liefdevolle, ferm manier grootgemaak het. Ons is hulle sovéél verskuldig! My ma het in die besonder ’n wonderlike voorbeeld vir my en my susters gestel en waardering vir Jehovah en sy organisasie by ons ingeskerp.

Ons harte loop inderdaad oor van dankbaarheid wanneer ons dink aan elke nuwe dag van diens aan ons hemelse Vader, Jehovah. Wat ’n wonderlike, liefdevolle God is hy tog! Die Bybelpsalmis het ons gevoelens uitgedruk toe hy geskryf het: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.”—Psalm 145:1, 2.

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou, Etty

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel