Vrae van lesers
Aangesien Jehovah se Getuies eerlik probeer wees en hulle mekaar vertrou, waarom voel hulle dat dit belangrik is om ’n kontrak op te stel wanneer hulle sake met mekaar doen?
Dit is skriftuurlik, prakties en liefdevol van hulle om dit te doen. Hoe so? Wel, kom ons kyk na daardie aspekte van sakekontrakte.
Die Bybel bevat ’n geskrewe verslag van God se handelinge met sy verbondsvolk, die Israeliete. Dit sluit saketransaksies in waarby ware aanbidders betrokke was. Genesis hoofstuk 23 bevat ’n verslag waarna ons kan kyk. Toe Abraham se geliefde vrou Sara gesterf het, wou hy ’n graf koop. Hy het met Kanaäniete begin onderhandel wat naby Hebron gewoon het. Verse 7-9 toon dat hy ’n spesifieke prys aangebied het vir die stuk grond wat hy wou hê. Vers 10 bewys dat hierdie aanbod in die openbaar gedoen is, ten aanhore van ander by die stadspoort. Vers 13 toon dat die eienaar aangebied het om die grond vir Abraham te gee, maar hy het geantwoord dat hy slegs die grond sou neem as hy dit kon koop. En verse 17, 18 en 20 verduidelik dat dit so gebeur het en bevestig is “voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het”.
Maar sou dit anders wees wanneer die twee wat sake doen albei ware aanbidders is? Hoofstuk 32 van Jeremia verskaf ’n antwoord. Van vers 6 af sien ons dat Jeremia grond van sy neef moes koop. Vers 9 toon dat hulle oor ’n redelike prys ooreengekom het. Lees nou verse 10-12: “En ek [Jeremia] het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een—volgens voorskrif en wetlike bepalinge—en die oop een, en die koopbrief aan Barug, die seun van Neria, die seun van Magseja, gegee voor die oë van Hanameël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het.”
Ja, hoewel Jeremia met ’n medeaanbidder, selfs ’n familielid, sake gedoen het, het hy deur ’n aantal redelike regsformaliteite gegaan. Twee geskrewe verslae is opgestel—die een is oop gelos sodat dit maklik geraadpleeg kon word en die ander is verseël as bewys waarna later terugverwys kon word ingeval daar ooit enige twyfel oor die akkuraatheid van die oop verslag ontstaan het. Dit alles is “voor hulle oë” afgehandel, soos vers 13 sê. Dit was dus ’n openbare, wettige saketransaksie met getuies. Dit is derhalwe duidelik dat ware aanbidders skriftuurlike presedente het om sake op so ’n bevestigde en gedokumenteerde wyse te hanteer.
Dit is ook prakties. Ons weet hoe waar die spreuk is dat ‘tyd en lotgeval almal tref’ (Prediker 9:11). Dit sluit toegewyde en getroue Christene in. Jakobus 4:13, 14 stel dit só: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié stad reis en ’n jaar daar deurbring, en ons sal sake doen en wins maak’, terwyl julle nie weet wat julle lewe môre sal wees nie.” Ons kan dus met ’n projek begin, soos om iets te koop, ’n werk te doen of ’n diens te lewer waaroor ooreengekom is of ’n item vir iemand te maak. Maar wat hou môre—of volgende maand of volgende jaar—in? Wat sou gebeur as ons of die ander party ’n ongeluk het? Dit kan dit onmoontlik laat lyk om die ooreenkoms na te kom. Gestel ons kan nie die werk doen of die diens lewer nie of hy vind dit haas onmoontlik om daarvoor te betaal of sy deel van die ooreenkoms na te kom. As daar geen geskrewe ooreenkoms is nie, kan ernstige probleme ontstaan—probleme wat uitgestryk kan word of wat voorkom kon geword het deur ’n eenvoudige geskrewe kontrak te hê.
Daarbenewens moet ons nie vergeet nie dat die uiters onsekere aard van baie aspekte van die lewe selfs kan beteken dat iemand anders ons (of sy) sakeaangeleenthede sal moet oorneem of beredder. Jakobus het in vers 14 bygevoeg: “Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.” Ons kan, realisties gesproke, onverwags sterf. ’n Geskrewe ooreenkoms, ’n kontrak, kan ander in werklikheid in staat stel om voort te gaan om sake te hanteer as iets onvoorsiens met een van die partye gebeur.
Dit lei in sekere sin ook tot die derde aspek—geskrewe kontrakte is liefdevol. Dit sal beslis liefdevol van ’n Christen wees om ’n geskrewe verslag van sy verpligtinge of finansiële verwagtinge te voorsien, ingeval een van die partye sou sterf of ’n ongeluk het wat hom onbevoeg maak om sy verpligtinge na te kom. Dit toon nie wantroue nie, maar eerder liefde vir die broer met wie ons sake doen as ons ’n kontrak opstel wat duidelik sal sê presies wat hy moet doen of wat hy kan verwag om te ontvang. Hierdie liefdevolle stap sal enige rede vir kwade gevoelens of gekrenktheid tot ’n minimum beperk indien een van die onvolmaakte partye sekere besonderhede of verantwoordelikhede sou vergeet. En wie van ons is nie onvolmaak, vergeetagtig of geneig om besonderhede of bedoelings verkeerd te verstaan nie?—Matteus 16:5.
Daar is ander maniere waarop die opstelling van geskrewe saketransaksies liefde weerspieël vir ons broer, vir ons gesin en vir die gemeente oor die algemeen. Maar benewens die feit dat dit liefdevol is, moet dit duidelik wees dat sulke geskrewe verslae wat voldoende besonderhede bevat ook prakties en skriftuurlik is.