Boeke, boeke, boeke!
“Aan baie boeke maak kom geen einde nie”, het die wyse koning Salomo van die ou tyd geskryf (Prediker 12:12). Gedurende 1995 is daar in Brittanje byna een nuwe boek vir elke 580 van die bevolking vrygestel, wat daardie land die wêreld se voorste uitgewer van nuwe boeke maak. China, die land met die grootste bevolking, was tweede met 92 972 nuwe uitgawes in vergelyking met die 95 015 van Brittanje. Duitsland was volgende (67206 nuwe boeke), en daarna die Verenigde State (49 276) en Frankryk (41 234). “Brittanje se voorsprong op die wêreld is eenvoudig te danke aan die Engelse taal”, sê die koerant The Daily Telegraph van Londen.
Verslae toon dat boekverkope al etlike jare afneem en dat net 80 persent van die volwassenes in Brittanje nou een of meer boeke per jaar koop. Maar lees mense al die boeke wat hulle koop?
Een boek wat nog altyd wyd versprei en gelees word, is die Bybel, wat nou gedeeltelik of in sy geheel in meer as 2120 tale beskikbaar is. As jy nog nie ’n eksemplaar het nie, kan jy met die takkantoor van die Wagtoringgenootskap naaste aan jou in verbinding tree om een te kry. As jy ’n Bybel het, gaan haal dit en slaan die tekste na wat in die artikels in hierdie tydskrif gebruik word. As jy dit doen, sal jy die Bybel se lewegewende kennis vind.