Die Appèlhof van Connecticut handhaaf pasiënt se regte
Op 16 April 1996 het die Appèlhof van Connecticut, VSA, die reg van Jehovah se Getuies gehandhaaf om bloedoortappings te weier. Hierdie uitspraak het ’n vroeëre verhoorhofbeslissing ter syde gestel.
In Augustus 1994 het Nelly Vega, een van Jehovah se Getuies, erg begin bloei nadat sy aan haar eerste baba geboorte geskenk het. Pogings om haar bloeding te stop, was onsuksesvol. Namate mev. Vega se toestand versleg het, het die hospitaal ’n hofbevel probeer verkry wat ’n bloedoortapping sou magtig. Mev. Vega het reeds ’n mediese vrywaringsdokument onderteken wat gelas het dat sy geen bloed of bloedprodukte toegedien word gedurende haar hospitaalverblyf nie, en daardeur het sy die hospitaal van enige aanspreeklikheid vir die gevolge van haar besluit vrygestel. Die hospitaal het nietemin aangevoer dat ’n bloedoortapping op haar afgedwing moes word, aangesien dit in die belang van die pasgeborene sou wees wat, volgens die hospitaal, sy moeder nodig gehad het. Die verhoorhof was ook besorg oor die feit dat mev. Vega, afgesien van haar bloedverlies, ’n jong, gesonde vrou was. Ten spyte daarvan dat mev. Vega se man en haar prokureur protes aangeteken het, het die hof dus die bevel toegestaan en is bloedoortappings gegee.
Ná verloop van tyd is die saak voor die Appèlhof van Connecticut gebring. Daar is eenparig beslis dat die optrede van die hospitaal mev. Vega se regte geskend het. Die beslissing het gesê: “Die verhoor voor die verhoorhof het in die middel van die nag plaasgevind, onder uiterste noodtoestande wat nie een van die partye in staat gestel het om hulle redenering ten volle te ontwikkel nie.”
Hierdie beslissing van die Appèlhof van Connecticut is ook betekenisvol vir mense wat nie Jehovah se Getuies is nie. “Dit is belangrik vir alle pasiënte wat dalk nie met hulle dokters se besluite saamstem nie”, sê Donald T. Ridley, mev. Vega se prokureur. “Die beslissing sal voorkom dat hospitale pasiënte se waardes, hetsy godsdienstig of niegodsdienstig, totaal verontagsaam.”