Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 5/1 bl. 30-31
  • Ouers se geloof word beloon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers se geloof word beloon
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle tree in geloof op
  • Die baba word gevind
  • Die les vir ons
  • ‘Deur geloof is Moses weggesteek’
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • Moses het gekies om Jehovah te aanbid
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Iets van groter waarde as die skatte van Egipte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Moses—Mens of mite?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 5/1 bl. 30-31

Hulle het Jehovah se wil gedoen

Ouers se geloof word beloon

DIE geboorte van ’n seun was vir die Israeliete rede tot groot vreugde. Dit het beteken dat die geslagslyn sou voortduur en dat erfgrond in besit van die familie sou bly. Maar omstreeks 1593 v.G.J. kon dit vir die Hebreërs meer soos ’n vloek as ’n seën gevoel het om die lewe aan ’n seun te skenk. Waarom? Want die Farao van Egipte, wat besorg was oor die vinnige aanwas van die Joodse bevolking in die gebied onder sy beheer, het bevel gegee dat al hulle pasgebore seuntjies doodgemaak moes word.—Exodus 1:12, 15-22.

Dit was gedurende hierdie afstootlike poging tot volksmoord dat Amram en Jogebed, ’n Hebreeuse egpaar, die ouers van ’n pragtige babaseuntjie geword het. Dit is maklik om jou voor te stel hoe hulle vreugde moontlik deur vrees oorskadu is toe hulle aan Farao se bevel gedink het. Maar terwyl Amram en Jogebed na hulle babaseuntjie gekyk het, het hulle hulle vas voorgeneem om vir hom te bly sorg, ongeag die gevolge.—Exodus 2:1, 2; 6:19.

Hulle tree in geloof op

Amram en Jogebed het hulle baba drie maande lank weggesteek (Exodus 2:2). Dit was egter gevaarlik, want die Hebreërs en die Egiptenare het naby mekaar gewoon. As daar iemand gevind is wat Farao se bevel probeer omseil het, sou hy waarskynlik met die dood gestraf word—en die baba sou ook sterf. Wat kon hierdie toegewyde ouers dus doen sodat hulle seun sowel as hulle kon bly lewe?

Jogebed het papiruslote bymekaargemaak. Papirus is ’n sterk riet, soortgelyk aan bamboes, en het ’n driekantige stingel wat omtrent so dik soos ’n vinger is. Dit kan tot ses meter hoog groei. Die Egiptenare het hierdie plant gebruik om papier, matte, seile, sandale en ligte bote te maak.

Jogebed het uit die stingels ’n mandjie gevorm wat groot genoeg was vir haar baba om in te lê. Daarna het sy dit met bitumen en pik bestryk om die mandjie stewig en waterdig te maak. Jogebed het toe haar baba in die houer gesit en dit tussen die riete by die oewer van die Nylrivier neergesit.—Exodus 2:3.

Die baba word gevind

Jogebed se dogter, Mirjam, het daar naby gaan staan om te sien wat volgende sou gebeur. Farao se dogter het toe na die Nyl gekom om te bad.a Miskien het Jogebed geweet dat die prinses hierdie deel van die Nyl dikwels besoek het en het sy die mandjie doelbewus gesit waar dit maklik gevind kon word. Hoe dit ook al sy, Farao se dogter het spoedig die mandjie tussen die riete gesien en een van haar slavinne geroep om dit te gaan haal. Toe sy die huilende kind daarin sien, is sy met medelye vervul. Sy het gesien dat dit ’n Hebreeuse baba was. Maar hoe kon sy so ’n mooi kind laat vermoor? Benewens mensliewendheid kon Farao se dogter beïnvloed gewees het deur die gewilde Egiptiese opvatting dat toegang tot die hemel afgehang het van ’n mens se geskiedenis van goedhartige dade gedurende jou lewe.b—Exodus 2:5, 6.

Mirjam, wat op ’n afstand gestaan en kyk het, het Farao se dogter genader. “Sal ek vir u ’n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?” het sy gevra. Die prinses het geantwoord: “Ja.” Mirjam het na haar moeder gehardloop. Kort voor lank het Jogebed voor Farao se dogter gestaan. “Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my”, het die prinses vir haar gesê, “en ek sal jou loon gee.” Die moontlikheid is groot dat Farao se dogter teen dié tyd besef het dat Jogebed die baba se moeder was.—Exodus 2:7-9.

Jogebed het haar kind gehou totdat hy gespeen was.c Dit het haar talle kosbare geleenthede gegee om hom van die ware God, Jehovah, te leer. Toe het Jogebed die kind na Farao se dogter teruggeneem, wat die seun Moses genoem het, want dit beteken “uit die water gered”.—Exodus 2:10.

Die les vir ons

Amram en Jogebed het die geleentheid wat hulle gehad het om hulle seun die beginsels van ware aanbidding te leer ten volle benut, al was dit kort. Ouers moet vandag dieselfde doen. Dit is in werklikheid van die allergrootste belang dat hulle dit doen. Satan die Duiwel “loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Hy sou baie graag as sy slagoffers pragtige jongmense wou hê—seuns en dogters—wat die vooruitsig het om goeie knegte van Jehovah te word. Hulle jonkheid wek geen simpatie by hom op nie! Met die oog hierop lei verstandige ouers hulle klein kindertjies op om die ware God, Jehovah, te vrees.—Spreuke 22:6; 2 Timoteus 3:14, 15.

In Hebreërs 11:23 is die poging van Amram en Jogebed om hulle babatjie gedurende die eerste drie maande van sy lewe weg te steek as ’n daad van geloof opgeteken. Albei hierdie godvresende ouers het vertroue in Jehovah se reddende krag getoon deur te weier om hulle kind te versaak, en hulle is hiervoor geseën. Ons moet ook Jehovah se wette en beginsels streng nakom, vol vertroue dat wat Jehovah ook al toelaat om oor ons te kom uiteindelik tot ons ewige welsyn en geluk sal wees.—Romeine 8:28.

[Voetnote]

a Die Egiptenare het die Nyl as ’n god van vrugbaarheid aanbid. Hulle het geglo dat die water daarvan die krag gehad het om vrugbaarheid te gee en selfs lewe te verleng.

b Die Egiptenare het geglo dat iemand se gees by sy dood in teenwoordigheid van Osiris onder meer moes kon verklaar: “Ek het niemand leed aangedoen nie”, “Ek het nie melk van die mond van suigelinge weerhou nie” en “Ek het brood gegee aan die hongeres en drinkgoed aan hom wat dors was.”

c In die ou tyd het baie kinders veel langer borsvoeding gekry as wat vandag algemeen is. Samuel was heel waarskynlik minstens drie jaar oud toe hy gespeen is, en Isak was omtrent vyf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel