Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 4/1 bl. 4-8
  • Is dit werklik die laaste dae?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit werklik die laaste dae?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se volgelinge vra ’n betekenisvolle vraag
  • Die einde van Jerusalem
  • Oorlog in die laaste dae
  • Ander aspekte van die teken
  • Is ons geslag die een wat voorspel is?
  • Goeie nuus
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Hoe ons weet dat ons in “die laaste dae” lewe
    Gee God werklik vir ons om?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 4/1 bl. 4-8

Is dit werklik die laaste dae?

JY IS in ’n kano wat in ’n onstuimige deel van die rivier beland. Yslike rotse doem tussen die skuim en sproei op. Jy probeer hulle vermy. Die persoon agter jou is veronderstel om jou te help om die kano te stuur, maar hy het min ondervinding. Nog erger, jy het nie ’n kaart nie en het dus geen idee of hierdie stroomversnelling in ’n kalm poel of in ’n waterval gaan eindig nie.

Dit is nie ’n aangename situasie nie, nè? Kom ons verander dit dan. Verbeel jou dat jy ’n ervare gids by jou het, een wat elke rots en elke draai in hierdie rivier ken. Hy het lank voor die tyd geweet dat hierdie witwater naby is, hy weet hoe dit eindig en hy weet hoe om daardeur te kom. Sou jy nie baie veiliger voel nie?

Ons is eintlik almal in ’n soortgelyke penarie. Sonder dat ons dit kon voorkom, bevind ons ons in ’n onstuimige tydperk in die mens se geskiedenis. Die meeste mense het geen idee hoe lank dinge so sal aanhou, of toestande sal verbeter of hoe om die situasie intussen die hoof te bied nie. Maar ons hoef nie verlore of hulpeloos te voel nie. Ons Skepper het vir ons ’n gids gegee—een wat hierdie donker tyd in die geskiedenis voorspel het, wat sê hoe dit gaan eindig en wat ons die leiding gee wat nodig is om dit te oorleef. Daardie gids is ’n boek, die Bybel. Sy Outeur, Jehovah God, noem homself die Grootse Onderrigter, en deur middel van Jesaja sê hy gerusstellend: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20, 21). Wil jy graag sulke leiding hê? Kom ons kyk dan of die Bybel werklik voorspel het hoe ons dae sou wees.

Jesus se volgelinge vra ’n betekenisvolle vraag

Jesus se volgelinge was sekerlik verbaas. Jesus het hulle kort tevore baie duidelik vertel dat Jerusalem se indrukwekkende tempelgeboue heeltemal vernietig sou word! So ’n voorspelling was verstommend. Kort daarna, terwyl hulle op die Olyfberg gesit het, het vier van die dissipels Jesus gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3; Markus 13:1-4). Of hulle dit nou besef het of nie, Jesus se antwoord sou meer as een toepassing hê.

Die vernietiging van Jerusalem se tempel en die einde van die Joodse stelsel van dinge was nie dieselfde as die tyd van Christus se teenwoordigheid en van die voleinding van die hele wêreldstelsel van dinge nie. In sy uitvoerige antwoord het Jesus nietemin al hierdie aspekte van die vraag op meesterlike wyse beantwoord. Hy het vir hulle vertel hoe dinge sou wees voor Jerusalem se vernietiging; hy het ook vir hulle vertel hoe hulle kon verwag die wêreld sou wees gedurende sy teenwoordigheid, wanneer hy as Koning in die hemel sou heers en op die punt sou staan om die hele wêreldstelsel van dinge tot niet te maak.

Die einde van Jerusalem

Kom ons kyk eers na wat Jesus van Jerusalem en sy tempel gesê het. Meer as drie dekades voor die tyd het hy ’n tydperk van verskriklike beproewing vir een van die grootste stede in die wêreld voorspel. Let veral op sy woorde wat in Lukas 21:20, 21 opgeteken is: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die midde van die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is nie daar ingaan nie.” As Jerusalem deur leërkampe omsingel moes word, hoe sou “dié wat in die stad is” eenvoudig kon “uitgaan”, soos Jesus beveel het? Jesus het klaarblyklik te kenne gegee dat daar ’n geleentheid daarvoor hom sou voordoen. Het dit?

In 66 G.J. het Romeinse leërs onder die bevel van Cestius Gallus die Joodse rebellemagte tot by Jerusalem teruggedwing en hulle in die stad vasgekeer. Die Romeine het selfs die stad binnegedring en tot by die tempelmuur gekom. Maar toe het Gallus sy leërs iets uiters raaiselagtigs laat doen. Hy het hulle beveel om terug te val! Verheugde Joodse soldate het hulle vlugtende Romeinse vyande agternagesit en hulle verliese laat ly. Jesus se voorspelde geleentheid om te vlug het hom dus nou voorgedoen. Ware Christene het op sy waarskuwing ag geslaan en uit Jerusalem gevlug. Dit was verstandig, want net vier jaar later was die Romeinse leërs terug onder die aanvoering van generaal Titus. Hierdie keer was geen ontsnapping moontlik nie.

Die Romeinse leërs het Jerusalem weer omsingel; hulle het ’n verskansing van spits pale rondom die stad gebou. Jesus het aangaande Jerusalem voorspel: “Die dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring” (Lukas 19:43).a Jerusalem het kort daarna geval; al wat oorgebly het van sy glorieryke tempel was smeulende puinhope. Jesus se woorde is tot in die fynste besonderhede vervul!

Jesus het egter baie meer as daardie vernietiging van Jerusalem in gedagte gehad. Sy dissipels het hom ook gevra oor die teken van sy teenwoordigheid. Hulle het dit nie destyds geweet nie, maar dit het na ’n tyd verwys wanneer hy gekroon sou word om as Koning in die hemel te heers. Wat het hy voorspel?

Oorlog in die laaste dae

As jy Matteus hoofstukke 24 en 25, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 lees, sal jy onmiskenbare bewyse sien dat Jesus van ons dag gepraat het. Hy het ’n tyd voorspel van oorloë—nie net die “oorloë en berigte van oorloë” wat nog maar altyd ’n deel van die mens se geskiedenis was nie, maar oorloë wat ‘nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk’ sou stel—ja, groot internasionale oorloë.—Matteus 24:6-8.

Dink ’n oomblik na oor hoe oorlogvoering in ons eeu verander het. Toe oorlog net beteken het dat die leërs van twee strydende nasies teen mekaar te staan gekom het en met sabels of selfs met gewere op ’n slagveld teen mekaar geveg het, was dit al erg genoeg. Maar in 1914 het die Groot Oorlog uitgebreek. Die een nasie het die ander in die verwoesting in gevolg, net soos dominosteentjies wat omval—die eerste wêreldwye oorlog. Outomatiese wapens is ontwerp wat al hoe meer mense op groter afstande kon doodmaak. Masjiengewere het koeëls met dodelike doeltreffendheid afgevuur; mosterdgas het derduisende soldate gebrand, gefolter, vermink en gedood; tenks het genadeloos deur vyandelike linies gerol en met hulle groot kanonne verwoesting gesaai. Die vliegtuig en die duikboot het ook op die toneel verskyn—blote aanduidings van wat hulle sou word.

Die Tweede Wêreldoorlog het die ondenkbare gedoen—dit het in werklikheid sy voorganger in die skadu gestel en tienmiljoene mense gedood. Enorme vliegdekskepe, as ’t ware drywende stede, het die see deurkruis en vegvliegtuie losgelaat wat die dood uit die hemel op vyandelike teikens laat neerreën het. Duikbote het torpedo’s op vyandelike skepe afgeskiet en hulle gekelder. En atoombomme is gebruik, wat duisende lewens met elke verpletterende slag geëis het! Net soos Jesus voorspel het, was daar inderdaad “vreesaanjaende gesigte” om hierdie tydperk vol oorlog te kenmerk.—Lukas 21:11.

Het oorlog sedert die Tweede Wêreldoorlog afgeneem? Glad nie. Soms woed letterlik tientalle oorloë gedurende ’n enkele jaar—selfs in hierdie dekade van die negentigerjare—en eis hulle miljoene lewens. En daar was ’n verandering in die vernaamste slagoffers van oorloë. Dié wat sterf, is nie meer hoofsaaklik soldate nie. Vandag is die meeste oorlogslagoffers—trouens, meer as 90 persent van hulle—burgerlikes.

Ander aspekte van die teken

Oorlog is maar een aspek van die teken wat Jesus genoem het. Hy het ook gewaarsku dat daar “voedseltekorte” sou wees (Matteus 24:7). En daar wás ook, al produseer die wêreld vreemd genoeg meer voedsel as wat nodig is om die hele mensdom te voed, al is die landbouwetenskap meer gevorderd as ooit tevore in die mens se geskiedenis, al is vinnige en doeltreffende vervoer beskikbaar om voedsel na enige wêrelddeel te neem. Desondanks ly ongeveer een vyfde van hierdie wêreld se bevolking elke dag honger.

Jesus het ook voorspel dat daar “op die een plek na die ander peste” sou wees (Lukas 21:11). Weer eens beleef ons tyd ’n vreemde paradoks—beter mediese sorg as ooit tevore, deurbrake op tegnologiese gebied, entstowwe om talle algemene siektes te voorkom; maar ten spyte daarvan het pessiektes ook op ongeëwenaarde skaal veld gewen. Die Spaanse Griep het kort op die hakke van die Eerste Wêreldoorlog gevolg en meer lewens as die oorlog geëis. Hierdie siekte was so aansteeklik dat mense in stede soos New York beboet of in die tronk gestop kon word as hulle genies het! Vandag maai kanker en hartkwale elke jaar miljoene af—ware pessiektes. En vigs knip steeds lewens kort, sonder dat die mediese wetenskap werklik iets daaraan kan doen.

Terwyl Jesus die laaste dae hoofsaaklik in terme van grootskaalse geskiedkundige en politieke toestande bespreek het, het die apostel Paulus die aandag meer op maatskaplike probleme en heersende gesindhede gevestig. Hy het onder andere geskryf: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.”—2 Timoteus 3:1-5.

Klink hierdie woorde vir jou bekend? Kyk net na een aspek van maatskaplike agteruitgang in die wêreld van vandag—die verbrokkeling van die gesin. Die vloedgolf gebroke huise, mishandelde eggenote, kinders en bejaarde ouers—hierdie dinge lewer onteenseglike bewys dat mense “sonder natuurlike geneentheid”, “wreedaardig” en selfs “verraaiers” is, “sonder liefde vir goedheid”! Ja, ons sien vandag ’n epidemie van hierdie eienskappe.

Is ons geslag die een wat voorspel is?

Maar jy wonder dalk: ‘Het hierdie toestande die mensdom nie nog altyd geteister nie? Hoe weet ons dat ons hedendaagse geslag die een is wat in hierdie eeue oue profesieë voorspel is?’ Kom ons kyk na drie bewysvoeringe wat toon dat Jesus van ons tyd gepraat het.

In die eerste plek, terwyl daar ’n gedeeltelike, vroeë vervulling was in die vernietiging van Jerusalem en sy tempel, het Jesus se woorde beslis betrekking gehad op ’n toekomstige tyd. Ongeveer 30 jaar ná die ramp wat Jerusalem vernietig het, het Jesus die bejaarde apostel Johannes ’n visioen gegee wat getoon het dat die voorspelde toestande—oorlog, hongersnood, peste en gevolglike dood—in die toekoms op wêreldskaal sou bestaan. Ja, hierdie smarte sou nie net een gebied nie, maar “die aarde” in sy geheel raak.—Openbaring 6:2-8.

In die tweede plek word van die aspekte van Jesus se teken gedurende hierdie eeu vervul in wat ons die uiterste graad kan noem. Is daar byvoorbeeld enige moontlikheid dat oorloë veel erger kan word as wat hulle sedert 1914 is? As daar ’n Derde Wêreldoorlog was en al die hedendaagse kernmoondhede hulle wapens daarin gebruik het, sou die gevolg daarvan waarskynlik van hierdie aarde ’n uitgebrande woesteny gemaak het—met die mens net so uitgestorwe as die dodo. Openbaring 11:18 het eweneens voorspel dat die mensdom in hierdie tyd, wanneer die nasies “se gramskap ontvlam”, ‘die aarde sal verderf’. Besoedeling en vernietiging van die omgewing bedreig vir die eerste keer in die geskiedenis die bewoonbaarheid van hierdie planeet! Hierdie aspek is dus ook besig om in of na aan sy uiterste graad vervul te word. Sou oorloë en besoedeling eenvoudig kan aanhou vererger totdat die mens homself en hierdie planeet vernietig het? Nee; want die Bybel sê dat die aarde vir ewig sal bestaan, met regskapenes wat daarop woon.—Psalm 37:29; Matteus 5:5.

In die derde plek is die teken van die laaste dae veral oortuigend as dit in sy geheel beskou word. As ons die aspekte in aanmerking neem wat Jesus in die drie Evangelies genoem het, dié in Paulus se geskrifte sowel as dié in Openbaring, het hierdie teken tientalle aspekte. ’n Mens kan dalk oor hulle kibbel as hulle afsonderlik beskou word en redeneer dat ander tydperke soortgelyke probleme gehad het, maar wanneer ons hulle almal saam beskou, wys hulle onteenseglik op een tydperk—die een waarin ons lewe.

Maar wat beteken dit alles? Dat die Bybel ons tyd as ’n desperate, hopelose tyd uitbeeld? Glad nie!

Goeie nuus

Een van die merkwaardigste kenmerke van die teken van die laaste dae is in Matteus 24:14 opgeteken: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” In hierdie eeu het Jehovah se Getuies ’n unieke werk in die mens se geskiedenis gedoen. Hulle het die Bybel se boodskap oor Jehovah God se Koninkryk aangeneem—wat dit is, hoe dit regeer en wat dit sal bereik—en daardie boodskap oor die hele aarde versprei. Hulle het lektuur oor hierdie onderwerp in meer as 300 tale uitgegee en het dit in feitlik elke land op aarde na mense in hulle huise of op straat of by hulle werkplek gebring.

Sodoende het hulle hierdie profesie vervul. Maar hulle het ook hoop versprei. Let daarop dat Jesus dit “goeie nuus” genoem het, nie slegte nuus nie. Hoe kan dit wees in hierdie donker tye? Omdat die Bybel se vernaamste boodskap nie handel oor hoe sleg dinge aan die einde van hierdie ou wêreld sal wees nie. Sy vernaamste boodskap handel oor God se Koninkryk, en daardie Koninkryk hou iets in wat na aan die hart lê van elke mens wat vrede liefhet—verlossing.

Presies wat is daardie verlossing, en hoe kan jy dit verkry? Lees asseblief die volgende artikels oor hierdie onderwerp.

[Voetnoot]

a Titus was in ’n besondere sterk posisie. Hy het nietemin in twee belangrike opsigte nie sy sin gekry nie. Hy het aangebied dat die Jode vreedsaam kon oorgee, maar die stadsleiers het om die een of ander onverklaarbare rede hardkoppig geweier. En toe hulle uiteindelik deur die stadsmure gebreek het, het hy beveel dat die tempel gespaar word. Dit is nogtans heeltemal verbrand! Jesus se profesie het duidelik gesê dat Jerusalem verwoes sou word en dat die tempel heeltemal vernietig sou word.—Markus 13:1, 2.

[Lokteks op bladsy 5]

Mense soek antwoorde op kwellende vrae soos: Waarom is dinge so sleg? Waarop stuur die mensdom af?

[Lokteks op bladsy 6]

Vandag is meer as 90 persent van die oorlogslagoffers burgerlikes

[Prent op bladsy 7]

Jesus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem is tot in die fynste besonderhede vervul

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel