Die belangrikheid van Christelike opvoeding
IN DIE eerste eeu G.J. was ouers hoofsaaklik verantwoordelik vir die opvoeding van hulle kinders, veral terwyl hulle klein was (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). Ons lees van Jesus dat hy deur sy pleegvader en sy moeder in Nasaret grootgemaak is en dat hy gegroei en sterker geword en met wysheid vervul is. Op 12-jarige ouderdom het hy die leermeesters by die tempel verbaas met sy begrip en sy antwoorde (Lukas 2:41, 46-52). Die skrifgeleerdes was steeds die vernaamste onderrigters in die openbaar en in die skole wat in die sinagoges geopen is.
Die grootste leermeester
Jesus was die beste leermeester wat daar nog was. Selfs onder sy tydgenote is hy erken as ’n onderrigter wat besonder groot invloed gehad het en gewild was. Sy dissipels het hom gewoonlik “Rabbi” genoem, wat “Leermeester” of “Onderrigter” beteken (Markus 9:5). Sy teenstanders het by geleentheid selfs sy goeie onderrigvermoë erken, en toe beamptes, wat eenkeer deur die Fariseërs gestuur is om hom in hegtenis te neem, gevra is waarom hulle sonder hom teruggekom het, het hulle geantwoord: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.”—Johannes 7:46.
Eerstens het Jesus, soos hy gesê het, nie op eie inisiatief gepraat nie, maar hy het in sy Vader se naam gekom en die dinge gespreek wat hy by sy Vader geleer het (Johannes 5:19, 30, 43). Hy was ’n intieme vriend van Jehovah God, aangesien hy sy enigverwekte Seun uit die hemele was, en as sodanig was hy die allerbeste persoon wat sy Vader se eienskappe, werke en voornemens aan ander kon leer (Matteus 11:27). Hy het ook ’n ander uiters belangrike kwalifikasie van ’n goeie leermeester gehad deurdat hy diegene liefgehad het wat hy geleer het.—Johannes 13:1, 34.
Daar is min leermeesters wat soveel liefde vir hulle dissipels gehad het dat hulle bereid was om hulle lewe vir hulle af te lê, soos Jesus gedoen het (Johannes 15:13). Hy het verstaan hoe sy toehoorders dink (Johannes 2:25). Hy het groot onderskeidingsvermoë gehad (Lukas 6:8). Hy het geen selfsugtige beweegredes gehad wanneer hy ander geleer het nie, want hy was sondeloos en sonder skuld (Hebreërs 7:26). Hy het nie met die filosofiese woorde van die skrifgeleerdes geleer nie, maar het alledaagse dinge as illustrasies gebruik. Dit is waarom sy leringe vandag nog verstaanbaar is. Sy onderrigting was vol illustrasies.
Opvoeding en die Christengemeente
Jesus se dissipels het sy voetstappe in die Christelike onderrigtingswerk nagevolg en het soortgelyke welslae behaal. Hulle het nie alleen die goeie nuus van God se Koninkryk oral verkondig nie, maar het ook diegene geleer wat geluister het (Handelinge 2:42). Hulle was, soos Jesus, moedig en het met gesag gepraat.—Handelinge 4:13, 19, 20; 5:29.
God se gees het hulle krag gegee en daarvan getuig dat hulle onderrigting God se goedkeuring gehad het. Hulle het die mense in die tempel, in sinagoges en van huis tot huis geleer (Handelinge 20:20). Hulle het saam met mede-Christene vergader vir onderrigting en om mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor.—Hebreërs 10:24, 25.
Die apostel Paulus het die verskillende ampte en bedrywighede in die gemeente beskryf wat deur geestelik volwasse manne beklee is, waarvan party leermeesters was. Hy het getoon dat die doel van al hierdie bedrywighede opvoeding was, om die heiliges op te lei vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus (Efesiërs 4:11-16). Die gemeente het ’n gereelde program van opvoeding in God se Woord gevolg, soos 1 Korintiërs hoofstuk 14 toon.
Al die lede van die Christengemeente, selfs die vroue, moes leermeesters wees; hulle moes dissipels van die mense van die wêreld maak (Handelinge 18:26; Hebreërs 5:12). Maar in die gemeente self is geestelik volwasse manne aangestel om toesig te hou, soos byvoorbeeld Timoteus en Titus (1 Timoteus 2:12). Sulke manne moes bekwaam wees om die gemeente te onderrig en om dinge reg te stel wat dalk verkeerd gegaan het. Hulle moes buitengewone sorg aan die dag lê om te verseker dat hulle leer juis en gesond is.—2 Timoteus 4:2, 3.
Die Bybel lewer min kommentaar oor opvoeding van ’n sekulêre aard. Dit waarsku Christene om nie betrokke te raak by filosofieë van mense nie en om ook nie hulle tyd te gebruik om ondersoek in te stel na dwase en nuttelose vrae nie. Dit gee streng vermaning teen verstandelike verkeer met diegene wat nie in God en sy Woord glo nie.—1 Timoteus 6:20, 21; 1 Korintiërs 3:18-20.
Christene het besef dat hulle ’n verpligting teenoor God gehad het om behoorlik vir hulle gesin te sorg. Opvoeding en opleiding van die een of ander aard was dikwels nodig om hulle vir sulke sekulêre beroepe te bekwaam (1 Timoteus 5:8). Maar uit die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens sien ons dat hulle hoofsaaklik belanggestel het in enige wettige manier om “die goeie nuus” te verkondig, in Bybelopvoeding vir hulleself en almal wat na hulle geluister het (1 Korintiërs 9:16). Dit is soos professor E. J. Goodspeed in Christianity Goes to Press sê: “Van die oomblik dat die Christene besef het watter moontlikhede daar bestaan om hulle evangelie in gedrukte vorm oor die wêreld te versprei, het hulle dit ten volle benut, deur nie net nuwe boeke uit te gee nie, maar ook oues te probeer vind om gedruk te word, en hierdie gawe om publikasies uit te gee, het hulle nog nooit verlaat nie. Dit is ’n fout om te dink dat dit met die ontdekking van die drukkuns begin het; dit was ’n kenmerk van Christelike gesindhede sedert 70 G.J. en het sterker geword namate die groot doeltreffendheid van hierdie metode duidelik geword het. Selfs die barbaarse invalle en die duister Middeleeue kon dit nie blus nie. En dit is alles ’n bewys van die ontsaglike stukrag wat die hele vroeë Christelike lewe vervul het, wat probeer het om nie alleen deur woord en daad nie, maar ook deur al die gevorderdste druktegnieke, die evangelie, in sy volheid en sonder voorbehoud, na alle mense te neem.”