Die waarheid omtrent die hel
’N VERSLAG deur die Anglikaanse Kerk se leerstellingskommisie sê dat die hel tog nie ’n brandende vuuroond is nie; dit is eerder ’n abstrakte plek van niebestaan. “Daar is baie redes vir hierdie verandering”, verduidelik die verslag. “Maar van hulle is die sedelike protes van binne sowel as buite die Christelike geloof teen ’n godsdiens van vrees, asook ’n toenemende besef dat die beeld van ’n God wat miljoene aan ewige foltering oorlewer baie verskil van die openbaring van God se liefde in Christus.”
Hierdie ontevredenheid met die tradisionele beskouing van die hel is nie uitsluitlik die gevoel van die Anglikaanse Kerk nie. Mense van verskillende kerke vind dit moeilik om ’n wraaksugtige God te aanbid wat sondaars brand. “Mense wil ’n God hê wat hartlik en liefdevol is”, sê Jackson Carroll, professor van godsdiens en die samelewing aan die Duke-universiteit se Fakulteit van Godgeleerdheid. “Dit is strydig met vandag se kultuur om van sonde en skuldgevoelens te praat.”
Jehovah se Getuies huldig al lank die beskouing dat die hel, soos die Bybel leer, bloot die gemeenskaplike graf van die afgestorwe mensdom is—nie ’n plek van vurige foltering nie. Hulle huldig hierdie beskouing, nie omdat dit gewild is nie, maar as gevolg van wat die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“hel”, Katolieke Douay Version] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10.
Met hierdie duidelike begrip omtrent die toestand van die dooies het Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, in 1896 geskryf: “Ons vind [in die Bybel] nie so ’n plek van ewige pyniging as wat die geloofsbelydenisse en gesangboeke en baie preekstoele verkeerdelik leer nie. Tog het ons ’n ‘hel’, sjeool, hades, gevind waartoe die hele menslike geslag as gevolg van Adam se sonde veroordeel is en waaruit almal deur ons Here se dood vrygekoop is; en daardie ‘hel’ is die graf—die doodstoestand.”
Jehovah se Getuies leer dus al meer as ’n eeu die Bybelwaarheid omtrent die hel.
[Prent op bladsy 32]
Charles T. Russell