Vrygemaak deur die waarheid
IN DIE Verenigde State is meer as ’n miljoen mense in gevangenisse opgesluit. Onder hulle is byna drieduisend wat ter dood veroordeel is. Stel jou in daardie situasie voor. Hoe sal jy voel? Die gedagte aan so ’n vooruitsig is inderdaad somber. Maar, in sekere sin, is alle mense in soortgelyke omstandighede. Die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ja, ons word as nakomelinge van Adam “gevange gehou” deur ’n sondige toestand (Romeine 5:12). Ons voel elke dag die gevolge van ons gevangenskap, soos die Christenapostel Paulus wat geskryf het: “Ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:23.
As gevolg van ons sondige natuur is die doodsvonnis as ’t ware oor elkeen van ons uitgespreek, want die Bybel sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Die psalmis Moses het ons situasie goed beskryf: “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.”—Psalm 90:10, NAV; vergelyk Jakobus 4:14.
Dit was met die mens se slawerny aan sonde en die dood in gedagte dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Met daardie woorde het Jesus aan sy volgelinge die hoop voorgehou van iets baie groters as vryheid van Romeinse heerskappy—hy het hulle ’n kwytskelding van sonde en ’n verlossing van die dood aangebied! Hoe sou dit vir hulle moontlik gemaak word? “As die Seun julle dan vrymaak”, het Jesus vir hulle gesê, “sal julle werklik vry wees” (Johannes 8:36). Ja, deur sy lewe af te lê, het “die Seun”, Jesus, as ’n soenofferande gedien om terug te koop wat Adam verloor het (1 Johannes 4:10). Dit het die weg gebaan vir alle gehoorsame mense om van die slawerny aan sonde en die dood bevry te word. God se enigverwekte Seun het gesterf “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.
Die waarheid wat ons kan vrymaak, is dus onafskeidelik verbonde aan Jesus Christus. Diegene wat sy voetstapnavolgers word, het die hoop om van sonde en die dood bevry te word wanneer God se Koninkryk volle beheer oor die aarde se aangeleenthede oorneem. Diegene wat die waarheid van God se Woord aanneem, ondervind selfs nou ware vryheid. In watter opsigte?
Vryheid van vrees vir die dooies
Miljoene leef vandag in vrees vir die dooies. Waarom? Want hulle godsdienste het hulle geleer dat ’n siel die liggaam ná die dood verlaat en na ’n geesteryk gaan. Daarom is dit die gebruik in sommige lande dat die afgestorwene se familielede ’n lykwaak hou wat etlike dae en nagte duur. Harde sang en tromslanery gaan dikwels daarmee gepaard. Die rouklaers glo dat dit die dooie sal behaag en sal voorkom dat sy gees terugkeer om die lewendes lastig te val. Die Christendom se valse leerstellings oor die dooies het bloot daartoe bygedra dat hierdie tradisie voortbestaan.
Die Bybel maak egter die waarheid oor die toestand van die dooies bekend. Dit sê duidelik dat jou siel jy is, nie die een of ander geheimsinnige deel van jou wat ná die dood voortlewe nie (Genesis 2:7; Esegiël 18:4). Daarbenewens word die dooies nie in ’n brandende hel gefolter nie, en hulle is ook nie deel van ’n geesteryk wat die lewendes kan beïnvloed nie. “Die dooies”, sê die Bybel, “weet glad niks nie. . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10.
Hierdie Bybelwaarhede het al baie mense vrygemaak van vrees vir die dooies. Hulle bring nie meer duur offerandes om hulle voorouers te paai nie, en hulle bekommer hulle ook nie dat hulle geliefdes genadeloos vir hulle sondes gefolter word nie. Hulle het geleer dat die Bybel ’n wonderlike hoop voorhou aan diegene wat gesterf het, want dit sê vir ons dat daar op God se bestemde tyd “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” gaan wees (Handelinge 24:15; Johannes 5:28, 29). Daarom rus die dooies nou eenvoudig, asof hulle vas slaap.—Vergelyk Johannes 11:11-14.
Die waarheid oor die toestand van die dooies en die opstandingshoop kan ons bevry van die wanhoop wat die dood kan meebring. Hierdie hoop het ’n egpaar in die Verenigde State onderskraag toe hulle vierjarige seuntjie in ’n ongeluk gesterf het. “Daar is ’n leemte in ons lewe wat nie gevul kan word voordat ons deur middel van die opstanding ons seuntjie weer sien nie”, erken sy moeder. “Maar ons weet ons pyn is net tydelik, want Jehovah belowe dat hy ons trane van droefheid sal afvee.”—Openbaring 21:3, 4.
Vryheid van vrees vir die toekoms
Wat hou die toekoms in? Sal ons aarde in ’n kernslagting verbrand word? Sal die verderwing van die aarde se omgewing ons planeet onbewoonbaar maak? Sal sedelike verval tot anargie en chaos lei? Vandag het baie mense ’n werklike vrees vir hierdie dinge.
Die Bybel bied egter vryheid van sulke morbiede vrese. Dit verseker ons dat ‘die aarde vir ewig bly staan’ (Prediker 1:4). Jehovah het nie ons planeet geskep net om te sien hoe dit deur onverantwoordelike mense vernietig word nie (Jesaja 45:18). Jehovah het die aarde eerder geskep om as ’n paradystuiste vir ’n verenigde mensegesin te dien (Genesis 1:27, 28). Sy voorneme het nie verander nie. Die Bybel sê vir ons dat God “die verderwers van die aarde [gaan] verderf” (Openbaring 11:18). Daarna sal “die ootmoediges . . . die aarde besit”, sê die Bybel, “en hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.
Hierdie belofte is betroubaar, want God lieg nie. Jehovah het deur sy profeet Jesaja gesê: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:11; Titus 1:2). Ons kan derhalwe met vertroue uitsien na die vervulling van God se belofte, soos opgeteken in die Bybel in 2 Petrus 3:13: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.”
Vryheid van mensevrees
Die Bybel gee vir ons uitmuntende voorbeelde van manne en vroue wat hulle toegewydheid aan God vreesloos geopenbaar het. Onder hulle is Gideon, Barak, Debora, Daniël, Ester, Jeremia, Abigail en Jael—om maar net ’n paar te noem. Hierdie getroue manne en vroue het die gesindheid van die psalmis geopenbaar wat geskryf het: “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?”—Psalm 56:12.
In die eerste eeu het die apostels Petrus en Johannes soortgelyke vrymoedigheid aan die dag gelê toe die godsdiensowerheid hulle beveel het om op te hou preek. “Wat ons betref”, het hulle geantwoord, “ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” As gevolg van hulle ferm standpunt is Petrus en Johannes later opgesluit. Ná hulle wonderdadige vrylating het hulle sonder versuim teruggegaan en “die woord van God met vrymoedigheid” bly spreek. Petrus en die ander apostels is kort daarna voor die Joodse Sanhedrin gebring. “Ons het julle uitdruklik beveel om nie aan te hou om in hierdie naam te leer nie”, het die hoëpriester vir hulle gesê, “en kyk! julle het Jerusalem nietemin met julle leer vervul.” Petrus en die ander apostels het geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 4:16, 17, 19, 20, 31; 5:18-20, 27-29.
In hulle werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, streef hedendaagse Getuies van Jehovah daarna om die ywer van die eerste-eeuse Christene na te volg. Selfs die jongmense onder hulle tree dikwels vreesloos op deur met ander oor hulle geloof te praat. Beskou ’n paar voorbeelde.
Stacie, ’n tiener, is van nature skaam. Gevolglik was dit aanvanklik vir haar ’n uitdaging om met ander oor haar geloof te praat. Wat het sy gedoen om haar skaamheid te oorkom? “Ek het die Bybel bestudeer en seker gemaak dat ek weet waarvan ek praat”, sê sy. “Dit het dit makliker gemaak, en ek het meer selfvertroue gehad.” Daar was ’n berig in die plaaslike koerant oor Stacie se goeie reputasie. Die artikel, wat deur ’n onderwyseres in haar skool geskryf is, het gesê: “Dit lyk of [Stacie se] geloof haar die krag gegee het om staande te bly onder die druk wat die meeste tieners ondervind. . . . Sy meen dat diens aan God haar vernaamste oorweging moet wees.”
Tommy het by sy ouers van die Bybel begin leer toe hy maar net vyf jaar oud was. Selfs op jeugdige leeftyd het hy moedig standpunt ingeneem vir ware aanbidding. Terwyl Tommy se klasmaatjies prente van feesdae geteken het, het hy tonele van God se beloofde Paradys geteken. As ’n tiener het Tommy opgemerk dat baie van die leerlinge oor die opvattings van Jehovah se Getuies wonder. Hy het nie uit vrees teruggedeins nie, maar eerder een van sy onderwysers gevra of hy ’n vraag-en-antwoord-bespreking met sy klas kon hou, sodat hy al hulle vrae terselfdertyd kon beantwoord. Sy versoek is toegestaan, en ’n goeie getuienis is gegee.
Toe Markietta 17 jaar oud was, het sy ’n uitstekende geleentheid gekry om met ander in haar klas oor haar geloof te praat. “Ons is aangesê om ’n toespraak te hou”, sê sy. “Ek het my onderwerp geneem uit die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.a Ek het vyf hoofstukke uit die boek gekies en die titels op die bord geskryf. Ek het die klas gevra om hulle in volgorde van belangrikheid te rangskik.” ’n Bespreking het gevolg waaraan die klas deelgeneem het. “Ek het vir die klas die boek gewys”, sê Markietta ten slotte, “en ’n hele aantal leerlinge het vir ’n eksemplaar gevra. Selfs my onderwyseres het gesê sy wil een hê.”
Die waarheid kan jou vrymaak
Soos ons gesien het, het die waarheid in die Bybel ’n bevrydende uitwerking op mense van alle ouderdomme wat dit bestudeer en die boodskap daarin ter harte neem. Dit bevry hulle van vrees vir die dooies, vrees vir die toekoms en mensevrees. Jesus se losprys sal die gehoorsame mensdom uiteindelik van sonde en die dood bevry. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe en nie meer deur ons oorgeërfde sondige toestand gevange gehou te word nie!—Psalm 37:29.
Sal jy graag meer wil leer oor die seëninge wat God belowe het? Indien wel, wat moet jy doen? Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). As jy dus die vryheid wil ervaar wat Jesus aan sy dissipels belowe het, moet jy van Jehovah God en sy Seun leer. Jy moet weet wat God se wil is en dit dan doen, want die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 7]
Onder God se Koninkryk sal die mensdom uiteindelik van sonde en die dood vrygemaak word