Koninkryksverkondigers berig
Alle soorte mense word met die waarheid bereik
DIE apostel Paulus was ’n ywerige verkondiger van God se Koninkryk. Hy het nie toegelaat dat teenstand inbreuk maak op sy opdrag om “die goeie nuus” te verkondig nie (1 Korintiërs 9:16; Handelinge 13:50-52). Paulus het ander aangespoor om sy voorbeeld na te volg.—1 Korintiërs 11:1.
Jehovah se Getuies staan regoor die wêreld bekend vir hulle doelgerigte predikingswerk. Trouens, hulle praat met ander in “gunstige tye” sowel as in “moeilike tye” om hulle godgegewe werk te verrig om ‘dissipels te maak’ (2 Timoteus 4:2; Matteus 28:19, 20). Selfs in lande waar hulle teenstand ondervind, word opregtes van hart met die allerbelangrikste boodskap oor God se Koninkryk bereik, soos die volgende ondervindinge toon.
◻ Op ’n eiland in die westelike Stille Oseaan waar die werk van Jehovah se Getuies verbied word, het ’n 12-jarige seun besef dat hy by die skool deur slegte omgang omring word. Baie van sy klasmaats het gereeld sigarette gerook, pornografiese lektuur gelees, onderwysers geteister en met mekaar baklei. Die situasie het so sleg geword dat die seun sy vader gevra het of hy na ’n ander skool toe kon gaan. Die vader het egter met sy seun oor die idee geredeneer, aangesien hy gemeen het dat die leerlinge se gedrag in die ander skole daar naby geensins anders sou wees nie. Maar hoe kon hy sy seun help?
Die vader het onthou dat hy ’n boek vir jongmense in die huis het. Dit was ’n geskenk van ’n familielid wat een van Jehovah se Getuies is. Hy het die boek dus gesoek, en toe hy dit vind, het hy dit vir sy seun gegee. Die titel daarvan was: Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.a Die seun het die hoofstuk “Hoe kan ek portuurdwang die hoof bied?” veral nuttig gevind. Dit het hom nie net die belangrikheid daarvan geleer om selfrespek te behou nie, maar dit het hom ook geleer hoe om op taktvolle wyse nee te sê wanneer ander druk op hom probeer uitoefen om ’n onverstandige weg te volg. Deur die skriftuurlike beginsels in die boek toe te pas, het die jong man geleer om portuurdwang die hoof te bied.
Toe die vader hierdie en ander positiewe veranderinge in sy seun opmerk, het hy besluit om die boek te lees. Die vader is beïndruk deur die praktiese raad wat in die boek gevind word en het Jehovah se Getuies vir ’n tuisbybelstudie gevra. Later het ander lede van sy gesin saam met hom begin studeer. Die resultaat? Die seun, sy jonger broer, sy vader en twee van die seun se grootouers is nou Getuies van Jehovah.
◻ In dieselfde land is twee Getuies van Jehovah in die tronk gesit vanweë hulle streng gehoorsaamheid aan Bybelbeginsels. Maar hulle het nie toegelaat dat hulle situasie hulle daarvan weerhou om met vrymoedigheid oor God se Koninkryk te praat nie. Hulle het ’n gevangenisbeampte genader en toestemming gekry om die Here se Aandmaal daar te gedenk. Hoe bly was hulle tog toe 14 gevangenes belangstelling in die Bybel getoon het en hulle by die Getuies aangesluit het vir hierdie belangrike gebeurtenis! Ná hulle vrylating het party van hulle voortgegaan om die Bybel te bestudeer en met Jehovah se Getuies om te gaan.
In meer as 25 lande ly Jehovah se Getuies as gevolg van ’n verbod op hulle werk of verskeie vorme van teenstand of vervolging. Maar soos die apostels ‘gaan hulle sonder ophou voort om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak’.—Handelinge 5:42.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.